Nuuskommentaar: Aarde vandag “opgebruik” vir die jaar

Foto: Argief

Foto: Argief

Vandag is die dag wat wetenskaplikes bereken die mensdom vanjaar reeds soveel uit die aarde gehaal het, as wat die planeet in ’n jaar kan lewer. Boonop is dit ook die dag waarop die punt bereik is waar die mensdom soveel skadelike stowwe, veral koolsuurgas, vrygestel het as wat die aarde in ’n hele jaar kan absorbeer.

Vanaf vandag parasiteer die mensdom op die hulpbronne van toekomstige geslagte.
Die aarde het hierdie punt, wêreld-ekologieskulddag, en in Engels bekend as Earth Overshoot Day, vanjaar vier dae vroeër as verlede jaar bereik. In 2006 is dié dag eers in Oktober bereik. In 1987 het dit op 19 Desember geval, en kon die aarde nog so byna die pyp rook.

Steeds woed die debat oor of die “groenes” alarmisties is, terwyl klimaatsverandering-ontkenners ook nog doenig is. Laasgenoemde bestaan uit twee groepe – die eerste wat ontken dat die klimaat hoegenaamd verander, en diegene wat ontken dat die mensdom ’n invloed daarop uitoefen. In die VSA was die ontkenners tot betreklik onlangs nog baie sterk, en minstens een van die Republikeine se hoopvolle presidentskandidate is baie uitgesproke. Peilings toon egter dat die meerderheid Amerikaners nou aanvaar dat die klimaat verander, en dat die mens ’n rol daarin speel. Pres. Barack Obama het dus nou die speelruimte gehad om met waarskynlik die mees omvattende plan om skade te beperk vorendag te kom.

Die Amerikaners word immers met die werklikheid en gevolge gekonfronteer – nuwe rekordtemperature, die Kaliforniese droogte, orkane wat dood en verwoesting saai. Die hoofstad Washington DC word deur die stygende seevlak bedreig, maar dit word vererger deur die feit dat die stad weens geologiese redes wat niks met die mensdom te make het nie, geleidelik sak.

Natuurlik is daar ander faktore soos groot vulkaniese uitbarstings, die aarde se natuurlike tilt-rotasie om sy as en kosmiese storms (kosmoklimatologie) wat die aarde se klimaat kan beïnvloed, en selfs op baie groter skaal beïnvloed as wat die mensdom kan. Van die ou beskawings wat mettertyd geval het, waaronder moontlik die Romeinse, word deur baie navorsers aan klimaatverandering verbind. Die mensdom het toe nog nie by benadering oor die vermoë beskik om die klimaat te verander nie.

Ons het ook nou die voorreg om te sien wat klimaatsverandering aan ons twee buurplanete in die sogenaamde Gouelokkiesone, Venus en Mars, aangerig het. Venus het eens vermoedelik ’n vlak see gehuisves, maar die oppervlaktemperatuur is nou sodanig dat dit lood sal smelt. Die bitter koue Mars het ook eens oor lopende water beskik. Dié veranderings het ook sonder die tussenkoms van die mens gebeur.
Dit beteken egter nie dat die mensdom maar agteroor kan sit en sê dit gaan tog niks help om iets daadwerkliks en opbouends te doen nie. Die mensdom is dit aan sy toekomstige geslagte verskuldig om sy enigste tuiste te bewaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Ulandi ·

Ek dink dis nou die tyd om ‘n wet in te stel wat mense beperk om nie meer as 2 kinders te kry nie! Ek sal sê dat mense goedgekeur moet word om kinders te kry, jou gesondheid, inkomste ens. moet in ag geneem word… Dis al hoe mens Moederaarde gaan red! Met die spoed wat mense skei, verstaan ek nie eers hoekom mense nog kinders wil hê nie! #justsaying

Johan 2 ·

Wonder wat neem hul alles in ag met die berekening? Watter bronne raak eerste op?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.