Nuuskommentaar: 2020 begin tegelyk duiselingwekkend en slaperig

land-kristalbal-toekoms-McKylan-mullins-op-pexels

Foto: McKylan Mullins/Pexels.com

Dit is nie toevallig nie dat daar nou ’n opwelling is in pogings van talle mense, kundiges en ander, om oordele uit te spreek oor vanjaar se vooruitsigte. Die jaar het net ver genoeg gevorder vir meer duidelikheid oor hoe sake kan verloop, en minder op verbeelding en kristalballe staatgemaak hoef te word. Weens ’n tyd- en ruimtebeperking word hier net op Suid-Afrikaanse verwikkelinge gefokus.

Dit is algemene praktyk dat die media en ander instansies aan die einde van ’n jaar nabetragting hou oor die belangrikste insidente en gebeure van die betrokke jaar, en weer kort na die aanvang van die volgende jaar, ook met inagneming van werklikhede, die spreekwoordelike kristalbal inspan om die nuwe jaar onder die loep te neem en soms selfs voorspellings te waag. Soms is daar meer as net ’n bietjie wysheid in om dié vooruitskouings in die tweede helfte van Januarie te maak.

Met vanoggend se studie van die nuus om te bepaal wat saakmakend is om te bepaal watter onderwerp wêreldwyd die sterkste aanspraker is as onderwerp vir vandag se nuuskommentaar, was dit gou duidelik dat die hek oopgegaan het, en dat nuusontleders soos resiesperde uit die hokke weggespring het. Weens tyd- en ruimtebeperking word net Afrikaanse voorbeelde op die ondersoektafel geplaas.

Moontlik die belangrikste is ’n bydrae deur dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting se Adviesraad op Maroela Media se debatsportaal, Nou Pra’ Jy. Die titel is “Te vroeg om te sê dis neusie verby vir Ramaphosa”. In die artikel verwys hy na ’n vorige artikel waarvan die kern vyf punte is wat hy gelys het en meen tendense is wat SA in 2020 sal kenmerk.

Die eerste is ’n groeiende tendens van sentralisering en staatsbeheer (lees ANC-beheer) oor verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing. Hy lys dan vier wetsontwerpe wat dit stukrag moet gee: “Die bekendste en oudste is die verandering van artikel 25 van die Grondwet om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak – ʼn uitsonderlike inbreukmaking op private eiendomsreg. Die tweede is die dreigende nasionale gesondheidsversekeringstelsel (NGV), waarvolgens die staat (en in effek die minister) beheer oor gesondheidsvoorsiening sal neem, tot die waarskynlike uitsluiting van private voorsiening en gevolglike verswakking van gesondheidsdienste oor die algemeen.

Die derde is die wetsontwerp wat die provinsiale ministers en hoofde van onderwys in effek die reg sal gee om te besluit oor die taal van onderrig in enige skool, en die samesmelting van skole kan afdwing. Dit sal die grondwetlik gebaseerde openbare skoolstelsel in effek ʼn staatskoolstelsel maak en die magte van ouerbeheerliggame tot amper nul afskaal. Die vierde wetsontwerp gee die nasionale minister van sport die mag om (in sy eie woorde) sport te beheer. Dit word wel gedoen met die edele motivering om die talle sport binnegevegte te probeer bekamp en te bestuur, maar die effek is dat die staat beheer oor nog ʼn aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing verkry – en dit sluit selfs fiksheidsentrums in.”

Eloff skryf self dat sommige van die ander vier tendense nie nuut is nie. Die tweede tendens waarna hy verwys is meer en beter ondersoeke, aanklagte en vervolgings deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke. Daar was teen die einde van 2019 reeds merkbaar meer aanklagte en vervolgings, en soos wat die NVG se kapasiteit toeneem (onder meer as gevolg van uitkontraktering) sal meer en hoërprofiel‑oortreders in die howe verskyn. Onder diesulkes tel senior leiers van beide die ANC en die EFF. Die direkteur van die NVG, adv. Shamila Batohi, het trouens belowe dat Februarie die begindatum hiervoor sal wees.

Ruimte ontbreek ongelukkig om almal onder die soeklig te plaas, en dit kan via die skakels gedoen word. Die meeste van die toekomsontledings wat Suid-Afrika betref, is waarskuwend en nie juis positief nie. Byvoorbeeld: “Die Afrikaner Selfbeskikking Party [sic] waarsku alle Suid-Afrikaners om dringend kennis te neem van die doelbewuste anti-ligvellige rewolusionêre klimaat wat geskep word, en roep hulle op om hulself voor te berei om enige pogings van die kommunistiese regering van Suid-Afrika om vanjaar Suid-Afrikaners finaal van hul grondwetlike regte te probeer ontneem, met beslistheid teen te staan.” Dit is die nuwe naam vir die Front Nasionaal (Suid-Afrika).

Daar is egter ook eerlike pogings wat wetenskaplik van aard is, soos nog ’n bydrae op Nou Pra’ Jy deur Monica Mynhardt, junior navorser van die Solidariteit Bewegingstrust. Sy sluit op ’n positiewe noot af, en skryf onder meer: “Ons bevind ons tans in ’n tydsgewrig. Hoe ons daarmee omgaan sal bepaal of die ommeswaai in ons guns of ons nadeel sal wees. Ons is tans ideaal geposisioneer om die dekade meer voorspoedig te maak as wat die afgelope een was.”

Ja, daar IS ook positiewe tekens, en een van die vyf sake wat Eloff uitgewys het, naamlik die verbeterde regsoptrede teen wat hier kortliks staatsverdagtes genoem word, het juis gister gerealiseer toe die nuwe tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid teen so ’n persoon opgetree het.

Die positiewer siening word ook in vandag se Netwerk24-hoofartikel weerspieël: “As net iets kom van praatjies na ANC se Lekgotla”.

Of ’n mens saamstem met bogenoemde of nie, is kwalik relevant. Dit dra niks by nie om Eloff se artikel brandstapel toe te stuur weens hoe oudpres. FW de Klerk destyds die Kodesa-saak hanteer het. Daar behoort meer konsensus as wat daar nou nog is, te wees oor hoe nodig dit is om die grondwetlike regte te beskerm, soos verskeie projekte om die regering se grondgrypplanne (wat eufemisties maar pikant deur die regering “grondhervorming” genoem word), teen te staan. Of ons omgaan met die werklikhede sal bepaal of die uitkomste positief en in ons guns sal wees, hang van veel meer af as ’n vasberadenheid, maar van ’n groot mate van konsensus, insigte, styl, kundigheid, die internasionale gemeenskap deur byvoorbeeld hul verbintenis tot internasionale verdrae, en opofferingsbereidheid. Die Here beskik, maar dit is baie gevra as ons handjies gevou sit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Herman, dis reg wat jy daar na ondertoe sê en ek haal aan: “Of ’n mens saamstem met bogenoemde of nie, is kwalik relevant. Dit dra niks by nie om Eloff se artikel brandstapel toe te stuur weens hoe oudpres. FW de Klerk destyds die Kodesa-saak hanteer het.”
Dis reg so dat jy jou stem hieroor dikmaak, want daar gaan bykans nie ‘n artikel van Dr Eloff verby, of iemand verguis hom onderaan in sy kommentaaroor iets nie.

Feite

Goeie ontleding van ander se menings. Jou mening is dalk die belangrikste, “die Here beskik”, maar ons moet nie met handjies gevou sit nie. Is dit dalk nie juis omrede die Here oor alles beskik, dat ons handjies gevou sit nie? Sit mense regtig handjies gevou uit eie keuse, of is daar n rede daarvoor. Is daar dalk n tekort of dalk n versuim deur leiers by wie die nodige leierskap ontbreek en wat sou die rede daarvoor wees? Daar is n tyd en n plek waaroor die Here beskik, dit reken ek is die rede hoekom ons handjies gevou… Lees meer »

John

Slaperig of aan die slaap gevang/gesus? Eintlik gaan dit skokkend erg. SA is nie eers ‘n eenpartystaat nie. Sowat 10 mense besluit wat met die land gaan gebeur. Hul hou ‘n beraadjie met ‘n klompie aan-die-slaap-kaders en die groepie neem drastiese besluite oor grond, staatsentiteite (oa Eskom en SAL) en hoe dinge gedoen sal word en wie betaal en wie nie, en wat nog meer, sommer so sonder bespreking en goedkeuring in die parlement. Cyril praat soos op sy eie begrafnis, Tito fluister so asof hy besig is om onwettig geld vir SAL iewers by kerslig uit te grawe. En… Lees meer »