Nuuskommentaar: Aanslag op persvryheid duur voort

Argieffoto

Argieffoto

Min van ons wou nie al by geleentheid (of drie, vier) ’n joernalis aan die keel beetkry om nie sommer te laat los nie. Of liewer, ’n verslaggewer, want van ’n joernalis word darem ’n mate van bekwaamheid en verantwoordelikheid verwag.

Ook die uwe, as jong verslaggewer, was al genoeg gedreig, soos die beskuldigde wat rustig vanuit die beskuldigdebank wys hoe hy my keel gaan afsny. En toe die einste man ’n jaar of wat later een aand aan die verslaggewer se agterdeur kom klop … gelukkig om pad te vra, maar sy oë het skrefies getrek soos hy probeer onthou het van waar hy dié jafel ken.

Gewoonlik is die dreigemente darem meer “beskaafd”, soos die man wat by die redakteur kom kla het omdat sy vrou – wat van winkeldiefstal aangekla was, maar uiteindelik vrygespreek is – so onbillik behandel is. Die beskrywing van die uitspraak het egter getoon die vrou is besonder genadig behandel – van die inkriminerenste getuienis is nooit eens genoem nie.

En ja, die politikus wat ’n kabaal opgeskop het nadat die verslaggewer hom in die munisipale raad aangehaal het (en die politikus teen homself beskerm het deur nie sy naam te noem nie).

’n Verslaggewer en selfs ’n joernalis, het dit soms moeilik veral as hy agter die kap van die byl probeer kom. Soms is dit iets so skynbaar beuselagtig soos ’n skool wat ’n groot borgskap van ’n instelling gekry het om ’n toernooi aan te bied. Die skool verwag van die media om almal hul foto’s voor die borg se logo te neem. Maar hier en daar kan dit nie want daardie einste borg weier om in die betrokke publikasies te adverteer. Konkurente kry die advertensies.

Gewoonlik is dit egter regerings wat aandring op “gereguleerde” nuus. Die jongste juweeltjie kom van Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, wat vra dat die media gereguleer word. Dis nie die eerste keer wat hy omstredenhede in hierdie verband kwytraak nie. Hy verkondig dat dosente joernalistieke studente mislei oor die werklikhede van Suid-Afrika.

Vanuit regeringsgeledere kom daar kort-kort voorstelle en selfs die sg. “snoerwet” wat op pres. Jacob Zuma se lessenaar wag om geteken te word.

Gewoonlik kla die regering die media fokus te veel op die negatiewe en verswyg die positiewe, maar die algemene optrede dui daarop dat ondeursigtigheid vlakke van paranoia bereik. Blaai maar deur enige koerant wat nie aan die Gupta’s behoort nie en kyk hoeveel berigte word afgesluit met “het teen druktyd nog nie gereageer nie,” of “die woordvoerder het nie sy selfoon beantwoord nie.”

Twee instansies het gister aangedui hulle gaan die sogenaamde PAIA-wet gebruik om sekere inligting te bekom. Hierdie wet wat toegang tot inligting waarborg wat die publiek raak, is gebou op ’n grondwetlike bepaling.

Heel dikwels stel regerings wat onder terreur deurloop, mediabeperkings in. Skrywers oor terreur se werk word goed bestudeer om te toon hoe die terroris die media gebruik om sy teater te skep; hoe om selfs ’n geringe terreurdaad deur die media só aan te bied dat dit die gewenste vrees en bewing veroorsaak.

Interessant waar die terreurgroep dalk die bewind oorneem, die vorige regering se anti-terreurwetgewing op die wetboek gehou en ingespan word om juis weer mediavryheid te onderdruk. Kyk maar na wat Nare Bob al in dié verband aangevang het.

Die ironie – hoe meer die regering inligting probeer reguleer, hoe groter raak die behoefte aan mediavryheid. Die media het immers ’n belangrike waghondfunksie en talle goggas, soos Nkandla, het al so aan die lig gekom.

Te midde van die hele aanslag op mediavryheid (ook soms weens interne politieke korrektheid) daal die gedrukte media se sirkulasie erg. Volgens die jongste sirkulasiesyfers van ABC het koerante se leserstal die laaste kwartaal met 83 000 afgeneem.

Dit is nie ’n nuwe tendens nie en Beeld se sirkulasie het tevore byvoorbeeld in een kwartaal van 62 766 tot 51 064 gedaal. In die proses het die Burger, wat self flink teruggesak het, ’n groter koerant as Beeld geword. Dit toon dat daar afgesien van universele faktore soos digitale migrasie, ook spesifieke faktore eie aan spesifieke publikasies aan die werk is.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae