Nuuskommentaar: 2 + 3 = 6

Dat Suid-Afrika swak vaar in wiskunde- en wetenskaponderrig is al lank bekend. Dat die gehalte daarvan die swakste in die wêreld is soos die Wêreld-Ekonomiese forum aandui, is egter ‘n bitter pil om te sluk.

Pres. Jacob Zuma het pas self die aandag op die indekse van die Wêreld-Ekonomiese Forum gevestig deur selektief daaruit voorbeelde te trek dat Suid-Afrika in sekere sake goed vaar, spesifiek die oudit en die banksektor.

Ongelukkig het Suid-Afrika algeheel op die hoofindeks die kreeftegang gegaan, en is Suid-Afrika veral daarin uitgelig dat dit swak vaar op onderwysgebied en gesondheidsorg.

Nou byt die Wêreld-Ekonomiese Forum nog seerder met die nuus oor die gehalte van wiskunde- en wetenskaponderrig – juis daardie vakgebiede wat die grondslag vorm van die wêreld se tegnologiese ontwikkeling. Hierdie jongste indeks het egter net 62 lande gemeet, en dit is dus moontlik dat daar lande is waar dit swakker gaan as in Suid-Afrika. Maar dis kwalik ‘n troos.

Dit val egter nie uit die lug nie. Wat basiese onderwys betref, beklee Suid-Afrika in die hoofverslag die 132ste posisie op die indeks, wat steeds nie alle lande insluit nie. Angola word byvoorbeeld nie gemeet nie. Op hierdie indeks klop verskeie Afrikalande Suid-Afrika, waaronder Algerië, Botswana, Burundi, Kaap Verde, Egipte, Ethiopië, Gaboen, Ghana, Kenia, Senegal,  Tanzanië, Oeganda, Zambië en Zimbabwe. Suid-Afrika vaar net-net beter as Lesotho en Swaziland.

Wat hoër onderrig betref, vaar Suid-Afrika heelwat beter, en beklee die 84de plek, terwyl Afrika as geheel swak vaar. Dit geskied egter teen die agtergrond dat daar reeds baie leerders uitgeval het, en baie herhaal het voor hulle dié vlak kon bereik.

Maar selfs die beste onderwysers en dosente ter wêreld wat by hoër onderwys betrokke is, kan niks uitrig met leerlinge en studente wie se grondslag swak gelê is nie. Wiskundige en wetenskap-agterstande kan vroeg ontwikkel, en is baie moeilik om in te haal.

Onlangs is berig dat oorweeg word om universiteitsgrade met ‘n jaar te verleng om die gaping tussen matriek en dit wat as voldoende vir graadstudie beskou word, te oorbrug. Dit gebeur ten spyte van ‘n reuse mortaliteit tussen pikkies wat vir graad een aanmeld, en dan uiteindelik matriek haal – waarvan ‘n groot persentasie ook langer as 12 jaar neem. In 2007 het slegs ‘n derde van die kandidate wat 12 jaar tevore vir graad 1 ingeskryf het, matriek gehaal. Statistici kla egter dat die syfers wat deur die onderwysdepartemente gebruik word onbetroubaar is.

Daar is talle pogings aangewend om onderwys te verbeter. Na die 1994-afskop met die rampspoedige Bengu-era het Kader Asmal veral hard gewerk om sake reg te ruk, en talle projekte is in 2000 geloods.

Suid-Afrika spandeer ook meer as 5 % van sy BNP aan onderwys. Hoewel enkele Afrikalande ‘n groter persentasie aan onderwys afstaan, is dit meestal klein ekonomieë soos dié van Swaziland. Lesotho, die Comoro’s en Botswana. Afrika suid van die Sahara spandeer gemiddeld 5 persent van sy BNP aan onderwys, en word slegs deur Noord-Amerika oortref.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika baie spandeer om leerders van ‘n skoolopleiding te voorsien, hoewel die vraag gereeld opduik of die fondse doeltreffend aangewend word. Stakende leerkragte help nie en skoolboeke wat nie afgelewer word nie, is maar enkele knelpunte.

En om oorle Apartheid hiervoor te blameer, soos pres. Jacob Zuma onlangs weer gedoen het, los nie die probleem op nie.

Dit is ongetwyfeld so dat baie leerders in Suid-Afrika onder moeilike omstandighede skoolgaan – maar dit geld ook baie ander  Afrikalande.

Dit is miskien ook weer tyd om te herbesin oor medium van onderrig, veral in die grondslagfase. Studie na studie wys op die waarde van moedertaalonderrig. Dr. Michael le Cordeur skryf  soos volg: “Daar is sekerlik etlike redes vir dié ontoereikende kennis en vaardighede, maar een daarvan is ongetwyfeld die gebruik van Engels as onderrigmedium onder veral swart leerlinge, terwyl hul vaardigheid in Engels nie voldoende is vir die doel van formele opleiding nie. Die ontoereikende vaardigheid in Engels kom veral in die mees weerlose gemeenskappe voor.”

Dit lyk dus of die gebrek aan moedertaalonderrig in die grondslagfases minstens ‘n deel van die blaam moet dra. Teen die tyd wat die kind Engels funksionele magtig is, is die agterstand vir syfervaardigheid reeds groot.

Maar ‘n nuwe leerplan met ‘n nuwe benadering elke paar jaar, rig ook skade aan. Die ganse skoolstelsel is nie ‘n laboratorium vol navorsingsrotte nie. Kinders en hul opvoeding is kosbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae