Nuuskommentaar: Afrikaans in skole – van Mikro tot Overvaal

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Maandag in die hof (15 Januarie 2018). Foto: AN

Al manier waarop die gedurige ongelukkigheid oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika besleg gaan word, is as die staat sy heksejag op Afrikaans laat vaar. Die uitspraak in die Hoërskool Overvaal se guns is ’n oorwinning, maar kan in die lig van die staat se voorneme om tot in die konstitusionele hof te appelleer, nog lank nie gevier word nie.

 Met die lees van Johann Rossouw se uitgebreide artikel oor die aanloop en verwikkeling by die Laerskool Mikro in Kuilsrivier asook die uitspraak van regter J. Thring, en die uitspraak van regter Bill Prinsloo in die uitspraak van die Hoërskool Overvaal, word ʼn gevoel van déjà vu telkemale ervaar. Van die intimidasie van die skole deur amptenare, loskop uitsprake deur politici en weinig belangstelling in wat in die letter van die grondwet oor minderheidsregte opgeteken is.

In albei gevalle is die skole opdrag gegee om ’n aantal “Engelse” leerders in te neem, in die geval van Mikro 21 leerders in 2005, en in die geval van Overvaal 55. Mikro se vasskop daarteen is as rassisme voorgehou, wat twak was aangesien Mikro reeds 14% anderskleurige leerders ingeneem het.

Destyds was die Wes-Kaap onder ANC-bewind en die LUR vir onderwys was die omstrede Cameron Dugmore.

Soos in die geval van Overvaal was daar omringende Engelse skole wat die “Engelse” leerlinge kon akkommodeer, en wat by Mikro in ’n leeggemaakte stoorkamer geakkommodeer moes word.

By die lees van Thring se uitspraak moes ander hofgangers buite die hof die uitspraak, wat in Engels gelewer is, aan die ouers van die “Engelse leerders” in Afrikaans vertaal sodat hulle die uitspraak kon verstaan. Dugmore het die appèl in die appèlhof ook verloor.

Nou het Prinsloo met ’n baie soortgelyke stel feite te make gehad. Hy het onder meer gelas dat die distrikshoof vir Sedibeng, Chriselda Makhubela, ondersoek word omdat sy die hoofde van die naburige Engelse skole glo sou intimideer om nuwe beëdigde verklarings aan die hof voor te hou waarin hulle nou ontken dat daar plek in hul skole is.

ʼn Aantal leerders wat by Hoërskool Overvaal toegelaat wou word, het verlede week saam met hul ouers die hofverrigtinge bygewoon, geklee in die skooluniforms van hul vorige skole. Foto: ANA

Volgens een bron het Prinsloo ook verwys na die bepalings van minderheidsregte soos in die grondwet vervat – ’n vars bries ná die minderheidsuitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng oor Kovsies se taalbeleid – ’n uitspraak waaroor Mogoeng sedertdien erg in regskringe, insluitend sy wit kollegas, gestriem word.

Die Gautengse LUR vir onderwys is geen onbekende in die kring van losbekkigheid nie. In die aanloop tot die saak het hy in erg neerhalende taal na Solidariteit verwys en aangedui hoe slaggereed hulle is om Solidariteit ’n loesing in die hof toe te dien.

In plaas van ’n oorwinning moet Lesufi-hulle nou ’n senior amptenaar vir ooglopende gekierang ondersoek.

Adv. Anton Alberts, LP van die Vryheidsfront Plus, sê die hof het met dié uitspraak bevestig dat die Gautengse onderwysdepartement die skolestelsel op só ’n wyse manipuleer dat rassepolarisasie onafwendbaar word wanneer vol Afrikaanse skole gedwing word om Engelse leerlinge in te neem, al kan hulle nie.

“Die VF Plus het al verskeie kere vasgestel dat daar enersyds nie genoeg skole in Gauteng gebou word om al die tale te akkommodeer nie, asook dat bestaande infrastruktuur nie voldoende gebruik word nie, soos hierdie saak nou uitgewys het.”

Lesufi het reeds aangedui dat hy, ten spyte van ’n bestraffende kostebevel, gaan appelleer.

“Dis is duidelik die hof het bevind dat die Gautengse onderwysdepartement onder Panyaza Lesufi eerder daarin belang stel om politiek te bedryf as om hul grondwetlike pligte na te kom deur seker te maak daar is genoeg geriewe om leerders van alle tale te akkommodeer.

“Hierdie uitspraak is bemoedigend en ek hoop indien dit op appèl geneem word, die appèlhof dieselfde siening sal handhaaf,” sê Alberts.

Intussen is dit kommerwekkend dat van die hofgangers in die Overvaal-saak Woensdag die skool ontoeganklik wil maak. Dit herinner aan Cosas se dreigement om Mikro “in te neem” na die appèlhofbeslissing.

Die uitspraak is rede om dankbaar te wees, maar te vroeg om fees te vier. Die lakmoestoets kom wanneer Lesufi by sy belofte hou om tot in die konstitusionele hof te appelleer. En dit het leeuwêreld geword.

In sy meestersverhandeling by Tuks oor die regte van taalvoorkeur (2009) verwys David Daniël Peens na ’n aantal hofsake wat skynbaar verskillende uitsprake opgelewer het en probeer hy die redes aan die hand van verskillende voorwaardes in die grondwet verklaar. Die hofsake:

Hoërskool Ermelo v Departement van onderwys;

Seodin Primary School and Others v MEC of Education;

Western Cape Minister of Education v Governing Body of Mikro Primary School;

Laerskool Middelburg en ʼn ander v Departementshoof.

Ná afhandeling van die appèlproses gaan dit interessant wees om te vra of die volgende bepaling in die grondwet die ink werd is waardin dit gedruk is: “Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable. In order to ensure the effective access to, and implementation of this right, the state must consider all reasonable educational alternatives, including single medium institutions, taking into account:

equity;
practicability; and
the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.”

’n Wa en span osse kan hierin draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

J ·

So sad!!! Duidelik sien jy rasime van departement van ondwrwys se kant af om Afrikaanse skole te dwink wat reeds vol tallig is om Engelse se kinders in te neem. Ek sien groot moeilikheid kom in die toekoms.
Arikaanse skole wird regdeur die bank geboelie deyr ons Gov stelsel.

Einherjaer ·

Terwyl mens verheug is oor die beslissing van die hof, wat trouens ‘n oorwinning is vir beskerming van alle minderheidsregte, ongeag etnisiteit – laat dit mens met ‘n gevoel dat daar bloot net tyd gekoop is. Daar sal geappelleer word met ‘n kans dat dit dieselfde uiteinde sal bereik as die Kovsies taal hofsaak, met Afrikaans wat geoffer word in die naam van diversiteit, inklusiwiteit en rasseharmonie.

In die alternatief sal die Skolewet (waarop Overvaal suksesvol gesteun het) bloot gewysig word om die gewensde uitwerking om Afrikaanse onderwys te vernietig so te bewerkstellig. Dit is reeds in die pyplyn met die voorgestelde kontroversiele “Bela” wysigingswet.

Wysheid sal wees om reeds in eie geledere planne te maak indien Afrikaans ook ‘n tweede nekslag toegedien word. Indien dit gebeur sal ons maar ons rug moet draai op die staat wat ons belange nietig ag en ons vyandig hanteer.

Ondersoek sal moet ingestel word oor wat die koste sal wees om publieke Afrikaanse skole as geheel te privatiseer en wat die verskil in skoolgeld vir ouers sal behels. Skool beheerliggame sal dalk reeds moet begin gesels oor hul reaksie indien die ergste gebeur.

My insiens is dit makliker om bestaande skole oor te beweeg na die privaatskool sfeer eerder as om nuwe skole van die grond af te bou en te stig. Ons kan nie verwag dat ander kulture ons taal en regte vir ons moet beskerm nie.

Die meerderheid Afrikaanse enkelmedium skole is tans in die Wes Kaap en moet beskerm word.

Lolla ·

Stem volhartig saam. Hoe gouer hoe beter. My dogtertjies moet Overvaal toe oor twee jaar. Ek is in vir wat ook al nodig is om gedoen te word. Overvaal bestuur alles baie presies en proffesioneel, en daarom glo ek nie dat skool fondse regtig sal op gaan of baie sal opgaan as die skool voluit Privaat gaan nie. Daar sal duisende huidigge laerskool ouers van menigte skole ook bystaan en opstaan, want dis regtig ons enigste keuse van n hoërskool vir ons in die kontrei.

Cherokee ·

As gekyk word na die deursnee Afrikaans wat in nuusforums gebesig word dien die Afrikaanse skole buitendien nie ‘n wafferse doel nie.

Jacques venter ·

Die verengelsing begin van bo af. Alle universiteite en opleidings instansies sal binnekort slegs Engels as onderrig taal gebruik.
Dit stel die kind wat in Afrikaans skool gegaan het in n swakker posisie.
Sal privaat Afrikaanse skole werk? Nee dit sal onbekostigbaar duur word.
Die antwoord lê daarin dat alle kinders sterk Engels magtig moet wees vir oorlewing.
Dit gaan tot gevolg hê dat alle Afrikaanse skole gaan verengels.
Kan ons iets daaraan doen?
Die ongelukkige antwoord is nee

Einherjaer ·

Bloot om hande in die lug te gooi en om niks te doen daaromtrent nie is egter nie ‘n haalbare opsie nie. Trouens dit spreek van lafhartigheid of minstens ‘n erkenning van jou eie onvermoe om met ‘n oplossing voorendag te kom.

Deur bloot te aanvaar wat besig is om te gebeur, sonder om teestand te bied het, net soos immigrasie na die buiteland, slegs een logiese uitkoms – naamlik die algehele vernietiging van Afrikaans vir alle taalverbruikers en vernietiging van die Afrikaner.

U is welkom om dit gelate te aanvaar, moet egter nie verwag dat almal ewe gretig moet wees om maar die witvlag te hys nog voor die laaste skote terug gevuur is nie.

JC ·

Ek verskil van jou Mnr Venter, vir die eenvoudige rede dat staatskapasiteit en vermoe besig is om te kwyn, en daar ‘n merkbare wegbeweeg van die staat, en beweeg na, privaat instansies is. (Engels bv. Monash, en Afrikaans soos Aros en Akademia.)
Niks is geset in steen nie, en my vermoede is dat taaldiskriminasie Afrikaners net meer vasberade sal maak om suksesvol te wees in hul paradigmaskuif.
CVO skole is uiters suksesvol en met die nodige ywer en hulp floreer dit, nie waar nie?(kyk bv. na vondsinsamelingsveldtogte vir CVO soos die op Die Vryburger gepropageer, dan sal jy definitief oortuig wees)
Afrikaners is inderdaad Engels sterk magtig, maar dit is omdat hulle ingewikkelde begrippe alreeds in hul moedertaal bemeester het, en na blootstelling in Engels hul meertalige vermoe bemeester het en dus oor geweldige akademiese vermoens en intelligensie beskik.
Verskaf dus asseblief jou FEITE vir waarom jy postuleer dat ons nie daarin sal slaag om ons geliefde Afrikaanse skole steeds te laat gedy nie?

Alida ·

Watter deel verstaan mense nie? Engels is ‘n wereldtaal en om gedurig te hamer op moedertaalonderrig is belaglik. Wat gaan die elf verskullende tale hulle help as hulle oorsee wil gaan werk. Jy kan jou kultuur uitleef op ander maniere buite die skool of universiteitsgronde. Maak alle skole en universiteite engels en klaar dan is daar niks om oor te baklei of hof toe te hardloop nie.

Cherokee ·

Hensoppers is wat julle genoem word in geskiedenisvertellings. Dit verduidelik ook die liefde vir die DA.

Hettie ·

Dit is so jammer dat die regstelsel in ons land toelaat dat mense soos Lesufi die regstelsel misbruik vir sy eie politieke redes ten koste van leerders .hy wil afrikaanse skole ten alle koste ontwrig want hulle uitslae is te goed .Hy het vrede met anderstalige kinders ,of dan alle kinders se skool loopbaan dit is net sy eie wil wat hy wil afdwing !

JC ·

Ek stem (gelukkig) glad nie saam met “Mnr Venter” en “Alida” se kommentaar nie.
Ek is bloot bly dat ek nie hul oordeel oor die saak deel nie, anders het ek sekerlik nie meer iets gehad om voor te lewe nie.
#VEG VIR AFRIKAANS!
Daar is ongeveer 1200 wonderlike Afrikaanse skole, talle private Afrikaanse CVO skole; 2 staatsuniversiteite op wie se kampusse daar nog in Afrikaans gedoseer word, daar is ‘n hele paar Afrikaanse privaatinstellings, waarvan Akademia staan om reuse groei te beleef, en talle senior en ingewikkelde nagraadse verhandelings word in Afrikaans gebesig. Waarom kla ons dus; gebruik eerder die huidige uitdagings om opnuut jou liefde vir jou moedertaal Afrikaans te bewys, om “terug te keer” en “voeding” te verkry van ons stamtaal Nederlands, en om DIE verhouding; en Afrikaans; verder te ontwikkel en te koester (‘n klein bietjie Van Wyk Louw, Ina Rousseau, Elizabeth Eybers, Achterberg-NET TE PRAGTIG!-, Hilda Smuts- die bome reusagtig soos ons was- of Opperman kan daarvoor sorg !!!) Nou wil ek dus weet, is die negatiewe uitsprake gebaseer of feite, of, met respek, emosioneel oorlaaide en oordrewe drogredenasies mof bloot strydsmoegheid?
Indien jy nie voorheen iets gehad het om voor te veg nie, is die tyd nou; en dit is ‘n wonderlike geleentheid, wat dit des te meer jammer maak dat indiwidue net kan boedel oorgee?
Die stryd is ver van verby, en trouens adem die gees, strydlustigheid en energie daarvan die weerbaarheid van Afrikaans en Al Haar mense.
Afrikaans Leef!

Madelein ·

Engels is ‘n tweede taal so ‘n mens is natuurlik engelsmagtig. Ek wat in ‘n Afrikaanse skool was was al vir ‘n jaar oorsee en ek kon vlot Engels praat. Jou kortsigtigheid is verstommend. Dink jy rêrig hulle gaan net by die Afrikaanse taal en nie aan jou kultuur raak nie?

O en nog ‘n ding – in meeste lande is Engels ‘n tweede taal en nie ‘n primêre taal nie. So jou argument het heeltemal gefaal.

JC ·

Korrek Madelein, die ANC regering is nou besig met sosiale ingenieurswese, dieselfde sosiale ingenieurswese wat die NP regering EGTER met rasende sukses uitgevoer het. Dit is dus uiters hipokritiese gedrag, want as hulle met dieselfde (onsuksesvolle) truuks besig is as die vorige bedeling wat hulle so kritiseer, verfoei en verag; hoe regverdig hulle dit wat hulle nou (probeer) doen; en dit nogal in ‘n skynbare “demokrasie”, “demokrasie hier bedoel in die sin van ‘n uiterste eufemisme. Ongelukkig geld dieselfde vir die DA, wat al te lief vir Sosiale Marxisme voorkom.
Die rede vir die aanvalle teen ons allerpragtigste taal is natuurlik omdat Afrikaans VEEL MEER AS ‘n blote taal is, dit vorm ons identiteit as Afrikaners, dis ‘n lewensbeskouing en leefwyse, en moet ons inderdaad ook waak teen aanvalle teen ons kultuurgoedere.

Hans ·

Ek lees so deur al die komentaar. Tog reken ek elk het n punt beet. Dit hang net af van water kant jy dit benader. Besigheids taal is engels ja. Dit is nie te sê dat die ander tale alles uitgewis moet word nie. So ook is al gesê sou hebrews dan die besigheids taal word moet ons dan alle engels uitskakel en slegs hebrews toe pas. Ek dink nie dit gaan so uitwerk nie. Tereg engels is n tweede taal in ander lande ook. Al wat mens moet wees is engels magtig en jy sal kan floreer in ander lande. Dit begin by hoe goed jy jou taal ken om dan ander tale te kan leer en verstaan. So moet afrikaans in sekere engelse skole in engels aangebied word anders verstaan die kinders dit nie, dit wil vir my sê dat hul grondslag fase ontbreek heeltemal. Weereens al wat ons wil doen is net kritiek lewer ens, kom dit om iets daadwerkliks te doen ontbreek daar so baie. Veg vir wat jy in glo en vir wat jy staan en binne jou is, as jy nie kan veg daarvoor nie of teen iets moet dan asb nie kritiek lewer op iets wat jy nie iets aan doen of wil doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.