Nuuskommentaar: 2015 in oënskou: Deel 4 – Was dit ʼn annus horribilis of doodgewone jaar?

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys. Foto: AP/Thibault Camus

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys. Foto: AP/Thibault Camus

Dis oujaar en elkeen van ons sal self oordeel of vanjaar vir hom of haar, of vir die mensdom, ʼn goeie jaar of ʼn annus horribilis was. In hierdie vierde en laaste terugblik op die jaar, kyk ons na wêreldgebeure en die wetenskap, veral die ruimtewetenskap.

In hierdie slotaflewering van ʼn terugskouing op 2015 kom die buiteland en die wetenskap aan die bod. Maar eerstens is dit belangrik om aandag te skenk aan hoe van die voorste analiste 2015 opsom.

In hoe ʼn mate Amerikaners soms die VSA as amper die hele wêreld beleef, blyk uit ʼn oujaarsbeskouing deur die bekende skrywer en analis, John Stossel. Die gewoonlik netjiese Stossel vervleg sy syfers en feite só dat dit soms moeilik en selfs onmoontlik is om vas te stel of hy met ʼn bepaalde feit na die wêreld of na die VSA verwys. Waarin Stossel wel mooi slaag, is om objektief uit te wys daar spruit ook goeie nuus uit 2015 voort, al het faktore soos die toename in terreur die persepsie van ʼn baie donker wolk en ʼn baie dun silwer randjie geskep.

Hierteenoor sal lesers met ʼn bepaalde politieke oogpunt wat in Suid-Afrika as links-liberaaal beskou sou word, bitter min silwer randjie waarneem uit Pat Buchanan se artikel, Is the West disintegrating? Mense wat sterk fokus op minderheidsregte sal dit weer ervaar as die blote stel van feite. Thomas Sowell, in sy artikel  Remembering 2015, vra die vraag of 2015 ʼn keerpuntjaar was. Hy meen as dit wel die geval was, was dit die keerpunt van die koers wat die VSA en die Westerse beskawing sal inslaan. Hy beskryf 2015 ook as die jaar van die groot leuen en meen dis die jaar waarin gesofistikeerdes die inspan van leuens as fatsoenlik begin beskou het.

Dit sou moeilik wees om 2015 se bespreking met iets anders te begin as terreur. Onder die vernaamste aanvalle in 2015 tel die aanval op die satiriese tydskrif, Charlie Hebdo, in Parys. Hierna het die aanvalle in Parys gevolg. Die eerste aanval is deur die Jemeense vertakking van Al Kaïda geloods en die tweede deur die IS wat in 2015 met mening die nuustoneel bestorm het. Ondersoeke na veral die IS-aanvalle se tentakels het veral tot in België, maar ook ander Europese lande soos Nederland en Duitsland gelei. Alle Oujaarsfeeste, soos die afvuur van vuurwerke, is in Brussel uit vrees vir aanvalle gekanselleer, nadat een beplande aanval, na berig word, reeds gefnuik is.

In Nigerië is sukses uiteindelik teen Boko Haram behaal, maar die jongste berigte dui daarop dat dié organisasie by die verskerpte optrede aangepas het. Boonop het die situasie meer gekompliseerd geraak omdat ʼn radikale Sjiïtiese organisasie ook sy spiere begin bult het.

Terug na Parys. ʼn Omvattende klimaatberaad waaraan sowat 190 lande deelgeneem het, is in die Franse hoofstad gehou. Belangrike ooreenkomste om die mens se invloed op klimaatsverandering te versag, is gesluit; iets wat grootliks moontlik gemaak is deur pres. Barack Obama se sterk steun vir beheermaatreëls en China se nuwe ingesteldheid terwyl verskeie Chinese stede soos Beijing nou gereeld in rookmis verstik.

Die vlugtelingkwessie was vanjaar sterk in die nuus. Aanvanklik is veral berig oor die vlugtelinge / migrante uit veral Afrika wat op enige denkbare manier Europa probeer bereik, sodat die Middellandse See ʼn begraafplaas van duisende geword het soos onseevaardige, oorlaaide bote gesink het. Later het die vlugtelinge uit veral Sirië die nuus begin oorheers en vir Europese lande ʼn yslike kopseer geword.

Die oorlog in Sirië het ʼn nuwe dimensie bereik toe Rusland fisies aan die kant van diktator Bashar al Assad tot die burgeroorlog toegetree het. Ná ʼn Russiese vliegtuig met groot lewensverlies in die Sinai geval het, blykbaar weens ʼn bom wat deur ʼn IS-filiaal geplant is, het Rusland sy aanvalle op die IS verskerp. Aanvalle op ander rebellegroepe het egter voortgeduur en verhoudings met die weste onder druk gehou en regstreeks daartoe bygedra dat Turkye ʼn Russiese vliegtuig wat bomme op Turkmeense opstandelinge sou gooi, neergeskiet is. Dit is deur groot spanning en ʼn nog groter propaganda-oorlog gevolg.

ʼn Interessante uitvloeisel van onder meer die lae olieprys, sanksies en die oorlogsdeelname in Sirië, is dat Rusland weens die gevolglike geldknyp nou na berig word om elke hoek en draai bespaar met die voorbereidings van die 2018-wêreldsokkerbekertoernooi in Moskou en dit is ook pas bekend gemaak dat Rusland se beplande maanbasis wat onlangs bekend gestel is, ook weens geldtekorte vir eers na die maan is.

Hoewel die spanning rondom die Oekraïne hoog bly, het dit grootliks as nuusitem van die wêreldtoneel verdwyn en stemme oor die Derde Wêreldoorlog en die hervatting van die Koue Oorlog het stiller geraak.

Vanjaar was daar wêreldwyd altesaam 20 aardbewings wat 7 of meer op die momentmagnitudeskaal aangeteken het. Sedert 2002 was daar net in 2010 meer aardbewings wat so sterk was, naamlik 21. Verlede jaar was daar ʼn “skamele” 13. Onder die bielies vanjaar tel twee wat enorme lewensverlies en skade in Nepal berokken het en selfs die hoogte van Everest beïnvloed het. Die sterkste aardbewing was egter een van 8,3 wat in Chili voorgekom het. Meer as 12 400 mense het reeds vanjaar weens aardbewings gesterf, met die eerste groot aardbewing in Nepal wat byna 9 000 lewens geëis het.

Die ruimteprestasie wat stellig die meeste aandag geniet het, was New Horizons se verbyvlug by Pluto en sy mane. New Horizons stuur steeds foto’s en ander inligting terug aarde toe terwyl dit steeds verder die ruimte in klief.

Nog ʼn belangrike ruimteprestasie is die tuig Dawn se besoek aan die dwergplaneet Ceres, nadat dit ook eers die protoplaneet Vesta aan die ander kant van die asteroïdegordel besoek het. Intussen gaan die Curiosity-tuig op Mars met sy verkenningswerk voort en hoewel dit verstommende nuwe inligting aan die lig bring, het dit geen rol gespeel in die aankondiging dat vloeibare oppervlakwater op Mars gevind is nie.

Dit blyk dat die sonnestelsel baie waterryker is as wat aanvanklik gemeen is, wat die soektog na lewe buite die aarde verskerp het. Hier word egter net na mikroskopiese lewe gesoek, soortgelyk aan dit wat diep in Suid-Afrikaanse myne onder uiters ekstreme omstandighede gevind is. Die soeke na omstandighede waar intelligente lewe kon ontwikkel het, fokus nou eers op die vind van rotsagtige eksoplanete.

ʼn Voorspoedige(r) 2016 word u toegebid.

Lees ook:
2015 in oënskou: Deel 1 – wat ʼn #jaar!
2015 in oënskou: Deel 2 – die aanslag teen Afrikaans
2015 in oënskou: Deel 3 – Nuus wat saak maak

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Andre van den Berg ·

Dit was n doodgewone jaar. Korrupsie, ontwrigting en geweld is deel van die ANC se politieke mondering. Ons moet onder hierdie bewind niks anderste verwag nie.

Grassie ·

Ek wens Maroela wil ‘n “hou van” of “opduim” blokkie by die kommentare plaas waarop ‘n mens kan kliek. Wanneer ‘n mens kommentare soos hierdie reeks van Herman lees, daarmee saamstem, dit leersaam vind en met niks daarin verskil nie lewer jy nie self kommentaar daarop nie en kan dit lyk of die bydrae half ongesiens verbygaan. Dit sal ook gaaf wees as gewone lesers kan sien wat ander lesers, wat self nie kommentaar lewer nie, daarvan dink.

Johannes Meintjes ·

Na mening en waarneming is die periode van geweldige politieke en ekonomiese manipulasie sedert 2008 tog in 2015 afgerond. Nou het elke mens ‘n keuse oor hoe hy en sy (en veral saam met wie) daar tot welke doel en ideaal verder gestap gaan word. Die keuses en optrede voorts is van kritiese belang vir ons en ons kinders, en bepaal in welke orde ons kies om te oorleef. In “die bondel” sal die chaos en verwarring asook die manipulasie en minagting van lewe en besit steeds toeneem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.