Mazibuko, die ANC en Afrikaners

Deur Eugene Brink

Die jeug in SA raak toenemend prominent in nuusverslaggewing die afgelope ruk. Die 30-jarige Julius Malema, ANC-Jeugligaleier, lei ʼn flouerige optog vir ekonomiese vryheid in Gauteng om sy kort politieke loopbaan te red. Fikile Mbalula, die agbare minister van sport en voormalige ANC-Jeugleier, doen toe mos minder agbare goed in sy vrye tyd met jong modelle en steek die ANC, homself en sy portefeulje in die skande. Les bes, die DA as hoof-opposisieparty verkies die 31-jarige Lindiwe Mazibuko om hulle in die parlement te lei. ʼn Massiewe taak op jong skouers.

Terwyl Mazibuko se verkiesing groot debat en beroering veroorsaak het die afgelope ruk en haar aanstelling as ʼn kwota beskou word, wil ek haar tog opweeg teenoor Malema en Kie. en haar verkiesing in konteks plaas. Daarmee wil ek bewys dat sy enersyds die goeie in Suid-Afrika verteenwoordig waarna ons almal moet streef, terwyl die ANC juis die aanspraak op onverdiende respek, klakkelose transformasie en verdelende politiek nastreef wat soveel probleme vir ons veroorsaak het.

Eerstens het sy uitstekende kwalifikasies en boonop ʼn honneursgraad in politieke kommunikasie van die Universiteit van Kaapstad. Sy het boonop skool al op 17 voltooi. Sy vra nie vir gunsies en aalmoese soos die Jeugliga nie, maar het haarself redelik bevoeg geleer en gewerk in ʼn kort tydjie. Mense vergeet gerieflikerwys hoe vinnig ʼn baie jong en intelligente Raenette Taljaard sowat ʼn dekade gelede in die DA se strukture gestyg het. Sy het in 2004, toe sy maar 32 was, reeds as DA-LP vir finansies bedank om haar akademiese loopbaan na te jaag. Prominente ANC-lede soos Trevor Manuel, toe minister van finansies, het haar geloof as “ ‘n voorbeeld van puik opposisie” met haar uittrede. Ryan Coetzee het ook op 31 reeds aan die stuur van die DA se verkiesingsuksesse in 2004 en ander suksesvolle strategiese inisiatiewe gestaan.

Daarteenoor het Malema gesukkel om op 20 deur skool te kom en het geen tersiêre kwalifikasies nie terwyl Mbalula ook geen kwalifikasies verwerf het nie. Malema dring aan op hulpbronne en vordering wat hom nie toekom nie en sy voorbeeld wys vir die swart jeug dat politieke konneksies, en nie harde werk, kwalifikasies en vindingrykheid nie, die sleutel tot sukses is. Sy tenderpreneurskap, korrupsie en rassisme (die sing van “Skiet die Boer”) is geheel en al ontbloot en het op verskeie vlakke teëspoed opgetel. Hy is glo op die punt om gearresteer te word op aanklagte van korrupsie. Mbalula se buite-egtelike verhouding is eweneens nou op die lappe en hy is sodoende van ʼn groot mate van legitimiteit ontdaan.

Daarteenoor beklee Lindiwe die morele hoë grond en het geen geraamtes in die kas nie. Haar lewe is ʼn voorbeeld van die hoogtes wat ʼn jong persoon wat bereid is om hard te werk en die beste van hul lewens te maak, kan bereik in Suid-Afrika. Sy stel nie belang in die rassepolitiek van die ANC nie en is realisties oor waarheen sy die DA wil sien gaan. Sy het besef rasbelaaide stellings en ʼn gehamer op die verlede kan geen duit verskil aan die lot van Suid-Afrikaners of haar party se aansien en steun maak nie.

Dit lei my na die volgende punt: Sy wil respek verdien en eis dit nie ongekwalifiseerd op grond van haar velkleur en geskiedenis op nie. Nes Zuma nog altyd vermy het om met Helen Zille te debatteer in die openbaar, het Malema eweneens onlangs geweier om swaarde met Mazibuko op e.tv te kruis in ʼn debat. “She’s a nobody, she’s a tea girl of the madam. I’m not debating with the service of the madam,” het hy volgens News24 gesê met “madam” wat na Zille verwys. In Amerika woed die debat dat die spoeg so spat in die Republikeine se intraparty-verkiesing om ‘n teenstander vir pres. Barack Obama in die VSA se nasionale verkiesing in 2012 te verkies. Die debate is warm, soms persoonlik, maar bowenal, uiters noodsaaklik om die kandidate se karakter en vermoëns te toets. Met ‘n geskiedenis soos Suid-Afrika s’n en die huidige politieke landskap is debat des te meer onmisbaar. Ek het al in vorige skrywes meer lawaaierige en feitelike debat in SA bepleit. Terwyl Mazibuko klaarblyklik gereed is vir hierdie uitdaging, blyk Malema te lafhartig en te besig te wees met partytjies in Mauritius om aandag aan sulke sleutelaspekte van die politiek en demokrasie te gee. Waarvoor is Malema bang? Dat ‘n ander jong swart persoon sy onkunde gaan blootlê?

Laastens is Mazibuko bloot in ‘n beter organisatoriese struktuur as haar ANC-eweknieë. Afgesien van een of twee intellektuele mense in die ANC, het die regerende party se intellektuele kapasiteit sien kwyn sedert die Zuma-bewind se aanvang, maar ook lank voor dit. Mazibuko het daarenteen uiters bedrewe en intelligente politici en leermeesters om haar. Boonop is die ANC so interns verdeeld dat die jeug feitlik sonder uitsondering deesdae slaags raak met die oueres in die party terwyl die DA, op die keper beskou, ‘n verenigde karakter het.

Met Afrikaners wat steeds die grootste kiesergroep binne die DA vorm, sal Mazibuko met hierdie tendens tred moet hou. Anchen Dreyer, DA-LP van Krugersdorp, en ander (soos ek!) was baie beïndruk met hoe Lindiwe haar veldtog in Engels, Afrikaans en Zoeloe gevoer het. Terwyl Lindiwe nie enige etniese of historiese bande met Afrikaans of die Afrikaners het nie, sal sy gou moet leer watter waarde hierdie groep inhou vir haar party. Sy sal moeilike vrae in die parlement oor regstellende aksie moet vra, ook oor die plek van moedertaalonderrig in die land en moet voortbou op haar inklusiewe beeld indien die DA Afrikaners se steun wil behou. Maar sy gaan nie meer as ‘n wit lid van die party doen om hierdie steun te behou en Afrikaners te paai nie, dit is hoekom die Afrikaners en hul instellings toenemend druk op die DA, maar ook die ANC en ander partye, moet plaas om gehoor aan sake van belang te gee. Buiten goeie regering en ‘n doeltreffende opposisie, verwag ons ook politieke teenprestasies op grond van taal, kultuur en ander maatskaplike aangeleenthede vir ons stemme en ander steun. Ek as jong Afrikaner (ek en Lindiwe is in dieselfde jaar gebore) heg baie waarde aan my kultuur en taal, wil dit bewaar en sien floreer en gun hierdie regte ook vir ander gemeenskappe. Ek verwag dat die DA as opposisie maniere vind om hierdie belange te versterk en verteenwoordig. Hulle moet nie nou net ‘n anti-ANC veldtog dryf sonder om die nuanses en ryk diversiteit van ons samelewing te ignoreer nie. Moenie vir ons sê wat julle gaan doen nie, wys ons wat julle doen!

Terwyl Mazibuko voor groot uitdagings in haar kort loopbaan staan, dink ek sy verdien ‘n kans om haarself te bewys. Sy het die regte kwalifikasies, sy is jonk, entoesiasties en vol energie, sy staan nie terug vir die ANC se Jong Turke nie en sy is omring deur uiters bekwame mense. Die bewyse van haar bevoegdheid sal egter deur vuur getoets word en ek vir een hoop sy is reg daarvoor, want om soveel kampe en groepe tevrede te hou, gaan behendigheid verg. Sy het ‘n baie ver pad om te stap, maar soos Margaret Thatcher van Ronald Reagan ná sy dood gesê het: “Fortune favours the brave.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.