Nuuskommentaar: Aardskuddend

Argieffoto: Pixabay

Suid-Afrikaners moet koelkop bly wanneer hulle iewers die trilling van ’n ligte aardbewing voel. Die kanse is veel beter dat die land “aardskuddende” gebeurtenisse sal beleef soos die bedanking van ’n president as ’n aardbewing. Die begrotingsrede wat vandag gelewer word, kan ook verskeie aspekte van “aardskuddend” oplewer.

Gister is Johannesburg en omstreke deur twee aardtrillings getref. Na wat berig word het dit heelwat paniek tot gevolg gehad. Dié skuddings het nie eens die USGS (United States Geological Survey) se interaktiewe kaart gehaal nie. Buite die VSA word aardbewings van minder as ʼn magnitude van 4,5 nie maklik aangedui nie.

Tog, wat vir een land ’n kwalik merkbare skudding of trilling was, kan vir ’n ander iets van groot erns wees. Die Nederlanders is kort-kort op hol oor die aardbewings (eerder trillings) in Groningen, wat hoofsaaklik met die boorwerk vir gasontginning saamhang. Kort-kort is daar ligte skade aan ’n woonhuis, terwyl ander nie ’n oog hieroor knip nie.

Om oor aardbewings te berig vereis ’n mate van kundigheid. SAUK-TV berig byvoorbeeld gereeld oor aardbewings van soveel en soveel op die Richterskaal iewers ter wêreld. Die USGS meet dit egter al lank met die momentmagnitudeskaal, en dit is bykans onmoontlik om Richterskaal-lesings te kry. Omdat verskillende aspekte gemeet word, kan dit ook nie van die een na die ander omgereken word nie. Japan en Taiwan gebruik weer hul eie meetinstrumente, wat baie van die M-skaal en die Richterskaal verskil.

Tog, die Nederlandse en Vlaamse pers is lief om die sterkte aan te dui as sou dit in “de schaal van de Richter” opgeneem gewees het.

Onlangs het die media berig oor ʼn “reuse”-aardbewing wat tussen Irak en Iran voorgekom het. Dit was nie baie lank nie nadat ’n baie sterk aardbewing van M7,3 wel op 12 November verlede jaar daar voorgekom het.

Die “reuseaardbewing” was egter onder die M6, en daar is geen lewensverlies of skade aangemeld nie.

Dit beteken nie dat ligter aardbewings nie lewensverlies en skade kan veroorsaak nie. Dit word grootliks bepaal deur die diepte van die episentrum, die digtheid van bewoning en die kwaliteit van bouwerk. Trouens, in stede soos San Francisco en Los Angeles is bepaalde spesifikasies in die bouplanne ingeskryf om lewensverlies en skade te beperk as die werklike grote kom. In Italië, Spanje, Griekeland en Turkye rig betreklike ligte aardbewings soms groot skade aan, en is daar ook lewensverlies.

Gewoonlik word aardbewings van M7 of sterker, as “sterk” aardbewings beskou, omdat dit gewoonlik ook die sterkte is wat tsoenami’s kan opwek.

Die aardbewing van 7,5 op 10 Januarie vanjaar digby Honduras sou hiervolgens ’n tsoenami moes oplewer, ook omdat die episentrum net tien kilometer onder die aardoppervlak was. So ’n tsoenami sou enorme skade aan die kus van die Golf van Mexiko moes aanrig, maar daar was geen tsoenami nie.

Verlede jaar het die aarde net sewe aardbewings van M7 of meer beleef, sowat die helfte van ’n stillerige aardbewingjaar. Vanjaar was daar reeds vier. ’n Groepie wetenskaplikes het juis voorspel dat die aarde vanjaar meer sterk aardbewings as gewoonlik sou kry, omdat die aarde se rotasiespoed effens minder is as gewoonlik, en dat dit weer veroorsaak is deurdat die aarde nou effens kleiner as voorheen is.

Volgens die jongste beskikbare syfers het 31 mense vanjaar in aardbewings omgekom. Hulle was van Mexiko en Taiwan.

Groot aardbewings word gewoonlik geassosieer met die groot verskuiwingsvlakke, en dan veral waar die kontinentale plate teen mekaar druk. Die Ring van Vuur dien as ’n goeie voorbeeld hiervan, hoewel daar ook plekke is waar die plate van mekaar wegbeweeg, of soos in die geval van San Andreas, parallel langs mekaar verbybeweeg.

Suid-Afrika is aan sy kus “omring” deur verskuiwingsvlakke wat weg van mekaar beweeg, en gelukkig ook baie ver is. Een van dié aardbewings wat op 28 Januarie suidwes van die land voorgekom het, een van M6,6, is wel deur die USGS op sy kaart van beduidende aardbewings aangetoon. Op land is ook enkele verskuiwingsvlakke, maar nie groot genoeg om sommer beduidende aardbewings te genereer nie.

Inderdaad, Suid-Afrika se potensiaal vir aardskuddende gebeure lê veel eerder op die politieke terrein as die geologiese. Die skielike vertrek van Jacob Zuma uit die presidentsamp was veel meer aardskuddend as enige aardbewing of trilling.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Jerry ·

As Zuma se vertrek aardskuddend was dan gaan die gevolge van sy vertrek groter aardskuddend wees. Radikale vryheidsvegters soos Zuma en sy volgelinge verdra geen onreg nie. Daar behoort geen twyfel te bestaan dat die Zuma faksie hulself sal herposisioneer en sal terugslaan, op welke manier, tyd en plek ookal hulle boosheid hul sal rig. As CR vir watter rede ookal misluk, reken ek, sal die skrif aan die muur wees. Daarom is dit belangrik dat CR moet slaag sodat dit die Afrikaner tyd gee om te besin en om die jeug te hervestig in lande waar die Afrikaner welkom is en weer lekker plesierig kan raak. Die ouergarde volg sodra die kinders gevestig is. Die Afrikaners wat Suid Afrika nie wil verlaat nie en bly vasklou aan hoop mbt die verlede, grond en besittings se kanse om uiteindelik deur boosheid verswelg te word raak by die dag n groter aardskuddende moontlikheid.

Albaster ·

Baie interessante artikel, dankie. Ek het iewers gehoor dat die twee groot plate van Afrika wat uitmekaar beweeg, waar die horing van afrika (Somalie, Kenya) wegbeweeg van die res van die kontinent, wat ook die groot mere van sentraal afrika vorm, se suidelike deel deur ons land loop. Dis hierdie skeur wat ek gehoor het die aardbewings in Durban, Pretoria ens veroorsaak het. Is dit waar wat ek gehoor het?

Herman Toerien ·

Hallo Albaster. So ver ek weet word meestal aanvaar dat die Skeurvallei in Mosambiek see se kant toe uitwyk. Daar is egter geoloë wat anders glo en dit via Natal met die Bain’s verskuiwingsvlak verbind. Ek meen dis hierdie gegewens wat gebruik is om vir Nkandla ‘n aardbewingbestande kelder te regverdig. Sommige geoloë koppel dan selfs aardbewings in die Klerkdorp-omgewing daaraan, en moontlik selfs dié v Botswana (verlede jaar vier sterk aardbewings, maar dit was hoogs uitsonderlik. Dit wil voorkom of daar die laaste sowat drie jaar ‘n toename in aardbewings in die Skeurvallei is (selfs lewensverlies). SwermS v trillings soos in Virginië, VSA, kom periodiek voor. Die huidige in Oklahoma hou verband met olie-ontginning. By Luckhof kom ook trillings voor sodat die VdKlaafdam se wal daarvoor aangepas moes word. Ek dink die Augrabies-trillings (en sterker) hou met iets anders verband, en dalk ook nog met die Botswana-aardbewings.

nie blind nie ·

Dit is ‘n waarskuwing van ou Siener van Rensburg af dat bollie oppad is. Nie net in S A nie maar ook in Europa. Vlug gaan nie help nie – ons sal ons man moet staan.
Duitstand se tweede grootste party is nou die Regse party.
Interessant.

Jerry ·

N ware man doen wat in beste belang is vir sy geliefdes se voorspoed en as dit beteken dat hy moet vlug, dan vlug hy vroetydig nadat hy sy grond en besittings verkoop het en dan vestig hy sy geliefdes in n land waar hulle en hulle God welkom is en waar die voorspoed hulle verveel! Glo jy maar in Siener, ek glo in gesonde verstand wat my skepper my meer toegerus het om die woord van my God nie net te ken nie, maar te verstaan.

nie blind nie ·

Jerry, glo my daar is net een God en ek en jy glo in dieselfde God.
Siener was ook ‘n Godsman. Lees en vind uit vir jouself.
Ek is bereid om te veg vir my land.
Suid – Afrika gaan dalk in die verre toekoms die enigste Christen land in die wereld wees.
Waarom dan uit die land vlug?

Antjie ·

Augrabies ondervind tans weer ʼn aardbewing-swerm van tot drie per dag. Mure bars. Kakamas se brug is ʼn paar jaar terug beskadig. Dit bly egter ʼn groot geheim!

USGS is nie verantwoordelik vir wêreldwye rekords nie. CSEM / EMSC is groter. Die Global Seismograph Network word deur IRIS binne die FDSN beheer, maar SA se dat word deur Geowetenskappe weerhou, waarskynlik weens belange van mynbedrywighede! Dis nie vir my regverdig vir ons wat dit ervaar en daaroor wonder nie. Hoekom voel Johannesburg skuddings? Daar moet iets in steek as dit ʼn geheim moet bly! En, dit beduiwel die hele subkontinent se data! Laasjaar het Botswana ʼn groot skudding beleef in die middel van die Kalahari!

Die verskeie skale het min met ouderdom te doen, en waarskynlik ook baie met die wetenskaplike isolasie. Hoewel hulle weens hul verskillende bronne nie in mekaar omgeskakel kan word nie, stem hulle grootliks met mekaar ooreen. Dis nie ʼn groot probleem nie. Ten minste nie so ernstig soos die rede vir die isolasie en gevolglike gebrek aan diens aan die publiek nie.

Skakeling met wêreldowerhede oor ons publieke behoeftes is dalk ʼn goeie joernalistieke plan. Net dit kan die owerhede hul verantwoordelikhede laat heroorweeg. Ons durf nie dom wees hieroor nie!

Paul ·

Jammer Herman, dat jy die woord ‘magnitude” net so uit Engels moes oor neem, op moedertaaldag gaan dit nie lekker af nie, al word daar ook heelwat anglisismes en woorde direk uit Engels deur die AWS ondskryf. Wat ‘n hartseer dag. Waarom dan nie liewer die suiwer Afrikaanse woord gebruik nie? So het ons nie teenstaanders van Afrikaans nodig nie, ons en die AWS ondergrawe dit sommer self.

Herman Toerien ·

Hallo Paul. Ons is deur die top-taalmense en het net mooi weer by magnitude beland. Die SAUK (wanneer hulle dit nie verkeerdelik na Richterskaal verander nie) sal dan bv net sê dit was ‘n 7,4 skudding. Of almal dan sal weet watter skaal gebruik is, is ‘n ander vraag. Wat my vang is dat daar hieroor ‘n ophef is, maar byna nie ‘n rimpeling oor iets veel erger nie, nl die kunstenaaars wat van hul gig by die shiow praat. Nog baie sulke voorbeelde waar regte Afr woorde wel bestaan.

Irene Myburgh ·

Ek weet nie waar oor die groot bohaai gaan nie. Toe ek as kind in Johannesburg gebly het was daar gereeld aardbewings, die koppies in die kaste het gerattle. Dit het maklik een keer n week gebeur. Ons was al so gewoond daaraan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.