Nuuskommentaar: Afkophoenders op loop in SA

Argieffoto

Argieffoto

Die positiewe sy van Jackson Mthembu van die ANC se skerp woorde teen die opspraakwekkende verwikkelinge binne die SAUK word oorskadu deur ʼn rits verwikkelinge in Suid-Afrika gister wat op regeringschaos dui. Selfs Mthembu se optrede is kommerwekkend, omdat dit op ʼn algehele gebrek aan die onderskeid tussen regerende party en staat dui.

Daar gaan selde of ooit ʼn dag verby in hierdie land waar die ANC en sy leiers of kornuite nie op ʼn naragtige wyse toon dat die land regeer word op ʼn manier wat aan ʼn span afkophoenders herinner nie. Hoenders waarvan die kop afgekap is kan nogal aardige manewales maak.

Wat gister egter besonders maak, is dat die ANC in sy poging om te beredder, net nog dieper in die gemors trap.

  • Die ANC, by monde van sy hoofsweep Jackson Mthembu, kritiseer die verwikkelinge binne die SAUK, maar in die proses demonstreer hy dat hy en die ANC nie die vaagste idee het van ʼn onderskeid tussen party en staat / regering nie. Hy wil onder meer die minister en die raad (wat veronderstel is om aan die parlement verslag te doen), voor die ANC daag.
  • Jacob Zuma, in sy hoedanigheid as president van die ANC, help met ANC-verkiesingsveldtogte, maar herhaal in die proses ʼn stelling dat die ANC sal regeer tot Jesus weer kom. Teoloë en kerkleiers het hom in die verlede erg hieroor gestriem, maar Zuma “verweer” hom deur te sê die ANC is onder meer deur verskeie pastore geseën. In die proses openbaar Zuma ʼn afgryslike onkunde oor hoe die Christelike godsdiens werk.
  • Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, gee tydens ʼn mediakonferensie in effek toe dat sy (en dus die regering) eintlik niks van Brexit en die implikasies daarvan weet nie. Later probeer haar kommunikasiespan skadebeheer toepas deur te sê die minister was nie ernstig nie. Dit gebeur kort nadat die minister, in ʼn onderhoud op Al Jazeera, haar naam erg met ʼn plank geslaan het weens haar onkunde oor belangrike sake.
  • Kort na Suid-Afrika met lande soos Rusland en China saamgespan het om ʼn VN-resolusie oor internetvryheid met wysigings te probeer keer, probeer die land sy optrede “regverdig.” Veral China is nou kort-kort in die nuus oor drakoniese optredes teen die vryheid van spraak en dit is nie nou ʼn goeie tyd om in hierdie konteks met China geassosieer te word nie. Die verduideliking dat die konsepwysigings verband hou met pogings om rassisme in Suid-Afrika te kriminaliseer, hou ook min steek teen die agtergrond dat die regering met sy rasbenepenheid en openlike rassediskriminasie flink help om die klimaat vir rassisme te skep. Voorts blink ʼn instansie soos die SA Menseregtekommissie uit in die proses van onewehandigheid. Daar word met ʼn ton bakstene op wittes toegesak wat hulle aan rassisme skuldig maak, maar wanneer swart mense presies dieselfde doen, word dit geïgnoreer. Iemand moet eers ʼn klag indien. Toe die Vryheidsfront Plus wel ʼn klag teen Zuma indien, het die saak so byna in die niet verdwyn toe Zuma ʼn spertyd geïgnoreer het. Toe die VF+ druk uitoefen daaroor, het die saak opnuut aandag geniet en Zuma het weer ʼn spertyd gekry. Dié keer het Zuma wel formeel vir uitstel gevra (en dit gekry).
  • Om alles te kroon het die TLU SA en vennote ook gister die eerste ses maande van die jaar se syfers vir plaasmoorde en plaasaanvalle bekend gemaak. Volgens die syfers was plaasmoorde in die eerste ses maande van vanjaar 44% meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar en plaasaanvalle het met 39% toegeneem. So ver vasgestel kan word, het die regering in al elf amptelike tale dawerend oor dié syfers geswyg.

Afkophoenders beland in die pot, maar die ANC probeer verbete wal gooi en soveel as moontlik plek op die soustrein vir uitverkorenes verseker – wat die afkophoenders insluit. Soos met elke verkiesing, besoek ANC-ringkoppe agtergeblewe gemeenskappe en hoor “belangstellend” die mense se griewe en probleme aan, net om weer te verseker dat dit dié keer gaan aandag geniet.

Die leerkurwe vir die suksesvolle bedryf van ʼn grondwetlike demokrasie is gans te stadig onder die leiding van Zuma – indien daar hoegenaamd van ‘n leerkurwe gepraat kan word as vordering en agteruitgang teen mekaar gemeet word.

Die harde oordele wat die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Michael Froman, in ʼn verslag uitspreek oor veral die regering, is onrusbarend teen die agtergrond van toekomstige kredietgraderings. Die verslag staan teen die agtergrond van die AGOA-ooreenkoms, waarby Suid-Afrika ook enorme handelsvoordele vir handel met die VSA geniet. Onder die knelpunte wat Froman uitlig, is wydverspreide korrupsie in SA (na jare se versekerings dat dit vasgevat word), onvoldoende immigrasiebeheer, hoë vlakke van geweld teen vroue en kinders, die ongelyke standaarde tussen skole, ʼn ondeursigtige tenderproses en swak polisiewerk.

Met soveel teenspoed, was gister nie ʼn goeie dag vir Suid-Afrika nie. Ongelukkig het dit te veel die norm geword.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Theuns ·

More Herman. Jy verwoord die algehele chaos pragtig! Beter kan niemand dit se nie. Dankie.

johann S ·

As ek so kyk na ANC ” Logo” argief foto lyk dit ook nogal soos n Hoender

Kas Smit ·

Dit wys net weer dat die ANC, en nie die parlement nie, die land regeer.

Ampie ·

Dis ‘n belangrike beginsel. Die ANC hou elke jaar vergadering om te besluit wat se wetgewing vir die volgende jaar deur die parlement moet gaan. Die kaders in die parlement maak seker dit gaan deur en die ANC se ministers en ministeries dwing dit af. ‘n Goeie voorbeeld is die grondgryp wetgewing. Die parlement is dus eintlik net ‘n rubberstempel. Dis veronderstel om onafhanklik van die uitvoerende gesag te wees en in wese die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep.

Wicus ·

En om te dink die ‘onderhandelaars’ het gedink dit gaan anders wees as in die res van Afrika!

John ·

Suid-Afrika en Zimbabwe vervloei. Herman jy beledig die afkophoenders… gewoonlik word hul koppe nie deur hulself afgekap nie. Die kaart van moeder aarde lyk nou so: onder le Antarktika, boontoe op Chaotika en bo dit, die Sahara-woestyn en effe bontoe op, Narkotika… net duskant die Noordpool.

Armando ·

Dag Herman. Dankie vir jou bydrae, puik soos gewoonlik. Laat my toe om die volgende by te voeg nav jou kommentaar oor die leerkurwe.
Ek is bevrees (by wyse van spreke) dat die leerkurwe nooit in ons lewe sy kop sal optel om daardeur iets anders as plat te wees nie. Dit gebeur net nie, selfs met die baie duidelike voorbeeld van ‘n verpletterde… kug… kug… Zimbabwe reg voor hulle oë en vir almal om te aanskou. Die lesse wat hulle by die Russe en die Sjinese geleer het, nl dat die regering ook die staat is, is baie naby aan hulle eie tradisionele geloof. By swart mense behoort die land aan die “kapteins” en die “konings” en die gewone man bly waar hy bly omdat hy daar toegelaat word. Hierdie denke is té naby aan kommunisme om nie by diegene wat vir so lank daar geïndoktrineer is, pos te vat nie. “Afkophoenders” is reg, Herman, maar dis ‘n self-toegediende dodelike hou.

Lance ·

Verbaas mens gladnie want niemand trek indieselfde rigting nie …so wat anders kan met verwag as n gemors in die anc

Dawie ·

Dit gebeur wanneer die kranksinniges in beheer is van die malhuis. Ek twyfel of dit ooit gaan regkom. Miskien moet ons maar vrede daarmee maak en na onsself omsien want dis nie die stres werd nie.

Andrea van Vuren ·

iN DIE LAND VAN DIE BLINDES IS EENOOG KONING. nET JAMMER DIE ARME ENOOG HET GEE VISIE MEER NIE!

E.K. ·

Nkoana-Mashabane gee toe by ‘n mediakonferensie dat sy nie eintlik veel weet van Brexit en die implikasies daarvan nie en dan kom sê haar kommunikasiespan “sy was nie ernstig nie” – hoekom dit dan enigsins noem in ‘n mediakonferensie? Liewe hemel hierdie is nog ‘n voorbeeld van leiers se totale onvermoe om te lei wat, as dit nie so kommerwekkend is nie, totaal lagwekkend is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.