Jaaroorsig Deel 4: 2014 – Plaasmoorde, stakings en die SAUK

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Herman Toerien neem die nuusgebeure van die afgelope jaar in oënskou. Klik hier om die vorige uitgawes te lees. – Red.

Die regering se volgehoue standpunt dat plaasaanvalle nie politiek-gedrewe is nie het met (hopelik) die laaste plaasaanval van die jaar ʼn ernstige knou weg. Met die aanval op die 70-jarige Johan de Lange van Mpumalanga, is hy deur die aanvallers uit sy rolstoel gepluk, aangerand en gedwing om te sê hy is lief vir swart mense.

Maar selfs al is die motief van hierdie aanval ʼn uitsondering, maak die regering se reaksie op plaasaanvalle dit ʼn hewige politieke turksvy. Die vorige minister van polisie, Nathi Mthethwa, se stelling dat AfriForum goedkoop politieke propaganda daarvan maak in die aandrang dat dit weer tot prioriteitsmisdaad verklaar word, staan in dieselfde dampkring as die gerapporteerde uitspraak van eertydse minister Jimmy Kruger dat Steve Biko se dood hom koud laat.

In breë trekke is die moordkoers onder boere en hul gesinslede drie keer so hoog as die hemelhoë Suid-Afrikaanse gemiddelde moordkoers, en twee keer so hoog soos die moordkoers op lede van die SAPD. Dit is volgens sommige berekenings selfs hoër as die gemiddelde moordkoers onder bruin mans op die Kaapse Vlakte wat eens as die hoogste moordkoers ter wêreld van ʼn identifiseerbare groep aangebied is. Laasgenoemde is aan die bendekultuur toegeskryf, waar drank en dwelms ʼn belangrike rol speel.

Die slagoffers van plaasaanvalle is dikwels Godvresende kerkgangers en baie van die aanvalle gaan met onnoembare wreedheid gepaard. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het vanjaar plaasmoorde (en ander plaastoestande) ondersoek, en die uitslag word angstig afgewag.

Intussen het AfriForum die regering se versuim om die kwessie behoorlik aan te speek geïnternasionaliseer. Maroela het op sy nuwe webblad ʼn spesiale nuuskategorie vir plaasmoorde.

Die vyf maande lange platinum-staking deur AMCU wat eers teen die einde van Junie vanjaar beëindig is, het die speelveld van die arbeidswese in Suid-Afrika blywend verander – en die land ekonomies ʼn hewige knou toegedien. Reeds in die eerste kwartaal het die BNP met 1,3 % gedaal en die groeikoers 0,6 % beloop. Die myne se belasbare inkomste het tydens die staking met R24,1 miljard gekrimp.

AMCU, wat nie lid van Cosatu is nie, se staking was egter nie al grote nie. Die Cosatu-filiaal, Numsa, het ook ʼn uitgebreide staking in die staal- en vervaardigingsektor van stapel gestuur wat die ingenieursbedryf uiteindelik R300 miljoen gekos het.

So ingrypend soos die impak van die stakings was, so belangrik was die parallelle politieke ontwikkelings in die vakbondwese. Amcu se groei het grootliks ten koste van ʼn Cosatu-filiaal, die NUM, plaasgevind. Die NUM was Cosatu se grootste vakbond, en eintlik die ruggraat waarom Cosatu gebou is. Weens die suigkrag van Amcu het die NUM sy leidende rol in Cosatu verloor, wat weer vir die regering, wat met Cosatu in alliansie is, dwars in die maag vasgesteek het. Die impak van Amcu is dus deurlopend as nietig en selfs minagtend aangebied, tot die Marikana-skietery plaasgevind het.

Die radikale Numsa het as grootste Cosatu-filiaal uit die stryd getree. Intussen is ʼn Zoeloefikasie- en Zuma-fikasieveldtog in Cosatu van stapel gestuur, wat onder meer Zwelinzima Vavi se kop op die skavot laat beland het, en in die NUM geslaag het. In Numsa het die proses skouspelagtig misluk, en is die wiele aan die rol gesit om Numsa uit te werk.

Maar bygesê, veel komplekser faktore het ook ʼn enorme rol gespeel.

In dié stadium lyk dit waarskynlik dat Cosatu sal skeur, en dat ʼn beduidende politieke party links van die ANC sal ontstaan. Die feit dat landswye munisipale verkiesings nader kom, sal verseker dat ʼn noodreddingsplan in werking gestel word om nie net eenheid in Cosatu te bewaar nie, maar ook dat Cosatu sy volle gewig as alliansievennoot by die ANC inwerp. Baie van hierdie aksies, soos lonende kontrakte vir eggenotes en ander familie, sal agter die skerms as donkerwerk plaasvind.

In Februarie vanjaar berig die Mail & Guardian oor die navorsingsuitslae oor diensleweringsbetogings van ʼn span van die Universiteit van Johannesburg. Tussen 2004 en 2014 is 43 mense in diensleweringsbetogings in Suid-Afrika deur die polisie doodgeskiet. Sulke betogings het geneig om algaande meer gewelddadig te word. In 2012 was daar 470 diensleweringsproteste, maar 287 in 2013. Wanneer vanjaar se syfers finaal verwerk is, sal dit waarskynlik ʼn toename toon omdat dit verkiesingsjaar was. Tradisioneel is daar ʼn toename in verkiesingsjare, maar vreemd genoeg, eers na die verkiesing plaasgevind het.

Die meeste protesoptogte vind vreedsaam plaas. Tog word enorme skade aangerig wanneer sake handuit ruk. Dikwels is dit die sake-ondernemings van buitelanders wat gestroop word en in die slag bly. Heelwat raadslede se huise is ook aangeval en beskadig.

Die jaar 2014 sal onthou word as die jaar waarin die SAUK “onomkeerbaar” besluit het om die Afrikaanse TV-nuusbulletin na SABC 3 te verskuif – ʼn stasie wat in groot, veral Afrikaansprekende dele van die land nie opgevang kan word nie. Dié fout is oplaas reggestel. Dit is ook die jaar waarin die SAUK erken het dat daar “geen” Afrikaanse krieketkommentators beskikbaar is om tydens die beeldsend van krieketwedstryde te gebruik nie.

Dit is ook die jaar waarin die minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, regstreeks teen die bevindinge van die Openbare Beskermer besluit het om Hlaudi Motsoeneng as bestuurshoof van die SAUK aan te stel. En oplaas het die voorsitter van die SAUK-raad, Ellen Tshabalala, bedank na sy uitgevang is dat sy kwalifikasies versin het.

Gelukkig vir Afrikaanssprekende luisteraars wat grootliks van RSG afhanklik is vir nuus, lyk dit of RSG se nuusaanbieding nog veel meer in die dampkring van Openbare Uitsaaier staan. Die rooi lig is die gerapporteerde opdrag aan die SAUK-personeel dat deelnemers aan politieke debatte eers goedgekeur moet word. Dit is nog moeilik om presies agter die kap van die byl hier te kom.

Nuusanaliste is egter baie krities oor die wyse waarop TV-nuus geplooi word – wat wissel van belangrike weglatings, tot die aanbied van situasies waar belangrike feite weggelaat is.

Gelukkig was daar ook mooi gebeurtenisse, soos die verkiesing van Rolene Strauss tot Mej. Wêreld.

Daar is egter die ontsettende hartseer oomblikke soos die nuus dat die Suid-Afrikaanse gyselaar in Jemen, Pierre Korkie, gesterf het.

Suid-Afrika is ʼn land van kontraste. Van e-tolsnelweë tot paaie wat deur slaggate besaai is. Van kernkrag tot kerskrag.

Uit heelwat jaaroorsigte en kommentare in die kuberruim is dit duidelik dat baie mense in Suid-Afrika 2014 as ʼn annus horribilis – ʼn verskriklike jaar – ervaar het.

Met drie groot lugrampe en talle kleineres, waaronder 46 mense aan boord van ʼn Oekraïense militêre vliegtuig wat neergeskiet is, met ʼn stewige kwota plaasmoorde, met die ekonomie wat maar nie wil kop optel nie, is 2014 sekerlik vir baie mense ʼn annus horribilis. Maar daar was vir baie gesinne groot vreugde met die voltrekking van huwelike, kinders wat gebore is, gesinslede wat grade gekry het, goeie oeste ondanks die droogte… Vir sommiges het die jaar so verloop dat die silwer randjie oorheersend skyn, vir ander is die donker wolk oorheersend.

Môre word die vooruitsigte vir 2015 onder die loep geneem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hanno Visagie ·

“…die gerapporteerde uitspraak van eertydse minister Jimmy Kruger dat Steve Biko se dood hom koud laat.” Is Biko nie al amper 40 jaar dood en Kruger kort daarna uit sy pos verwyder nie? Is dit altyd nodig om ou apartheidskoeie op te diep om eie gematigdheid te probeer staaf?

Herman Toerien ·

Hanno, die werklikheid is dat die Jimmy Kruger-uitspraak (en ek verstaan dit word ook hier en daar ontken), steeds gebruik word as “tipiese voorbeeld” om die vorige bedeling mee swart te smeer. Hierteenoor het Nathi se uitspraak bitter min nuusdekking gekry en is na my gevoel eintlik onder die mat ingevee. My bedoeling is dus om iets onder die mat uit te haal, en aan die kaak te stel vir wat dit is. As Nathi om verskoning gevra het het ek dit nie onder die mat gaan uitkrap nie. Ek was gister verbaas om te lees die presidensie skryf dat regter Hilary Squires “al lankal” ontken het dat hy sou gesê het dat daar ‘n korrupte verhouding tussen Zuma en Shaik bestaan het. Die Burger het dit onlangs weer in ‘n meningstuk gebruik.

Chris du Plessis ·

Clip from Genocide Watch news conference, 5 Dec. 2014 :

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.