Nuuskommentaar: 2015 – die jaar van hoop of verdriet (of iets tussenin)?

2014-10-27-trends2015As u dit dalk nie agtergekom het nie – 2014 was ’n wonderlike jaar. Trouens, van 1994 af het dinge baie verbeter. Of altans, so het eers die ANC se NUK in sy jaaroorsig verordineer. Met pres. Jacob Zuma se Nuwejaarsboodskap het die president sy presidensiële seël daarop geplaas.

So tussenin was daar egter ’n interessante tussenspel. Die presidensie het ’n amptelike verklaring uitgereik waarin Max du Preez gestriem is vir ’n rubriek waarin hy onder Zuma ingeklim het. Max is van feitedwalings beskuldig, en sommer ʼn rassis genoem. Hieroor is invloedryke mense in Max se politieke dampkring die josie in. Hoe kan die eertydse redakteur van die Vrye Weekblad, en die persoon wat saam met Zuma – toe nog die ANC se Intelligensiehoof, vir Dirk Coetzee die land uitgesmokkel het om met sy Vlakplaasonthullings die vorige bedeling in ’n erge verleentheid te dompel, ’n rassis genoem word?

Vroeër die jaar was die ANC ook bitterbek vir Adriaan Basson, redakteur van Beeld, na Basson se rubriek oor verskillende maniere om van Zuma ontslae te raak. So kwaad dat Basson se van in die opskrif sommer na Botha verander is.

Gaan 2015 in die skadu staan van ’n voortgesette, en dalk selfs verskerpte, strategie om Zuma se beeld blink te poets?

Hoekom juis so onder Max en Adriaan invlieg as die alternatiewe werklikheid lank reeds op omvangryke skaal versprei word? Niks wat Max en Adriaan geskryf het was immers meer nuut nie. Die agtergrond waarteen hul stellings gemaak is, is al lank in baie van die media as die geldende werklikheid aangebied. Daar was selde pogings van die regering om die feite te betwis, veral as dit in die Afrikaanse media verskyn het.

Suid-Afrika het twee planete geword – elk met ’n eie werklikheid, en geen verband tussen die twee nie behalwe dat die bewoners van die een planeet (Planeet A) die ander (Planeet X) as ’n gekkeparadys beskou. Omgekeerd, blyk dit nou, op Planeet X word geglo Planeet A se persepsies is op feitefoute en kwaadwillige wanvoorstellings gebaseer.

’n Suid-Afrikaanse diplomaat was bitter kwaad vir AfriForum, TLU SA en die VF Plus omdat dié instansies ʼn VN-liggaam oor die stand van minderheidsregte teen die agtergrond van plaasaanvalle toegespreek het. Hierdie werklikheidstellings pas nie die beeld wat Planeet X oor homself het, en wat hy as universeel geldende beeld wil verkwansel nie.

Hierdie stryd om sy eie persepsie of geskepte persepsie van die werklikheid op die ander af te dwing, sal na verwagting vanjaar verskerp. Dit is geen kristalbal-kykery of sterrewiggelary nie, maar is hoe strategieë werk. Die SAKP-geleide strategie om Zuma presidensieel voor te stel en sy statuur te verhoog, is immers deursigtig genoeg (weens die amateuragtigheid daarvan). Ongelukkig geld dieselfde deursigtigheid nie met die president en ANC se verantwoordbaarheid aan die parlement nie (al het Zuma in sy jaarvooruitsig daarop aanspraak gemaak dat dit in 2014 aansienlik uitgebrei is). Die EFF lag nog kliphard oor dié grappie.

Die stryd om ’n eie weergawe van die werklikheid op 2015 af te dwing, is egter nie al aanslag wat vanjaar verwag kan word nie. In ʼn omvattende artikel stof prof. Anton van Niekerk, Stellenbosse filosoof, die kwessie van politieke korrektheid af. Dit sluit aan by ʼn aandrang oor ’n wye front dat sekere stellings en selfs opvattings nie geuit durf word nie omdat dit ander, met ander persepsies, aanstoot kan gee. Die eerste probleem met hierdie beskouing is dat dit dikwels eensydig aangebied word. Terwyl Dookoom mag “sing” Lanie jou p&%s, en uitbeeld hoe plase afgebrand mag word, mag die “ander” nie in reaksie die Stem sing nie. AfriForum is erg verkwalik oor die klag van haatspraak teen Dookoom, en dieselfde kring het Steve Hofmeyr verkwalik omdat hy Die Stem gesing het. Basson het selfs in ’n rubriek vir Steve aangesê om nie by die politiek betrokke te raak nie (en hom ’n pampoen genoem).

Die tweede probleem is dat daar selde ’n verwagting is dat “die ander kant” ook moet probeer verstaan hoe groep wat die swye opgelê word se beskouing van die werklikheid gevorm word. Selfs al hou die groep wat geïnhibeer word by die grondwet, word hulle daarvoor verkwalik dat hulle die grondwet “misbruik.”

In 2015 sal slegs vordering gemaak kan word in die weg van versoening as wedersydse begrip en respek gekoester kan word, en as politieke korrektheid ’n eensydige begrip is, staan dit breed in die pad van versoening. Dit gee egter nie die groen lig dat veral die kuberruim met allerhande kwetsende en banaliteite besoedel moet word nie.

Transformasie (lees rassetransformasie) gaan op Planeet X aan die orde van die dag bly, terwyl Planeet A hard gaan werk om grondwetlikheid toe te pas, waar minderheidsregte ’n belangrike onderdeel van uitmaak. Anders as wat die politiek-korrektes gereeld aanbied, maak die grondwet (en die internasionale reg) ruim voorsiening vir minderheidsregte. Planeet X is nog nie gereed om te aanvaar dat Planeet A se aandrang op minderheidsregte niks met ras te make het nie, en sal voortgaan om dit met ’n strewe om apartheid weer in te stel gelykstel. So word die stryd om die behoud van Afrikaans, om een voorbeeld te noem, bemoeilik.

Terwyl Suid-Afrika op die meeste internasionale indekse skerp agteruitgeboer het sedert Zuma die president geword het, lyk dit of die posisie op sommige indekse “gestabiliseer” het. Op die persvryheidsindeks wat die begin van 2014 vrygestel is, het Suid-Afrika se posisie effe verbeter, maar is te wyte aan ’n blaps deur Verslaggewers sonder Grense, wat gemeen het Zuma “weier” om die snoerwet te teken. Dit sal interessant wees om te sien of dié fout vanjaar reggestel gaan word. Op die korrupsiepersepsie-indeks het Suid-Afrika se posisie ook effens verbeter. Op beide indekse steek Suid-Afrika egter nog steeds erg af by verskeie Afrikalande.

Op die jongste indeks wat pas vrygestel is, die indeks vir ’n leefbare omgewing, het Suid-Afrika in die kategorie vir ekonomiese welstand van die 119de posisie tot die 122ste posisie teruggesak uit die 153 lande wat gemeet is. In sekere subkategorieë soos voedselsekerheid, vaar die land uitstekend, terwyl die land in ander, soos indiensneming en hernubare energie onhebbelik swak vaar.

Kortom, die saakmakende internasionale indekse onderskryf nie die rooskleurige prentjie wat Zuma en die ANC probeer voorhou nie. Dit is egter ook nie heeltemal so neerdrukkend soos wat die inwoners van Planeet A se inwoners dit beleef nie. Maar dan, die opstellers van die indekse woon ook nie hier waar hul kennisse en familie onder wrede plaasaanvalle en ander misdaad deurloop nie, en waar die president elke nou en dan die eentonigheid verbreek met die kwytraak van ʼn nuwe “juweeltjie” nie, met sy stelling dat korrupsie ʼn Westerse konsep is as onlangse voorbeeld.

Twee belangrike politieke gebeure lê in 2015 voor. Dit lyk bykans onafwendbaar dat ’n werkersparty onder die leiding van Numsa links van die ANC tot stand gaan kom. Voorts hou die ANC later vanjaar sy sogenaamde “midtermynkongres.” By dié kongres behoort dit duidelik te begin word of Zuma sy termyn as president gaan voltooi, of nie, en wie die sterkste staan as sy opvolger.

En net dalk kry Zuma vanjaar nog uiteindelik sy dag in die hof, wat hy eens so vuriglik verlang het.

Sommige analiste meen ons kan 2015 as positief ervaar, maar dat daarvoor gewerk sal moet word. Oor hoe hieraan gewerk moet word, is groot verskille. Iets wat reeds met sukses beproef is, is om burgerlike instellings te ondersteun wat ’n verskil kan maak. Beide AfriForum en Solidariteit het in 2014 baie gegroei, en kan beide ’n lang lys suksesse toon. Natuurlik was daar teleurstellings ook, soos die Grondwetlike Hof se bevinding in die Renate Barnard-saak. Maar hierdie saak word nou geïnternasionaliseer, en die eindfluitjie het nog nie geblaas nie.

As oorwegend Christenvolk, sal die Afrikaner getoets word in die mate waarin hy daarin kan slaag om, provokasie ten spyt, getrou in die Lig te kan wandel. Vir die Here is niks onmoontlik nie, en daarom is ’n by voorbaat swartgalligheid voortydig.

’n Baie geseënde 2015 word u almal toegewens.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae