Nuuskommentaar: Aardbewings veroorsaak (op-)skuddings

Pasiënte sit buite die Udata-streekshospitaal in Palu in Indonesië se Sulawesi-provinsie. Honderde mense het in die aardbewing gesterf en nog meer is beseer. Foto: Xinhua/BNPB

Terwyl die dodetal in Indonesië as gevolg van ’n sterk aardbewing en opvolgende tsoenami styg, is dit dalk goed dat na die konteks gekyk word en ook die mate waardeur ons alledaagse lewe tuis beïnvloed kan word.

Wat is die kanse dat Suid-Afrika deur so ’n verwoestende aardbewing getref sal word soos wat nou (weer) Indonesië getref het, en waarin die sterftesyfer tot dusver op meer as 1 200 geraam word? Zuma het immers ’n bunker teen die moontlikheid van ’n aardbewing in sy woning te Nkandla laat inbou.

Dit blyk nie baie groot te wees nie, met die waarskynlikheid dat ’n aardbewing van sterker as 7 die land sal tref byna uitgesluit. Sewe is die swakste sterkte wat met tsoenami’s in verband gebring word, hoewel dit nie die wet van die Mede en Perse verteenwoordig nie.

Die sterker aardbewings hou verband met verskuiwingsvlakke in die aardkors, en word gewoonlik in die middel van oseane aangetref. Dit is die meganisme waarmee kontinente elke jaar enkele sentimeters uit mekaar, of na mekaar toe aangedryf word. Dit is ’n proses wat hom elke plus-minus 150 miljoen jaar herhaal.

Maar dit kan dodelik wees. Met verlede jaar se aardbewing in die Filippyne het die dodetal op 24 September reeds tot ten minste 144 gestyg, en die dodetal sou na verwagting verder styg na mate die soektog na oorlewendes volg. Hierdie aardbewing se sterkte was 7,2.

Vanjaar se aardbewing by Donggala op die Indonesiese eiland Sulawezi het 7,5 gemeet. Die dodetal staan nou op minstens 1 200 en sal na verwagting verder styg namate meer akkurate inligting bekom kan word. Dikwels eis die gepaardgaande tsoenami veel meer lewens en rig veel meer skade aan as dit wat die aanvanklike aardbewing kon aanrig.

Die opvatting bestaan dikwels dat die meeste groot aardbewings in die sogenaamde Ring van Vuur om die Stille Oseaan voorkom. En meer spesifiek die oostelike dele daarvan. Hieronder is die lys van aardbewings van 7 of meer wat tot dusver vanjaar gemeet is. (’n Kaart met die belangrikste aardbewings die afgelope 30 dae kan hier bekyk word.)

ʼn Seuntjie loop verby ʼn huis wat ineengestort het in Donggala in Indonesië se Sulawesi-provinsie. Dié foto is deur die land se nasionale raad vir rampbestuur verskaf. Foto: Xinhua/BNPB

Suid-Afrika is te ver van die mid-oseaniese rif om sommer in gevaar van skokgolwe of tsoenami’s te wees, hoewel hulle algemeen voorkom. Die plate wat die riwwe om Suid-Afrika veroorsaak beweeg almal weg van die land en die druk is dus nie so groot nie.

Ingenieursontwerpe van nuwe geboue beveilig byna voor die voet nuwe geboue in gevaargebiede soos Los Angeles. Lande soos Spanje, Italië, Griekeland en Iran, asook Turkye, Peru, en vele meer, het reeds enorme skade gely weens swak bouwerk.

Hoe dieper die episentrum van ’n aardbewing hoe minder skade word gewoonlik aangerig. Dit wissel van die aardoppervlak tot honderde kilometer onder die oppervlak. Bodem- en grondtipe speel ook ’n belangrike rol.

Die aantal groot aardbewings per jaar wissel ook. Tot ongeveer 2008 was daar sowat 12 aardbewings per jaar van 7 of meer. Sedertdien was daar meer bielies, met 21 in 2010. In 2014 het dit weer na 13 afgeneem. Tot ongeveer die middel van vanjaar was daar ook baie min sterk aardbewings, en het dit selfs na ’n rekordjaar hiervoor begin lyk, voordat dit skielik baie begin toeneem het. Dit staan nou op tien.

Baie van die gevaargebiede waarheen Suid-Afrikaners graag emigreer, is bekende aardbewinggebiede. Kalifornië en eintlik die hele Amerikaanse Weskus wat Kanada en Alaska insluit, is gevaargebiede, asook sekere binnelandse gebiede soos die Madrid-verskuiwingsvlak. Los Angeles se grote is al ’n hele ruk “uitstaande”.

Nieu-Seeland verkeer ook in ’n gevaarsone soos die aardbewing wat Christchurch byna vernietig het, bewys. Hoewel heelwat aardbewings voorkom, is dit nie so baie soos sommige mense vermoed nie. Die feit hou dalk verband met die “knak” in die verskuiwingsvlak wat van Noord na Suid en in albei rigtings verder, deur die twee hoofeilande strek. Die “knak” is by die Kermadec-eilande waar die aardkorsplate weerskante teen verskillende snelhede ten opsigte van mekaar beweeg. Dit laat klaarblyklik baie opgeboude energie ontsnap en laat die eilandgroep as “buffer” dien.  Bykans geen dag gaan verby sonder dat minstens een sterk aardbewing die eilandgroep tref nie.

’n Indonesiese vrou huil oor die lewensverlies en skade van Vrydag se aardbewings en tsoenami. Foto: Philippine Star via Facebook

Suid-Afrika is ’n relatief aardbewingvrye gebied, en wanneer dit voorkom is dit gewoonlik ligte skuddings. Die Vanderkloofdam, in berekenings vir sy bouwerk en die gebied waar dit staan, is spesiaal aangepas vir “swerms” ligte aardbewings. Die sterker aardbewings, soos dié wat Kaapstad ongeveer ’n eeu gelede getref het, die Bolandse aardbewings en die meer onlangse aardbewing met die episentrum by Stilfontein, het ongeveer 6 gemeet. Enkele sterftes het voorgekom. (Vreemdhede het ook voorgekom, soos fonteine wat opgedroog het maar kilometers daarvandaan op ’n ander boer se grond gaan herontspring het. By Onrusrivier het ’n meer verdwyn).

Naby Suid-Afrika was daar kort na mekaar ’n paar relatief groot aardbewings naby die monding van die Kunene. Aan die oorkant van die vasteland het Mayot ’n langdurige swerm meestal kleinerige aardbewings beleef. Dit hou op sy beurt moontlik verband met die “monding” van die Skeurvallei, wat ook die afgelope paar jaar redelik gereeld aardbewings (ook met lewensverlies) voortbring.

Lys van sterk aardbewings vanjaar

7,5 78 km Noord van Palu, Indonesië
2018-09-28 10:02:43 UTC

7,9 102 km Oos-Suidoos van Suva, Fidji
2018-09-06 15:49:18 UTC

7,1 209 km Wes van Ile Hunter, Nieu-Caledonië
2018-08-29 03:51:56 UTC

7,1 140 km Wes-Noordwes van Iberia, Peru
2018-08-24 09:04:08 UTC

7,3 23 km Oos-Noordoos van Rio Caribe, Venezuela
2018-08-21 21:31:47 UTC

8,2 286 km Noord-Noordoos van Ndoi-eiland Fidji
2018-08-19 00:19:40 UTC

7,5 83 km Suidwes van Porgera, Papua Nieu-Guinee
2018-02-25 17:44:44 UTC

7,2 3 km Suid van San Pedro Jicayan, Mexico
2018-02-16 23:39:39 UTC

7,9 280 km Suidoos van Kodiak, Alaska
2018-01-23 09:31:40 UTC

7,5 44 km Oos van Great Swan-eiland, Honduras
2018-01-10 02:51:33 UTC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Na aanleiding van die skrywe –
1. Suid-Afrika word verdeel in twee, met die plaat wat onder die Indiese Oseaan strek byna die hele noordelike Suid-Afrika in twee verdeel. Net die westelike Noord Wes is nie daarin nie.
2. Aardbewings kan ook veroorsaak dat skuddings in plekke ver van die episentrum af ontstaan, soos baie onlangs in Papua-New Guinea[PNG] wat ‘n Richterskaal-meting van 3. in die suidelike gedeelte van Wes-Australie veroorsaak het. Die afstand tussen die twee plekke is amper 7000km.
4. Dan wil ek ook die lesers inlig oor die baie gevaarlike elektromagnetiese-oorlogvoering tegniek waar kunsmatige aardbewings veroorsaak word.
5. Met kraking[“fracking”] kom ook baie kleiners aardbewings voor. As jy in die suidelike VSA is weereens in die gebied-Suid-Oklahoma/Noord-Texas] is daar baie kraking-aktiwiteite, en mens kan dit baie duidelik waarneem op Google Maps en soortgelyks.

JMC ·

Volgens Bill Bryson kan ‘n aardbewing ten minste een keer enige plek op aarde voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.