Nuuskommentaar: 80 jaar Bybel in Afrikaans

Dit is vandag presies 80 jaar dat die Bybel in Afrikaans amptelik beskikbaar is.

Afrikaans het op 8 Mei 1925 ‘n amptelike taal geword, en reeds vroeg in die 30-gerjare kon Afrikaanssprekendes hul boekrakke vul met Afrikaanse literatuur wat gedigte tot romans, literêre werke en ensiklopedieë insluit.

Skrywers, vertalers en uitgewers het almal saamgespan om die geskrewe woord sou gou as moontlik behoorlik beslag te laat kry.

Die 1933-Bybelvertaling was ‘n enorme werk omdat die vertalers nie maar die Nederlandse Statebybel vertaal het nie, maar na die beste Hebreeuse, Aramese en Griekse brontekste wat destyds bekend was gegaan het om ‘n gesaghebbende Bybel daar te stel.

Die bekende Totius se hand in die inspan van woorde kan ook duidelik gesien word.

Baie van die destydse Bybelvertalings was geskoei op vertalings van die Latynse teks, wat self die produk van vertaling en oorskryf was. Die Afrikaanse vertalers wou egter niks van ‘n tweedehandse, of derdehandse produk weet nie.

Die hegte band tussen die Afrikaner en sy Bybel is diep gesetel. Die Statebybel het ook tydens die Groot Trek ‘n ereplek ingeneem, en is oor die algemeen baie goed opgepas.

En al het Afrikaans en die Hooghollands van die Statebybel mettertyd redelik ver uitmekaar gedryf, het die band met die Bybel self heg gebly. Daar was ook aansienlike weerstand by sommige mense om die Statebybel met die Afrikaanse teks te vervang, want die Hooghollands is met respek teenoor die Here geassosieer.

Die Bybel het ongetwyfeld ‘n baie grot rol gespeel in die geestelike welvaart van die Afrikaner.

Bybelvertalings het in verskeie lande, soos Duitsland, baie daartoe bygedra dat die betrokke tale bestendig is, en as akademiese taal kon ontwikkel. Dit het die belangrikheid van kompeterende dialekte dikwels laat staan.

Die Bybel het ook in Afrikaans ‘n groot rol gespeel om die taal betreklik eenvormig oor die hele land te vestig, en die proses om dit ‘n taal vir hoë onderwys en die wetenskap te maak, gestimuleer.

Taal is egter dinamies, soos wat duidelik blyk uit die skryfwerk van die eerste en tweede Afrikaanse taalbewegings. Dit sou dus ook mettertyd nodig wees om die Bybel te hersien sodat dit tot latere geslagte bly spreek. In 1953 is ‘n opvolgvertaling wat min van die ’33-vertaling verskil bekend gestel.

Wat moes saamsnoer het egter ook tot twis gelei, en heelwat Afrikaners wil niks van die 1983-Bybelvertaling weet nie.

Min of meer dieselfde het gebeur toe die Totius-berymings van die Psalms met nuwe omdigtings opgevolg is. Die besware handel nie so seer oor die meer moderne Afrikaans nie, maar die verskille wat uit ander brontekste, wat om ‘n groot verskeidenheid redes as ouer en beter brontekste beoordeel word, neerslag vind.

Omdat die oorspronklike dokumente nie meer bestaan nie, word Bybelvertalings geskoei op die beste beskikbare oorskrywings. Dit is ‘n hoogs tegniese proses wat groot kundigheid verg, en een van die groot uitdagings is om na te speur watter tekste of teksdele later deur ‘n oorskrywer bygevoeg is, en so deel van die opvolgweergawes geword het.

Dié latere byvoegings het dikwels oorspronklik as kantlyn-aantekening deur ‘n oorskrywer gekom, en het dan met opvolgende oorskrywings in die teks beland. Sommige van die invoegings het eers in opvolg-oorskrywings op verskillende plekke in hoofstukke beland, en eers in latere oorskrywings ‘n vaste plek verwerf. Van hierdie invoegings het gebruike van die oorskrywer se tyd weerspieël, wat ‘n probleem vir die tydloosheid van God se Woord geskep het.

‘n Ander probleem was dat die Hebreeus nie hoofletters geken het nie, en dit vir latere lesers soms moeilik was om te weet of die teks na die Here, of na ‘n mens verwys.

Verder werp nuwe argeologiese vondste voortdurend lig op die konteks van die tye waarna verwys word, en maak die veld van teksuitleg, bekend as herneutiek baie interessant.

Dwars oor die wêreld verleen sommige vertalings hulle beter tot fundamentalistiese uitlegte, terwyl ander ‘n sterker gereformeerde uitleg ondersteun. Dit lei tot baie spanning, wat dikwels baie sterk volgens politieke lyne loop.

Die Afrikaner is dit nie gespaar nie, en daar het selfs gevalle voorgekom waar individue 1983-vertalings bymekaar gemaak het om te verbrand. Allerlei oordele is daaroor uitgespreek.

Ongelukkig word die proses om nog eens ‘n nuwe vertaling die lig te laat sien, ook reeds aan verdagmakery onderwerp. Daar is selfs groepe wat die nuwe vertaling reeds by voorbaat verwerp het.

Vandag kan hierdie intriges egter eers agterweë gelaat word, en die harde werk van Totius en ander om vir die Afrikaner ‘n merkwaardige goeie produk die lig te laat sien, met blydskap gedenk word.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Hendrik ·

Mense moet ophou boos raak oor verskillende Bybel vertalings voor hulle nie ordentelik na die verskillende vertalings gekyk het nie. As kind was die ’83-vertaling in my regeterhand, pleinweg omdat ek nie die ’33/’53-vertaling verstaan het nie. Maar nou kleef ek aan die ’83 en die ’33/’53-vertaling saam. Die twee vertalings help mens om die wonder van die Skrif beter te verstaan.

Ek vind soms dat die ’83-vertaling versuim om die volle beeld te skep deur ‘n eenvoudiger gebruik van woorde. Tog is ek dankbaar vir hierdie eenvoudiger woorde met ander tye aangesien dit help om argaiese konsepte en sinskonstruksies beter te verstaan. Ek verwelkom die Bybelgenootskap se nuwe vertaling as ‘n kans om die Skrif vanuit ‘n ander oogpunt te beskou en my lewe net meer te verhelder met hierdie wonder wat aan ons gegee is.

Tog moet mens ook oppas vir sommige vertalings wat soos hase orals opduik. Net omdat dit op die voorblad sê “Bybel” beteken nie dit dra noodwendig die WARE Woord van God in die blaaie nie. Dis waarom ons gereeld moet ondersoek en “die goeies” moet hou en van “die slegtes” af moet weg bly. Dit help nie om vanuit die staanspoor al te besluit ek gaan iets verwerp voor ek nie dit ondersoek het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.