Nuuskommentaar: Aanlynnuus gereguleer

Argieffoto

Argieffoto

So byna ongesiens en ongehoor het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn etiese kode vir aanlynnuus aanvaar. Volgens ʼn berig van op SAUK-TV is dit onder andere weens ʼn toename van haatspraak en rassistiese opmerkings die afgelope aantal jare.

Volgens Sanef self is dit in wese bedoel om die sosiale media se nuusverskaffing op dieselfde vlak te plaas as die gedrukte media en uitsaaiwese, waar etiese kodes reeds geld.

Maroela Media pas reeds ʼn geruime tyd sy eie stel etiese kodes toe. Terwyl sommige lesers steen en been kla hieroor, word dit deur ander verwelkom wat hulle nie knaend in hierdie oerwoud van ongepoetsheid wil begeef of bevind nie.

Dit is in hierdie stadium onduidelik hoe wyd Sanef se etiese kodes van toepassing sal wees. Die gedrukte en uitsaaimedia het al lankal nie meer ʼn monopolie oor al die internetnuus wat verskyn nie. Boonop het die meeste koerante wat internetnuus plaas, ook ʼn “sensuurspan” wat sekere ongewenste leserskommentare summier verwyder. Dit is ʼn enorme taak, en daar is voortdurend klagtes oor beweerde inkonsekwentheid oor watter soort items in die slag bly.

Soms is van hierdie klagtes pure bog – die betrokke kommentaar het voor dit verwyder is, besliste haatspraak en ander onaanvaarbare elemente, soos byvoorbeeld die roekelose omgaan met feite, bevat, maar nadat dit verwyder is, kla die “outeur” oor sy “meesterstuk” waarmee niks op aarde geskort het nie, wat verwyder is. Soms moet die kop egter saam met die outeur geskud word.

Weens die enorme volumes, span sommige diensverskaffers ʼn tipe geoutomatiseerde stelsel in, waarin sekere sleutelwoorde gevoeg word wat dan tot outomatiese verwydering lei. Die blikbrein kan nie onderskei tussen ʼn vernederende verwysing na ʼn swart man en ʼn onskuldige verwysing na die klere wat ʼn duiker aantrek om die dieptes mee aan te durf nie, om maar een voorbeeld te noem.

Die kort en die lank is dat, ingevolge hofuitsprake in Suid-Afrika, is daar ʼn hele rits oortredings waardeur ʼn outeur (en soms selfs die instansie wat die kwetsende materiaal dra) in die sop kan beland, soos byvoorbeeld kriminele laster. Ook sivielregtelike laster word nie uitgesluit nie. Die sosiale nuusmedia het dus in ieder geval nie vrye teuels om bloot die oog weg te wend van watter onhebbelikhede lesers om welke rede ook al neerpen nie.

Maar daar is ook ʼn ander sy van die saak waaroor Sanef nie behoort te swyg nie. As daar inderdaad  “die laaste tyd” ʼn toename in hierdie soort smeerskrywery was, moet daar ʼn oorsaak daarvoor wees. Spruit dit nie dalk voort uit die verskerpte rasbeheptheid van die regering nie? Ja, die gevolglike simptome kan self die probleem vererger en moet aangespreek word, maar moet die regering dan nie oor ʼn veel wyer front aangespreek en tot orde geroep oor die polarisering wat dit so lustig dryf nie?

En is die sosiale nuusmedia alleen hierin? Moet die uitsaaiwese en die gedrukte media nie ook seker maak van die gehalte materiaal wat hulle dra – ook deur rubriekskrywers en veral voorkeur-rubriekskrywers nie?

Op gisteraand se program van RSG se Kommentaar het ʼn bekende, gereelde deelnemer erg kleigetrap en ken skynbaar (in die konteks van Marikana) nie die verskil tussen siviele sake en private kriminele vervolging nie. Hy het onder meer gesê dat die bewyslas met hierdie private vervolging laer is as in sake wat deur die vervolgingsgesag gedryf word.

Niemand is volmaak nie, maar dié einste kommentator het onlangs in ʼn rubriek in ʼn koerant só erg oorboord gegaan met sy Jurassic-vertrekpunte dat die FW de Klerk-stigting hom omvattend uitgetrap het.

Die media moet darem seker nie iemand wat ʼn sekere status of reputasie het, vrypas gee vir polariserende kafskrywery en –pratery nie, maar ander reëls op lesers van toepassing maak nie.

Daar is niks verkeerd daarmee om robuust te wees nie. Maar dat robuust wees en fatsoenlikheid noodwendig teenoorgesteldes is, is ook net nie waar nie. Net so min soos protesoptrede noodwendig tot ʼn geweldsorgie met ʼn streep vandalisme moet lei.

Dis mos nie ons en ons mense se styl nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Peet Schabort ·

Alles is nou baie mooi en wel om ongewenste taal uit te skakel waarvan ook ek ‘n voorstander is. Wat ons egter moet begryp is dat die humorsin van ons nasie wawyd verskil van die afrikaan. Daar word dadelik rassisme gekoppel waar dit geensins die bedoeling is. Daarom is dit nou maar net eenvoudig so dat die reënboognasie net wensdenkery is. Baie van ons verskille gaan oor kultuur. Daar moet meer aandag geskenk word oor hoe ons verskillend dink oor dieselfde onderwerp. Ons, die sg. wittes, verstaan nie die gewoontes van die swarte en tree onbewustelik verkeerd op teenoor hulle.
Reeds op skoolvlak moet daar meer aandag gegee word hieraan en dalk is dit vir Lesufi ‘n nuwe ‘weiveld’ om te betrek ?
Laastens is daar woorde wat volgens wet verbied word vir gebruik teen anderskleuriges.
Help my asb. reg want ek weet nie van een woord wat rassisties en volgens wet verbied word teenoor blankes.

Herman Toerien ·

Hallo Peet. Dankie vir die opmerkings. Ja, ek is ook verbaas oor hoe dinge soms aangepak word. In die periode voor 1994 het ek verskeie kursusse bygewoon om ons te leer van hoe swart en wit dinge verskillend ervaar. Bv, die blanke staan terug dat die vrou eerste ingaan, by swart moet die man eerste ingaan om te kyk of daar gevaar is. Sekere goed was egter nie verklaarbaar nie. By ‘n sekere bank (nou deel van ABSA) het ek gaan kla oor sekere kliënte wat bo-oor al die toue klim en voor gaan indruk. Ek is mooi (vroeg in die 80’s) laat verstaan dat ek buite orde is want hulle gee prioriteit daaraan om swart klandisie te werf. Ek het my rekening gesluit – nie oor ras nie, maar oor swak gedrag openlik toegelaat is.
Noudat ‘n regering aan bewind is wat kort-kort sê dit streef nie-rassigheid na, nou is die soort opleiding van mekaar se verskille skynbaar politiek verkeerd. Ek dink heelwat van die twakstories wat Zuma opdis kom ook uit hierdie onkundeveld oor die ander, en ek dink hy was minstens verbaas en minstens twee keer al ergerlik oor die kritiek wat hy op die lyf geloop het.
Ongelukkig is daar baie fiksiebeginsels wat in die wêreld geld. Ek was ‘n paar keer hoof van ‘n vakkundige komponent, en dan iewers in die oorkoepelende posisie bo my word iemand uit ‘n ander vertakking bevorder. Soms self uit ‘n heel vakvreemde veld. Onmiddellik geld die beginsel dat hy beter as ek weet wat in my eie veld aangaan. En dit was voor 1994. Na 1994 was die frustrasie natuurlik groter – bel die gereelde kontak by die moederdept in Pta, en daar word jy aangesê om nou ‘n Mr. X te bel van wie jy nog nooit gehoor het nie. Bel, en verduidelik jou hele storie in Engels, sonder ‘n piep aan die anderkant. Dus verduidelik jy meer en meer wattter inligting jy soek. Na ‘n halfuur of so, sê die ander een hy net nou geen idee waarvan jy praat nie, en jy moet asb die een bel wat jy in die eerste plek gebel het. Dan, drie minute later het jy die korrekte inligting. (Dit kon natuurlik erger – Mr Niksweet kon gevra het dat jy jou vraag op skrif stel, en ons was destyds verplig om deur die tikpoel te werk. Die brief (veral een in Engels) sou maklik ‘n week vat om getik en reggemaak te word. Dan word dit in die wegmaakmasjien (faksmasjien) gesit om gestuur te word.
Jammer vir die uitrafel. Wat ek net wil sê, ons weet ons is in ‘n inperfekte omgewing. Ons moet seker self die interkulturele dinge oplees. ‘n Mens kan vra dat AfriForum so iets aanbied, maar ek dink so ‘n instansie gaan onder ‘n storm van verontwaardiging kom van mense wat meen dis vernederend om so op die verskille in kulturele gebruike en opvattings te wys.
Dit neem nie die werklikhede weg nie. Kyk hoe het Zuma kiesers gedreig dat die voorvaders hulle sal jaag as hulle nie vir die ANC stem nie. Eerw Meshoe vd ACDP “betig” hom toe deur te sê geen verantwoordelike voorvadergees sal dit aan mense doen nie. Ons kan ons eenvoudig nie in die verwysingsraamwerk plaas of indink nie.

Peet Schabort ·

Dankie jou antwoord Herman. Ek moet iewers tussen my hope goed ‘n skrywe hê wat seker 60 jaar terug dateer aangaande die leefwyse van die swartes. Indien jy belangstel kan ek dit soek en die inhoud aanstuur.

Ek wil tog aanhaal wat my uit ‘n uiters betroubare bron meegedeel is aangaande ‘n reeksmoordenaar so ‘n klompie jare gelede. Die gemeenskap was uiters ontsteld dat die man net nie vasgetrek kon word. En hoekom ? Indien jy in die oë sou kyk van sy laaste slagoffer sal jy die beeld sien van die man wat verantwoordelik is vir daardie persoon se dood. Immers is dit mos die laaste persoon (moordenaar) wat daardie slagoffer gesien het !!! Kyk net in die oë en jy sal die moordenaar sien !!

Ek het ook jare gelede op ‘n ongeluk afgekom waar ‘n swartman op ‘n fiets doodgery is deur ‘n ander swarte. Die wit polisieman het aan een van sy kollegas die instruksie gegee om grond op die plas bloed te gooi op die teerpad. Die omstanders wat plaaswerkers was het soos een man na vore getree en die polisie gedreig. Die plaasboer, wat ook op die toneel was, het aan die polisieman gesê dat hy nie dit moet doen nie want die werkers sal die bloed optel. Die polisieman was baie uitdagend en het aan die boer gevra: “nou hoe gaan hulle dit optel ?” Die boer antwoord: “met hulle hande, hoe anders ?” Nog hardekoejawel antwoord die polisieman: “ek moet dit sien !”
Ek het plastieksakke agter in my motor gehad en dit vir hulle gegee en hulle het met hulle hande al daardie bloed op die pad opgetel. Nou wat was hier die rede vir die ontsteltenis van die swartmense wat amper in ‘n geveg ontaard het ? Heel eenvoudig, daardie bloed is deel van die oorledene se gees en liggaam en MOET saam met hom begrawe word.

Van ons ken die storie van die werker wat afvra aangesien sy pa oorlede is. Alles goed en wel en die werker is vort na die begrafnis toe. Dan later van tyd op ‘n dag staan die werker weer daar om begrafnis toe te gaan. Die werkgewer wil natuurlik weet wie is nou dood. “My pa is dood” en net hier gaan die werkgewer tekere met “jou pa is dood, hoeveel pa’s het jy en hoeveel nog na hierdie een se dood?” Daar is ‘n onkunde dat daar onder van die swartes ‘n (bloed)pa is, dan ‘n kleinpa ens.

Die heel beste is om uit te vra voordat jy in ‘n lelike slaggat trap.

KarooKlong ·

Jy skryf hierbo “kafskrywery en kafpratery” en toe ek verwys na ‘n kafblaffer is dit verwyder.
Julle het ‘n vrou ‘n prikkelpop genoem en ek antwoord dat sy nou ‘n geprikkelde pop is en toe word dit ook verwyder.
Miskien moet Maroela ‘n lys publiseer van die woorde wat julle nie aanvaar nie.

KarooKlong ·

En ek wil weet, wie dink Peet is hy dat sy kommentaar sommer so ewe bokant myne ingedruk word?
Dagse Peet.

Peet Schabort ·

Dagsê Karooklong, dalk is daar ‘n krakie (soos my ma dit gestel het aangaande onsuiwer bloed) in my voorgeslagte wat my in die nuwe SA bevoordeel bokant jou. Hopelik kan ek rassisties wees met die bewering teenoor myself ? Kom ons kyk wat gebeur.
Mooi dag en lekker lag.

KarooKlong ·

Het ma dan nie geweet van engelse sout nie? ‘n Mes puntjie elke oggend maak die bloed suiwer. Help vir vrypuisies ook. Hahaha

HEVW ·

Ek reken kafblawwer is n pragtige nuwe Afrikaanse woord. Hier in ons buurt kan geen mens meer slaap nie, want die kafblawwers blaf deurnag vir allerhande kaf. (onbenullighede).

KarooKlong ·

HEVW,
Los my twee effe waar ek hulle het of ek blaf vir jou!
Karoo groete

Rissiepit ·

Julle maak vir my lekker lag @ Peet en KarooKlong!! Hahaha my blou Maandag is verseker beter, dankie manne!!

Peet Schabort ·

HEVW, ek het daardie blaffers leer ken as keffertjies (spelling nou eers noukeurig nagegaan).
Die HAT verklaar dit as volg: “1) Brakkie, klein hondjie, veral een wat lawaaierig blaf of kef: Die keffertjie sal nie sommer byt nie. Die keffer blaf niemand bang nie (CJ Langenhoven). 2) (fig.) (a) Rusiemakerige, lawaaierige persoon. (b) Grootpraterige persoon: Die keffer hou sy lyf nogal kordaat.”
Weereens soos in my eerste kommentaar, wees versigtig omdat ons kultuur verskil.

Cathy Kotze ·

Daar is ongelukkig kommentators wat net op een onderwerp haper. Ek vind dit veral onder diegene wat alle godsdiens verwerp. Maak nie saak waaroor ‘n berig gaan nie, hulle voer dit dadelik terug na hulle troetel veroordeling van alles wat met geloof te doen het. Bewaar die arme mens wat per ongeluk iets soos “so wyd soos die Heer se genade” of selfs “God bless” skryf. Die onmiddellike veroordeling is fel en die oorspronklike onderwerp van die berig word summier opgeskort en vervang met die afkraking van veral Christene.

Vir my is ‘n goeie reël altyd dat jy gemaklik moet voel wanneer beide jou ma en jou kind maar kan lees wat jy geskryf het . Mens is ook meer versigtig wanneer jy nie ‘n skuilnaam gebruik nie.

Cathy Kotze ·

Hoe gemaak met die “nuwe” rubriekskrywers en redakteurs van Afrikaanse koerante, wat gereeld Afrikaners, die geskiedenis, kerke, ens afkraak. Hulle glo onverbiddellik dat al die huidige verskrikkinge in Suid-Afrika teruggevoer kan word na die Afrikaner verlede en die suster kerke. Daar word dikwels gespot met taalsuiwerheid.

Geen berig – oor wattter onderwerp ook al – is volledig sonder ‘n verwysings na ons “apartheid” verlede nie. Apartheid is genoem in ‘n berig oor gay huwelike in die VSA en ‘n referendum oor gay huwelike in Ierland. In een geval is die NG kerk in dieselfde kraal geplaas as ISIL en Boko Haram!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.