Maroela se Herman Toerien oor sy kankerpad: ‘Vir húlle wil ek aanhou lewe’

herman-toerien-en-sy-gesin

Die skrywer Herman Toerien (middel) en sy gesin op sy oudste se troue. Agter Herman v.l.n.r. staan sy jongste seun Juandré, sy vrou Joan, en sy oudste seun Nic en sy skoondogter Leandri. Foto: Verskaf.

Getroue Maroela Media-lesers skuif elke oggend reg vir Herman Toerien se nuuskommentaar, wat so klokslag gelewer word soos wat jou ouma se kampioenlêhen eiers produseer. Met die lees daarvan verstom jy jou aan hoe Herman ʼn politieke gebeurtenis van twintig jaar gelede gaan haal, ʼn draai maak iewers in die Oekraïne, vinnig stop by die Amerikaanse presidentsverkiesing, die weervooruitsigte vir die volgende tien jaar in die storie inwerk, ʼn mening gee oor ʼn onlangse voorval in die parlement, en dit alles meesterlik bymekaarbring in ʼn nuuskommentaar wat konteks aan jou wêreld gee.

Terwyl jy dit lees, sal jy nooit raai dat Herman dosyne van sy nuuskommentare die afgelope drie jaar vanuit ʼn hospitaalbed geskryf het nie. Dat sy dinkwerk wat so kalm en deurdag voorkom, dikwels saamgestel is te midde van chemoterapiesessies en ander behandelings en medikasie wat hom behoorlik uitgemergel het. Nou en dan was hy ʼn uur of drie laat met sy nuuskommentaar, omdat sy vrou, Joan, eers huis toe moes ry om die skootrekenaar se laaier te gaan haal of omdat die internet in die hospitaal nie wou saamspeel nie. Maar nie een dag het hy Maroela Media se nuuskommentaarlesers teleurgestel nie.

Min Maroela-lesers weet dat die skrywer Herman Toerien (63) die afgelope drie en ʼn half jaar veg teen Waldenstrom-kanker, ʼn soort limfatiese kanker. Maroela Media se lesers ken Herman, wat in Bloemfontein woon, as die gesoute joernalis wat ook die pittige “Oom Herrie se kerrie”-rubrieke en aktuele berigte oor die ruimte en argeologiese sake skryf. Net nou en dan skemer iets van sy persoonlike stryd deur wanneer hy skryf oor sy ervaring van chemoterapie, en dit met die lesers deel.

“Hy weet gewoonlik beter”

Net so konstant soos sy nuuskommentaar, is Herman se onwrikbare geloof in God.

“Onthou, God verhoor gebede, maar Hy verhoor dit nie altyd op die manier wat ons verwag nie,” sê hy. “Dit moet ʼn mens nie ontstel nie. Aanvaar wat die Here wil doen, want Hy weet gewoonlik beter.”

Hy onthou sy eerste ontmoeting met chemoterapie-behandeling soos gister – niks kon hom daarop voorberei nie.

“Ek het maar ʼn slegte ervaring gehad toe ek die eerste keer die chemokamer binnegegaan het,” vertel hy. “Toe ek self behandeling moes ontvang, het ek glad nie geweet wat om te verwag nie.”

Dié negatiewe ervaring het hom, eie aan sy aard, genoop om iets te doen om ander in dieselfde bootjie te help, eerder as om homself jammer te kry. Ná sy eerste jaar van kankerbehandeling het ʼn twintigbladsy-bundeltjie getiteld Chemo-kamerade die lig gesien. In dié boekie poog hy om ander wat vir die eerste keer kankerbehandeling moet ontvang, voor te berei op wat hulle te wagte kan wees.

“Dit is deel daarvan om ʼn kankervegter wees,” verduidelik hy. “Jy moet eenvoudig uitreik na ander wat kanker het en hulle bemoedig. Dié bundeltjie is my beskeie poging om dit reg te kry.”

herman-toerien-02

Herman is ook lief vir honde en skryf graag rubrieke oor sy troeteldiere se doen en late. Foto: Verskaf.

Ondersteuningsgroep in Lazy Boy-stoele

Hy is dankbaar vir ander wat na hom uitgereik het, net soos wat hy met Chemo-kamerade wil uitreik na ander wat vir die eerste keer in dié bootjie is. Só vertel hy van die medekankerpasiënte saam met wie hy hom, kort ná sy eerste behandeling, in ʼn kring Lazy Boy-stoele bevind het. In dié kring kon hulle gesels, hul ervarings met mekaar deel en mekaar ondersteun.

“Ek het myself heel onnodig vooraf gesit en opwerk,” onthou Herman. “Later het ek besluit ek moet iets hieroor skryf, en spesifiek in Afrikaans, want alles wat ek kon naslaan oor my siekte, was in Engels en het net oor die kliniese sy van die behandeling gehandel.

“Vir my gaan dit eerder oor die uitwerking wat die behandeling op jou gemoed het, en wat ek beleef het.”

Sy bundel bevat ook praktiese raad, soos hoe om te voorkom dat jy (as gevolg van die bestraling) seertjies in jou mond kry.

“Nie een van die dokters het ooit vir my hiervan gesê nie. Dan word ʼn mens se mond so rou van die sere terwyl dit eintlik heeltemal voorkombaar is.”

Een ding wat ʼn mens ook so op die paadjie met kanker uitvind, sê Herman, is dat kanker nie altyd reageer soos wat die literatuur sê dit sal reageer nie.

“Ons het gedink dit sal gou-gou beter gaan, maar ons kon dit tot dusver nog nie onder beheer kry nie.”

Ná elke chemoterapiesessie gaan dit ʼn rukkie beter, maar dan tree komplikasies in en die kankerselle neem weer toe.

“Ek het 86 kg geweeg toe kanker die eerste keer by my gediagnoseer is. Nou weeg ek 69 kg. Fisiek is ek nie dieselfde mens nie. My bene is maar baie swak. As ek ʼn entjie moet beweeg, moet ek krukke gebruik; as dit verder as ʼn paar treë is, leen ons ʼn rolstoel. Vir ʼn ou wat nou die dag nog ʼn halfmarathon gehardloop het, is dit ʼn verskriklike aanpassing.”

Die mense vir wie hy nog lank wil lewe

Herman gesels met groot deernis oor sy gesin, wat sy steunpilare in dié moeilike tyd is: Sy vrou, Joan, is sy rots, die een wat sorg dat alles klopdisselboom verloop en wat die rekeninge en ander praktiese uitdagings hanteer. Sy oudste seun, Nic, is ʼn produksiebestuurder op ʼn vrugteplaas tussen die Paarl en Franschhoek. Hy is onlangs getroud met Leandri ʼn skoondogter net in naam, want vir Herman kon dié jong vrou met die soet sangstem netsowel sy eie dogter gewees het. Hul jongste seun, Juandré, is outisties, maar hy is ʼn man met vele talente, vertel Herman.

Volgens hom was sy seun al 16 toe hy met outisme gediagnoseer is.

“Hy het outistiese tekens getoon, maar sy ander eienskappe was weer glad nie deel van die outismespektrum nie. Ek het lank met die literatuur gespook om te probeer bepaal wat ons seun makeer, en so deel ʼn mens maar wat jy geleer het met ander ouers wat in dieselfde bootjie sit as jy.”

Juandré is ook ʼn knap kunstenaar wat pottebakkery doen en skilder. Hy beoefen ook judo, is lief vir tuinmaak en is vaardig met naald en gare: Onlangs het hy sommer vir homself ʼn nuwe Spiderman-pak vir sy 1,85 meter lange lyf gemaak – sonder ʼn maatband of ʼn steek opleiding in naaldwerk, vertel Herman trots. Maar, herinner hy my: “Juandré sal afhanklik van ons bly, al is hy nou 27.”

ʼn Indrukwekkende loopbaan

In sy jonger jare het Herman die land deurkruis as deel van die verskillende poste wat hy by verskeie staatsdepartemente beklee het. Hy vertel ondeund van die marakkas wat hy veroorsaak het in die twintig maande wat hy as hofverslaggewer vir die Volksblad gewerk het.

“Dit was moeilik; ek wou net inmeng met die uitsprake en ek was beslis nie gewild by die staatsaanklaers nie.”

Hy vertel van die drie vriende wat “gesamentlik sekerlik ʼn IK van 3 gehad het”.

“Die een het die ander se motor gevat sonder toestemming en toe gaan lê die vriende ʼn saak van diefstal teen mekaar. Daar sit die drie op die bankie en ek kan sommer sien hulle is nie van ordentlike regsadvies bedien nie.

“Ek skuif nader en sê as die landdros hom vra wat hy pleit, moet hy net daar sy vriend (waarteen die saak van diefstal gemaak is) as getuie roep. Dit sal almal so deurmekaar maak, dat hulle die saak sal uitgooi. Dit is ook toe net presies wat gebeur het.”

Kostes vir behandeling

Ons gesels weer oor die kanker.

“Jy weet, ek moet nou my derde soort chemo probeer. Die behandeling wat die dokters nou wil gebruik, kos R8 000 per sessie en die mediese skema keur dit af, want dit val buite die fondsvoordele.”

Herman se volle behandelingskostes vir dié ronde sal waarskynlik ten minste R150 000 beloop. Sy mediese fonds het die spesifieke behandeling nou al twee keer afgekeur, maar sy dokter het gesê hy sal weer die behandeling aanvra.

Want vir Herman is daar nog baie om voor te leef (in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie) Die lesers van sy nuuskommentaar wat groot waarde aan sy mening heg; sy vrou; die hondjies wat snags op hul bed opkrul; sy seun en sy “nuwe” dogter; sy gestremde jongste wat van hom afhanklik is.

“Ek weet ek gaan nie vir altyd hier wees nie,” sê Herman peinsend. “Daarom moet ek alles doen wat ek kan om nóú gesond te word, sodat ek ʼn ietsie kan wegsit waarmee Juandré versorg kan word as ons nie meer daar is nie.”

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Elizabeth Teir ·

Baie dankie, Herman. Hierdie artikel vang my ontkant. Sterkte vir almal om jou en vir jouself. God se groot vrede word julle toegewens.

SNEL ·

Sjoe, wat n insperasie vir my. Ons wat gesond is voel party dae of ons nie iets wil doen nie, en hier hoor ons hoe hy artikels skryf uit n hospitaalbed en dit terwyl hy eintlik pap en lam moet voel. Ek haal my hoed af vir die yster van n man. Mag die Here jou gebede verhoor en aan jou vrede gee. Sterkte vir die pad vorentoe.

Shirley ·

Ai Oom Herman, dit is baie hartseer om te hoor. Elke dag lees ek oom se stukkies en soms laat dit my twee keer dink en ander kere kan ek nie help om te lag nie. As gesin sal ons u en al die geliefdes in ons gebede hou.

marco polo ·

Baie sterkte Herman, en dankie vir jou artikels, ek geniet hulle altyd.

Anti-Kommunis. ·

Dankie Herman, vir al die puik artikels wat jy só gereeld vir ons op’dis! Jy is ‘n skrywer van formaat! Jammer om te hoor van die reuse uitdaging in jou lewe. Sterkte!

Anoniem ·

Herman byt vas mater. Vader sal uitkoms bring. Ek bid vir spoedige genesing sodat jy jou
kleinkinders sien opgroei.

Maarten Boom ·

Hallo Herman, ek het al eens gewonder, ook toe jy oor jou ma se afsterwe geskryf het. Sy het deur haar siekte jou al ni meer geken ni, maar jou liefde vir haar het uitgestraal. Dat jy jou vertroue in die Heere le, is n genade en sal jou vrede ge, wat ook al gebeur. Sterkte gewens vir jou, jou vrou en kinders. Ek het jou kommentaar op Maroela Media altyd geniet en kyk uit naar jou kommentare voren toe.

Vaalseun ·

Herman, met jou pen en jou toetsbord het jy vir ons een van die grootste geskenke wat ‘n nuusman en kommentator sy lesers kan gee, gebring, naamlik deurdagte ander opinies en nuwe insigte. Baie, baie dankie daarvoor. Sterkte en krag jou toegebid.

Jan Coetzer ·

Ek het Herman Toerien as ‘n jong man geken toe hy vir my pa in die staatsdiens gewerk het in Bloemfontein. Baie skokkend om hom so te sien. Baie sterkte van die Coetzers.

Zachrys ·

Beste Herman, ek lees jou komentare graag, jy beïnvloed my, en sekerlik baie ander mense, se denke oor die politiek baie – en definitief positief.
Sterkte en vasbyt!
Seën

Nic ·

Herman, baie dankie vir al jou eerlike en objektiewe kommentare. Mag die Here jou die krag gee om daarmee voort te gaan vir solank dit Hom behaag.

Nikita ·

Oom Herman…so jammer om te hoor. Ek geniet elke liewe artikel van jou, duisende dankies daarvoor. Wees sterk…en weet ons Hemelse Vader hou jou in die holte van Sy hand. Ons dink aan jou en bid & glo dat God jou krag sal gee en volkome sal genees. Baie, baie sterkte.

JAN ·

Liewe Herman
Die Here het klaar vir jou nog ‘n engel gestuur om jou te troos en by te staan. Mag jy nooit eensaam wees nie. Dankie vir jou kosbare skrywes. xxx

Debbie ·

Waar kan ek Herman se bundel “Chemo-kamerade” te koop kry?

Staak saam ·

Herman ek het al baie kritiek op van jou skrywe gelees waar ek verskil maar dan ook op ander vir jou in die bres getree, ek het al onder baie verskillinde name kommintaar gelewer maar ek wil graag he jy moet die volgende weet.
Die pad wat jy stap het ek reeds 28 jaar terug gestap, God was my genadig en ek is genees, my gebed is dat God ook sy seën en genade oor jou en jou gesin sal laat neerdaal en daar genesing kom.

Ek geniet jou skrywd baie en jy plaas n nuwe perspektief of dit wat ons raak, sterkte vir jou en jou gesin.

Ballon ·

Baie sterkte!! Kanker is nie n man se speel maat nie my pa het self n stryd gehad. Dankie dat jy met ons deel. Ek lees elke liewe artikel wat u skryf en is n baie groot fan!!! Verder weet ek nie wat om te sê nie. Ek dink aan jou en jou gesin. Maar God is groot!!

Essa ·

Beste Herman, ek het nog altyd groot waardering vir jou as skrywer gehad; nou nog meer!! En as mens – jy is ‘n voorbeeld van moed en deursettingsvermoe en innerlike krag en so ook jou familie. Wat kan ek se? Seenwense vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.