Nuuskommentaar: Ace Magashule en die slaggat

Ace Magashule. Foto; ANC/Twitter

Een van die sekerste tekens dat die verkeerde mense regeer, en dat die verval nie aan die regeerstelsel te wyte is nie, is wanneer verval gereeld in dele van ’n land voorkom terwyl ander dele floreer.

“Die dag wanneer die slaggat ’n taxi of ’n ambulans insluk en dié in die gat verdwyn, is seker die dag wanneer die bestaan daarvan aandag by die munisipaliteit sal kry.” Aan die woord is een van ’n groep pasiënte wat die kwessie van ’n versaakte munisipaliteit onder die loep neem.

Dis werklik ’n lelike en groot slaggat. Dit “staan” reg voor die ingang na die parkeerterrein van ’n klein Bloemfonteinse hospitaaltjie, hoewel dit in die proses ook amper die ingang na ’n ander hospitaal versper.

Dis yslik groot en dit verg bestuursvernuf en ’n groot voertuig om “wydsbeen” daaroor te kan ry – hoewel nog net ’n klein rukkie terwyl die Rosestad die aantog van die reënseisoen afwag. Dis diep. Elke dag ry talle besoekers, dokters, mediese personeel en ambulanse daardeur. Die ambulanse vervoer soms doodsiek kanker- en ander pasiënte. Sensitiewe toerusting beland daarin.

Besoekers aan nog twee hospitale, ’n gastehuis, ʼn gewilde eetplek en ʼn noodhelikopter-landingstrook, parkeer ook gereeld onwettig op dié parkeerterrein. Daar is gereeld nie parkeerplek vir gestremdes of beseerdes nie.

Is hierdie slaggat ’n uitsondering? Nie as ’n mens die feitlik daaglikse oes van lesersbriewe in Volksblad lees nie. Daaruit word die indruk geskep van ’n munisipaliteit wat gereeld geld, soms baie geld, vir peperduur goed het, maar nog meer gereeld bakhand, met die handpalms na bó staan.

Binne-in die einste hospitaaltjie verloop dinge, soos in bykans elke private hospitaal in die land, feitlik foutloos, en dis baie gewild. So gewild dat ’n pasiënt wat ’n gereelde besoeker is (en baie van die pasiënte is) opmerk dat sy honde nou al dink hy kom net gereeld by sy eie huis kuier. Die afgelope Erfenisdag het die personeel die pasiënte op die heerlikste braaibrood getrakteer. Dit was immers ook Braaidag.

Ja, integriteit en selfrespek troef dikwels die onentoesiastiese burokrasie. Gereeld voel ’n mens hier is ’n land met ’n land daarbinne. Maar dan is daar ook nare werklikhede soos die slaggat en Ace Magashule, oud-Vrystaatse premier, wat in ’n japtrap ’n modelstaat tot ’n onooglike slaggat kon reduseer.

In sy jongste manewales het hy, gesteun deur invloedrykes, ’n oproep op partylede gedoen om die ou weergawe van Nkosi Sikelel iAfrika te sing sonder die Afrikaanse en Engelse dele. Hy het ook gesê oudpres. Jacob Zuma is een van die beste leiers wat die ANC nog mee vorendag gekom het.

Die DA in die Vrystaat wil intussen hê Magashule moet voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gaan getuig. Die DA het ʼn “dossier” van bewerings van korrupsie teen Magashule opgestel en aan die kommissie gestuur.

Dit sluit Magashule se betrokkenheid by die omstrede Vrede-suiwelprojek in. Van die geld wat vir die projek bedoel was, is glo gebruik vir die Gupta-troue by Sun City. Volgens die DA het die Vrystaat onder Magashule se leiding erg agteruitgegaan en is dit nou een van die armste provinsies in die land.

Dit lyk of Magashule nou as sekretaris-generaal van die ANC sommer die hele land slaggat toe wil sleep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anti - ACE ·

**Replace him and let him go and stay with Zuma @ Nkandla. These two AND many others are responsible for the state in which SA currently is AND… this beautiful country is sò filthy. Not only with corrupt leaders but also with debris and paper, which lies around in every street and town. The weed is taking over. People in taxi’s simply throws their take-away boxes etc out of taxi windows; taxi’s has the country by the balls.

Krimpvarkie ·

Hy moet eerder uit sy stoel gelug word gun mens kan hom vertrou nie kyk hoe lyk die Vrystaat se paaie waar is ons premier wat doen sy vir die Vrystaat net mooi niks

piper ·

al die baie mense wat drooggemaak het maar nog nie een in die tronk nie. net ondersoeke waarvan niks kom nie. gebruik egter die verkeerde woord en word dadelik toegesluit

Casper Labuschagne ·

In Bothastraat in Kroonstad was daar ‘n beroemde slaggat waarin ‘n boom opgekom het en al ‘n groot boom geword het. Toe die groot boom die status van ‘n vername besienswaardigheid vir besoekers aan die dorp aangeneem het, was die munisipaliteit se oplossing om die teer om te ploeg en sodoende daardie straatblok in Bothastraat te omskep in ‘n grondpad. Gevolglik twyfel ek dat die feit dat ‘n slaggat ‘n ambulans insluk werklik die munisipaliteit se aandag sal trek. Voor die Landbank gebou in Crosstraat is twee diep gate gegrawe om ‘n waterpyp te herstel. Sowat ‘n maand gelede het ek self gehelp om ‘n vangwa van die polisie wat in die kleiner gat beland het uit te lig en beide daardie gate is vandag steeds daar.

Elize ·

Hierdie is die land van gate mense. Slaggate, gate wat al die geld insluk, gate waarin alles verdwyn en niemand weet waar dit opeindig nie is ons voorland. Een van die dae gaan SA op die landskaarte as ‘n groot gat verskyn want alles verdwyn.

Moeggeploeg ·

Kom kyk gerus hoe lyk sy roseprojek in Parys en dan is daar al weer n blommefees aan die kom vir Parys wat nie net n tiekie kos nie maar die dorp verval.

Eish ·

Ek wonder tog wat die ongenuanseerde, ware en feitelik korrekte rede is vir die verval in die helhool?
Prediker 10:16?

Casper Labuschagne ·

Postkoloniale verval – die vervanging van bevoegde persone deur persone sonder ervaring wat op grond van hul rol in die gewapende stryd teen die koloniale regering en/of lojaliteit aan die nuwe regerende party aangestel word.

Eish ·

Dus, die aangehaalde teksvers. Pragtig gestel in die 83 vertaling!

Joe Hall ·

Ervaring is van weinig waarde indien kundigheid, opleiding, vaardigheid ens afwesig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.