Nuuskommentaar: 2013 – Number One trap in nommer twee

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS

Die Openbare Beskermer is baie verdienstelik as Suid-Afrika se nuusmaker van die jaar aangewys. Oud-pres. Nelson se siekte, afsterwe en begrafnis het die internasionale nuustoneel oor Suid-Afrika loshande oorheers. Tog kan daar min twyfel wees dat pres. Jacob Zuma in 2013 ‘n nuusmaker soos min was, en dat daardie nuus Suid-Afrika wankelrig die toekoms in gaan lanseer.

Die probleem is dat dit waaroor Zuma die media haal – ook oorsee – die simbool van die teenoorgestelde geword het van die beeld wat Thuli Madonsela en Madiba geniet.

‘n Tweede probleem is dat die bomme wat om Zuma se kop ontplof, elke jaar gebeur sedert hy op die politieke toneel verskyn het. Hy is byvoorbeeld tot president van die ANC verkies terwyl die albatros van ‘n 700 aanklagte oor sy kop gehang het. ‘n Regter het in die skuldigbevinding van Shabir Shaik bevind dat daar ‘n korrupte verhouding tussen Shaik en Zuma bestaan het.

Hy is van verkragting aangekla, en het hom suksesvol verweer dat dit eintlik owerspel was. Hy het ‘n familievriend se dogter in die ander tyd gesit, en self nogmaals in die huwelik getree.

Daar was Marikana, Guptagate en ‘n rits ander sake … sy ministers het eerder in hul blinde lojaliteit aan Zuma as bekwaamheid uitgeblink.

Tydens Zuma se presidentskap het die land dramaties op die korrupsie-persepsie-indeks agteruit geboer – met byna twintig plekke net die afgelope drie jaar.

Nkndlagate se verrekening op hierdie indeks lê egter nog voor. Tydens Zuma se bewind het die land sy laagste posisie ooit op die persvryheidsindeks behaal, en hef aan lê nog voor as die omstrede snoerwet geteken word.

E-tol het gekom, en dis pure sinkplaatpad.

Die kollig het deurgaans op “Number One” gebly.

Dit is egter waarskynlik eerder oor wat Zuma sê wat ‘n sosiale media-kommentator laat skryf het dat “Number One” so gereeld in “nommer twee” trap. Dié “wysheid” is pas deur ‘n politieke ontleder in Volksblad in die konvensionele media gevoer. Dit mag bitter onsmaaklik wees, en in die oë van die ANC ook disrespekvol wees, maar hierdie is ‘n skoen wat so netjies pas.

Voorbeelde van omstrede sêgoed is daar baie van. Sommer vroeg vanjaar, gelaai met energie na hy oorweldigend tot president van die ANC herkies is, het sy sogenaamde honde-opmerking internsionaal opslae gemaak. Die ink was nog nie droog nie, kondig hy aan dat die land ‘n nasionale reinigingseremonie gaan kry, en dat almal wat nie hieraan deelneem nie, nie versoening op die hart dra nie. Hy kondig ook aan dat hy emeritus-aartsiskop Desmond Tutu gaan vra om hierdie animistiese geleentheid te lei – iets wat nooit gebeur het nie.

Vir die soveelste jaar na mekaar ontstel Zuma Christene en hul kerke met opmerkings wat dikwels as godslasterlik beskryf word. Sy beeldpoetsers sukkel om by te hou en die weergawes van “wat die president eintlik bedoel het” raak net al hoe onoortuigender. Die moedelose verduideliking dat die omstrede uitlatings kom wanneer Zuma van sy geskrewe teks afwyk (toesprake wat deur ander vir hom geskryf word) help nie juis om vertroue in die president te versterk nie.

Die jongste peilings toon dat Zuma ‘n blok aan die been nie net vir die land nie, maar ook die ANC geword het. Die vraag word al hoe meer nie meer of Zuma gaan oorleef nie, maar of sy kop voor of na aanstaande jaar se algemene verkiesing gaan rol.

Die teks van Zuma se voortgesette bewind was aan die einde van verlede jaar tydens die verkiesing van die ANC se NUK reeds baie duidelik geskryf. Die nuutste NUK is feitlik algeheel van bruin mense gestroop, terwyl blankes en Indiërs nie veel sterker verteenwoordig is nie. Die skrif vir minderheidsgemeenskappe was duidelik geskryf, en word grondwetlik getoets deur onder meer die Solidariteit – DKD, en Renate Barnard-sake.

‘n Paar elektroniese argief-soektogte, onder meer Google en Volksblad, bring aan die lig dat die vraag of die land Zuma nog kan bekostig al duisende kere in artikels, berigte en opiniestukke gevra is. Byna deurgaans is die antwoord “nee.”

Dat die land met Zuma aan die stuur ‘n rowwe rit in 2014 te wagte moet wees is ‘n gegewe. Zuma het immers aan die wêreld verduidelik dat die soort gewelddadige openbare protes, soos arbeidsonrus, “normaal” in demokrasieë wêreldwyd is, maar dat dit net die media elders is wat nie daaroor rapporteer nie. As ‘n president nie die verskil tussen anargie en demokrasie ken nie, lyk sake nie juis bie belowend nie.

En ja, die nuwe politieke kragte wat rondom Amcu, Numsa en die EFF ontwikkel, se enigste heil vir die land lê daarin dat dit die ANC erodeer, maar verder is dit net slegte nuus. Eintlik baie slegte nuus.

Dit raak al hoe belangriker dat die stem van redelikheid ook hard en duidelik gehoor en bemagtig moet word. Die impak wat burgerlike instellings soos Outa, AfriForum en Solidariteit het, is aansienlik maar kan nog baie versterk word om die grondwet (met sy gebreke en al) so goed as moontlik te laat werk. En elke stem van redelikheid moet volgende jaar daad by die woord voeg en sy kruisie gaan trek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae