Jaaroorsig Deel 2: 2014 – die jaar van Jacob Zuma en Steve Hofmeyr

Pres. Jacob Zuma, Steve Hofmeyr en Leon Schuster tydens 'n geleentheid in 2007 wat die eienaar/uitgewer van DeKat, Elzilda Becker, gereël het. Foto: DeKat-tydskrif

Pres. Jacob Zuma, Steve Hofmeyr en Leon Schuster tydens ‘n geleentheid in 2007 wat die eienaar/uitgewer van DeKat, Elzilda Becker, gereël het. Foto: DeKat-tydskrif

Herman Toerien neem die nuusgebeure van die afgelope jaar in oënskou. Lees die vorige uitgawe oor wêreldgebeure: alles wat jy moet weet. – Red.

Op twee heel uiteenlopende maniere het twee persone in 2014 ʼn groot invloed op die psige van die Afrikaner en ander minderhede gehad – pres. Jacob Zuma en Steve Hofmeyr.

Oor Zuma is daar binne hierdie geledere min of meer konsensus: Die land kan hom nie bekostig nie. Hy is skadelik vir die land, en ’n yslike verleentheid wat die land onder meer in terme van internasionale beeld en beleggings enorme skade berokken.

Oor Steve is menings erg uiteenlopend, maar die feit is dat in die stadium wat “Steve se twiet” die omstredenheid verdiep het, het hy reeds, onder meer deur die sing van Die Stem by die Inniebosfees, ’n impak op die breë Afrikaner-psige gemaak juis toe die Zuma-faktor baie Afrikaners en ander minderhede soos vreemdelinge in hul eie land laat voel het.

Zuma se negatiewe impak is kort voor die einde van die jaar juis baie verdiep toe hy eers die Eskom-krisis voor die deur van oorle apartheid probeer lê het, en daarna in sy jaaropsomming ’n rooskleurige prentjie probeer skets het oor wat die ANC die afgelope 20 jaar vermag het. In hierdie grootliks werklikheidsvreemde verbeeldingsvlug het hy onder meer daarop aanspraak gemaak dat regeringsverantwoordbaarheid verdiep is.

Nie dat die EFF en ander opposisiepartye iets daarvan bemerk het nie. Inteendeel, Baleka Mbete, die ANC se voorsitter, is heel teen demokratiese konvensie in, as speaker ontplooi, skynbaar met die uitsluitlike doel om die president se verantwoordbaarheid aan die parlement nek om te draai.

Heel teen die einde van die jaar sou die ontplooiing van Zuma-lojaliste steeds opslae maak, onder meer in die Inkomstediens en oplaas die verwydering van Anwa Dramat as hoof van die Valke – met Zuma-lojaliste wat skynbaar reeds toustaan om as nuwe hoof van die Valke aangestel te word. Soos selde demonstreer dit presies hoe groot die gevaar van die ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing kan ontaard.

Die verbasende is dat toe baie waarnemers reeds taamlik seker was dat Zuma na die ANC se agteruitboerdery in die 2014-verkiesing die een of ander sanksie sou beleef, die ANC juis in ’n SAKP-geleide strategie die geledere om Zuma gesluit het. In dié stadium is dit duidelik dat die strategie aanvanklik behels het dat Zuma grootliks aan die plaaslike politieke toneel onttrek sou word, en dat aan sy statuur getimmer sou word voor hy geleidelik weer meer en meer op die kiesers losgelaat sou word. ’n Deel van die statuurbouery was ’n rits internasionale reise (sommiges, soos die reis van Rusland weer omstrede), en hier en daar seremoniële optredes soos die opening van fabrieke waar hy streng by toesprake gebly het wat vir hom geskryf is. Binne sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, het hy ’n bietjie meer bewegings- en spraakvryheid geniet.

Dié strategie het ernstige skade opgedoen toe die EFF hom in die parlement getakel het – ʼn plek waar die president sy lyf bitter skaars gehou het, veral wanneer hy vrae moes beantwoord. Sy Eskom-juweeltjie en sy “jaaroorsig” het verder verseker dat die beeldbou-strategie skouspelagtig misluk het. Sy gefrustreerde lojaliste het oplaas gedreig dat die media wat so lelik maak, staatsadvertensies gaan ontbeer, en daardeur persvryheid en demokrasie ’n verdere taai klap toegedien.

Die Steve-fenomeen het nie in isolasie plaasgevind nie. Die jaarlikse Versoeningsbarometer het ook aangedui dat die meeste Suid-Afrikaners nou, na 20 jaar, hulself nie as Suid-Afrikaners eerste uitdruk nie, maar in terme van hul ras. Hiervoor kan maar net die ANC se rasbeheptheid en ’n wavrag rasgebaseerde wetgewing en ander maatreëls die blaam kry.

Die sing van Die Stem het minstens ’n gewaarwording losgelaat: die proses van ’n mate van behoudendheid na ’n links-liberale samelewing is nie ’n onafwendbare reguit lyn nie. Om te beweer dat ontsteltenis en selfs net omsigtigheid oor Steve se optrede net tot links-liberale kringe beperk is, sou ’n oorvereenvoudiging van die saak wees. Hierdie reaksie sou verdiep met die omstrede twiet.

Die links-liberale reaksie sou egter dikwels heeltemal inkonsekwent en ironies, onliberaal wees. ’n Goeie voorbeeld is die rubriek van Beeld se redakteur, Adriaan Basson, op 27 Desember, 2014 A(frikaans) tot Z(uma). Onder sy nuusmakers van die jaar lys hy Zuma en Hofmeyr as die maaifoedies van die jaar. Oor Steve skryf hy: “Hou aan skryf en sing, maar hou jou uit die politiek, pampoen!”

’n Werklike kunstenaar tree ook as die gewete van ’n volk op. Tydens die apartheidsjare het die digters, soos die sestigers, hul monde erg oor apartheid uitgespoel en hierdie optrede is as integrale deel van die werklike kunste aangeprys. Enkele van hierdie digters, waaronder Breyten Breytenbach en wyle Barend J. Toerien sou na die 1994-oorgang konsekwent bly en ook onaanvaarbare optredes deur die nuwe bewindhebbers kritiseer.

Steve, as kunstenaar en as landsburger, het dieselfde (grondwetlike) reg en kunstenaarsplig. Steve is buitengewoon begaafd, soos blyk uit sy bydrae aan Die Groot Debat waarin hy dr. Piet Croucamp intellektueel en akademies punt vir punt beantwoord. Croukamp kry ruim ruimte as rubriekskrywer in Beeld (terwyl bydraes uit ander ideologiese dampkringe dikwels nie gepubliseer word nie).

Dit beteken nie dat Steve nie foute maak en gemaak het nie. Die regte benadering in ’n demokrasie is egter nie om iemand die swye op te lê waar selfs Julius Malema en die SAKP, Numsa se Irvin Jim en talle ander vryelik skadelike uitsprake kan maak nie.

Zuma en Steve was egter lank nie al wat in 2014 ’n nuusimpak gehad het nie.

Die Oscar Pistorius-hofsaak het nie net Suid-Afrikaners se verbeelding aangegryp nie, maar ’n groot deel van die wêreld s’n. Geskiedenis is gemaak toe die verrigtinge met min beperkings op ’n spesiale kanaal regstreeks gebeeldsend is. Talle Suid-Afrikaners uit alle lae van die samelewing het die verrigtinge slaafs gevolg, sodat dit ʼn werklikheidsepie geword het. Verskeie boeke daaroor het reeds verskyn – sommiges nog voor die saak afgehandel is. So al kykende het baie mense heelwat van die reg en die howe geleer, soos blyk uit die openbare debat wat oor die konsep van dolus eventualis ontstaan het. Die appèlsaak lê nou voor.

Dit was egter nie al hofsaak wat die belangstelling gaande gehad het nie. Die Shrien Dewani-saak het getoon dat sterk vermoedens nie genoeg is om ’n skuldigbevinding in ’n strafhof te verkry nie. Dit het opnuut die fokus geplaas op die belangrikheid van goeie polisiewerk, en dat forensiese getuienis uiters belangrik is. Die onbeantwoorde vraag is steeds of Suid-Afrika se geweldsmisdaad so ’n omvang aangeneem het, en polisiewerk so swak is dat die land ’n ideale plek is om ander misdaad in te kom verdoesel?

Die Griekwastad-moorde se hof-afloop het ook groot belangstelling gewek. Mense wat die saak slaafs gevolg het, het openlik kant gekies en daaroor in koerante, maar veral die sosiale media, debat gevoer. Ook hier lê ’n appèl voor.

Rondom die parlement het die hof ook ’n besige plek geblyk te wees, soos die uiteindelike afhandeling van die spioenasiebande-saak in die appèlhof, wat moontlik daartoe kan lei dat Zuma uiteindelik sy dag in die hof sal kry.

Die DKD-saak is ook in die appèlproses om regsekerheid te verkry oor aspekte van rassediskriminasie teen minderhede. Die Renate Barnard-saak, wat ook sekere aspekte hiervan onder die loep geneem het, het na ’n wipplankstryd in die grondwetlike hof op drie uiteenlopende uitsprake, maar met dieselfde regsgevolge, uitgeloop. Solidariteit neem nou ander regsaspekte deur die hofproses, terwyl die Renate Barnard-saak op internasionale beregtiging afstuur. Renate se vasbytvermoë en haar onwrikbare godsdienstige opvattings het ’n groot deel van die land aangegryp.

Môre word die chaotiese parlementêre verwikkelinge, die aanslag op Afrikaans en ander nuushoogtepunte en -laagtepunte van die jaar onder die loep geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

Hierdie berig is onpartydig en aktueel, en die moeite werd om te lees. Baie dankie daarvoor. Ek sou darem graag wou sien dat Basson en dr Piet Goukramp (jammer, my spelling is soms maar op die koffie) ‘n bietjie bygekom word vir wat hulle deur die jaar aangevang het maar dan sou die berig waarskynlik as “partydig” afgemaak word.

Doet so voort, mnr Toerien.

Rupert Ashford ·

Dankie Herman, soos ek al vantevore gese het is jou bydraes van die min deur joernaliste (selfs internasionaal) wat gebalanseerd is. Mag ons nog baie daarvan sien in 2015. Voorspoed!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.