Nuuskommentaar: Afrika bestaan nie

Foto: www.sourcingjournalonline.com

Foto: www.sourcingjournalonline.com

“Bestaan Afrika wel, of nie?” Aan die woord  is ’n Nederlandse joernalis wat in Ethiopië gebore is, Seada Nourhussen. Sy is aan die buitelandse redaksie van die koerant Trouw verbonde, en is pas deur ’n ander koerant, De Volkskrant se Afrikablog tot een van die invloedrykste jong mense in Nederland verkies.

Sy het onlangs in ʼn opiniestuk die stelling gemaak dat Afrika nie bestaan nie. Sy baseer haar stelling daarop dat baie Westerse joernaliste ontwikkelinge op die Afrika-kontinent reduseer tot “tipies Afrika”.

Sy het dit as aanklag teen hierdie joernaliste bedoel. Maar speel Afrika self nie ’n rol daarin dat dit deur baie beskou word as ’n kontinent waar die inwoners self hul eie grootste vyande is nie?

Sy het dit ook daarteen dat die neiging bestaan om oor Afrikane te skryf, eerder as om Afrikane self aan die woord te stel.

Of ’n mens met Nourhussen saamstem of nie, die feit is dat die Afrikaner wel deeglik aan sy bas voel hoe frustrerend dit is om skeef en krom in die buiteland voorgestel te word.

Waarskynlik een van die oorsese koerante wat die beste indringende artikels oor gebeure in ander lande skryf, is die Christian Science Monitor van Boston in die VSA. Kom dit egter by Suid-Afrika, gaan lê daar tog maar ’n klip of wat in die maag. ʼn Goeie voorbeeld was ’n onlangse artikel oor die regstryd tussen Steve Hofmeyr en Conrad Koch (“Chester Missing”) (hoewel feitelik meestal akkuraat, weerspieël dit tog ʼn subjektiwiteit wat redelik maklik verklaar kan word – baie joernaliste uit die Engelssprekende lande en selfs ander wêrelddele is volslae vir hul Suid-Afrikaanse nuus van Engelse koerante afhanklik. Dit gee dus op ’n onregstreekse manier ’n idee aan Afrikaanssprekendes hoe ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap deur hul uitsluitlike gebruik van Engelse media (ook nuuswedwerwe) beïnvloed word.

Baie dikwels skryf iemand in ’n kommentaar op ’n berig, artikel of nuuskommentaar  die versugting dat dit so jammer is dat die betrokke stuk nie in Engels vertaal kan word nie, want dit is nodig dat die “ander” dit ook moet lees. Baie mense korrespondeer nou danksy die internet met mense oorsee, en sou so graag inligting wat ander hoeke belig, ook vir die kennisse oorsee wou stuur.

Maar die Yanks en ander se Afrikaans is nie juis wat dit moet wees nie. AfriForum, Solidariteit, verskeie kultuurorganisasies en ander instellings spandeer groot bedrae om die Afrikaner en ander minderhede se saak oorsee te stel.

Die grootste fout wat  Nourhussen maak, is om daardie Westerse joernaliste wat sy voor stok kry, se beskouinge van Afrikane met ’n beskouing van Afrika self gelyk te stel. Die wêreld is terdeë bewys van die voortreflikhede waaroor Afrika beskik – enorme minerale rykdomme, groot oliereserwes, wildlewe, natuurskoon en vele meer. Die wêreld is terdeë bewus van glorieryke beskawings wat eens op die kontinent bestaan het, waaronder die Egiptiese, Kartaagse en Ethiopiese. Trouens, so gefassineerd was die weste eens met Afrika dat geglo is dat die fabelagtige Christenryk van Priester Jan waarskynlik in Afrika geleë was. Meer as ʼn duisend jaar gelede het die inwoners van Mapungubwe  gevorderde handelsbetrekkinge met China gehandhaaf.

Maar helaas, dit is ongeveer waar sake eindig. Op bykans enige indeks soos die persvryheidsindeks, korrupsiepersepsie-indeks, innovasie-indeks en indeks vir mislukte state (nou indeks vir brose state genoem) oorheers Afrikalande die verkeerde kant van die indeks. Die Westerse lande oorheers die ander spektrum, waar ook lande soos Japan en Suid-Korea ʼn staanplek tussen die Westerse lande losgewoel het.

Onder die tien lande met die minste persvryheid, tel drie Afrikalande saam met die groot muishonde soos Kuba, China, Iran en Noord-Korea. ’n Afrikaland, Eritrea klop Noord-Korea om die laaste plek. Op die korrupsie-persepsie-indeks tel vyf Afrikalande onder die tien swakstes, met Somalië wat Noord-Korea om die laaste plek troef. Die eerste ses state op die indeks vir mislukte state is almal van Afrika.

En dis nie Afrika wat dit veroorsaak het nie, dis die mense. In baie opsigte was Suid-Afrika ’n uitsondering. Teen 1994 het Suid-Afrika 60% van die kontinent se elektriese krag opgewek, en was daar ’n groot genoeg surplus om uit te voer. Nou is Suid-Afrika se kapasiteit 41 gigawatt, en die totaal vir Afrika 147 gigawatt. Dit is maar sowat 35%. As Afrika suid van die Sahara geneem word, lewer dié deel van die kontinent, Suid-Afrika uitgesluit, maar 28 gigawatts. Die VSA lewer ʼn totaal van meer as 4 600 gigawatt (verskillende bronne gee verskillende syfers oor elk van bogenoemde). In geheel lyk dit egter of Suid-Afrika nie net teenoor Afrika agteruitgeboer het nie, maar ook sy aandeel in Afrika suid van die Sahara aan die verloor is.

’n Groot deel van Europa se blootstelling aan Afrikane is vlugtelinge wat die Middellandse See met haas enige drywende (of juis nie baie drywend nie) ding oorsteek met gereelde reddingsoperasies. Baie van hierdie vlugtelinge kom nie uit Afrika self nie, maar vlug oor Afrika na hawens in veral Libië, waar hulle dikwels erg deur gewetenlose mense uitgebuit word en selfs in die woestyn aan hul lot oorgelaat word na al hul besittings geroof is.

Die Afrikaner het ’n keuse van hoe hy teen hierdie minder goeie agtergrond beskou moet word. Afrika is lief om die blaam vir sy agterstande gewoon op kolonialisme te pak, terwyl die “demokraties verkose leiers” (en ook ’n aantal wat nou nie juis bodder oor demokrasie nie) miljarde van hul lande se rykdomme stroop en in buitelandse bankrekenings stort.

Na die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaner nie net sit en krepeer en Brittanje vir alles geblameer nie. Met ontsettende opofferings en harde werk is skouer aan die wiel gesit, veral om onderrig op alle vlakke en onder baie moeilike omstandighede te verseker. Die resultate het ook nie uitgebly nie. Die eerste hartoorplanting, om maar een voorbeeld te noem.

Dit gaan nou met ’n paar blokke aan die been gepaard. “Regstellende optrede”, SEB met allerlei strafmaatreëls, plaasaanvalle wat landbou se sake baie bemoeilik en uiters demoraliserend op die Afrikaner as geheel inwerk, om maar ʼn paar te noem. Pas het Suid-Afrika aangekondig dat na China gekyk word om te help met die vaardigheidstekorte, na al lank op Kuba se knoppie gedruk word.

Terwyl daar nou baie Afrikalande is waar Afrikaners en hul vaardighede wel erken en benut word… Lande wat nou besig is om hul sluimerende potensiaal te ontsluit. Sal dit nie ironies wees as Afrika met Afrikanerkundigheid sy potensiaal laat ontplof, terwyl Suid-Afrika met Eskom aan die voorpunt skouspelagtig inplof nie?

Die Afrikaner moet die weste oortuig dat Afrika wel bestaan – dat almal op die kontinent nie maar in dieselfde stereotipe bootjie geplaas kan word nie. Dat daar ’n volk is wat ruggraat het, trots op sy taal en kultuur is, wat hou vir hou met die weste kan saampraat…

Dit is maklik om pessimisties te wees. In die jongste Rasmussen-peiling word byvoorbeeld aangedui dat die persentasie Amerikaners wat meen dat die VSA teen die einde van die 21ste eeu steeds die magtigste land ter wêreld sal wees, nou op 27 % staan, 10% minder as ses jaar gelede.

Die Afrikaner het veral nou ’n binnebaan om hom te onderskei van ’n persepsie van ’n kontinent waar sy inwoners hul eie grootste vyand is. Pres. Jacob Zuma se onlangse stelling dat korrupsie ’n Westerse konsep is, het die negatiewe beeld van Afrika byvoorbeeld baie woema gegee, en open geleenthede vir die Afrikaner (en ander minderhede) om hande op te steek.

Maar dan moet die beeld wat uitgestraal word, oorweldigend positief wees. Dit kos slegs ’n paar; noem hulle maar eufemisties minder afgerondes, wat met ’n paar smerige woorde die hele saak enorme skade kan berokken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Alda ·

Goeie stuk – kan jul dalk net vir ons ‘n algemene handleiding gee oor wat ons mag sê en wat nie, jy weet mens voel die dinge aan jou”bas” so te sê en kry ‘n gevoel in jou binneste dat waarom moet jy aan die dinge uitgelewer wees? Maar deesdae as jy enige iets noem is mens rassisties, so asb. verduidelik, mag ons na onsself verwys as Afrikaners, of is dit rassisties soos baie vir mens sê – mag ons na onsself verwys as ‘n talentvolle volk wat ek glo ons is – bestaan ons volk net uit blankes of enige afrikaans sprekende persoon/persoon wat hou van afrikaanse se kultuur godsdiens normes en waardes? Ek wil ok nou nie die een wees in die familie waarvan niemand hou nie, so asseblief gee bietjie raad voordat ek ook “onafgerond” voorkom – wil afrikaans bevorder en ons bestaan, as ek dit mag sê.

Herman Toerien ·

Hallo Alida. Eerstens baie dankie.
Twedens, ek dink nie as jy bekommerd is dat jy jou dalk aan die “onafgeronde” optrede skuldig maaak, sal jy daaraan skuldig wees nie,
Natuurlik mag die Afrikaner trots wees op sy prestasies.
Die tipiese stereotipes waaraan mense hulle skuldig maak is om ander as dom te beskryf, vernederende name toe te voeg, ens. Natuurlik is die Afrikaner dikwels ook die slagoffer daarvan. Vandag, bv, sien ek die HETN wil moeilikheid maak omdat Maties ‘n wit rektor aangestel het, en kom daarom sommer tot die gevolgtrekking dat prof Botman se werk ongedaan gemaak sal word. Ek beskou sulke optredes as blatant rassisties.

Henry ·

Alda
Wil al lyk asof die veiligste uitweg is om jou kommentaar te beperk, tot die geleenthede wanneer jy met die skrywer saamstem.
:-)

Rupert Ashford ·

Mmm ja moet saamstem met Henry. Klink my ten spyte van die goeie werk wat die skrywer doen (en hy is een van min [Afrikaans en Engels en nie net in Suid-Afrika] wat ‘n mate van balans in sy berigte het) is hy ook met ‘n FNB oefeninkie besig in hierdie geval. Judge, jury and executioner? Moet nie jouself te hoog ag nie Herman – jy kan in dieselfde eksistensiele krisis beland as die wereldwye “Climate Change” propagandiste as debat vir jou ‘n oefening raak waar jy altyd reg is selfs wanneer jy verkeerd is en die ander ou altyd verkeerd. Die poepels daar buite wat jou pennevruggies lees is baie geduldig maar as jy eers ‘n lyn oorgesteek het…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.