Nuuskommentaar: Afrikaans (en grondwet) bokspring na laaste loopgrawe

Foto: http://gnatj.com/2013/02/

Foto: http://gnatj.com/2013/02/

Die twee verklarings wat die US oor sy voorgenome nuwe taalbeleid (sonder raadsgoedkeuring) saam uitgereik het, en die gevolglike verwarring in mediaberigte, skep verwarring oor wat studente aanstaande jaar by die US te wagte kan wees. Die lof wat Open Stellenbosch egter in die verklarings kry, tesame met ander verwikkelinge in die land waar Afrikaans se grondwetlike regte die wind van voor kry, help ook nie om tot ’n optimistiese vertolking te kom nie.

Aanvanklike berigte wou dit hê dat die rektor en bestuurspan van die Universiteit van Stellenbosch reeds in 2016 ’n nuwe taalbeleid gaan implementeer waarin Afrikaans sy  gelyke status kwyt sal wees, en Engels in wese die verstektaal word met Afrikaans en Xhosa as aanlaptale. Latere mediaberigte het dit gehad dat die universiteit se mediaverklaring wél noem dat die Universiteitsraad die plan op sy vergadering van 30 November moet goedkeur. Maar by versigtige bekyk van wat wél geskryf is, is dit ook nie korrek nie.

Hoe wys en wettig dit is dat sulke besluite, soos onlangs ook ten opsigte van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, in mediaverklarings met die breë publiek gedeel word voordat die onderskeie rade dit goedgekeur het, en in die geval van die US selfs nie insae daarin gehad nie en via die media moes kennis neem, gaan ’n vuurwarm debatspunt word. Veral as iets so uiters belangrik soos die mededeling dat die raad dit eers moet goedkeur in die “pyplyn” weggelaat word.

Universiteite (en ander instansies soos selfs provinsiale rugby-unies) kan soms hul skakelburo’s wat die mediaverklarings moet uitreik, van die deftigste name voorsien, maar dit beteken nie noodwendig dat daar ’n toename in professionaliteit is nie. Dit is egter ’n onderwerp op sy eie, maar die gevolg is dikwels dat belangrike nuusinstansies nie op verspreidingslyste kom, of bly nie. Verder “professionaliseer” baie instansies en selfs belangrike politieke partye hul Afrikaanse tekste weg, terwyl die finansiële druk op die lewensvatbaarheid van byvoorbeeld die gedrukte en gemeenskapsmedia die bekostigbaarheid van vertaaldienste onder druk plaas. Al meer moet oorwerkte verslaggewers as vertalers ingespan word en die pyplyn waar foute kan insluip (of die nuus weens ’n gebrek aan werknemers eenvoudig weggelaat word) word net te lank.

Die Afrikaanse weergawe van die nuusverklaring van die US bestaan uit twee dele – ’n nuusverklaring en die verklaring deur die rektoraat. Oor die kwessie van die goedkeuring deur die raad weerspreek die twee verklarings mekaar effe en kan verwarring veroorsaak. In die nuusverklaring word dit so gestel: “Die statuut van die universiteit bepaal dat die raad die taalbeleid met instemming van die senaat bepaal.

Vir enige voorgestelde veranderinge aan die huidige taalbeleid sal voorstelle by ʼn formele vergadering van die senaat voorgelê word voordat dit aan die raad voorgelê word. Dit is onwaarskynlik dat so ʼn proses nog in 2015 voltooi kan word.”

Die rektoraat se verklaring hieroor lui: “Die rektor se bestuurspan sal bogenoemde beginsels as vertrekpunte aan die raad voorlê by sy vergadering op 30 November 2015. Hierdie beginsels, as vertrekpunte, sal met die senaat, die breër studente- en personeelgemeenskappe van die universiteit, sowel as ander belangeroepe van die US gekommunikeer en gekonsulteer word. ʼn Hersiene taalbeleid en taalplan, gebaseer op die vertrekpunte wat in hierdie dokument vervat is, sal taaldiversiteit daadwerklik deel maak van die Universiteit Stellenbosch se wese en toegang vir personeel en studente verseker. Intussen sal hierdie dokument se vertrekpunte vanaf Januarie 2016 toegepas word.”

Gelees saam met die lof wat Open Stellenbosch se “insette” (lees “druk”) toegeswaai word, is dit moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom dat dit nie die taalplan is wat aan die raad voorgelê gaan word nie, maar die “beginsels, as vertrekpunte”, maar weens die tydsdruk sal daar geen uitsluitsel hier kan wees nie en sal die senaat se taalplan in 2016 eenvoudig geïmplementeer word.

Dit benodig nie die wysheid van Salomo om te weet, sou die raad uiteindelik wel oor die ganse taalplan moet beslis, dat dit baie moeilik gaan wees om te midde van regerings- en vigilantedruk ’n meer rasionale en grondwetlike taalplan te implementeer. Open Stellenbosch het immers by verskeie ondersteuners van die #FeesMustFall-veldtog volle steun gekry – trouens die steun was wedersyds en geen verantwoordelike instansie sal die gevaar wil loop om ge-UWK (en geparlement) te word nie.

Dit gaan ’n raad met baie sterk inbors vereis om die trein weer betyds op die spoor te kry. Die ondervinding met die geval Piet le Roux, raadslid wat hom minder opgewonde oor ontspoorde transformasie (transformania) uitgetwiet het, dien as voortydige aanduiding dat nie veel rugstyfmakery uit daardie oord verwag kan word nie. Intussen was daar bemoedigende stemme vanuit raadsgeledere en lyk dit nie of die baba sommer saam met die badwater uitgegooi gaan word nie.

Maar miskien is hierdie ontleder se twee grade en ander universiteitskwalifikasies ontoereikend om die diskrepansies in die verklarings te ontsluit.

Beteken die “primêre taal van kommunikasie en administrasie van die Universiteit Stellenbosch sal Engels wees, met Afrikaans en isiXhosa as addisionele tale” dat Afrikaans ook as taal van mediakommunikasie sito sito in die slag kan bly? Voor so ’n besluit geneem word moet die US dalk net oplet hoe die DA se praktyk van slegs Engelse mediaverklarings op nasionale vlak die DA se hantering van die Dianne Kohler-Barnard-saak vertroebel.

En hierdie is nog slegs die US se posisie.

By die Puk is ook ʼn voorgenome beleid aangekondig voordat die raad dit kon goedkeur, en selfs dalk nog ter insae gehad het. Nie alle raadslede is ewe opgewonde oor dit wat reeds aan die publiek gekommunikeer is nie.

By Kovsies hang die lot van Afrikaans as onderrigmedium nog aan ’n draadjie wat enige oomblik geknip kan word. En ’n paar eerbiedwaardige mense se standbeelde kan ook in die slag bly.

By die UP het die rektor onlangs bemoedigende versekerings oor dit wat nog van Afrikaans oor is aan AfriForum gegee, nadat op amptenaarsvlak skynbaar eensydig drooggemaak is soos om byvoorbeeld net Engelstalige aansoekvorms te aanvaar.

Ná hul deelname aan ’n Hoorzitting van die Taalunie  (wat deel van die Nederlandse parlement is) in 2012  skryf Henry Jeffreys en dr. Michael le Cordeur in Volksblad soos volg: “Dit is die missie van ons, die taalsprekers in al ons verskeidenheid, om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms en groei van ons taal. Ons gaan vorentoe al hoe meer projekte moet aanpak soos Solidariteit se idee vir ’n private Afrikaanse universiteit.” (Lees Maroela se Nuuskommentaar op 8 Januarie 2013 hieroor).

Die konteks vir Afrikaans as grondwetlike beskermde taal vir sy gebruikers, en algemene logika, lyk al hoe bleker. Dit lyk byvoorbeeld of die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap en ander instansies daarmee gaan wegkom om die Talewet in te span om Afrikaans as gelyke (en as inheemse taal wat veronderstel is om bevorder te word) eenvoudig uit die grondwet te steel. ’n Bekende ontleder het ook by geleentheid in sy rubriek in Media 24 gekla oor behoudendes wat in die konteks van universiteite die grondwet inspan om die liberale pilare van die grondwet te sloop. (Weer eens is twee gade en bykomende universiteitskwalifikasies onvoldoende om die logika uit te pluis).

Afrikaans moet, soos wyle pa-Jan lankal dit in algemene konteks gestel het, ’n stewige gordel, kruisbande en ’n stywe rek inspan om nie met die broek op die knieë gevang te word nie. Dit doen die Solidariteit Beweging se Plan B.

Maar hier kom ’n ding…

Die ironie is dat dit ryp gedruk word deur hulle wat ’n veer vir die grondwet voel, en dit die verguisde behoudendes is wat die grondwet in sy volle konteks en bedoeling probeer respekteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

PauldB ·

Dit wil blyk dat ons wie Afrikaans ondersteun, die grontwet waarskeinlik verkeerd verstaan. Daar word nie bedoel dat taalgelykheid beteken daar moet universiteite wees wat eksklesief in een taal bedryf word nie. Die eintlike bedoeling is dus dat alle tale (lees Engels) gelyke behandeling op alle universiteite moet geniet, behalwe Afrikaans. Universiteite mag dus eksklusief Engels wees maar nie Afrikaans nie. Die ondersteuners van Afrikaans staan dus geen kans om die saak in die hof te beveg nie. Wat nog meer pla, is dat al sou die sogenaamde nikswerd gemors van ‘n grondwet wel die bedoeling sou hê dat daar werklike Afrikaanse univwrsiteite sou kon wees, word die ondersteuners daarvan nou gedwing om miljoene Rande te spandeer om die saak in die hof te gaan beveg.

Ben Burger ·

By die onlangse Aardklop Kunstefees was 70% van die Afrikaanse toneelstukke op die planke vertalings. Versoolde Afrikaans. Daar het geen haan daaroor gekraai nie al was dit duidelik dat dit nie Afrikaanse skryfkuns bevorder nie. Dit lyk vir my of diegene wat Afrikaans se belange dien, vreemde agendas nastreef.

Rynhardt ·

Die vryheidsmanifes wil he dat die afrikaner geen bestaansreg moet he nie en dat Afrikaans orals by universiteite en skole uitgewis moet word.Die natte het daarvoor geonderhandel.Die Anc gaan die blanke van alles stroop! n Land met 12tale-toring van Babel herlewe in SA en is gedoem.Mandaryns is twaalfde taal!Terwyl afrikaners rugby kyk, partytjies hou en lekker eet,draai die Anc die skroewe styf vas vir afrikaners! Dr.Verwoerd het in 1961 gese dat julle jul gaan bevind in die laaste loopgraaf!

John ·

Eintlik is dit baie hartseer dat ‘n groot groep swart burgers in ons land as Engelsssprekend geken wil wees, wat op ‘n minderwaardigheidsgevoel dui wat betref hul eie taal en kultuur. Hulle reken dat hulle net opgevoed is wanneer hulle Engels is. Vandat die Britte in Afrika voet aan wal gesit het, is Engels met alle mag op die burgers afgedwing. Engels was die voertaal in die skole vir die Kaapse slawe en later ook in die skole vir die swartes in die binneland. Toe was Afrikaans in sy kinderskoene en het die Britte die nuwe volk met alle mag beveg en die nuwe taal met afsku bejeen omdat hulle daarin ‘n groot bedreiging gesien het. Ons ken die geskiedenis: hoe die boerevolk van alle kante geteiken is en sleg gemaak is. Hierdie konsep is by die swartman ingeprent; dat die Afrikaner en sy taal eintlik die land van sy ware boorlinge, dis nou die swartmense, wil steel. Die Britte is glo dan net hier om die land, sy minnerale en sy mense teen die booswigte wat Afrikaans praat, te beskerm (‘mind you’ hulle doen dit nou nog). Al wat ek eintlik wil se, is: Ons weet mos waar en wanneer hierdie stryd begin het en dat daar toe ook al ‘n klompie witdoeke was wat soos nou daarvan hou om bollemakiesie te slaan…

Johannes Meintjes ·

Het net begin wonder of Plan B maar net nog ‘n Afrikaner warmlugborrel is wat weer die bal gaan laat val soos soveel keer reeds sedert 1994 gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.