Nuuskommentaar: 90% plaaslike musiekinhoud is ʼn kat met baie naels

mikrofoon sing musiek

Argieffoto.

Gaan Afrikaanse musiek baat vind by die SAUK se besluit om 90% plaaslike musiekinhoud op al sy platforms te verplig, of gaan luisteraars wegdraai van RSG omdat die “kwota” “noodwendig” ook tot die storting van musiekrommel sal lei? Uiteindelik gaan die luisteraar bepaal of die projek, wat Afrikaanse musiek betref, in sy doel slaag.

Is daar vooruit of agteruit geboer met die SAUK se besluit dat daar voortaan ’n 90% verteenwoordiging in Suid-Afrikaanse musiek uit die totale musiek-aanbieding sal wees?

Die antwoord sal sekerlik afhang van die individu se eie musieksmaak, en ook die soort musiek van sekere kultuurgroepe. Volgens die besluit sal veral gefokus word op die ontginning van kwaito, jazz, reggae en gospel, wat miskien minder goed sal afgaan by RSG as by Radio Lesedi.

’n Mens kan verwag dat daar groot kommer is onder liefhebbers van klassieke musiek. Dié soort musiek sal voortaan, in elk geval tot die einde van die drie-maande eksperimentele periode, met die 10% oorblywende beskikbare uitsaaityd van nie-Suid-Afrikaanse musiek moet meeding, wat musiek van legendes soos Elvis, The Beatles, Neil Diamond, Heino, en vele meer insluit.

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, sê daar is nie genoeg gehalte-sangers in Suid-Afrika om die 90% kwota vol te maak nie. Daar sal dus meer van die goeie sangers se musiek gespeel word.

Andries Bezuidenhout meen die besluit kan ’n bloeitydperk in die plaaslike musiekbedryf inlui.

Inderdaad. Maar soos sake reeds staan word die Suid-Afrikaanse, insluitende die Afrikaanse, musiekbedryf “besoedel” deur groot hoeveelhede substandaard musiekinhoud op CD’s wat die gevaar inhou dat die bedryf in geheel ’n knou kan kry. ’n Paar onsamehangende sinne wat traag geneul word, met ’n “baby, baby” tussenin, en siedaar…’n nuwe Afrikaanse “produksie”.

As die hekwagters sal toesien dat slegs gehaltewerk uitgesaai word, is die probleem halfpad opgelos.

Die algemene gevoel is egter dat Afrikaanse luisteraars nou bloot onder ’n kombers ingetrek is om ’n probleem te takel wat nie in die Afrikaanse uitsaaiwese so ’n beduidende probleem is of was nie.

Dit lyk al te veel of die SAUK hiermee ’n probleem probeer blootlê van talle produksie-intrepreneurs wat in veral die townships soos paddastoele opskiet, ongeag of daar ’n markaandeel is of nie. Om te kan bestaan moet hulle ’n afset vir hul produksies kry, en kollektief word die SAUK dikwels geteiken en op allerlei maniere onder druk geplaas. Dis geen geheim nie – die SAUK self het dikwels hieroor berig.

Terwyl sommiges heel waarskynlik tot gehaltewerk in staat is, is baie egter niks meer as fly by nights met indrukwekkende name nie.

Sonder behoorlike hekwagters kan stasies in rommelhope van substandaard ontaard.

Hierteenoor is daar talle wonderlike kunstenaars wat nog nie raakgesien, of liewer, raakgehoor is nie. ’n Groter gedwonge ruimte sal waarskynlik druk op die bedryf plaas om werklike talent op te spoor en te bemagtig, eerder as hulle wat hulself in plaas van hul talent goed kan bemark.

Musieksmaak verskil, en so ook musiekmodes, maar ’n bedryf wat nie ’n persentasie “ewigdurende” stukke kan oplewer soos “Master Jack”, “Distant Drums”, “Rock around the Clock”, “Clap your Hands and Stamp your Feet”, “Don’t Cry for me Argentina”, “Pennies op die spoor”, “Pampoen”, “Maori Love Song”, “Banana Boat Song”, “Zambezi-vastrap” en vele meer nie, smoor die bedryf self.

En as RSG sy plaaslike kwota gaan probeer vol maak met kwaito, jazz en reggae, kan nou maklik voorspel word dat bitter baie getroue luisteraars van RSG alternatiewe soos Pretoria FM, Radio Rosestad en talle ander sal ontdek, stasies wat nié deel van die SAUK is nie en dus nie aan die voorskrif onderhewig is nie, en tog hul deel doen om veral Afrikaanse musiek die plek onder die son te gun wat dit verdien.

Uiteindelik is die luisteraar die kieser en gaan die manier waarop hy met sy radio se knop wat stasies soek en op die aanbod reageer bepaal of Suid-Afrikaanse musiek, of Afrikaanse musiek in die besonder, gaan baat by die voorskriftelikheid of nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Basson ·

Hahaha – nog ‘n stap nader aan totalitarisme!

“ONS” besluit VIR en NAMENS JULLE, wat JULLE SAL luister.

Alles deel van die plan, ‘versag’ eers boodskap, en dan die sensuur en breinspoeling later.

Ek raak bekommerd oor die moontlike druk wat onafhanklike stasies dalk mag ondervind in die toekoms….

Ria de Kock ·

RSG speel reeds lankal sub-standaard Afrikaanse musiek. Geen mens weet waar die gemors uitgekrap word nie dus het ek lankal die stasie afgeskryf en luister nie meer daarna nie. Elke dag is daar nuwe liedjie van een of ander sanger wat nie eers die skoolkoor sal maak nie! Word wakker mense en luister na stasies wat beter musiek speel.

Sarie ·

Dis goed – bevorder plaaslike musiek – maar dit gaan nie op toepassing wees vir “wit” afrikaansie musiek nie. Hier gaan ook ‘n “Kwota ” ter sprake wees omrede die wit afrikaanse sangers nie die regmatige erkenning gaan kry met hierdie nuwe verandering nie. Dit sal net op toepassing wees op die “ander” sangers. En buitendien – wie is aan die hoof van die SAUK – laas toe ek gekyk het was dit nie ‘n wit afrikaanse persoon nie?! Ek luister maar eerder na my afrikaanse sangers op hulle verskeie DVD’s want dan ondersteun ek nie ‘n tweegesig radio stasie wat net DIE “plaaslike sangers” sal ondersteun net om aan die lug te bly.

Adoons ·

RSG se verlies is Pretoria FM se wins. Laasgenoemde speel lankal nie meer net Duitse marsmusiek nie.

Xa ·

Ja dis n baie goeie geleentheid om gemeenskapsradiostasies te ontdek ja. SAUK is inelkgeval net die regering se flou propaganda stinkasem spreekbuis.

Johann ·

Vir jare het stasies moeite gedoen om te bepaal wat luister mense. Nou skryf die regering weer voor. Social manipultion. Breek alles wat werk plaas dat hulle regmaak wat nie werk nie

Francois le Cochon ·

In die kol Herman. Dit is asof Afrikaanse musiek vasgevang is. Moontlik omdat luisteraars tevrede is met swak- tot gemiddelde kwaliteit musiek.
Gereeld hoor ons van ‘n nuwe sang-sensasie se deduut CD. Dan klink dit geensins anders as al die vorige nuwe sang-sensasies se debuut CD’s van die afgelope 15 jaar, met dieselfde niksseggende lirieke.
Aan die ander kant is daar maar seker ‘n plekkie in die son vir almal.

Francois le Cochon ·

Raymond Ackerman (Pick ‘n Pay) skryf in een van sy boeke. “Give your customers what they want, do not prescribe”
Hierdie is ‘n eenvoudige logiese beginsel wat die hoeksteen is vir sukses, vir enige besigheid, hoe klein of hoe groot ook al.

Nita ·

Inderdaad!! give your customers what they want. Wittes is gedwing om hul skole, universiteite en taal weg te gee. Nou moet ons musieksmaak ook gereguleer word. Moet ek Kwaito luister in plaas van Mozart of Elvis Presley! Belaglik!!!!!

Theuns ·

Herman Dankie! Nog ‘n stuk weldeurdagte stuk kommentaar maar jy moet saamstem met Andries Besuidenhout dat die musiek bedryf homself bloedloos gaan bloei, Veral Afrikaanse musiek op RSG! Sy hegwagters in die Hoe Sorg Eenheid het lankal pad gevat! Die SABC is terminaal siek. Nou net ‘n kwessie van tyd. Ek sal definitief nie die begrafnis beywoon nie!!RIP

Lieks ·

Van die radiostasies het lankal reeds begin “plaaslike musiek” speel wat meer net mens se ore seermaak as enige iets anders! Gaan kyk asb op Youtube vir ‘n sangeres met die naam van Lisa Goldin – “My fire”. Die enigste radio stasie wat tot nou toe bereid was om haar musiek te speel is East Coast Radio… soveel vir Suid-Afrikaanse kunstenaars bevorder! Dis net ‘n klugspul..

Dirk Breytenbach ·

Sosiale ingenieurswese en bedekte kwotastelsel op sy beste! Nou word ons vryheid van persoonlike voorkeure ivm kuns en musiek ook beheer. Die enigste alternatief is om af te skakel of oor te skakel na ‘n plaaslike radiostasie wat aanvaarbaar is, maar is dit nodig dat alles afgetakel word? Nie lank nie dan skop iemand die deur van die SAUK af en ‘demand’ om die verhouding van 80-9-9-2 toegepas te sien sodat transformasie tot sy ‘reg’ kan kom.

Stormrider ·

Dankie tog my Classic FM het nog nie deurgeloop nie….

pieter ·

JULLE KLOMP BLANK AFRIKANERS IS DARREM DOM. SIT JOU RADIO EN TV AF,STOP OM JOU LESENSIE TE BETAAL,WANT DIS NET ONS WAT BETAAL.KYK HOE GOU IS HULLE VERLEE.

John ·

Angs, angs, angs! Ons Afrikaners is masochiste, sowaar. Waar is julle cd’s? Koop, voor dit ook verbied word .

Theuns ·

Dankie Maroela dat julle nog vir ons ‘n platform gee om opinies te lug As ek so na die kommentare van my mede Afrikaners luister is die enigste onnosel ouens Motsaneng en sommige van sy ,let wel SABC, trawante. Onsmoet daarop aandring dat die South African Broadcasting Corporation alle Afrikaanse programme en musiek vir Radio Pretoria gee! Hulle wil mos nie met ons assosieer nie. Gee terug wat aan ons behoort.

Dirk Breytenbach ·

Stem saam Theuns net jammer van ons “kommen-tators” vertel vir almal ons is “DARREM DOM”. Ek neem eksepsie teen iemand wat nie eens kan spel nie om ons te beledig. Behoort hom te skaam want ons ‘vyande” floreer op die tipe van self kastyding en emosionele selfmoord wat ons in die openbaar besig.

Riaan ·

Hoop RSG se luisteraars hou baie van kwaito en gospel! Lol. Bygesê, ek weet nie wie luister nog RSG nie… Waarskynlik nie iemand jonger as 50 nie. So ja, kwaito? :-*

John ·

Ek dog weer dis net vir die jonges. My dokter het my gewaarsku om weg te bly, want dis of sterk medisyne vir my… of hy kom self oor om die doef-doef-kassie uit te smyt.

Veronica ·

Waar gaan dit eindig!!!! Eers was dit: hoeveel sout ek mag of nie mag eet nie! Toe: hoeveel suiker goed of nie goed is vir my! Nou begin “hulle” krap aan wat en hoeveel van watter musiek ek moet luister!!! Ek weet nie van julle nie , maar ek kry ‘n reukie wat by die dag al hoe meer na kommunisme begin stink!!! Ek reken ek het vir die laaste keer my TV Lisensie betaal! Hoekom moet ek betaal vir iets wat ek nie voor gevra het of wil he nie!!! Ek heb gesecht!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.