Nuuskommentaar: Afrikaans 95: Die taal moet hakke inslaan

afrikaanse-taalmonument-leuse

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: commons.wikimedia.org

Pas het Afrikaans amptelik 95 jaar oud geword, maar gaan dit ooit ’n eeu amptelik haal? Dit is ’n jong taal wat oor ’n indrukwekkende literatuurskat beskik. Dit het ’n uitgebreide wetenskaptaal ontwikkel (baie dikwels deur by Nederlands en Duits te gaan kers opsteek), wat dit nog te meer belaglik maak dat die destydse minister van wetenskap en tegnologie besluit het Engels, Zoeloe en Pedi sal die amptelike tale van die SA Ruimte-agentskap wees, met Afrikaans in die boendoe. Dis ’n taal wat oor verskeie streektale beskik, en met eintlik net akademikaans wat nie die pyp kon rook nie.

Oor vyf jaar is Afrikaans amptelik 100 jaar oud. Die spore van Afrikaans lê egter veel dieper die verlede in, tot veel wyer as die Lae Lande, tot in kwalik verwante tale, en neem nie net nie; dit gee ook, al is dit soms via Nederlands. So is daar heelwat “Afrikaans” in Amerikaanse Engels opgeneem – dink maar aan coleslaw, wat via KFC sy weg ook na Afrikaans gekry het, die alewige “gad fly” (horse-fly) wat nou in Afrikaans ook eerder na ’n soort mens as ’n soort vlieg verwys. Die Amerikaanse geldeenheid waarvan die heel oorspronklike herkoms verder teruggevoer kan word, maar sy grondvat in die VSA duidelik blyk uit die eertydse Nieu-Amsterdam se omliggende Engelse kolonies wat by die “Yankees” (die baie Janne en Kese) die een en ander in riksdaalders gaan aanskaf het. En hoekom klink aardwolf en aardvark meer Afrikaans as Engels?

Dinge staan ook nie aldag so vas nie. Wie van ons het dan nie geleer die woord “baie” is een van die hele rits woorde wat ons uit Maleis oorgeneem het nie? Tot iemand onlangs agterkom in een van die Nedersaksiese tale naasliggend aan Nederland word ’n baie soortgelyke woord al lank voor die Nederlanders se besoek aan die Ooste gebruik. En net gister is in hierdie rubriek gebruik gemaak wat so Afrikaans klink, en dan nog baie gepas is – kakistokrasie. Maar dit kom van die Grieks (“kakistos” wat “die slegstes” beteken).

En wat van ons beskrywende streektale en dialekte? As die uwe voor hanekraai, as die koue sy ysvingers beginne strek, voor die blikbrein sit en werk, sou dit darem lekker wees om te kon roep: “Ai ou liefste, lô tsjarra da biekie gat met bies in die groot kommetjie vir my.” Die “asseblief” sommer inbegrepe.

Of die so eerbiedwaardige beskuldigde wat baie belangstellend vir die vrouelanddros wat pas vir hom gesê het sy hoop om nie hom gou weer te sien nie, vra: “Ma gaan edeldierbare dan straksies biekie by die sie uithang?”

Of die zeffer wie se Galaxy met die lemoentjie op die lugdraad, en pienk harige oortreksel oor die dêshbord bietjie uit “juice” gehardloop het, vir ’n verbyganger hande in die broeksakke, kam in die kouse, vra: “Hei tjsomma, hoe lykit da met ’n las man?”

En nou met die inkerkering van die noodtoestand is daar so baie berigte oor die dienders en die dragonders wat maar hardhandig met slagoffers die publiek werk, dat toe die leier van ’n groep tsotsi’s om die hoek kom, en hom trompop in ’n paar polisiemanne vasloop, hy erg benoud vir sy makkers agter hom skree: “Mo grype!” Wat kan nou ’n meer beskrywende naam vir ʼn bakleilustige polisieman wees?

Al kan daar min twyfel wees dat die regering self die grootste vyand van Afrikaans is (Pansat het jare gelede bevind die regering is die grootste vyand van veeltaligheid), is dit lank nie die enigste vyand nie. ’n Mens kan maar raai wie tweede op die lys is, soos die eietydse Wênderbaails, die sakelui wat etikette ook nou net eentalig maak sodat die uwe nie meer speserye in die kos wat hy maak kan gooi nie, want hy ken nie die Engelse name nie. Afrikaans het beslis volop vyfdekolonners.

Doerie tyd het Piet Retief ’n manifes geskryf en laat publiseer toe hy en die Trekkers so omgeklits was. Deesdae is dit eerder in die vorm van ope briewe en af en toe ’n protesnota wat ingespan word wanneer die taalsprekendes se regte vertrap word. Selfs die regters, of is hulle nou eintlik die linkers, ignoreer wat in die Grondwet staan, en lees goed soos transformasie in die Grondwet in wat glad nie daarin geskryf is nie.

Dit is duidelik dat Afrikaans, om te oorleef, die hakke sal moet inslaan. Dring so ver moontlik aan dat deelnemers aan Afrikaanse programme op Afrikaanse radio- en TV-kanale behoorlike Afrikaans moet kan praat en dit wil gebruik. Te veel Afrikaanse programme word nou galbitter soos paneellede Engelse woorde inspan. Soms klink dit of die land net geen natuurkenner, geoloog, ekoloog, weerkundige ensovoorts meer het wat Afrikaans kan praat nie, en die kundiges praat dikwels net Engels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ou Baardbek ·

Geagte Herman,
Dankie vir lekkrlees, al is dit eintlik “bitterlees”!
Kyk, ons garde se waardes, en herinnerings van weleer, sal nooit deur die “nuwe generasie”(??) gedeel kan word nie. ‘n Mens moes noodwendig deel gewees het van daardie era om dit alles te kan waardeer, terugroep en geniet.
Sou graag met u onder ‘n boom hier by ons wou kuier, terwyl ons na die vry-lopende wilde diere sit kyk, en oor “daardie tye” gesels. Hier is selfs ‘n klompie harde weergawes van daardie tyd, en nog vroeër ook. As 8-ste geslag in die land is ons bevoorreg om etlike kosbare oudhede te besit.
Staan sterk my vriend!
Lectori salutem!

Duck ·

Hou op panic
Die Afrikaanse taal sal nog jare lank voort bestaan.

Daniel ·

Mense doen nie eers moeite om die taal suiwer te praat nie, engelse mense praat suiwer engels maar baie afrikaanse mense gebruik woorde soos: actually, awesome, obviously, great ens. sonder om dit eers agter te kom

AmY ·

Miskien omdat meeste van hulle net een taal (Engels) kan praat?
Tensy hulle Amerikaanse woorde gebruik, dan praat hulle mos nie suiwer Engels nie?

Jan ·

Ek onthou die Zephyr karre, die man met die kam in die kous en wil byvoeg hare wat met Vitalis of Brilcream gesmeer en agteroor gekam is.Jou artikel lees baie lekker Herman.
Ek lees tans heelwat Nederlandse boeke en kom agter ons het met Afrikaans kortpaaie gevat en die Nederlandse taal aansienlik vereenvoudig.
Ons het egter Afrikaans as vaktaal goed ontwikkel maar die taal is onder beleg.
Die emigrasie van veral Afrikaanssprekendes stel ook nuwe uitdagings en indien Afrikaans as universiteitstaal uitsterf, wat tans gebeur, moet ons realisties wees oor die taalkoekoms.
Dit wil vir my lyk of Afrikaans dalk in die toekoms as outydse tipe Jiddish gepraat sal word.
Dit bly egter my moedertaal waarin ek myself die beste kan uitdruk.

Queline ·

As jy as Afrikaner jou taal praat sal dit nie uitsterf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.