Nuuskommentaar: 50% – 1% = ANC Wat dan?

BRICS-leiers vergader voor die G20-beraad in Australië (November 2014). V.l.n.r.  pres. Wladimir Poetin van Rusland, eerste minister Narendra Modi van Indië, pres. Dilmar Rouseff van Brasilië, pres. Xi Jinping van China en pres. Jacob Zuma van Suid-Afrika Foto : Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

BRICS-leiers vergader voor die G20-beraad in Australië (November 2014). V.l.n.r. pres. Wladimir Poetin van Rusland, eerste minister Narendra Modi van Indië, pres. Dilmar Rouseff van Brasilië, pres. Xi Jinping van China en pres. Jacob Zuma van Suid-Afrika Foto : Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

ʼn Akademiese vraag is nou nie meer heeltemal so akademies nie. Wat gebeur as die ANC sy absolute meerderheid in die Nasionale Vergadering verloor?

Na aanleiding van wat verlede week in die parlement gebeur het, vra al hoe meer analiste wat sal gebeur as die ANC deur die meerderheid kiesers die deur gewys word? Gaan dit op ’n staatsgreep in die een of ander gedaante uitloop?

Drie faktore speel ’n rol, wat al drie uiteindelik tot een faktor uitkristalliseer: Jacob Zuma.

Met die metaalwerkersvakbond, Numsa en vriende wat openlik rebelleer, lyk dit skielik of die ANC sy grootste afsplintering tot nog toe kan beleef. Zuma is duidelik nie oral in die ANC ewe gewild nie, en Zuma self het met sy Zoeloefikasie self weer “tribalism” aan die gang gesit.

Dit is alles faktore wat die ANC nog kan aanspreek, maar die mate waarin die Zumaïete hul beergreep op die ANC gevestig het, laat dit werklik lyk of die ANC die belange van een man bo die ANC en selfs die land se beste belang stel. Daar is sekere kosmetiese bewegings om enersyds die president se blootstelling aan geleenthede waar hy weer verleentheid met sy blapse kan maak te verminder, en andersyds om sy statuur te verhoog deur hom die rol van ’n tipe super-diplomaat te laat speel. Laasgenoemde is ’n ou laai – bou iemand se beeld deur assosiasie – laat hom gereeld skouer skuur met die wêreldleiers en ’n beeld word gevorm van iemand wat in daardie geselskap tuishoort. Die seleksie is nie altyd goed nie, soos om hom aan pres. Wladimir Poetin bloot te stel.

Die Cosatu-verwikkelinge met Numsa kan ook na Zuma teruggevoer word. In die aanloop tot die Mangaung-konferensie in Bloemfontein, waar Zuma gemik het om as president van die ANC herkies te word, het hy en sy ondersteuners hul magsbasis binne Cosatu probeer uitbrei. Weens die KwaZulu-Natalse aard van dié magsbasis het dit in effek ’n Zoeloefikasie behels. Met die NUM het dit redelik maklik gegaan omdat ’n baie groot deel van die mynwerkers uit die Oos-Kaap reeds na die toe onverbonde AMCU “gedros” het. Daardie uitvloei het veroorsaak dat die NUM, tradisioneel die grootste vakbond binne Cosatu, en trouens die ruggraat daarvan, tot die derde grootste teruggesak het.

Om Numsa met sy sterk bande in die Oos-Kaapse motorvervaardigingsindustrie te Zoeloefiseer om ’n magsarm van Zuma te word, het geblyk ʼn perd van ’n ander kleur te wees. Inteendeel, die Zuma-volgelinge het hul goed gevat en onder druk geloop.

Intussen is Zwelinzima Vavi, ’n Xhosa en sekretaris-generaal van Cosatu, na die brandstapel gesleep, maar telkens deur Numsa beredder.

Baie water en prosesse moet nog in die see loop voor aanvaar kan word dat die breuk in Cosatu permanent is. Dit is trouens duidelik dat die ANC en die SAKP nou so spyt is soos ’n baber wat, volgens ouboet, ’n “sparkplug” ingesluk het.

Dit is dus nog voortydig om te praat van ’n situasie waar die ANC in ’n nasionale verkiesing minder as 50% van die stemme gaan trek.

Tog, selfs al word Cosatu beredder, is daar ’n paar verwikkelinge wat meer realisties is en die ANC in die hart kan steek. Oor sowat ’n jaar moet Suid-Afrikaners landswyd weer na die stembusse opruk, om hul munisipale rade te verkies. Van hierdie rade, soos die Nelson Mandela-raad by Port Elisabeth, Johannesburg en die Tshwane-raad by Pretoria lyk skielik kwesbaar.

Tot dusver was daar nog nie veel tekens dat omstredenheid en skandale die ANC self stemme by munisipale verkiesings kos nie. Die ANC het byvoorbeeld sy posisie in Tlokwe (Potchefstroom) min of meer herstel. Trouens, van die kleiner partye soos die UCDP en ACDP is besig om liederlik uit te sak. Enkelsyfer-uitslae vir klein partye tydens tussenverkiesings is aan die orde van die dag.

Prof. Michael Friedman het al opgemerk dat groot nasionale skandale vir die land, nie binne die ANC wat daarvoor verantwoordelik was, as skandale manifesteer nie.

Maar sou Cosatu wel skeur en ’n nuwe politieke party die lig sien, is daar genoeg swaargewigte in die nuwe party om ’n duidelike boodskap uit te stuur – net omdat jy swart is, beteken dit nie jy moet vir die ANC stem nie. Daar is ook geen manier wat die ANC nog genoeg tyd het om voor die munisipale verkiesings dienslewering op ’n vlak te bring wat naastenby met die beloftes ooreenstem nie. En nou is daar die EFF, en heel moontlik ’n groot linkse party, wat daardie feit met geloofwaardigheid onder die kiesers se neuse sal vryf.

Nie dat die ANC nie weer die rassekaart gaan probeer speel nie. Dit is reeds instinktief gespeel, soos die waarskuwing vanuit die ANC dat die parlementêre moleste daartoe kan lei dat die bloed vloei, en dat dit rasse-ondertone kan hê.

Maar sou daar swaargewigte soos Irvin Jim en Vavi deel van ’n beduidende opposisie, met groot vakbondsteun agter hulle, die draers wees van die boodskap dat die ANC se voete van klei is, gaan die rassekaart nie so maklik werk nie. Boonop het Julius Malema en sy EFF reeds daardie ysplaat gekloof. Met die groot AMCU-staking kon die ANC ook nie die rassekaart speel nie, en het die ANC werklik lomp vertoon om geloofwaardig daarop te reageer.

ʼn Taamlike eenvoudige oplossing vir die ANC is om Zuma te pos, en Cyril Ramaphosa as president te laat oorneem. Dit is egter baie duidelik dat Ramaphosa se politieke loopbaan op baie dun ys is omdat die Zumaïete gesteld daarop is dat Zuma nié vervolg word nie, en daarom moet sy opvolger die mees getroue Zuma-lojalis wees. Die speaker, Baleka Mbete, is vanuit hierdie geledere blykbaar die gunsteling.

Dit beteken dat Ramaphosa voor die volgende algemene verkiesing duidelik na die kantlyn geskuif sal moet word. En dit verhoog die kanse dat die ANC met die volgende verkiesing soveel gewigtige teenstanders en vyande kan hê dat ’n volstrekte meerderheid nie ’n noodwendigheid is nie.

Die ANC sal egter selfs onder die helderste scenario die grootste party wees, en die kitaar in ʼn koalisie kan slaan. Die National Freedom Party het immers reeds getoon dat hulle bereid is om die knieval te doen. Daar sal ander ook wees. Die werklike deurbraak sal eers kom wanneer die gesamentlike opposisie wat die ANC uit ʼn dominante posisie wil dwing, genoeg parlementêre steun kry. Eers wanneer die ANC, selfs binne ʼn koalisie, nie meer sy reeds ontplooide onbekwame kaders kan beskerm nie, sal die ANC se ongesonde greep op die land gebreek kan word.

Die oog moet egter nou eers op die landswye munisipale verkiesings gerig wees. Kiesers moet weet dat daar ander opsies is as waar Suid-Afrika noodwendig deur die ANC regeer én gewurg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Naas Viljoen ·

Die rampokkers sal ENIGE iets probeer om aan bewind te bly. Ongelukkig sal hulle nie op die Weermag of Polisie kan staatmaak om dit onwettig te doen nie – beide is tot algehele onbevoegdheid getransformeer.

Cathy Kotze ·

Kom ons wees liewers dankbaar dat hulle nie op die (chaotiese) weermag en polisiediens kan staatmaak nie. Daar is egter genoeg gebrek aan dissipline in beide om tog ‘n soort van staatsgreep te probeer.

jakoos ·

Cathy, is dit jy wat vanuit Kanada nou hier rebellie staan en predik?

Neels Louw ·

Hierdie vraag is lankal reeds gevra, maar ongelukkig nog altyd met n westerse antwoord verfraai. Die ANC dink het het die reg om te regeer (tot Jesus weer kom) verdien deur die apartheids regering by die onderhandelings tafel te verslaan. Hierdie “reg” sal die ANC nooit prys gee nie soos hierbo reeds vermeld. Die antwoord op hierdie vraag is opgesluit nie in die westerse denk raamwerke nie, maar in die van Afrika.Demokrasie is net demokrasie solank die ANC in beheer is, sou hy die mag verloor, op n demokratiese wyse, sal die ANC nooit vrywillig afstand doen daarvan nie.

Herman Toerien ·

Die ANC het inderdaad verskeie kere te kenne gegee dat hy die demokrasie verstaan as waar die meerderheid regeer. (Maw wat as die diktatuur van die meerderheid bekend staan). Hy het ook al meerdere gekla oor die grondwet wat dit frustreer, en dan gesê “die meerderheid moet darem seker ook ‘n sê hê.” Die vraag hier is basies wat sal gebeur as die ANC nie meer daardie volstrekte meerderheid het nie? Ek dink nie daar is ‘n kans dat hy eensklaps so uitgeknikker sal wees dat hy nie minstens vir ‘n verkiesing of twee deel van ‘n koalisie sal wees nie. Trouens, hy sal seker nog ‘n ruk kan kies of hy koalisievennote van links, of van regs gaan trek. Dit hang weer van baie faktore af. In Duitsland, streng gesproke, kon die sosiaal-demokrate in ‘n koalisie met die Groenes vir Angela Merkel koud gesit het, maar wil nie met ‘n tang aan die groenes raak nie. Dit sou ook eintlik onbillik teenoor die kiesers wees, want Merkel is so sterk deur die kiesers gesteun dat haar party nie net die meeste stemme (maar nie 50 persent nie) gekry het, en sy koalisiennoot so leeggesuig het dat hy nie die minimum-drempel vir setels kon haal nie – in Duitsland nogal baie. In Nederland moes die vorige koalisie weer Geert Wilders se stille instemming “gedoog”. In SA het die EFF hul stemme op ‘n skinkbord aan die ANC aangebied om die grondwet te wysig om eiendomsreg sonder kompensasie ontneembaar te maak (ek het ‘n idee, saamgelees met ander bepalings, hierdie een sou egter ‘n driekwart-meerderheid behels). Die feit is die ANC wil nie met ‘n tang aan die EFF vat nie. Net so kan ‘n mens wonder of die DA te gretig sal wees omn die EFF as koalisievennoot te hê om die ANC uit te hou. Maar vir eers was my bedoeling bloot om aan te toon dat al het verskeie analiste nou al met die gedagte begin maal, die manifestasie sal waarskynlik te kompleks wees om nou enige voortuitskouings te kan doen.

Neels Louw ·

Mense, alles wat julle se is waar, die enigste probleem is net dat dat julle met n westerse verstand dink. Dink Afrika…nie Duitsland of Nederland nie.

jakoos ·

Herman, in hierdie “Sieneragtige” vooruitskouing van jou het jy eintlik net een punt reg – en jy beklemtoon dit helaas nie duiudelik genoeg nie.

Dit is dat die enigste bedreiging vir die ANC van links en baie radikaal links gaan kom. Indien die Numsa-wegbreek van Cosatu almiskie tot ‘n politieke party lei, sal dit ‘n linkse, sterk sosialisties, selfs kommunistiese ondertoon he. Dit kan ook sterk aanklank vind by die Malemas. Dit sal egters in 2016 duidelik wees of so ‘n party beduidend vordering kan maak om die ANC se mag in 2019 te breek.

Die verdere afleiding wat gemaak moet word, is dat die ANC nie ‘n reeds gewonde persoon soos Ramaphosa as sy leier in 2019 gaan aanwys nie, maar ‘n radfikale en eintlik links-radikale een. Ek twyfel selfs of Mbete aan daardie vereistes gaan voldoen, maar die volgende jaar of vier sal seker duidelikheid bring wie daardie eienskappe het om oor te neem.

Die een ding wat jy groot verkeerd het is dat die ANC vir Zuma in die nabye toekoms gaan pos. Dis nie net wensdenkery nie – dis swak politieke insig.

Kobus ·

Tot so ‘n jaar of langer gelede was daar ‘n persoon met die van Duvenhage wat dit net nie kon weerstaan om as Flip Buys se rubriek in Rapport geplaas was, om hom in kommentare onderaan te probeer af kraak en als wat hy sê in ‘n swak lig te probeer stel nie. Hy het ‘n manie teen Flip gehad. Jy herinner my aan so ‘n persoon.

Anoniem ·

Ek wil net vir jakoos dit laat verstaan dat enige omwentelinge in ANC kan en gaan gebeur.
Herman jou insig is puik en neekoos askies jakoos is bevooroordeeld.

jakoos ·

PJ, is jy bereid om ‘n weddenskap aan te gaan? Ek is.

Die probleem is die kwessie van tyd. Ek sal graag van jou wil verneem hoe dink jy wanneer gaan die ANC van Zuma ontslae raak – soos jy duidelik dink hulle wel gaan doen. Maar dit moet ‘n realistiese siening wees – nie ‘n voorspelling dat dit oor twee of drie jaar gaan gebeur nie. Dit gaan wel gebeur, maar wanneer Zuma besluit dat hy die pos verlaat sodat sy opvolger gereed kan maak vir 2019. Wat se^ jy?

O, ek verstaan nie mooi wat bedoel jy met “bevooroordeel” nie. Ek is beslis nie bevooroordeel TEEN Hermann nie. Ek stem dikwels saam met hom, maar soms – soos in minstens een opsig hierbo – dink ek dat sy samevatting van dinge nie heeltemal reg is of gaan verloop soos hy dink nie – en dan se^ ek dit vir hom reguit. Verduidelik bietjie wat jy bedoel, asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.