Nuuskommentaar: Absa in die spervuur

absa 01

Argieffoto.

Voortydige aannames en veroordelings kenmerk die Bankorp-Reserwebank-saga, terwyl nog gewag word op die betrokke instansies om verslag daaroor te doen. Boonop dui ʼn verklaring van dr. Chris Stals, destydse hoof van die Reserwebank, daarop dat heelwat kluitjies (wat ook reeds weerlê is) die basis van die bewerings vorm.

Uitgelekte voorlopige verslae is kwalik die basis om ʼn verantwoordelike nuuskommentaar oor die meriete van transaksies tussen die Reserwebank en Bankorp te skryf. Daar word ook nog gewag vir “die ander kant” om gestel te word.

Trouens, Moneyweb berig vanoggend omvattend oor ʼn verduideliking van dr. Chris Stals, destydse hoof van die Reserwebank. Hy beskryf die “gelekte” inligting en veral dit wat aan hom toegeskryf word, as disinformasie, verdraaide feite en kwaadwillige politieke doelwitte. Hy gaan verder om te sê Absa en sy aandeelhouers het nooit ʼn sent gebaat by die Reserwebank se leningsbystand nie, omdat dit in ʼn entiteit Banbol geabsorbeer is.

Wat wel nou uitgewys kan word, is die periodieke pogings vanuit die ANC om die weerlig van sy eie mislukte stryd teen korrupsie – en soms – soos in die geval van Nkandla, af te lei deur stories op te dis oor enorme bedrae korrupsie waaraan die vorige regering skuldig sou wees.

Trouens, ANC-minsters het in ʼn stadium ʼn redelik netjies uitgewerkte dokument gehad wat tydig en ontydig in toesprake ingewerk is met bewerings oor hoe wie op watter wyse onregmatig deur dié reuse-korrupsie bevoordeel sou wees. Dit het egter relatief min nuusdekking gekry en is later vervang met die meer bekende Jan van Riebeeck wat hier amok kom maak het, kolonialisme, ensovoorts.

Netwerk 24 bespiegel in ʼn hoofartikel of die uitlek van die (vorige) Openbare Beskermer se voorlopige verslag nie dalk net te gerieflik saamgeval het met die saga om die Staatskapingsverslag wat pres. Jacob Zuma hard onder die mat probeer invee nie.

Met die Wall Street-krisis van 2011, waarvan ʼn groot deel van die wêreldekonomie steeds hard probeer om die gevolge af te skud, het die Amerikaanse regering hoofsaaklik via die Federale Bank ook geldelike hulp aan banke en groot maatskappye verleen en sodoende gekeer dat die hele Amerikaanse ekonomie inplof. In een geval wou belastingbetalers stik toe dit bekend word dat een van die begunstigde maatskappye se eerste aksie was om weer reuse bonusse aan die grootbase te betaal.

By die publiek was die verstandhouding dat dit in almal se belang is dat die groot instellings gered word, maar daarby inbegrepe, dat lesse geneem sal word dat ʼn ekonomie slegs ʼn sekere hoeveelheid super-inhaligheid ten koste van gewone mense kan absorbeer.

Om die boodskap in te vryf, het die Occupy Wall Street-beweging feitlik wêreldwyd posgevat. In Ysland het die regering, onder druk van groot sakelui, selfs probeer om baie ou wette in te span om die media se monde te snoer. Die reaksie hierop was so oorweldigend, dat Ysland nou onder lande ter wêreld tel wat die meeste persvryheid het.

In Wes-Europa het ʼn beweging pas momentum begin kry om politici en die media meer “moreel” te mak toe die krisis ontstaan het. Met die Wall Street-saga was die media egter instrumenteel om die inhaligheidspraktyke wêreldwyd aan die kaak te stel en het die inhalige bankbase hul plek ingeneem as hoofteiken van ʼn meer morele benadering tot sake doen.

Die jongste syfers toon net agt families besit die helfte van die wêreld se rykdom.

Trouens, daar kan eindelose voorbeelde opgehaal word – van die jong geslag om die Tsjad-meer, wat weens konflik, honger en siekte uitgesterf het en die erbarmlike toestande in sommige vlugtelingkampe in Sirië, om maar ʼn paar te noem.

As ʼn inploffing met die potensiaal om uit te kring dan dreig, is dit ʼn land se Reserwebank se plig om op die paslikste manier in te gryp. Dit is nie altyd nodig of wys dat “geld na die probleem gegooi word nie.”

Dit is belangrik dat die gevolge van die ingryping ʼn situasie moet daarstel wat beter is as dit wat sou gebeur as nié ingegryp is nie. Soms moet maar oë toegeknyp word en toegelaat word dat ʼn bank ondergaan, soos wat met Randbank gebeur het, wat te swaar verweef was met ʼn kusontwikkelaar wat ondergegaan het.

Wat ons nou wel weet, is dat die kwessie uiters ingewikkeld is, soos ook bevind in ʼn vorige ondersoek deur regter Dennis Davis. Ook die vorige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, waarsku teen oorhaastige gevolgtrekkings, wat onder meer op ʼn wit teen swart afspelery kan uitloop. Sy wys onder meer daarop dat dit ʼn wit man is wat die klag ingedien het wat haar ondersoek onderlê het.

Sou dr. Stals en ander wat nou reageer, se verduidelikings verwerp word en restitusie afgedwing word, is dit moeilik om al die tentakels te voorsien.

Dit is waarskynlik nie net Absa-kliënte en aandeelhouers wat geraak sal word as op die deurdruk van restitusie besluit word nie, maar waarskynlik ook aandeelhouers in Sanlam. Heel waarskynlik sal van die SEB-bemagtingsaksies ook die spit afbyt.

En uiteindelik sal nog werksgeleenthede in die banksektor verlore gaan – van wit en swart. Dit kan ʼn uitwerking op die staat se belastinginkomste hê en die druk vergroot op armes om meer tot die staatskas by te dra.

Sonder Absa en die Reserwebank se volledige verslae hieroor, is daar net te veel onsekerhede om die kraaines sinvol te ontrafel.

Maar waarvoor daar nie gewag kan word nie, is onthullings in die media oor Vrystaatse behuisingsprojekte wat nie gerealiseer het nie en waarvan die geld in die “ontwikkelaars” se sakke beland het. Een so ʼn vermeende “ontwikkelaar” is die vorige bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng.

ʼn Minister wat ʼn voormalige Vrystaatse LUR was, en op die oog af baie na-aan die Gupta-kamp staan, se naam word ook genoem, al is dit omdat hy glo die reëls gebuig het om ongeregverdigde betalings te magtig.

Dan is daar nog die Vrede-melkplaas wat nog ondersoeke verg, asook die kwessie van die Vrystaatse regering se peperduur webwerf en die stigting van pro-ANC-koerant deur dieselfde firma.

Ook die ou FS–VS-nommerplaatkwessie is nooit afgehandel nie en sal seker altyd in die doofpot bly.

En dit is net een provinsie en nogal deel van die pro-Zuma-premierliga.

Kom ons wag op ʼn verantwoordelike wyse vir die Reserwebank-saga om na behore te ontplooi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Leendert ·

Wat ek wil weet, is waarom word daar in hierdie liewe land van ons altyd eers disinforasie gelek, die verkeerde kant opgeblaas. Is dit om myle te kry, veral as dit teen wit mense en die ou bedeling is? Daardie mense wat die snellers trek kan nooit vinnig genoeg uit die blokke kom nie.

Is dit hoe ‘n weerligafleier werk?

Alida ·

Baie insiggewende artikel Herman. Jy is 100% reg. Hulle probeer die aandag aftrek van wat nou saak maak en ondersoek MOET word. Zuma is bekend daarvoor om soos ‘n slang wat hy is uit alles uit te seil. Hulle sal nie wegkom nie. Daar gaan nog baie wurms uit die blikke kruip in die volgende paar maande.

WL ·

Herman, ek lees elke oggend jou artikel en is altyd verstom oor die feite wat jy deur jou navorsing aanhaal. Maar ek wil net vir jou noem dit is glad nie waar dat 8 families die helfte van die wêreld se rykdom besit nie. Nêrens is dit so berig nie.

Ek verstaan dit is nou nie eintlik waaroor jou artikel gaan nie, ek noem dit net.

Herman Toerien ·

Hallo WL. Dit is twee dae gelede so in ‘n Oxfaam-verslag genoem, en het ongeveer elf miljoen trefslae op Google. Ongelukkig kan ek die skakel na die Oxfam-verslag nie hier “geplak” kry nie.
Groete
Herman

WL ·

Dankie Herman ek het dit ook gelees, maar jy verstaan dit verkeerd. Die 8 families het dieselfde rykdom as die onderste helfte van die wêreldlande, m.a.w. die armste 98 lande.
Daar is ‘n groot verskil.

Dirk Breytenbach ·

Sensasie tot in kommentare, ABSA het al hul verpligtinge volledig nagekom, hoekom fokus niemand op daardie feit nie? Wil elkeen nou eers wys hoe slim is hy dan gaan ons oor na die waarheid toe. Met verwysing na die rykste mense in die wereld – ons lewe grootliks in ‘n kapitalistiese wereld waar die bestes bo uitkom. As daar ‘n limiet op rykdom geplaas word sal dit neerkom op ekonomiese ingenieurswese en ekonomiee daaron ly.

Marietjie ·

Die ANC vergeet dat De Klerk miljoene rande oorbetaal het aan hulle in die aanloop tot
die vrylating van Mandela en so ons wittes uitverkoop het, African Bank, SAA, Poskantoor
ens is almal uitgebyl omdat dit wanbestuur was met ons belasting geld en tot vandag toe
nog nie die mas kan opkom nie.

JC ·

Haha, wat ‘n grap! ABSA het LANKAAAL die ou geldjies terugbetaal.
Dink hulle nou ons is so dom dat ons aandag op die wyse afgetrek kan word van die endemiese korrupsie, staatskaping, wanbestuur en nepotisme in ONS VADERLAND deur die ANC opportuniste en “usurpers”, deur hierdie nonsens “gepolitiekery”?
Weereens, wat ‘n hengse grap!!!!! En ons weet nou in watter kamp staan die nuwe “OB” haha

BOLANDER ·

Ons omstandighede in die land is haaglik as gevolg van die ANC se korrupsie ens, ens, ens. Maar een ding moet julle onthou. Hulle kan enige iets doen onder die son om ‘n haas uit die hoed te trek. HY DIE ALMAGTIGE, het die laaste sê!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Johann ·

En ons mag nie iets teen die ingesteldheid van die mense wat die vure stook sê nie, of dit word verwyder. Die mense wat die vure stook doen hulself, in die proses, nie ‘n guns nie, hul versterk net ons persepsies.

Johann ·

En die ANC vroueliga skrEE dat die OB se verslag, hoe halfgebak en krom, moet NOU bekend gemaak word. Daar is nie pille vir hulle en die hoofdame van die klomp nie. Maar nou-ja hulle is mos Zumalakiete.

Boela ·

Hoe weet jy ‘n ANC-lid lieg? Sy lippe beweeg! Ek glo niks wat enige van die ANC gespuis sê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.