Nuuskommentaar: Afrika-bril na die werklikheid

vergrootglasDie stakings en vakbondwese in Suid-Afrika is op die oomblik skerp onder die soeklig. Hoewel baie middelklas Suid-Afrikaners nou eers die impak van die stakings ervaar het met die petrolpompjoggiestaking en die sabotasie van Johannesburg se krag, is die stakings en die intimidasie en geweld wat daarmee gepaard gaan nie al nuuswaardige aspekte hiervan nie. Die skade aan die ekonomie word gereeld aan die groot klok gehang, en die politieke magstryd in die vakbondwese is skerp onder die vergrootglas. Daar word groot-oog gekyk of die Vavi-stryd en die toutrekkery oor die nasionale ontwikkelingsplan nie dalk die eerste werklike groot skeuring in die ANC te weeg kan bring nie.

Die ANC het in die verlede daarin geslaag om, veral voor verkiesings, te hergroepeer en ‘n breë skool glo dat dit weer sal gebeur, of as daar ‘n wegbreek is, daardie groep hulle soos vorige “skeurings” as splintergroepe onbeduidend sal bevind. Maar dit is tog waarskynlik die ernstigste krisis waarmee die ANC te kampe het.

In die Nasionale Raad van Provinsies het pres. Jacob Zuma ontken dat daar leemtes in die arbeidswetgewing is. Trouens, hy het dit wat nou gebeur beskryf as regte waarvoor geveg en beding is as uitvloeisel van die vryheidstryd. Oor of die arbeidswetgewing goed of sleg is, kan lank gedebatteer word, en dit is te kompleks om ‘n eenvoudige standpunt in te neem. Daar kom net te veel sake voor die KVBA en Arbeidshof wat daarop dui dat baie werkgewers en hul bestuurders nog geen benul van gesonde bestuurspraktyke het nie. Net te veel gruverhale kom in sake oor konstruktiewe ontslag en teistering in die werkplek voor, soos werkgewers wat op werkers vloek. Maar in City Power se geval is die stakers volgens verskeie analiste klaarblyklik deur inhaligheid gedryf.

Zuma het tevore oor sy internasionale perspektief oor arbeidsonrus die oë laat rek toe hy in Davos in ‘n onderhoud gesê het dit is tipies van ‘n demokrasie, maar dat die media bloot nie elders daaroor verslag doen nie.

Nou Zuma is onder skoot na hy kommunikasiekundestudente toegespreek het en ‘n beroep op hulle gedoen het om meer positief te berig wanneer hulle die media-wêreld betree. Die tydsberekening het Zuma egter in die steek gelaat deurdat ‘n VN-verslag wat onder meer faktore soos korrupsie en werkloosheid verreken het, Suid-Afrika 96ste op die gelukkigheidsindeks geplaas het.

Die TLU SA se reaksie op Zuma se oproep tot sonskynjoernalistiek vat dit goed saam: “Die meeste negatiewe aspekte waarmee die publiek daagliks in die media gekonfronteer word, is sake wat tuishoort by die regering self. As die regering dus begin om sy eie huis in orde te kry, sy werk te doen soos dit gedoen behoort te word, en dienste te lewer soos dit van hom verwag word, sal hy self reeds die grootste deel van negatiewe beriggewing uitskakel,” sê TLU SA se president, Louis Meintjes.

“Die land en sy mense het groot behoefte aan positiwiteit in ‘n tyd van ekonomiese druk en dikwels onsekere politieke omstandighede. Dit sal egter vir enige joernalis moeilik wees om positief te rapporteer oor negatiewe gebeure. Geen joernalis kan ‘n gewelddadige staking positief oorbring na lesers, luisteraars of kykers nie. Dit is ook nie moontlik om positief te berig oor plaasmoorde, as drink- en besproeiingswater besoedel word deur rou riool nie, as vullisblikke nie leeggemaak word of groot stede se elektrisiteitsvoorsiening gesaboteer word nie.  Netso is dit onwaarskynlik dat enige joernalis liries positief sal berig oor slaggate in paaie.

“Ook die landbou-gemeenskap het behoefte aan meer positiewe nuus, maar die onsekerheid en gepaardgaande negatiwiteit in landbou word juis deur regeringsbeleid en -optrede veroorsaak.  Die media het die plig om feite te rapporteer.  Sodra die feite en realiteite positief gerig word, sal verslaggewing ook positief word, en TLU SA sal die eerste wees om so ‘n situasie te kan toejuig.”

Seker die opvallendste aspek waaroor die Suid-Afrikaanse regering en sy SAOG-vennote anders as die weste na dieselfde saak kyk is die onlangse verkiesing in Zimbabwe. Zuma was behoorlik oorhaastig om die verkiesing legitiem te verklaar, en hou steeds vol dat sake pluis was. Selfs van die groot Suid-Afrikaanse media wat krities oor die proses was, skryf nou dat waarnemers bevind het die verkiesing was vry en regverdig. Die waarnemers het wel oor die algemeen bevind dat die verkiesing grootliks vry en vreedsaam was, maar oor die regverdigheid daarvan was die oordeel minder positief, onder meer oor probleme met die kieslys en dat daar van ‘n gelyke speelveld in die media weinig sprake was.

Suid-Afrika en die SAOG wil dat die weste geteikende sanksies teen Mugabe en sy kornuite ophef in die lig van die sonskynverkiesing, maar die weste is katvoet weens ‘n groot verskeidenheid faktore. In ‘n interessante artikel beskryf die gerespekteerde Bostonse Christian Science Monitor hoe Mugabe met sy kabinetsamestelling weer sy ou vriende ten koste van tegnokrasie in die kabinet en ander poste opgeneem het. Onder meer is die minister van v verdediging, Emmerson (The Crocodile) Mnangwa nou as minister van Justisie aangestel. Hy word as die hoofargitek beskou van die Gurkurahundi-slagting in Matebeleland in die laat 80-gerjare toe duisende opposisielede vermoor is. Dit lyk ook of hy Mugabe se gunsteling is om die bejaarde president op te volg, eerder as die meer gematigde adjunk-president Joyce Mujuru. Breedweg word dit gestel dat die land nou presies is waar die regering sy ekonomie in die afgrond in vernietig het, en voor die gedwonge huwelik met die MDC ‘n mate van herstel bewerkstellig het.

Zuma en die ANC se omarming van hierdie situasie laat natuurlik die vrae ontstaan of Suid-Afrika nie maar weer die kontantrekening hiervoor moet betaal, en as rente nog vlugtelinge moet absorbeer nie.

Suid-Afrika en die SAOG is egter nie uniek nie. In Kenia is die regering bitter ontevrede oor sy adjunk-president, en binnekort ook die president, vir misdade teen die mensdom voor die internasionale strafhof (IS) tereg moet staan. Die aanklagte spruit uit geweld na ‘n vorige verkiesing. Kenia se parlement wil nou uit die statuut van Rome, ingevolge waarvan die strafhof tot stand gekom het, tree. Een van die hoofdryfvere hiervoor is dat die betrokke strafhof op Afrika “pik.”

Dit is inderdaad so dat die IS nog net mense uit Afrika aangekla het. Met ‘n pikkery op Afrika het dit egter niks te make nie. Trouens, Afrikane beklee sleutelposte in die hof wat in Den Haag gesetel is. Die werklikheid is dat Kenia nie sy onderneming aan die VN gestand gedoen het om self die massamoord en verminkings te ondersoek, en strafregtelik op te tree nie. Toe eers het die IS ingetree.

Normaalweg tree lande self op. Onder die voorbeelde is Argentinië, na die vergrype teen die mensdom wat die militêre junta na die Falkland-oorlog gepleeg het. Trouens, daar vind steeds verhore plaas, en in sommige gevalle word mense wat reeds lewenslank tronk toe gestuur is, vir nog verdere vergrype aangekla. In Chili is mense uit die Pinochet-era vervolg.

‘n Spesiale tribunaal is in die lewe geroep om mense wat misdade teen die mensdom in die voormalige Joegoe-Slawië gepleeg het te vervolg. Onder diegene wat vervolg is, maar voor die afhandeling van sy verhoor in die sel dood is, is die voormalige president Slobodan Milosovic. ‘n Soortgelyke hof hanteer misdade uit die Pol Pot-era in Kambodja.

Die verhoor in Europa van ‘n verdagte Nazi-oorlogsmisdadiger het pas begin.

In Afrika, so lyk dit baie eenvoudig gestel, is iemand wat van misdade teen die mensdom verdink word “geskikte” presidensiële materiaal. Omar al-Bashir van Soedan is al lank op die “waglys” van die IS weens sy beweerde betrokkenheid by die Darfoer-menseslagting. Afrika loop nie oor van entoesiasme dat hy uitgelewer word nie. Suid-Afrika het steeds probeer “bemiddel” oor die bloedbad van die uitgestemde president van die Ivoorkus, Laurent Gbagbo, toe het die Franse ingegryp, die bloedbad beëindig en Gbagbo staan nou ook voor die IS tereg.

Nou is die vermeende hoofargitek van die Matebeleland-massamoorde ‘n gunsteling om Mugabe op te volg, en Suid-Afrika en die SAOG verwag die internasionale gemeenskap moet die geteikende sanksies ophef?

Afrika is nie ‘n losstaande deel van die wêreld wat maar sy eie norme kan toepas nie, en nog minder op die wêreld kan toepas nie. Afrika het wel ‘n “ontsnaproete deurdat China, wat nie juis oor menseregte begaan is nie, op groot skaal op die kontinent betrokke raak. Volgens ‘n omvattende artikel in die Christian Science Monitor is daar nou reeds sowat ‘n miljoen Chinese in Afrika, en tree daar ‘n effense bedaagdheid in.

Daar is vele positief uit die geskiedenis van Afrika. Van die oudste beskawings, soos die Egiptiese, kom it Afrikabodem. Athiopië en Armenië trek tou oor watter land die eerste werklike Christenstaat ter wêreld geword het. Honibal het met olifante oor die Alpe getrek en die Romeine op eie bodem verskeie gevoelige neerlae toegedien voor y die stryd gewonne moes gee. Die kerkvader, Augustinus is in Afrika gebore. Die naatloosheid waarmee die stene van die bouwerk aan die Zimbabwe-ruïnes inmekaar pas verstom.

Daar is beslis beter maniere om Afrikasentries te wees as om terselfdertyd ‘n muishondmombakkies op te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico Kruger ·

Dit is duidelik dat die weste al hoe meer moeg raak vir Afrika. Voor die val van die USSR was hulle te bang om teen Afrika op te tree want hulle het Afrika steun gesoek teen die Russe. (Ek wonder altyd wat sou gebeur het as ons in SA nie in 1992 besluit het om ‘n 1 man 1 stem verkiesing in te stel nie. Ek glo die VSA en sekere Europese state sou ons baie meer gesteun het, want die druk van die Oos-blok was daarmee heen.) Maar nou met die druk van die Sjineese om al hoe meer invloed in Afrika te soek is ek bang dat dit weer dieselfde storie gaan word. Die weste wat oë toe druk vir diktators solank hulle net nie Sjinese hulp aanvaar nie.

H J Bester ·

Jy’s reg Nico, die Chinese neem Afrika behoorlik in en laat dit definitief weer ‘n bepaalde siening by die Weste ontstaan – dalk een van “oe toeknyp” vir die tipiese Afrika-demokrasie wat eintlik maar grootliks ‘n outokrasie is met sterk diktatoriale ondertone. En solank die Weste hul te veel steur aan die Afrika-styl en dit te probeer verstaan – en dan nog so ‘n tikkie verwyt oor kolonialisme daarby, sal hulle nie vordering in Afrika maak nie- hulle het alreeds die etiket van uitbuiters.

Die Chinese, daarenteen, steur hul egter nie veel hieraan nie want vir hulle gaan dit nie oor die ideologie nie maar oor besigheid – hulle soek grondstowwe om te verwerk en afset vir hul produkte. En om vastrapplek in Afrika te kry, krap hul ruggies waar nodig en stof die Afrikane af met geldelike bewilligings vir enige onbenulligheid, solank dit net beïndruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.