‘Noordwes se munisipale verrotting’

waterDie agteruitgang van Suid-Afrika se munisipaliteite, veral in plattelandse gebiede, is nêrens meer sigbaar as in Noordwes nie, skryf Eugene Brink, senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Dienslewering en goeie regering het die onafwendbare slagoffers geword. Die ernstige gevolge hiervan is babas wat sterf en siek mense.

Die SNI se Leefbaarheidsmonitor oor Noordwes is pas uitgereik. Elke munisipaliteit word volgens ’n paar aanwysers – waaronder demografie, gehalte en omvang van dienslewering, en bestuur – gemeet en ’n punt uit 10 toegeken. Kortom vra ons die vraag: Hoe leefbaar is ’n betrokke provinsie se individuele munisipaliteite?

Dis ’n pertinente vraag om te vra omdat munisipaliteite die plekke is waar ons woon en werk en hul stabiliteit ons regstreeks raak.

Die probleme
Die Noordwes-verslag is nie opbeurende leesstof nie, maar daar is ook ligkolle in die provinsie – ek sal later verder kommentaar hieroor lewer en ’n paar voorstelle maak. Maar eers wil ek ’n paar (goeie sowel as slegte) bevindinge kortliks uitlig:

  • Nege van die munisipaliteite het ’n telling van 1 uit 10 gekry – ’n groter aantal as selfs in Mpumalanga en Limpopo, waar die lewensomstandighede en bestuur in baie munisipaliteite ook beroerd is.
  • Slegs drie – Rustenburg, City of Matlosana en Tlokwe – het meer as 5 uit 10 gekry.
  • Eerstens is die inwoners se inkomste in die algemeen laag. In feitlik alle munisipaliteite in die provinsie het ’n groot persentasie van die huishoudings (50%+) ’n inkomste van minder as R38 000 per jaar. Min (rondom 10%) is in die middelklas- en hoërklas-kategorieë bo R153 000 per jaar.
  • Werkloosheid is taamlik hoog, maar dalend. Werkloosheid het in alle munisipaliteite in Noordwes tussen die twee sensusse van 2001 en 2011 gedaal, maar dit bly ’n hardnekkige probleem. In baie munisipaliteite is die amptelike werkloosheidskoers tussen 30% en 45% (die beter munisipaliteite soos Tlokwe is uitsonderings) en die jeugwerkloosheidskoers is selfs hoër. Dis ’n potensieel plofbare situasie wat reeds ’n uitkring-effek het op probleme soos misdaad as daar in ag geneem word dat die Noordwes-munisipaliteite se bevolkings baie jeugdig is: 70% is onder 40 jaar oud.
  • Misdaad is in die algemeen hoog en goeie mediese geriewe is gebrekkig. Hoewel eiendomsmisdaad wel taamlik laag is, is geweldsmisdaad ’n probleem, veral in die beter munisipaliteite in Noordwes. Die koers van roof met verswarende omstandighede (per 100 000 mense) in die Rustenburg-munisipaliteit in 2011-’12 was byvoorbeeld ’n massiewe 335. Vir Madibeng (Brits en Hartbeespoort) was hierdie syfer 282, en 210 vir Tlokwe (wat Potchefstroom insluit).
  • Daar is slegs ’n hand vol private hospitale en klinieke in die provinsie en ook hopeloos te min goeie staatsgeriewe. Die goeies is ook beperk tot die groot dorpe soos Potchefstroom, Rustenburg en Klerksdorp en enigiemand buite hierdie areas moet ver van plase en dorpe af reis om ordentlike behandeling te ontvang.
  • Die watergehalte en sanitasiegeriewe in die provinsie is nie goed nie. Dit is sekerlik een van die mees kommerwekkende aspekte as daar in ag geneem word dat babas selfs al vanjaar in Bloemhof dood is weens diarree oor waterprobleme. Die Ratlou- en Tswaing-munisipaliteite se Blou Druppel-telling, wat die gehalte van drinkwater meet, is 40%. Daar is ook ligpunte soos Matlosana en Tlokwe se Blou Druppel-tellings in die hoër 90’s.
  • ’n Groot klomp huishoudings in die provinsie se munisipaliteite het nie spoeltoilette in hul wonings nie. In die Mahikeng-munisipaliteit (voormalig Mafikeng) gebruik slegs 22,6% van die mense spoeltoilette en bykans 60% moet steeds van puttoilette gebruik maak.

Die oorsake
Die oorsake van baie van hierdie probleme is kompleks en terselfdertyd voor die hand liggend. Die ANC, wat elke munisipaliteit in die provinsie beheer, se politieke wurggreep het talle gevolge.

In die Maquassi Hills-munisipaliteit (wat Wolmaransstad insluit) en Mamusa (Schweizer-Reneke) het die party byvoorbeeld nagenoeg 80% van die stemme op hom in die 2011 plaaslike verkiesing verenig. Met sulke politieke steun laat dit die party, wat vervolgens enige teenstand in die raad kan wegstem, toe om teen wil en dank swak besluite namens alle inwoners te neem. Absolute mag lei dus tot absolute korrupsie, soos die ou spreekwoord lui.

Die party se beleid om lojale (maar onbevoegde) kaders na strategiese posisies te ontplooi, is niks anders as korrupsie en baantjies vir boeties nie. Hulle klee dit in die gewaad van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, transformasie en tegnokratiese ideale, maar dit het die praktiese uitwerking dat die verkeerde munisipale bestuurders, finansiële personeel, burgemeesters en selfs tegnici aangestel word.

Die vaardighede en wil ontbreek om die probleme op te los. Weens die faksiegedrewe aard van die ANC in die provinsie raak dit noodsaaklik vir die onderskeie faksies om bo ’n ander politieke beheer van ’n munisipaliteit te verkry en dan na hartelus te plunder.

Dit het veroorsaak dat die Ditsobotla-munisipaliteit (waar Lichtenburg geleë is) onder administrasie geplaas is. Volgens nuusberigte vroeër vanjaar was die munisipaliteit glo op die rand van ineenstorting en kon weens wanadministrasie nie langer dienste aan die inwoners lewer nie.

Slegs drie munisipaliteite het in die laaste ouditronde ’n ongekwalifiseerde mening (met bevindinge) by die ouditeur-generaal gekry. Verkwisting en onreëlmatige besteding kom algemeen voor.

Korrupsie het ernstige afmetings aangeneem, soos gesien in die voormalige burgemeester van Tlokwe, Maphetle Maphetle, se plundering van die rampbestuursfonds en die armoedeverligtingsfonds. ’n 2012-verslag deur die spesiale ondersoekeenheid na onreëlmatighede in Noordwes se munisipaliteite het die volgende bevind:

“There was widespread corruption, misappropriation and maladministration in the Madibeng, Moses Kotane, Bojanala, Rustenburg, Ventersdorp, Greater Taung, Tswaing, Ramotshere, Dr Kenneth Kaunda and Mafikeng municipalities. These irregularities were in the form of fraudulent financial transactions, irregular supply chain management practices, irregular appointments and a general breach of the Municipal Finance Management Act.”

Die oplossing
Hierdie gegewens behoort ons as burgers en belastingbetalers uiters onrustig te stem, maar nie met wanhoop te verlam nie. Daar is oplossings, maar nuwe denke en nuwe maniere van doen sal aangeleer moet word om die nuwe realiteit – dat die staat nie meer al sy “normale” diensleweringsfunksies kan of wil vervul nie – te weerspieël.

Die ANC se oorweldigende politieke beheer in ’n provinsie soos Noordwes gaan nie gou verdwyn nie en nog minder sy beleid om gierige kaders te ontplooi. Om ons koppe in die grond te druk en onkunde te pleit help ook nie.

Daarom sal hierdie regruk-aksie op ander maniere moet geskied en die reg laat baie ruimte vir die skep van verantwoordbaarheid op ander maniere. Die burgerregte-waghond Afriforum het byvoorbeeld in 2013 hofaansoeke teen onder meer die Madibeng- en Naledi- plaaslike munisipaliteite gebring om hulle te dwing om aan die bepalings van die munisipale regulasies by die Minimumbevoegdheidstandaarde voldoen (lees: bevoegde amptenare aan te stel). Hulle het ook sopas Matlosana via ’n hofbevel gedwing om huur te betaal vir private grond waar plakkers hul intrek geneem het. Hulle neem ook watermonsters in die munisipaliteite, stuur aanmanings as dit nie na behore is nie en hang vergrype doeltreffend aan die groot klok.

Voorts is daar ook talle ander organisasies soos kerke, boereverenigings en gemeenskapspolisiëringforums wat doeltreffend op verskillende terreine en op verskeie maniere ingryp om die veiligheid en lewensomstandighede in hul gemeenskappe te verbeter. Solidariteit se Helpende Hand het byvoorbeeld vanjaar ook in Rustenburg aan die vakbond se nie-stakende lede tydens die vyf maande lange staking kos uitgedeel en sodoende groot nood verlig.

Hierdie organisasies het egter soveel hulp as moontlik nodig want eendrag maak mag. Vind dus uit hoe jy jou deel kan doen en raak betrokke want waaksaamheid en deelname is die prys van vryheid, voorspoed en vrede.

Om die Leefbaarheidsmonitor te besigtig, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae