Nuuskommentaar: Afjak vir Zuma: Beleef ons nou rollende massa-aksie?

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Beleef ons nou rollende massa-aksie teen pres. Jacob Zuma?

Ter aanvang kan gesê word dat die teenspoed wat Zuma feitlik oornag met Cosatu-ondersteuners op Werkersdag opgedoen het, vir die president ’n reuseterugslag is. Die vorige dag nog, die Sondag, was hy die hoofspreker by die Werkersdagverrigtinge in Mamelodi. Zuma het nie net ongesteurd ’n spreekbeurt gekry nie – hy het twee keer so lank gepraat as wat die program aangedui het, en hy was so selfvoldaan dat hy ’n oproep gedoen het op ’n tweederde meerderheid vir die ANC met ’n volgende verkiesing. Hy was nie skaam om te sê dis om die grondwet te wysig om die huidige hindernisse uit die weg te ruim nie – met ander woorde hy het gepleit vir ’n diktatuur van die meerderheid wat op hoogverraad van sy ampseed neerkom.

’n Dag later kry nie hy óf die ander sprekers ’n spreekbeurt by Cosatu se hooffunksie in Bloemfontein nie, en moes hy druipstert die aftog blaas. Baie van die mense by die byeenkoms roep deurlopend oorverdowend uit: “Zuma must fall!” Die hele geleentheid bly in die slag. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat die organiseerders moeilikheid moes verwag het, en ten spyte van premier Ace Magashule se vermoë om reusesteun te werf. Daar is selfs ’n bietjie bolle gerol tussen Cosatu- en ANC-lede.

Maar dis nie al nie. In KwaZulu-Natal word die voorsitter van die ANC, die speaker Baleka Mbete, doodgeskreeu, en in Polokwane word nog ’n Zuma-pion, Jesse Duarte, verhinder om haar toespraak te lewer.

Wat het oornag gebeur, en as dit georkestreer was, hoe het dit so gou gebeur en die massas bereik?

Hierteenoor het ANC-sprekers wat as teenstanders van Zuma beskou word, ’n goeie ontvangs gekry by die plekke waar hulle opgetree het, waaronder adjunkpresident Cyril Ramaphosa in Mpumalanga.

Maak hierdie verrigtinge deel van rollende massa-aksie uit?

Ten beste kan gesê word dat daar twee en selfs meer aksies is – min of meer los van mekaar – wat rollende massa-aksie probeer toepas om Zuma uit sy amp te dwing. En juis omdat dit nie ’n formele verbintenis het nie, kwalifiseer die verset teen Zuma (nog) nie as formele rollende massa-aksie nie.

Veral die leiers, en meestal die opposisieleiers wat binne die Freedom Movement saamgesnoer is, het al volgens media-argiewe verskeie oproepe vir rollende massa-aksie gedoen.

Daar word klaarblyklik gekyk na ’n werklike en waarskynlik suksesvolle voorbeeld van rollende massa-aksie uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die ontstaan van die Freedom Movement herinner byvoorbeeld sterk aan die destydse Mass Democratic Movement (MDM), wat op sy beurt die United Democratic Front en vakbonde ingesluit het.

Die MDM se aksies het veel meer as reuse-optogte ingesluit. Daar was burgerlike ongehoorsaamheid, hongerstakings deur politieke gevangenes en ’n breë uitdagende verset (defiance).

In die proses is die destydse regeerders in wese van ’n groot deel van die bevolking geïsoleer, en is hulle selfs uit bekende swart gebiede soos Boipatong verjaag. ’n Noodtoestand is eers in sekere distrikte afgekondig, wat die versetbeweging net effens verplaas het, en uiteindelik landswyd. Die regering het verlore grond deur die sogenaamde oliedruppel-benadering probeer herwin deur te probeer demonstreer dat dit sy gesag op enige plek in die land kan laat geld.

Die situasie van destyds en vandag het ooreenkomste, maar ook enkele groot verskille. Die MDM was eendragtig in sy pogings om ’n nuwe bewind tot stand te bring en in die proses van apartheid ontslae te raak. Hiervoor het dit buitelandse steun uit talle oorde gekry.

Met die huidige aksie is daar hoofsaaklik twee kampe. Eerstens die Freedom Movement wat daarna streef om ook ’n bewindsverandering teweeg te bring. Hulle benut die Zuma-krisis as ’n instrument hiervoor.

Tweedens is daar die vakbond-omgewing wat, met uitsonderings, nie gefokus is op ’n ander party of koalisie wat by die ANC moet oorneem nie. ’n Groot rede waarom hulle Zuma gepos wil hê, is omdat die president se voortgesette vasklou aan die amp die ANC skynbaar deurlopend steun kos.

Kan suksesvolle rollende massa-aksie toegepas word sonder eenheid in die geledere wat hulle daarvoor beywer?

Miskien nie in die klassieke sin soos die massa-aksie wat gelei het tot die verkassing van die destydse pres. Viktor Janoekowitsj van Oekraïne nie. Op die oomblik speel ’n nog onvoltooide proses hom in Venezuela af.

Openbare verset en onregeerbaar maak is gewoonlik belangrike elemente wat weer daartoe lei dat regeringshoofde met despotiese neigings nie skroom om lewensverlies te laat plaasvind nie. Dit is gewoonlik petrol op die vuur, isoleer die regeringshoof internasionaal (behalwe by sy bondgenote) en kan tot ’n streek-domino-effek lei soos met die Arabiese Lente.

In Suid-Afrika moet daar nog ’n aansienlike paadjie geloop word voor ’n saakmakende rollende massa-aksie op dreef is. Dit kan egter vinnig gebeur as daar nou binnekort weer ’n verlammende stakingseisoen sou aanbreek, en dit aangevul sou kon word met diensleweringsbetogings wat soos ’n veldbrand oor die land kan versprei. En moenie vergeet nie dat die #FeesMustFall-veldtog waarskynlik weer sal ontbrand wanneer die eksamenspook begin knyp.

Wanneer sal ’n mens ’n saakmakende verskil kan sien – veral in Zuma se geval, waar klou soos ’n neet ’n oorheersende kenmerk is? Wanneer die breë publiek in elke opsig begin saamwerk. Uitnodigings aan Zuma as spreker of eregas by maatskappyfunksies en openbare byeenkomste moet eenvoudig opdroog. Kortom, daar moet net eenvoudig nie geleenthede wees waar die SAUK hom presidensieel kan laat vertoon nie. Selfs ’n nog groter opoffering sal wees wanneer die president weer groot eerbewyse aan burgers doen, en die ontvangers dit van die hand wys omdat Zuma dit oorhandig.

Waar hy wel as spreker sy opwagting maak, moet hy strykdeur ge-“Loch Logan” word.

Natuurlik het Zuma ’n steunbasis, grootliks onder landelike Zoeloes, en probeer hy dit met erg rasgelaaide retoriek na swart mense in die algemeen uitbrei. Die KwaZulu-Natalse steun is egter ook nie meer wat dit was nie, veral nie ná ’n gekonkel met kandidatelyste wat tot die vorming van twee strydende faksies gelei het nie. Dié verdeeldheid het so diep beslag gekry dat politieke sluipmoorde nie ’n vreeslike rariteit is nie. En om dit op te los gaan moontlik beteken dat Zuma se voorkeurleier sal moet terugstaan vir ’n meer gewilde figuur wat nou bitter suur vir Zuma is.

Om suksesvol te wees moet Zuma ’n eensame figuur wees, met die wêreld om hom wat baie warm of yskoud gemaak word. Dit vereis ’n gemeenskaplike kwessie wat hard en deurlopend gedryf kan word, en die staatskapingkwessie met die Guptas as “hoofbeskuldigdes” bied juis daardie opsie.

’n Beter opsie as ’n suksesvolle rollende massa-aksie wat die land erg kreupel kan laat, is dat die ANC se ringkoppe betyds tot die besef kom Zuma se voortgesette presidentskap van veral die land gaan die ANC self nog veel meer skade berokken as wat reeds aangerig is. Trouens, dit moet duidelik word dat die ANC met Zuma ’n redelike kans staan om 2019 die bewind aan ’n opposisiekoalisie af te staan. Hoe gouer Zuma dus herroep word, hoe beter vir die land én die ANC.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ou Regsgeleerde Burgervark ·

Geagte mnr. Toerien,

Ek betwyfel die regs- en feitlike korrektheid van die volgende stelling: “- met ander woorde hy het gepleit vir ‘n diktatuur van die meerderheid wat op hoogverraad van sy ampseed neerkom.”

Die kernrobleem na my beskeie mening is die klein elite in die South African Animal Farm wat die septer in die ANC swaai. Maar ek troos my: die Suid-Afrikaners sien toenemend die onreg en holle slagspreuke raak en sal saamspan om die onreg en elite aan te spreek. ‘n Vrye pers is krities belangrik om die burgery in te lig MET FEITE. Hou moed. Die son sal weer skyn. Ons het ‘n plig om ligdraers van geregtigheid te wees.

Johann ·

Aan al die woord ryke kommentators: met.opregte dank aan jul tyd en moeite…my waarneming? LEKKERRRRRRR KRY tot onder my voete wanneer Zuma só verneder word! Sy gatlikheid kom in sy dom astrantheid voor.om te durf opdaag terwyl hy WEET hys ‘n sotlike karikatuur. Nog lekkerder sy ZUMAKIES, veral die agterlikke Du Arte…anargiste wat op hul neus kry! Whahahahahaaaaaa!!!!!! IN YOUR FACE ZUMA!

Bruno A. ·

Herman Toerien, ek wil verskil van jou stelling “Hoe gouer Zuma dus herroep word, hoe beter vir die land én die ANC.”
As hy te gou herroep word, kan die ANC dalk om sy opvolger herenig en nog relatief sterk bly.
Indien hy sou vervang word deur Nkosazana Dlamini-Zuma kan dit dalk goed wees vir die ANC, maar beslis nie vir die land nie.
Ons moet ook nie naïef wees en dink Cyril Ramaphosa gaan die land van die ondergang red nie.
Mmusi Maimane het op 1 Mei geklink soos ‘n EFF aktivis, hy het selfs gepraat/geskree met ‘n sterk “Afrika” aksent, baie minder “beskaaf” as in die Parlement.
Mense is te desperaat om ‘n opvolger te soek tussen ‘n klomp middelmatige en swak kandidate.
Is dit nie beter vir die land as Zuma lank genoeg aanbly om die ANC van binne af te vernietig, maar nie so lank dat hy die land (verder) vernietig nie?
Moenie Zuma te gou weg wens tot daar ‘n aanvaarbare alternatief vir hom is nie, binne of buite die ANC. Ek kan nie sy gesig of stem verdra nie, en wil naar word as iemand hom Meneer of President noem . Maar gee hom asseblief genoeg tou om homself en die ANC te hang, dan is daar dalk nuwe hoop vir die land.
Oor ‘n waardige opvolger het ek nog sterk twyfel.

Herman Toerien ·

Hallo Bruno. Die argument is dat Zuma die land so vinnig feitlik onherstelbare skade berokken, dat dit ‘n volgende regering (hetsy ANC, hetsy ‘n koalisie met of sonder ANC) of ‘n ander regering te groot skade sal hê om ongedaan te maak. Dalk slaag die ANC nou om hom te oortuig om liefs ‘n tipe seremoniële president te wees tot die eindfluitjie blaas (wat dalk kan wees as hy tronk toe gaan).

Philip Erasmus ·

Nooit so daaraan gedink nie maar n baie geldige argument

Cornelis Loots ·

Baie goed bedink en gestel.Maar as die gety so vinnig teen Zuma kon draai kan die teenoorgestelde ook mos gebeur want hy is n goeie strateeg.

Koebaai meraai ·

JOU DAE IS GETEL ZUMA, as jy nie self wil skuif nie, gaan hulle jou STOOT .. maar glo my wat nou gebeur het het nog NOOIT in die AFRIKA Geskiedenis gebeur met iemand wat NIE sy STERT gaan sien nie. Klou maar solank jy kan . .dis nie meer lank nie, behalwe MBETE wat skreeu soos ‘n kraai wat op ‘n stuk brood afgekom het, ondersteun NIEMAND Jou nou meer nie ..

Theresa ·

Pragtige vergelyking – die kraai – nou lekker gegiggel ten spyte van die politieke wolk wat ons almal daagliks beïnvloed.

Elizabeth ·

Zuptasan gee regtig nie om of hy die anc of die land gaan vernietig nie. Wanneer hy sy stoel eendag moet oorgee, gaan dit hom nie pla indien daar niks oorbly van die anc nie, want vir hom het dit nog altyd gegaan oor mag en geld. Hy is en was nog altyd net deel van die anc om by die No1 stoel uit te kom, nie omdat hy omgee vir sy party of vir enige persoon in SA nie! Hy het nog al tyd die wat hom teen gestaan het vir ewig uit gevat en skroom nie om dit vandag nog te doen nie. Indien enige iemand die boek gelees het van die anc se martelkampe in Algola en Zambië, (Zuma se kode naam was Pedro) sou almal al jare ter jare terug besef het dat Zuma een van die wreedste gevoellose persone is wat asemhaal op die aarde! Hy regtig nie gepla wat van SA of sy inwoners gaan gebeur nie, hy weet dat hy tot sy dood en daarna soos ñ koning gaan leef! Na alles het Forbes hom onlangs die rykste persoon in Afrika gegradeer, met sy gesteelde ged veilig in Amerikaanse banke. Hoekom sal hy nou bekommerd wees as hy nie welkom is nie??? Die enigste probleem is sy biljoene is net nie genoeg vir hom nie, hy wil alles hê

m ·

Hulle doen dit nou maar kom stemtyd dan hardloop hulle om vir hom te stem.

Koos1 ·

Zuma is net die simtoom van die siekte wat ons land verwoes. Na elke president gaan dit net slegter en slegter. Wat sê die engelse spreek word: “Rather the devil you know, then the devil you don’t”.
Dink bietjie wat kan gebeur as die ANC onder 50% behaal in 2019 se verkiesing, en die DA en EFF moet saam in die bed spring om regering oor te vat (dis te sê as die ANC dit toelaat!)? Mmusi as president en Malena as adjunk? Dit is opsies wat bestaan. Politiek in hierdie land is net om jouself te verryk, was nog altyd en sal nog altyd wees!

vermeende ·

Nee wat, Zuma gaan nerens heen nie, daar is geen druk wat groot genoeg is om hom van daai stoel af teskuif nie, hy sal soos altyd maak en vir n ruk stil wees.
Is Zuma instaat om SA in n rasse burgeroorlog te lei om aan bewind te bly…….beslis Herman!
Zuma is besig met n 180 grade U draai met die grond kwesie.

John ·

Hoe meer druk op pres Zuma geplaas word hoe meer roekelose planne smee sy meelopers want hulle toekoms is verweef met syne. Die opstandigheid op 1 Mei was dalk eerder daarop gerig om Zuma te dwing om sy radikale planne vinnig in werking te stel. Simpatie jeens hom kan dalk juis in sy guns tel einde ’17. Mmusi draai uiters teleurstellend uit. Die beledigende kritiek van oraloor en die platvloersheid daarvan verbitter die ontvanger net en verander nie ‘n duit aan die saak nie. ‘n Baie onaangename gevoel begin by mens posvat dat ‘n gevaarlike grens oorskry is waarvan daar geen terugkeer is nie, maak nie saak wie oorneem al dan nie. Die glo ‘sluipmoordenaar’ gaan ‘n gerieflike rol speel in die verloop na chaos.

Dirk ·

Ons moet net aanbid bid dat God se plan met die ANC sal uitspreek. God sal self die vernietigende werk binne die regering bewerkstellig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.