Nuuskommentaar: 2017-jaaroorsig

Oscar Pistorius. Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

In vandag se eerste aflewering van die 2017-jaaroorsig word kortliks na belangrike nuusgebeure plaaslik en internasionaal gekyk, en dan word aspekte hiervan in meer detail bekyk tot die einde van die jaar.

’n Algemene oorsig van nuusgebeure toon dat 2017 nie ’n nuusarm jaar was nie.

Op die plaaslike front is adj.pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president van die ANC van groot belang. Die euforie is ietwat gedemp deurdat dit ’n naelskraapse oorwinning oor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma met haar voortsetting van pres. Jacob Zuma se “ekonomiese” beginsels was, en dat die ANC ’n resolusie oor grondgryp sonder kompensasie aanvaar het.

Jacques Pauw se boek, The President’s Keepers, ruk diep in nie net die staatskaping nie, maar ongelooflike korrupsie wat die president impliseer.

Wat nuuswaarde betref, is die ongekende droogte in die Wes-Kaap waarskynlik die intro van dramatiese nuusgebeure wat gaan volg. Die nuuswaarde word verhoog deurdat Kaapstad se krane dreig om vroeg in die nuwe jaar leeg te loop. ’n Groot verskeidenheid projekte word beplan terwyl ’n toe hand van die sentrale regering die uitvoering daarvan belemmer. Intussen is daar kommer dat die landbou in die streek enorme skade kan opdoen met die sny van besproeiingswater om aan die dorstige stad te voorsien.

Die afgelope jaar was ’n “word vervolg” van hofsake wat die president raak. Sy ongedurigheid met die vorige Openbare Beskermer het hom nou persoonlik en uit eie sak die regskostes in ’n saak op die lyf laat loop… en toe appelleer hy weer.

Gaan Zuma uiteindelik in die tronk beland? Net soos dit lyk of die strop nouer trek, vind hy en die Direkteur van Nasionale Vervolging, Shaun Abrahams, ’n (tydelike) afdraaipaadjie.

Daar was ander opspraakwekkende hofsake ook. Oscar Pistorius se vonnis vir moord op Reeva Steenkamp is in die appèlhof verleng, en Pistorius probeer nou na die Konstitusionele Hof appelleer. Intussen word regsgeskiedenis gemaak, soos die behoorlike formulering van dolus eventualis – dit wil sê waar daar verminderde skuldaanspreeklikheid is weens sekere omstandighede, maar genoeg opset is om moord nie tot strafbare manslag af te gradeer nie.

Ook die Christopher Panayiotou-moordsaak, en die De Zalze-moordsaak het baie Suid-Afrikaners se belangstelling gaande gehou. Panayiotou, wat aan moord op sy vrou Jade skuldig bevind is, wil appelleer, terwyl die De Zalze-saak in 2018 voortgesit sal word.

’n Belangrike verwikkeling was dat AfriForum ’n privaat vervolgingseenheid onder die leiding van die bekende adv. Gerrie Nel ingestel het. Skielik het die druk op die NVG erg toegeneem nadat nie net Nel se eenheid nie, maar ook ander, soos die nuwe burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, aangedui het dat hulle privaat vervolging sal instel waar die NVG om skynbaar politieke redes versuim om te vervolg.

’n Groot politieke terugslag vir die ANC is dat Suid-Afrika in die finale stap die aanbied van die 2023 Rugbywêreldbeker, die tiende toernooi, kwyt is. Heelwat redes het as beweringe in omloop gekom, soos dat Suid-Afrika se misdaadsituasie, soos plaasaanvalle, nie onder beheer is nie, tot dat ’n betaal-TV-kanaal te inhalig probeer wees het met uitsaairegte. Frankryk sal nou die gasheer wees.

Verskillende aspekte sal oor die komende dae in meer detail in verdere aflewerings van die jaaroorsig onder die loep geneem word.

Wat die buiteland betref, het die verkiesing van Donald Trump in vele opsigte ’n ommekeer gebring. Hy is minder behep met politieke korrektheid as sy voorgangers, en het selfs nou ’n “Merry Christmas” in plaas van “Happy Holidays” begin gebruik – iets wat selfs vir George W. Bush ’n te groot uitdaging gebly het. Trump het ook internasionale protokol in die wind geslaan en aangekondig dat die VSA sy ambassade in Israel van Tel Aviv na Jerusalem verskuif, en sodoende Jerusalem as hoofstad van Israel erken. Sover bekend, het nog net Guatemala die VSA gesteun. Suid-Afrika wil die status van sy ambassade in Tel Aviv afgradeer.

Die VSA se woordestryd met Noord-Korea bly in die nuus, oor Noord-Korea se vordering met die bou van kerndraende interkontinentale missiele wat die VSA kan bereik. Kort-kort lyk dit of ’n oorlog onafwendbaar word.

Die Brexit-proses blyk baie ingewikkeld te wees, terwyl entoesiasme in Brittanje daarvoor skynbaar afneem.

Isis se Islamitiese staat wat groot dele van Irak en Sirië ingesluit het, blyk nou effektief iets van die verlede te wees. Dit beteken ongelukkig nie dat die laaste van Isis gehoor is nie, en ’n voortsetting van terreurdade in Westerse lande blyk onafwendbaar te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Baie netjiese opsomming Herman. Dankie daarvoor. Dinge wat deur my gedagtes gegaan het terwyl ek dit gelees het, was gedagtes soos Ramaphosa blyk duidelik ‘n beter keuse gewees het as Zuma, maar hy gaan slegs die volgende turksvy wees in die pad van blanke toekoms in SA.

Oscar Pistorius se simpatie blyk steeds net met homself te wees en jou verwysing na die Panayiouto en De Zalze-sake het my laat wonder wat het geword van Dirk Prinsloo.

AfriForum is ‘n wenner en Donald Trump laat (sommige) mense se oordeel wipplank ry want daar is mense wat hom vandag kritiseer en more komplimenteer. Hy bly egter ‘n wenner.

Jacques Pauw is, teenstrydig met wat vele mense dink, nie ‘n vriend van die konserwatiewe Suid Afrikaner nie en ek hou daarvan dat jy sê Isis blyk nou effektief iets van die verlede te wees maar jou voorspelling dat weer van hulle gehoor sal word laat my dink aan Amerika wat gesê het hulle is groter en finansieël sterker as verwag.

Mag 2018 ‘n pragtige, produktiewe en gesonde jaar wees vir jou en almal wat hier lees.

Spelling ·

Cherokee, die woord finansieel word sonder ‘n deelteken geskryf.

Lenette ·

En net mooi niks word gese van al ons boere wat so wreed vermoor is nie,

Cherokee ·

Die tema is 2017 nuus en plaasmoorde is nie slegs 2017 nuus nie.

Kaster ·

Wel, dit was gladnie hoegenaamd nuus in die massamedia nie behalwe net hier op Maroela. Die ander massamediamense het agendas en is nie gebalanseerd nie.

Lena Jonk ·

Baie dankie Herman, jou uiteensetting was van uitstaande gehalte, jou nuus lees ek met graagte, jy weet waarvan jy praat en gebruik nie fobnuus wat aan mense in SA opgedis word nie. Sien uit na jou nuusberigte nie soos party wat twak verkoop nie. Sterkte en voorspoed vir jou vir die nuwe jaar.

Jacques venter ·

Cherokee
Wat jy van Jacques Pauw sê, is baie waar. Hy was nog altyd gekant teen onderdrukking.
n Man met mannemoed wat altyd teen onderdrukking en vontregting staan.
“Lonely are the brave”

Barend ·

Kan ons miskien ook meer te wete kom oor die beweerde inhaligheid van ‘n betaal tv-kanaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.