Nuuskommentaar: Aardbewings (of gebrek daaraan) laat ons kopkrap, soos politiek

Argieffoto

Met amper die helfte van die jaar verby het die aarde vanjaar tot dusver buitengewoon min noemenswaardige aardbewings in vergelyking met ander jare beleef. Beteken dit dat daar druk opbou vir ’n aantal baie grotes wat kom? Suid-Afrika is grootliks buite hierdie spervuur, maar het sy eie sosio-politieke potensiële brandpunte waar die druk moontlik aan die opbou is.

Met ’n aardbewing van 5,2 op die momentmagnitudeskaal buite Stilfontein op 3 April, en ’n stewige 6,5 in Botswana kort daarna, asook die sterftes in Italië, mag Suid-Afrikaners onder die indruk verkeer dat vanjaar ’n groot aardbewingjaar is. Maar die werklikheid is dat vanjaar tot dusver buitengewoon stil is wat aardbewings van 7 of sterker betref, met nog net twee wat vanjaar wêreldwyd voorgekom het. Albei was boonop in Januarie vanjaar en hul episentrums diep.

Verlede jaar is die aarde 16 keer deur ’n skudding van 7 of meer geruk, en die jaar tevore, 18 keer. Dit lyk dus of die aarde “agter skedule” is, en dit geld ook ligter aardskuddings. Verlede jaar was daar 14 421 aardbewings van 4 of sterker, teenoor vanjaar se 4 382. En ons is byna halfpad deur die jaar.

Kan ’n mens iets hieruit wys word? In die VSA word byvoorbeeld bereken dat Die Grote wat Los Angeles moet tref, al jare laat is.

Bou daar dalk aardbewings wêreldwyd op sodat die aarde skielik ’n aantal groot, verwoestende aardbewings gaan kry? Of laat die kleiner aardbewings wat wel voorkom die spanning in die verskuiwingsvlakke genoegsaam skiet gee? Dit kan met redelike sekerheid gesê word dat daar minstens op sommige plekke spanning vir groot aardbewings aan die opbou sal wees. Wanneer daardie aardbewings kom, sal ons waarskynlik kwalik kennis neem omdat die meeste diep onder die see of in ander onherbergsame streke gaan voorkom, of die episentrum te diep onder die aarde sal wees om groot skade te kan aanrig. Maar die kanse is ook daar dat daar enorme skade en lewensverlies kan wees. Suid-Afrika kan egter redelik gerus wees dat daar nie sommer werklike grotes in die land sal voorkom nie.

Geoloë en seismiese kenners is deurgaans met navorsing besig om maniere te probeer vind om aardbewings te voorspel. Ingenieurs en argitekte ontwerp nuwe geboue sodat hulle sterk aardbewings kan weerstaan. Uitgebreide stelsels van tsoenami-waarskuwings bestaan.

Hoewel Suid-Afrika die afgelope paar eeue ’n paar stewige aardbewings beleef het, soos die Bolandse aardbewings, is die land eintlik ’n taamlike aardbewingvrye land. Die hoofrede is dat kontinentale drywing weg van Suid-Afrika plaasvind, en dus minder druk op die vasteland plaas. Kleiner verskuiwingsvlakke kom wel landswyd voor, wat meestal ligte trillings, of baie ligte aardbewings veroorsaak. Dat Nkandla met ’n bunker teen aardbewings toegerus is, is eintlik ’n skande.

Wat die sosio-politieke situasie in Suid-Afrika betref, het die land egter ’n magdom verskuiwingsvlakke. Miskien is die direkte Afrikaanse vertaling van die Engelse woord vir verskuiwingsvlak, foutlyne, ’n meer gepaste uitdrukking. Die land is op byna enige denkbare vlak heterogeen, met ’n regering wat die ras-foutlyne deurlopend voed, ’n groot probleem. Solidariteit het die regering by verskeie internasionale liggame oor dié rassisme gaan verkla, en berei voor vir hofsake plaaslik.

Die taalkwessie word nou in verskillende howe gevoer nadat onder meer Afrikaanssprekendes ’n foefie gebruik het om die wegdoen van Afrikaans by universiteite “die bevordering van meertaligheid” te noem.

Die regering hou vol met “kortpad”-ekonomiese probeerslae wat egter soos taks ’n handjievol bevoordeel en ’n massa in groot armoede laat.

Die land word “regeer” deur ’n president wat bitter baie mense nie as hul president beskou nie, onder meer omdat hy sy ampseed en die Grondwet gereeld minag.

Die vlakke van misdaad in die land laat spanning op verskeie terreine opbou. Op ’n dag gee iets mee, en die sosio-politieke toneel ontbrand en vandalisme en selfs dood volg. Coligny, Eldoradopark en verskeie ander gebiede was min of meer gelyktydig, en om skynbaar heel verskillende redes, aan die brand.

Vanuit die geledere van die Seunse Weenkoor is veral wit mense verwyt vir die oorkook van die situasie op Coligny. Ander ontleders wat meer holisties na die probleem gekyk het, is erg in hierdie geledere verkwalik.

Die werklikheid is dat die regering lomp en soms selfs moedswillig op sulke situasies reageer en sake vererger. Die optrede van Noordwes se premier by die begrafnis van die seun wie se dood die vonk in die kruitvat was, het hom ’n klag by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop. Repudiëring uit eie geledere bly ook uit.

Dit beteken nie alle wit mense op Coligny se hande was skoon nie, maar daar is maniere om brûe te bou, en daar is maniere om mense baie weerstandig te maak om brûe te bou, veral brûe wat bestand is teen die foutlyne.

Sirië is ’n baie goeie voorbeeld van waar foutlyne losgetorring het en die land laat ontbrand het. Wat sake meer kompleks maak, is dat daardie foutlyne oor landsgrense loop, en maak dat buurlande, of groepe in buurlande, ’n belang het om betrokke te raak, of minstens op ’n spesifieke uitkoms te hoop.

Om maar een voorbeeld te noem. Die Basjar al-Assad-dinastie, wat die land via die Baath-party regeer, behoort tot die Alawiete, ’n kleinerige sekte van die Sjiïete-minderheid in Sirië. Die aangrensende Iran het egter ’n Sjiïete-meerderheid, en hulle het ’n groot belang in Sirië se geostragiese waarde om wapens by die Sjiïtiese Hezbollah-terreurbeweging in Libanon te kry. Veral Israel het ’n belang dat hierdie wapens Hezbollah nie bereik nie, en voer periodiek lugaanvalle op bergplekke op die toevoerroetes uit.

By hoeveel plekke in Suid-Afrika is die foutlyne aan die lostorring, en wag eintlik net vir die vonk in die kruitvat?

Die land het brugbouers nodig, en diegene wat vir die regering gaan wag daarvoor, gaan lank wag. En dis beter om hierdie drukkokers op te spoor en te ontlont as om te wag dat die foutlyn se drukking so hoog word dat dit tot ’n verwoestende aardskuddende ramp lei.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Ai ·

Dis nou eers Mei, daars nog 7 maande oor vir natuurrampe (meeste word in elk geval nie eers gerapporteer nie).

Daar is n duidelike toename in alle natuur rampe van die 1900’s.

Ekke ·

Van aardbewenings tot politiek bly by een storie.
Wat het politiek met natuur rampe te doen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.