Nuuskommentaar: 1 April geen aangename Zuma-dag

President Jacob Zuma op 8 Januarie in Nelspruit. Foto: SAPA

President Jacob Zuma op 8 Januarie in Nelspruit. Foto: SAPA

Op 1 April, so weet alle lesers al, moet ‘n mens katvoet loop om nie die slagoffer van ‘n Aprilgekstorie te word nie. ‘n Aprilgekstorie het geslaag as dit satire kon inspan om ‘n wolhaarstorie te kon aanwend om werklike situasies flymskerp te ontleed. Van die beste Aprilgekstories is wanneer iets so aangebied kan word dat die media daarvoor val, en die storie as nuus gaan aanbied. ‘n Hele paar redakteurs het al erg onthuts gereageer na hul ganse redaksionele keuringsproses nie die leidrade “opgetel” het dat dit ‘n Aprilgek-storie is nie, maar die lesers dit met gemak raakgelees het. In een geval het ‘n Vrystaatse maandpublikasie in ‘n laat-stadium ‘n baie sterk voorbladstorie laat wegval om die “groot nuus” van ‘n weekpublikasie (met erkenning aan die bron) te dra. In nog ‘n geval het die redakteur van ‘n dagblad vooraf laat blyk dat hy die tradisie kinderagtig vind, en daarom nie aan so iets gaan deelneem nie. Op 1 April is die hoofvoorbladstorie egter duidelik ‘n Aprilgek-storie – die koerant was die slagoffer van ‘n Aprilgekstorie van ‘n paar senior munisipale amptenare. Die redakteur was nie beïndruk nie.

Dikwels is die geloofwaardigheid van ‘n Aprilgekstorie juis daarin geleë dat dit ‘n versugting verwoord dat dit tog die waarheid moet wees.

Wanneer iets dan doodernstig as suiwer nuus aangebied word, word dit dikwels baie moeilik om te onderskei. Twee instansies het op 1 April hul teenkanting teen pres. Jacob Zuma se kandidatuur op die ANC se verkiesingslys laat blyk. Die Instituut vir Verantwoordbaarheid se beswaar is teen Zuma se posisie as nommer een, en spesifiek as presidentskandidaat. Die TLU-SA het dit teen Zuma se kandidatuur as parlementslid, en dus ook as president. Beide instansies vermeld dat dit oor die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag handel, terwyl die Instituut ook die uiteinde van die DA se stappe om die kriminele sake teen Zuma terug op die hofrol te kry, as rede aanvoer.

Zuma se presidentskap, en veral die uitlatings wat hy maak wanneer hy van sy geskrewe toesprake afwyk, maak van hom ‘n ideale teiken vir Aprilgek-berigte. Soos een persoon in reaksie op so ‘n “berig” geskryf het: “Met Zuma klink alles in elk geval soos ‘n Aprilgekstorie”. Of anders gestel, sy presidentskap is skadelik vir die land.

Zuma staan nie alleen nie. Minister Tina Joemat-Pettersson se uitsprake oor die landbou, en onder meer die “vrot appels” in veral die Wes-Kaapse landbougeledere, kon net so maklik ‘n Aprilgekstorie wees. Ten eerste was die minister al verskeie kere die onderwerp van media-gekarring oor onhebbelikhede wat sy kwytgeraak het, en tweedens het objektiewe ondersoeke daarop gedui dat die aantygings teen Wes-Kaapse boere in byna alle gevalle vals was, en in een omvattende ondersoek uit die meer as tagtig gerapporteerde gevalle, almal vals was. Dit is selfs in drie hofsake bevestig.

Dit help ook nie dat daar ‘n rits nie-regeringsorganisasies spesifiek bestaan om die boere-wreedhede en wanpraktyke aan die lig te bring en aan die groot klok te hang nie. Ook nie dat hul finansiering van die buiteland, of selfs ‘n vakbondfederasie soos Cosatu kom nie. Agri-Wes-Kaap reageer telkemale ontsteld en wys daarop dat die Wes-Kaapse landboubedryf sterk uitvoergerig is en wanpraktyke in eie geledere nie kan bekostig nie, en self teen boere wat hulle aan wanpraktyke skuldig maak sal optree.

Dit is een kant van die munt. Die ander kant is dat daar onder ‘n groot deel van die Wes-Kaap se verstedelikte gemeenskap doodeenvoudig ‘n vaste oortuiging leef dat die boere sleg met hul werkers werk. En die vrot appels gee die skietgoed. Vanuit die oogpunt van politieke opportunisme was Joemat-Pettersson se klagstaat teen veral die Wes-Kaapse boere dus allesbehalwe dom.

Of Zuma onder die wolke waaronder hy verkeer presidentkandidaat, of enigsins as parlementkandidaat, behoort te wees, is egter nie veel van ‘n debatspunt nie. Die Burger som in sy hoofartikel Zuma se geskiktheid soos volg op: “Kan dit wees dat daar nêrens in Zuma se gemoed ’n flikkering van morele besef hiervan (Nkandla) is nie? Waarskynlik nie. Hy is stellig oortuig hy het niks verkeerd gedoen nie. Trouens, met sy “I did not do anything” doen hy sommer ook afstand van sy plig om toesig te hou oor wat met die publiek se geld by sy private woning gedoen word.”

Vir net te veel mense klink Zuma se teenwoordigheid aan as nommer een op die ANC se kandidatelys na ‘n Aprilgekstorie, al kry dit stewige kompetisie van ander werklikhede soos die aanstelling van Robert McBride as hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, die feit dat iemand sonder matriek nog die septer by die SAUK slaan (selfs na hy uitgevang is dat hy kluitjies oor sy “matriek” gebak het om die werk te kry), en vele ministers wat sterk seine uitstuur dat hulle nie ‘n “koekieng kloe” het van wat in hul portefeuljes aangaan nie. En dit is kwessies wat ook op Zuma se brood gesmeer moet word.

Die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie wat oor Zuma se geskiktheid as kandidaat moet “besin” (niemand verwag dat daar in erns oor so iets besin sal word nie) is self onder ‘n wolk van die Openbare Beskermer en die Tesourie.

In een opsig verskil die werklikheid van die Aprilgekwêreld: In nagmerries word nie so baie gelag nie. ‘n Nagmerrie duur hoogstens ‘n paar uur … Zuma se presidentskap kan met vyf jaar verleng word, en as die ANC ‘n tweederde meerderheid kan kry, selfs langer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

alet ·

Weet julle n mense is so moeg om elke dag van zuma te lees dit maak n mens naar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.