Nuuskommentaar: 2017 in ’n neutedop (Deel 2)

’n Bewusmakingsaksie teen plaasmoorde deur die Solidariteit Beweging by die Voortrekkermonument in Pretoria (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Plaasaanvalle en plaasmoorde was in 2017 weer gereeld in die nuus – eerstens omdat die aantal plaasmoorde pro rata toegeneem het en nou reeds oor die 100 per 100 000 per jaar beloop, maar ook omdat dit in die parlement gedebatteer is, en weens die hou van Swart Maandag. Selfs Koos Kombuis wat in die verlede mense se bloed laat kook het deur boere self vir die plaasaanvalle verantwoordelik te hou, het op Swart Maandag swart gedra, en skynbaar ’n Damaskus-oomblik beleef.

Steeds skok die wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaan ʼn mens. Die persoon wat tydens die parlementêre debat uitgeroep het, “Begrawe hulle lewend” (’n adjunk-minister) is nie deur die ANC gedissiplineer nie, en hy het sy pos eers verlaat toe hy aangekla is dat hy twee vroue aangerand het. Hy is egter pas tot die ANC se NUK verkies.

Wat dalk ’n groot terugslag kan wees om die ANC in 2019 tot onder ’n volstrekte meerderheid te dwing, is verskeie gebeure in die DA. Die eerste harde hou was die vloermoer van die DA-leier, Mmusi Maimane nadat Helen Zille op sekere voordele gewys het wat kolonialisme ingehou het. Maimane en baie swart lede van die DA meen kolonialisme was net sleg. Zille het die saak basies ontlont deur die minste te wees.

Intussen broei ’n storm oor die skorsing en bewerings van korrupsie teen Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad.

Die vraag is of ander politieke partye by die ongemak in die DA kan baat vind, en in ’n moontlike koalisie-opset kan “instaan” vir die verwagte verlies aan veral wit steun vir die DA? Opnames toon dat baie DA-ondersteuners die party om pragmatiese eerder as beleidsredes steun. Hierdie kiesers kan hulle moontlik na partye wend (waar hulle dalk in die eerste plek vandaan gekom het), mits hierdie partye behoorlike lewensvatbaarheid en relevansie bewys. Op die oomblik lyk dit of die Vryheidsfront Plus hierdie soort steun trek.

Renosterstropery bly in die nuus, maar dit word nou aangevul deur die jag op leeus, kameelperde en selfs die slagting van donkies.

Op die internasionale front toon die VSA hoe belangrik hy is, al woel dit om die kop van sy president.

Pres. Donald Trump bly in die nuus en sy vyande, ook in die media, word nie minder nie. In sy jongste nuusbrief som die Los Angeles Times sake soos volg op:

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com

America First or America Alone?

“Our strategy is to advance American influence in the world,” President Trump said in his national security speech last week. Many in the international community say it’s having the opposite effect, as China takes the lead on fighting climate change, Russia oversees Syrian peace talks, France and Germany provide unwavering leadership for NATO, and the U.S. has lost its status as a negotiator acceptable to all sides in the Israeli-Palestinian conflict. Even India has cast a wary eye on Trump’s unpredictability.”

Op ander fronte wen Trump egter vriende. Sy besluit om die Amerikaanse ambassade in Israel van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif en so Jerusalem as hoofstad van Israel te erken is gewild onder veral behoudende Christengroepe wêreldwyd. In Suid-Afrika is dit byvoorbeeld deur die klein Christen-Demokratiese Party (CDP) gesteun. Sy herinstelling van “A Merry Christmas” in die plek van “Happy Holidays” is ook gewild.

Nader tuis het die gebeure in Zimbabwe deeglike nuusaandag geniet. Dit was duidelik dat die omverwerping van Mugabe se bewind gewild was, maar dat daar by baie ’n wag-en-sien-houding is voor hulle reageer, soos vir Zimbabwiërs in Suid-Afrika om huis toe te gaan.

Vanjaar was tot dusver ’n besonder stil aardbewingjaar. Daar was byvoorbeeld slegs agt aardbewings van M7 of meer, wat ongeveer die helfte van die gewone aantal was. Botswana het egter vier sterk aardbewings beleef, waarvan een baie sterk was. Heelwat aardbewings het ook voorgekom wat met die Afrika-slenkdal verband hou, maar relatief tot ander aktiewe areas was dit onbeduidend.

Ironies voorspel ’n aantal wetenskaplikes dat 2018 heelwat baie sterk aardbewings sal beleef omdat die aarde effens gekrimp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valie ·

As die “politiese korrektheid” sindroom wêreldwyd net sal wyk, en vervang word met etiese – en beginsel-korrektheid…

John ·

… etiese beginsels is die volgende tuksvy… Christen-/Bybelse-waardes is die basies-korrekte waardes maar met vreemde godsdienste, godedienste en ateisme, voorvader- en ruimtewesenaanhangers aan die orde van die dag is daar soveel waardes as die hare op ‘n hond se rug. Baie mense glo nie eens in die hiernamaals nie en verkies ‘n ‘dog eat dog’-mentaliteit. So wat is etiek en beginsels?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.