Nuuskommentaar: Onteiening – hoekom die buiteland nader vir geregtigheid?

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Dit is duidelik dat baie Suid-Afrikaners maar mismoedig is, geoordeel aan onder meer leserskommentare. Kundiges sê om by die oplossing betrokke te raak, kan die mismoedigheid verlig. Elke burger kan iets bydra om die internasionale gemeenskap se persepsies oor Suid-Afrika te verander sodat hulle op groter skaal kan begin standpunt inneem oor diskriminasie teen minderhede in die land, en bepaald die voorgenome grondwetwysiging sodat (wit) mense se grond sonder vergoeding afgeneem kan word.

Die TLU SA-landbouorganisasie het bekend gemaak dat hy amptelik beswaar gemaak het teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, en hom het verbind tot internasionale regsaksie. Artikel 25 is deel van Suid-Afrika se handves van menseregte, wat beteken die regering is doelbewus besig om hom vir die skending van menseregte te beywer. Heel pikant het Human Rights Watch ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om, wanneer hy die voorsitterskap van die Afrika-Unie oorneem, hom te beywer vir die bevordering van menseregte in Afrika. Is dit nie soos om van wolf skaapwagter te maak nie?

Dit is nie vreemd dat internasionale organisasies sulke lawwighede aanvang nie, en die VN self is nie ’n uitsondering nie. In 2012 is Mugabe genader om die VN se “toerisme-leier” te word.

In 2017 het The Guardian dit as “sickening” beskryf dat einste Mugabe aangewys as die VN se gesondheidsorganisasie se “goodwill ambassador”. Toe het Human Rights Watch nie geskroom om te kritiseer nie. Die organisasie se program-direkteur, Iain Levine, het soos volg getwiet: “Given Mugabe’s appalling human rights record, calling him a Goodwill Ambassador for anything embarrasses WHO and Doctor Tedros.”

Wat hier volg is nié ’n regsmening nie, maar hoogstens ’n kort agtergrondskets oor die beskouing van die internasionale reg oor die kwessie. Hierdie skrywer het nie voldoende regsopleiding vir die opstel van ’n regsmening nie (hoewel in staatsreg opgelei en met verskeie regskursusse soos arbeidsreg afgelê), maar die “regsopleiding” word ten beste deur die benaming van een daarvan beskryf: “Opleiding as LEKE-assessor”. ’n Behoorlike regsmening sou die omvang van ’n doktoraal aanneem.

Wat verwag die Afrika- handves van mense- en volksregte van Ramaphosa om hom voor te beywer? Artikel 14 daarvan val weg met: “The right to property will be guaranteed.” Maar vervolg daarna met: “It may only be encroached upon in the interest of public need or in the general interest of the community and in accordance with the provisions of appropriate laws.” Die handves se klem op tradisies en die uitwissing van spore van kolonialisme kan met ’n “Afrika-uitleg” moontlik vertolk word as die “beperking” op die “guarantee”, maar omdat die artikel swyg oor vergoeding, kan die woord vertolk word as dat vergoeding outomaties inbegrepe is, veral teen die agtergrond van die internasionale reg.

Artikel 17 van die VN se universele deklarasie van menseregte swyg ook oor vergoeding maar weer eens dui die konteks dit wel aan:

(1) Everyone has the right to own property alone as well as in association with others.

(2) No one shall be arbitrarily deprived of his property.

(Wanneer geen vergoeding ter sprake is nie, is dit gewoonlik iets soos waar die staat op die grond beslag lê om uitstaande belasting te verhaal.)

Die Suid-Afrikaanse literatuur, insluitend baie gesaghebbende artikels, maar ook berigte en gepopulariseerde artikels, onderskei tussen hoe die internasionale reg na onteiening, en spesifiek onteiening sonder vergoeding, kyk, en wat die posisie van buitelandse grondbesit in Suid-Afrika is. Wat laasgenoemde betref, het die regering reeds in 2010 besluit daar behoort nie buitelandse grondbesit in Suid-Afrika te wees nie, en daar is na berig word in 2013 met die implementering begin.

Hoewel meer as een bron so berig, lui Sovereign se ongedateerde Web-inskrywing soos volg: “South Africa has one of the most comprehensive property registration systems in the world and there are currently no restrictions on foreign ownership of land in South Africa (although there is a legislative proposal in respect of foreign ownership of farmland).”

Die literatuur maak melding van 22 tot 49 bilaterale verdrae wat opgesê of herroep moes word, of herbeding moes word om in pas te wees met dit wat Suid-Afrika beoog om op die wetboek te plaas. Hierdie aspek sal waarskynlik uiteindelik met handskoene aangepak moet word omdat daar teenreaksies kan wees, soos veral van die VSA wat reeds laat deurskemer het Suid-Afrika kan sy AGOA-handelsvoordele met die VSA verbeur, asook skenkings, soos die befondsing van die teen-MIV-program.

Vanuit ’n Suid-Afrikaanse burgerlike oorweging kan eerstens gekyk word na paragrawe II en III van die grondwetlike beginsels waaraan die Grondwet moet voldoen. Paragraaf II bepaal dat almal die universeel-aanvaarde fundamentele regte en burgerlike vryhede moet kan geniet en so in die Grondwet verskans moet word. Paragraaf III verbied onder meer rassediskriminasie, en heelwat bronne dui kommer aan dat die beoogde wysiging ten doel het om wit mense se grond ten bate van swart mense te ontneem en motiveer dit aan die hand van transformasie. Dit is ’n taai kwessie, veral ná die Konstitusionele Hof se Matie-taaluitspraak, wat in leketaal beteken dat die Grondwet se uitleg swaarder op transformasie-doelwitte fokus as op wat fisiek in die Grondwet geskryf is. Dit bind egter nie buitelandse howe nie.

Die omgekeerde is eerder waar. Artikel 231 (5) lees soos volg: “The Republic is bound by international agreements which were binding on the Republic when this Constitution took effect.”

Artikel 232 lui: “Customary international law is law in the Republic unless it is inconsistent with the Constitution or an Act of Parliament.”

Artikel 233. “When interpreting any legislation, every court must prefer any reasonable interpretation of the legislation that is consistent with international law over any alternative interpretation that is inconsistent with international law.”

Dit is duidelik die doel van die grondwetskrywers was dat Suid-Afrika in pas moes wees met die internasionale reg, wat ook sterk op universele menseregte fokus.

Dit is egter ook baie duidelik dat die buitelandse regters, wanneer hulle oor Suid-Afrikaanse aangeleenthede beslis, oor ’n korrekte persepsie en narratief moet beskik oor wat die werklike posisie in die land is. As hulle byvoorbeeld oudpres. Jacob Zuma se weergawe sluk, dat wit mense hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, gaan uitlegprobleme soos sprinkaanplae op sulke sake toeslaan.

Vooraf-inligtingsaksies is gebiedend noodsaaklik, soos dié van AfriForum en die Instituut vir Rasse-aangeleenthede, onder meer. Elke landsburger wat vir die waarheid omgee kan deur penvriende, Facebook en vele meer handjie bysit. Daar is gereeld voorstelle dat van Maroela Media se berigte en artikels in Engels vertaal word (ander tale is uiteraard ook nie te versmaai nie) en deur AfriForum in die buiteland versprei word. Om iets te doen help nie net die swaarmoedige individu nie, maar kan die land se posisie op die nuwe swaarmoedigheidsindeks help verbeter.

Pres. Jan Brand van die ou Vrystaatse Republiek is bekend vir sy uitspraak: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Wel niemand het gekla toe die terroriste buiteland toe gehol het nie en ons kry geen geregtigheid binnelands nie

Jan Seerot

Daar is ‘n spelfout in die hoofopskrif.

Laat ek sien of julle nou my bydrae gaan plaas, want my bydraes word net geplaas as ek op die godsdienstige rubrieke kommentaar lewer.

Jan

Die beste van alles is dat almal wat gedink het trump is so wonderlik binnekort gaan sien hoe hy weereens die anc ss kant ga an vat
..gaan google maar illuminati