Nuuskommentaar: ‘♪ Don’t fly too high, my little Gupta’

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Verskoon asseblief die Engels in die opskrif, maar dit pas so mooi by die nuuskommentaar se tema in. Dit lyk inderdaad of die Guptas net te veel gewaag het, en dat hul Zupta-ryk aan die inplof is. Dit lyk selfs of die Guptas die uitslag van die ANC se verkiesingskongres, gevolg deur Zuma se val, onderskat en met transaksies voortgegaan het selfs nadat Zuma sy mag verloor het en hy hulle nie meer soos in die “goeie ou dae” kan beskerm nie.

Die breë indruk as na die nuus gekyk word, is dat iets in die Gupta-ryk aan die inplof is. In die woorde van ’n eertydse minister van vervoer oor die talle klagtes toe die gehalte en voorrade kos waarmee die SAL so mildelik was, begin opdroog het: “Wil julle vlieg of wil julle vreet?”

Die Guptas, so lyk dit, is nie bereid om iewers aan die luuksheid af te skaal nie, terwyl die media berig oor onder meer die mate waarin die sakeryk gekrimp het, teenspoed met die Estina-melkprojek by Vrede, myne wat noustrop trek, ondersoeke in onder meer die VSA en Brittanje, en die Indiese Inkomstediens wie se ondersoekfase tot beslaglegging oorgegaan het.

Dit alles word mooi gedemonstreer in die sage rakende die luukse Bombardier Global 6000-straler ter waarde van $41 miljard.

Kortweg het die Kanadese finansiers die vliegtuig laat “hok” nadat die Kanadese die huurkontrak weens nienakoming deur die Guptas gekanselleer het, maar die Guptas betwis dit en sê die kontrak is onwettig gekanselleer. In ’n pikante stertjie beweer die Guptas die Suid-Afrikaanse howe het nie die nodige gesag nie, nadat die vliegtuig in Suid-Afrika geregistreer is.

Pres. Zuma , Atul Gupta en Noxolo Kiviet. Foto: Flickr/GovernmentZA

Maar eintlik word die pikantheid veral daarin gevind dat die Gupta-familie daarvan verdink word dat hulle die groot meesters agter die omvattende staatskaping in Suid-Afrika is, en veral sekere staatsentiteite op verskillende maniere van belastingbetalersgeld gestroop het. Hulle is, of was tot onlangs, lede van die ANC-tak in Sandton, en byna almal het Suid-Afrikaanse paspoorte. Tot ’n familietroue is glo betaal uit R220 miljoen wat van die Vrede-melkplaasprojek gesteel is.

Met die Bank van Baroda wat nou ook sy deure in Suid-Afrika sluit, gaan die Guptas en hul ryk besonder min beweegruimte hê nadat die bekendste banke in Suid-Afrika reeds alle Gupta-verwante sake opgeskort het nadat verdagte transaksies aan die lig gekom het.

Die Guptas se reaksie op die teenspoed met die vliegtuig en ander bates is nie om die vliegtuig terug te besorg nie, maar om sy opsporingsapparaat te verwyder. Om ná die hofbevel se keerdatum steeds die vliegtuig te gebruik, kom op minagting van die hof neer.

Tot dusver het die Guptas een belangrike oorwinning gesmaak toe die hof ’n aantal beslagleggings wat die Valke uitgevoer het, ongedaan laat maak het.

Die wiel draai egter steeds, en die beëindiging van die Zuma-ryk (wat bekend staan as die Zupta-ryk) was ’n groot terugslag. So het pres. Cyril Ramaphosa pas die Zuma-pion, Tom Monyane, kommissaris van die Inkomstediens, hangend ondersoeke teen hom, geskors. Onder hierdie sake duik die Guptas se name ook op.

Hoewel Indië, die Guptas se land van herkoms, op skrif na ’n wonderlike grondwetlike demokrasie lyk, bepaal sommige kulture, godsdienste en antikulture dit tot groot mate. So is dié land 136ste op Verslaggewers Sonder Grense se indeks, teenoor byvoorbeeld Suid-Afrika se posisie van 31. In Indië bepaal magnate (van wie baie die media besit) dikwels watter inligting geplaas kan word en wat nie.

Foto: www.planespotters.net

Op die 2017-korrupsiepersepsie-indeks is Suid-Afrika (71) byna net so korrup soos Indië (81).

Geopende Deure, veral die Amerikaanse tak, voer nou ’n verbete stryd teen die vervolging van Christene in Indië deur veral jong Moslems. Lees gerus Maroela Media se nuuskommentaar hieroor hier.

Dit is dus nie verrassend nie dat die Guptas ’n koerant (New Age) en TV-kanaal sou begin. ’n Koerant en TV-kanaal wat spreek soos die meester beveel, en daarvoor ryklik met staatsadvertensies beloon word, val dus ruim in die Guptas se grootword-verwysingsraamwerk. Kortom, die Guptas se sakebestuurstyl sou net kon oorleef as die publiek met inligting gevoer word wat die Guptas pas, asook dat skadelike inligting weerhou word, al moes Bell Pottinger tot uiterstes toe oorgaan om die klimaat en inhoud hiervoor beslag te laat kry.

Suid-Afrika kan maar net hoop dat dit ’n eenmalige sage was. So byna kon die Guptas baie hoog (en luuks) vlieg en daarmee wegkom.

Maar toe, so lyk dit, gaan speel hulle Ikarus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

Gelukkig vir Cyril Ramaphosa het hy, toe hy adjunk was, die Gupta vliegtuig laas in 2015 gebruik, anders was hy dalk nou saam met die vliegtuig gehok.

So oulik ·

Dankie Maroela vir die opskrif en humor, dit pas te oulik in, dit is werklik lekker om te weet hul vlerkies word een vir een geknip, so disrespekvol kan niemand mos wees teenoor ander. 1000de gaan dood en hul spandeer spandeer net oneerlike geld.

Jef ·

Watse luukshede het die straler ter waarde van 41 miljard dollar?
Moet dit nie miskien Rand wees nie want dit lyk my wel bietjie te veel vir een luukse straler.
Tensy die straler uitgerus en opgebou is met diamante, goud en perziese tapyte en al die knoppies in die hut voorsien is van perels, yade en robyne.

WitBlits ·

Die prys van $41 miljard is beslis verkeerd Maroela en dit moet $41 miljoen wees.
Learjets kos tussen $20- en $70miljoen maar beslis nie miljard nie.

Esther Stieger ·

Die Indiers glo beslis in die mag van propaganda! Dit lyk of die bekende nuuskanaal, CNN, ook grootliks deur Indiers besit word.

John ·

En toe is/was ‘n Gupta skynbaar ook raad van CNN. Kyk self.

Paul ·

Ag genade, en daar sien ek Ramaphosa agiteer nou vir een Afrika geldeenheid, dis nou ala europa, waar net so twee derdes aan die unie behoort. Zim sal natuurlik dit verwelkom en die res van die lande sal bly klei trap. Ou vriend, jy wat nou so ‘n maand aan die stuur is, in ‘n ekonoom van formaat ontpop het, die geheim is nie om opportunisties te wees nie, maar om eers uit die gemors uit te kom, en om daaruit te bly. Ek meen ek hoop jy verstaan ekonomie en hoe geld werk. En jy wil dit in korrupte Afrika laat werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.