[Nuuskommentaar] 2015 in oënskou: Deel 1 – wat ʼn #jaar!

Die #Zumamustfall-optog in Kaapstad vroeër vanjaar. Foto via Twitter.

Die #Zumamustfall-optog in Kaapstad vroeër vanjaar. Foto via Twitter.

Hoewel 2015 in ʼn groot mate ontvou het as die jaar van die #-veldtogte, het Jacob Zuma se donker skaduwee weer swaar oor die land geval en die konsep onderstreep dat die land hom nie kan bekostig nie. Solidariteit se Plan B het egter reeds begin om ʼn positiewe gees te laat ontbrand.

Die jaar 2015 lê nog nie finaal op sy rug nie en om nou terugskouings te doen, kan in ʼn lekker verleentheid ontaard. Vanjaar staan byvoorbeeld op die drumpel om die jaar te wees met die meeste groot aardbewings sedert 2002, toe die gebruikersvriendelike byhou van dié soort data begin het.

In hierdie eerste van vier aflewerings, sal ek dus veral fokus op sake wat waarskynlik nie weer voordat die nuwe jaar aanbreek, sal ontvlam nie.

Wat die binnelandse kwessie betref, staan “Jacob Zuma” breed oor byna al die kernkwessies geskryf en dis heel “gepas” dat die jaar se politiek sou “afsluit” met die #ZumaMustFall-veldtog. Dit was reeds duidelik dat sy leierskap, of gebrek aan leierskap, groot klowe veroorsaak het toe die Tussenkerklike Raad van die Afrikaanse kerke, NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke ʼn uitnodiging van die ANC om deel te neem aan die periodieke gesprekke met Afrikaanse organisasies en belangegroepe van die hand gewys het. Die Afrikanerbond, wat wel teenwoordig was, het vooraf uitgewys hoeveel beloftes wat in vorige gesprekke gemaak is, is gewoon nie nagekom nie.

Zuma se skaduwee het ook breed geval oor die omstrede kernkragooreenkoms met Rusland, waarvan Tina Joemat-Pettersson die vaandeldraer is. So ook die omstrede plan van die SAL-voorsitter om ten duurste toegang tot Airbus-vliegtuie te bekom. In elke geval ruik waarnemers die waarskynlikheid van grootskaalse korrupsie.

Die Nkandla-onverkwiklikheid sal in die nuwe jaar nog in die hof gaan draai. Amper net so belangrik soos om ʼn integriteitsgebaseerde uiteinde te kry, is die kwessie van die behoorlike vasstel van die magte van die Openbare Beskermer. Die huidige uitgangspunt van die ANC dat die OB bloot ʼn ignoreerbare “inset” lewer, kan nie in ʼn grondwetlike demokrasie geduld word nie, net so min as wat die ouditeur-generaal se verslae jaar vir jaar bloot “vir kennisname” dien.

Moontlik die beste demonstrasie van Zuma se vervreemding van minderhede in die land was toe hy saam Mugabe was toe ʼn joernalis ʼn vraag aan die Zimbabwiese despoot gestel het. Toe Mugabe sien dis ʼn wit joernalis, het hy vererg omgevlieg en dit duidelik gemaak hy gaan nie vrae van wit joernaliste beantwoord nie. Hoewel dié blatante rassisme op Suid-Afrikaanse bodem gepleeg is, was daar nie ʼn piep van Zuma nie.

Inteendeel, Zuma het met sy uitsprake soos dié oor Jan van Riebeeck, voortgegaan om te verdeel, eerder as om sy grondwetlike ampseed te dien.

Hierdie minagting van sy ampseed het ʼn nadraai gehad toe hy verklaar het hy is eerstens lojaal aan die ANC en dan aan die land. Dit demonstreer voorts dat hy geen snars weet wat die term “grondwetlike demokrasie” behels nie.

Sy bogpratery oor grondhervorming, soos dat swart boere tradisioneel grond in die droogste en onvrugbaarste dele van die land besit, word net so min deur reënvalkaarte gesteun as sy “wysheid” dat Afrika die grootste kontinent is en dat die ander kontinente saam in Afrika kan inpas. Asië is aansienlik groter as Afrika.

Sy opmerking dat die ANC daarop ingestel is om van Suid-Afrika ʼn sosialistiese, kommunistiese land te maak, het nie naastenby die aandag gekry wat dit verdien het nie.

Sy skielike afdanking van finansminister Nene, onder uiters verdagte omstandighede, het die land oornag na raming dig by die R200 miljard gekos. Hoewel skadebeheer spoedig, skynbaar onder druk, toegepas is deur Pravin Gordhan weer as minister van finansies te ontplooi, lykl dit asof die foutlyn wat oopgegaan het, nie herstel kan word sonder die vertrek van Zuma uit die aktiewe politiek nie.

Die klimaat was reg dat die #-veldtogte die visier op Zuma en sy selfversekerde laggie sou skuif. ʼn Sterk wanklankigheid wat hieruit voortgespruit het, was die ontevredenheid uit swart geledere dat wittes aan die veldtog deelneem. Die refrein is die hele jaar lank gehoor dat die land Zuma nie kan bekostig nie. Tog het die ANC (soos gebruiklik) om hom laer getrek.

2015 sal ook onthou word as die jaar van die Seunse Weenkoor, ʼn term wat Tim du Plessis afgestof het. Dit verwys na ʼn groep penvaardige Afrikaanssprekendes wat in denke eietydse Reids, Van der Kemps en John Phillipse is. Mense wat regverdigheid in raakvlakke tussen bevolkingsgroepe sien, slegs as dit tot nadeel van die Afrikaner se grondwetlike regte is. Hulle het veral in akademiese kringe steun gekry. Afrikaans was dikwels die opofferbare “soenoffer”, asof dit ʼn beduidende verskil sou maak aan die toenemende woede onder veral jong swart Suid-Afrikaners wat selfs Nelson Mandela vir “uitverkopery” verantwoordelik hou. ʼn Kenmerk van die debatsveld wat hierop gevolg het, was dat anders as in die verlede, hierdie groepe omvattend op intellektuele en grondwetlike grondslae aangedurf is en soms selfs gemarginaliseer is.

ʼn Belangrike verwikkeling was die aanwysing van Barnard Beukman as redakteur van Beeld. Tot dusver lyk dit na ʼn uitstekende keuse om ewewigtigheid na die stoel van een van Suid-Afrika se belangrikste meningsvormers te bring. Hy maak dit duidelik dat sy simpatie by die bouers eerder as die slopers lê.

Die opstel van Plan B, onder die leiding van die Solidariteit Beweging, kon nie op ʼn beter tyd gekom het nie. Hoewel implementering nie oornag kan geskied nie, het dit reeds by baie Afrikaanssprekendes die donkerte van mismoedigheid verdryf. Die gevoel van hakskene inslaan en die aanvuur van die natuurlike instink om ʼn positiewe verskil te maak, is besig om momentum te kry. Daar is weer meer selfrespek en groter ongeduld met die Seunse Weenkoor.

Môre word in meer detail onder meer gekyk na die aanslag op Afrikaans.

Lees 2015 in oënskou: Deel 1: Wat ‘n #jaar!
Lees 2015 in oënskou: Deel 2: Die aanslag teen Afrikaans

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sarie ·

Goeie artikel van Joan Hambidge in Netwerk24 vanoggend verskyn. Daar is geen vergelyking met die van die ander “akademici” wat daagliks in ons kele oor die stand van Afrikaans by Stellenbosch afgedruk word nie.

Peet Schabort ·

Voorwaar uitstekende kommentaar Herman. Daarop kan nie verbeter word.
My kommentaar is as volg: Ek wil begin by dat ek nog nooit ‘n ingeskrewe lid was van enige politieke party. Hoekom?: Omdat ek geleer is dat jy vir jouself kan en mag dink. Behoort jy aan ‘n party is jy gebind aan die beleid van daardie party.
Nou: Was Kohler-Barnard verkeerd oor P.W. in wat sy gesê het? Hoegenaamd nie !!! MAAR die BELEID van die DA het haar nie toegelaat. Ook die ANC het soos roofvoëls gesit en wag om te kyk wat gaan gebeur.
Was Hitler verkeerd om van die Duitse volk ‘n supernasie te wou maak? Absoluut NEE, MAAR hy wou dit doen TEN KOSTE van ander nasies en dis hier waar sy teenspoed begin het. So is daar nog aanhalings in die politieke geskiedenis waar die heerser(s) die spoor byster geraak het nieteenstaande goeie bedoelings aan die begin.
Ons sien wêreldwyd dat die party wat ‘n verkiesing wen SLEGS sover moontlik aanstellings maak uit eie geledere, die opposisie(s) is almal ‘n klomp onkundiges. Dis net in ‘n koalisie waar daar toegegee word. ‘n Uitsondering was dr Pieter Mulder in Zuma se kabinet wat seer sekerlik nie herhaal is.
Kyk ons na die stand van sake in ons land dan is daar ook diegene wat behoorlik versuip het in politieke denke en nie ‘n bek mag rek om vir hulleself te wil en te mag dink. Hulle is vasgevang en behoorlik ge-‘brain wash’ om hulle poste te behou in die regering.
Ek verstout my om die volgende te vra: Sou Zuma werklik so sleg gewees het was dit nie vir politieke manipulering in die geledere van die ANC?
Ek laat my nie vertel dat daar in al wat ‘n politieke party is alles is wat niks goeds is.
Ons probleem lê VERAL op die vlak van plaaslike regering (munisipaliteite) waar aanstellings gemaak word bloot op politieke oorwegings. Daardeur word daar gestem vir ‘n politieke party se kandidaat en nie vir die persoon wat iets kan beteken vir die samelewing.
Politiek is en bly ‘n KANKER in die samelewing wat kundige mense ontneem om by te dra tot die voorspoed van ‘n land en sy mense.

Johannes Meintjes ·

Te midde van tekens en tye van soveel verval, bly Plan B vir SA die opsie vir ‘n herlewing en ‘n volhoubare hervorming. Mag dit dan so wees in en deur 2016 dat reg(s)denkendes met perspesie, visie en begrip toenemend die regte optrede of minstens aanvullende optredes tot of rondom Plan B sal neem, asb.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.