Nuuskommentaar: 2015 in oënskou: Deel 3 – Nuus wat saak maak

Oscar Pistorius. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius. Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Twee nuuspole van 2015 gaan ’n beduidende impak op 2016 hê, naamlik pres. Jacob Zuma wat wyd met die negatiewe geassosieer word, en die Solidariteit Beweging se Plan B wat wyd met ’n positiewe baken van hoop geassosieer word. Voeg hierby Oscar Pistorius se skuldigbevinding aan moord onder appèl, Steve Hofmeyr se uitsluiting van die KKNK sonder dat hy beplan het om deel te neem, die droogte, voortgesette plaasaanvalle, en ons het ’n propvol nuusjaar.

Pres. Jacob Zuma se doen en late (of liewer, sy droogmaak), sy gewoonte om niks aan sekere sake doen nie, die “wyshede” wat hy kwytraak en sy gelag daaroor het die nuus vanjaar so oorheers dat Zuma ongetwyfeld die nuusmaker van die jaar was.

’n Belangrike nuusbaken vir 2015, waarvan die werklike impak eers later gemeet sal kan word, is die ontwikkeling en uitrol van die Solidariteit Beweging se Plan B. Dié plan het reeds die simbool vir opbou en uitnemendheid geword in teenstelling met die manier waarop die regering die land verslons. Dit het vir baie moedelose Afrikaners ook ’n konkrete baken geword om na te mik.

Tog was daar ander nuus ook, soos die nuwe dinamika wat die politiek van die land as voortsetting van die #FeesMustFall-veldtog beleef het. Die droogte duur in groot dele van die land voort sodat dit wil voorkom of grondhervorming nou eers uitgestel is terwyl hard, maar lomp, gespook word om beginnerboere wat deur grondhervorming begunstig is, op hul verskroeide grond te hou.

Plaasaanvalle duur steeds voort en die regering swyg – soos gewoonlik – dawerend  in al elf amptelike tale daaroor.

Opposisiepolitiek in Suid-Afrika het ’n nuwe dinamika gekry toe Mmusi Maimane in Mei vanjaar die eerste swart leier van die Demokratiese Alliansie geword het. Sy en die DA se groot toets lê volgende jaar met die landwye munisipale verkiesings voor.

Die Oscar Pistoriussage het vanjaar voortgeduur, onder meer met die minister se ingryping oor sy vroeëre parool, en later die staat se appèl oor sy skuldigbevinding aan strafbare manslag. Die appèlhof het dit inderdaad na moord verander ná deeglik besin is oor die beginsel van dolus eventualis.

Verskeie geskrifte het vanjaar die lig gesien wat die fokus plaas op, soos dit gestel is, die dreigende oorkook van swart woede. Dit is moeilik om te bepaal hoe omvattend dit is, maar dat dit minstens kol-kol bestaan, word deels deur die jaarlikse versoeningsbarometer bevestig. Op die mees radikale uiterste word wyle Nelson Mandela selfs verkwalik omdat hy met die vredesooreenkoms swart mense sou uitverkoop het.

Die indruk word egter ook soms geskep dat sommige kommentators, waaronder lede van die Seunse Weenkoor, die omvang tot ver anderkant die bevindings van die versoeningsbarometer dryf om as ’n soort afpersing van die openbare mening te dien om by hul idees in te val, waaronder die verskraling van Afrikaans.

Hoe minder oor die parlement gesê word, hoe minder is die kanse om beroerte te kry. Van Zuma se kekkellaggie, die withemde, die EFF se aanjaery, die Nkandla-toesmeerdery, die bestorming van die parlement deur studente, seinblokkering … Daar is hard probeer om van die parlement ’n simbool van ʼn piesangrepubliek te maak.

Dit is nog baie vroeg om met gesag menings te huldig, maar op die oomblik lyk dit of daar ’n groot kentering in die Afrikaanse koerantwese ingetree het toe Barnard Beukman as nuwe redakteur van Beeld aangestel is. Volksblad het ook vanjaar ’n nuwe redakteur gekry toe Gert Coetzee, wat lank as redakteur waargeneem en beïndruk het, voltyds in hierdie pos aangestel is. Die Burger gaan ook eersdaags ’n nuwe redakteur kry en dit sal interessant wees om te sien of Media24 die “resep” gaan volg as wat met Beukman, Coetzee en Waldimar Pelser by Rapport gevolg is. En of weer gewaag gaan word met iemand uit die dampkring van Adriaan Basson, en voorheen Liza Albrecht by Rapport. Sirkulasiesyfers vanjaar het immers getoon dat die aanpassingsdruk op die gedrukte media om te oorleef, niks skietgee nie en bestuursbesluite oor redakteurs dié proses baie moeiliker kan maak.

Die jaar 2015 sal ook onthou word as die jaar waarin dit gelyk het of Suid-Afrikaners se geduld met korrupsie begin oorkook het. Verskeie optogte is ook gehou, en die #ZumaMustFall-veldtog is ook ten nouste met die vernaamste veldtogte teen korrupsie verweef. Dit is ook die jaar wat waarskynlik die politieke einde van die omstrede John Block van die ANC in die Noord-Kaap ingelui het ná hy aan korrupsie skuldig bevind is en, aanvanklik, met ANC-steun in sy ampte as Noord-Kaapse voorsitter van die ANC en LUR wou aanbly.

Die omstrede polisiekommissaris, Riyah Phiyega, is uiteindelik ook geskors. Hoewel baie wurms al uit hierdie sage gekruip het, bestaan die gevoel dat die eintlike vrotspul wat baie ander – dalk die minister ook – kan verswelg, nog voorlê wanneer iemand niks meer het om te verloor nie.

Die Solidariteit-DKD-saak het ook laat vanjaar tot in die grondwetlike hof gevorder, en uitspraak word nou afgewag. Aan die bod is, onder meer, of die staat die nasionale demografie op provinsies mag afdwing, wat tot ernstige benadeling van die bruin mense in, onder meer, die Wes-Kaap sal lei.

Prof. Lee Berger van Wits se slag met die media het verseker dat die ontdekking van Homo naledi internasionaal sterk mediadekking geniet het. Dit is egter gou in omstredenhede gehul, wat eers later opgeklaar sal wees wanneer ouderdomsbepalings en moontlik ook DNS-toetse gedoen is. Heel pikant het die kwessie ook in ’n ras-politieke herrie ontaard.

’n Grondwetlike krisis het ook ontstaan toe die regering, via die Afrika-Unie, pres. Omar al-Bashir genooi het om ’n AU-konferensie in Suid-Afrika by te woon, in weerwil van twee internasionale lasbriewe om die Soedannese president weens beweerde menseslagtings te arresteer en aan die Internasionale Strafhof uit te lewer. Ná ’n hofbevel bekom is om al-Bashir te arresteer, het die owerhede hom toegelaat om ongehinderd die land te verlaat.

Die KKNK se organiseerders het ’n rooikat in die hoenderhok losgelaat deur Steve Hofmeyr deelname te ontsê, al het Hofmeyr nie beplan om deel te neem nie. Dit volg na Hofmeyr Die Stem by ’n ander kunstefees gesing en ’n herrie ontketen het. Die besluit was egter wanklankig oor die “rooi tapyt” wat rasgebaseerde instansies soos die National Association of Black Actors and Supporters oopgerol het. Ook die “staatsgreep” wat die ANC-minderheid in die munisipaliteit Oudtshoorn volgehou het, het toe lank reeds demokrasie vir ’n ses geslaan, maar was nie vir die organiseerders ’n struikelblok nie.

Van die nuushoogtepunte gaan ook nog ’n verdere beloop in 2016 kry en is nie afgesluit nie, soos die studenteonrus wat duidelik gaan voortduur en waarskynlik juis weer eksamentyd gaan uitsoek om te dreig om te ontplof.

Baie van hierdie sake gaan ’n stewige impak op die landwye munisipale verkiesings volgende jaar hê.

Lees ook:
Deel 1 – wat ʼn #jaar!
Deel 2 – die aanslag teen Afrikaans

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Elizabeth Bosman ·

Lees die sin weer. Dit is n ‘hy’ ja, maar dit is sy toets wat volgende jaar voorle.

GES ·

Dit is lekker om ‘n kommentaar te lees wat nie doekies omdraai nie. Ek wens die narre kon dit lees wat oor hulle geskryf word. Ek dink nie hulle besef met wat se minagting hulle beheen word nie.

elize naude ·

oscar pistorius het te veel publisiteit ervaar… ek vind hom n arrogante en uiters berekenbaar… wat nou op oompie se geldjies hoop…

Elizabeth Bosman ·

Ons boere weet hulle is teikens. Ons vra dat hulle te alle tye paraat en gewapen sal wees. Moenie dink dit kan nie met jou gebeur nie! Dit verstom my dat elke boer en sy familie nie gewapen is nie!

Johannes Meintjes ·

‘n Mens sou wou hoop dat Plan B (met aanvullende Planne B1, B2, B3 ens. op verskillende tersaaklike volks-, ekonomiese- en nasionale terreine) ‘n daadwerklike, spoedige en volhoubare deelname sal vind om ‘n buffer te skep teen toenemende ongeregtigheid en verskuilde agendas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.