Nuuskommentaar: Afrikaans kan by Friese leer

Lesersfoto

Lesersfoto

Terwyl vrywilligers as deel van ’n projek van Maroela Media skouer aan die wiel gesit het om Afrikaanse items op Wikipedia te plaas, het talle Friese gesorg dat hul taal ook as taal op Google se vertaalfunksie gelaai kon word. Daar is baie lesse wedersyds te leer oor hoeveel opoffering dit verg om ’n taal volwaardig te kan handhaaf.

Maroela Media het onlangs besonderhede bekend gemaak oor een van sy projekte waar vrywilligers help om Afrikaanse artikels op Wikipedia geplaas te kry. Dit is ’n ontsaglike werk, maar nodig vir Afrikaans om sy status as volwaardige taal in die wêreld te kan handhaaf. Afrikaans is reeds die enigste taal in Afrika wat oor ’n volwaardige woordeskat en woordeboek vir ruimteterme beskik.

Hoewel Afrikaans taalkundig nouer aan Nederlands as Fries verwant is, toon die huidige posisie van Afrikaans in Suid-Afrika veel meer ooreenkomste met dié van Fries in Nederland, wat eers sedert 1951 geleidelik formele erkenning begin geniet het, en in 2014 wetlik ’n amptelike bestuurstaal geword het. Hoewel Brabants ook ’n betreklik eiesoortige taalvorm is en onlangs die eerste volwaardige Brabantse Bybelvertaling die lig laat sien het, is Friesland die enigste Nederlandse provinsie wat naas Nederlands ’n eie amptelike taal het.

Oplettende gebruikers van Google se vertaalfunksie sou moontlik opgelet het dat daar byna stil-stil ’n taal bygekom het wat baie Afrikaners na aan die hart lê, naamlik Fries.

Fries, of Frysk, is ’n minderheidstaal wat veral in Friesland, nou ’n provinsie van Nederland, gepraat word. Soos met Afrikaans was daar kommer dat die taal onder die druk van Nederlands kan verdwyn, waaronder as universiteitstaal. Na raming praat minder as ’n miljoen mense Fries as huistaal.

Hoewel die Friese eens groot dele van Nederland en België beset het, asook dele van aanliggende lande soos Denemarke en Duitsland, het dit as amptelike taal so te sê verdwyn.

Eers sedert 1951 het Fries geleidelik formele erkenning begin geniet, en in 2014 amptelik ’n bestuurstaal naas Nederlands geword.

Trouens, in ’n stadium was ouer Friese Bybelvertalings gewild onder versamelaars omdat dit glo ’n taal verteenwoordig het wat binnekort sou uitsterf.

Hoewel die Fryske Akademy reeds in 1938 gestig is, word die indruk van die herlewing van die taal en kultuur eers die afgelope paar dekades gewek. Hierin speel die Fryske Akademy ’n enorme rol as “ûndernimmend ynstitút dat wittenskiplik ûndersyk docht op it mêd fan de Fryske taal, kultuer, skiednis en maatskippij”. (Alle aspekte van die Friese taal en kultuur word ondersoek, die geskiedenis en bevolking word wetenskaplik ondersoek.)

’n Selfontwaking was grootliks die rede waarom Fries meer prominensie gekry het. Friese koerante se oplaag het verhoog terwyl die meerderheid Nederlandse koerante ’n daling in sirkulasie beleef het. Die internet is op groot skaal ingespan, musiekkonserte in Fries is gereël en op talle maniere is die taal uit die gevaarsone van vergetelheid gesleep.

Planne enkele jare gelede om Friesland weens administratiewe redes as provinsie van Nederland te laat verdwyn, het groot ontsteltenis veroorsaak. Talle politici is in die daaropvolgende verkiesing gespot toe hulle vir stemwerwing in Friesland opdaag, omdat hulle “darem geweet het hoe die pad Friesland toe loop”.

Vanaf 21 September verlede jaar het talle Friese aan ’n projek deelgeneem om Fries as taal tot Google se vertaalfunksie toe te voeg. Om dit te vermag moes tussen 500 000 en ’n miljoen woorde, en talle sinsnedes vertaal word. Om verskeie redes is die vertalings uit Engels en nie Nederlands gedoen nie.

Reeds in Februarie vanjaar is genoeg vordering gemaak dat Fries as taal op Google se vertaalopsie gelaai is. Die geleentheid is formeel in die Friese hoofstad, Leeuwarden, ofte wel Ljouwert in Fries, gevier.

Nie dat die amptelike status van Fries dit vir die Friese makliker maak nie. Selfs in Leeuwarden beskryf Nederlandssprekendes Fries as ’n plat, harde taal – min of meer dieselfde terme waarmee Afrikaans dikwels beskryf word. Dit word dikwels ook as ’n dialek van Nederlands beskryf wat dit beslis nie is nie.

Fries is soos Angels, Saksies en Juts ’n ou Skandinawiese taal. Verskeie ou bronne verwys na die Friese se kenmerkende lengte wat hulle fisiek van hul nie-Skandinawiese bure onderskei het. Sedert die Friese hulle in ongeveer 500 voor Christus in die teenswoordige Nederland gevestig het, het verskeie dialekte ontstaan. Hedendaagse Fries is op Wes-Fries gegrond.

Deur die eeue het die Friese ’n harde geskiedenis agter die rug, wat verskeie veldslae teen die Romeine ingesluit het, en waar die Romeinse leërs swaar verliese gely het. Een so ’n oorwinning oor die Romeine was om te keer dat hulle gekersten word. Uiteindelik, blykbaar per ooreenkoms, het die Friese deel van die Romeinse Ryk geword maar met baie groot selfseggenskap. Groot lewensverlies is gely toe groot gebiede wat van die see herwin is, weer in storms deur die see ingeneem is.

Hoewel Friesland formeel buite Nederland se sogenaamde Bybelgordel val, voldoen verskeie munisipaliteite aan die kriteria daarvan.

Talle Friese vanne kom in Suid-Afrika voor en is veral in die Gereformeerde kerke opmerklik, vanne soos Denkema, Aartsma, Postma en vele meer.

Die les uit Fryslân (Friesland) is dat die behoud van selfs ’n eertydse groot taal nie vanselfsprekend is nie. Dit verg harde werk, groot entoesiasme en ’n behoorlike inskatting van die waarde daarvan. Afrikaanssprekendes kan ook met vrug let op hoe selfopoffering Fries gered en bestendig het. Elke greintjie energie is nodig om Afrikaans se toekoms te verseker.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henry ·

Stem saam.
Goeie artikel en Herman kan gerus vir ons vorentoe verder inlig oor die Friese se aandeel/invloed, op die Germaanse en veral Nederlandse taal.

jaco ·

Die Friese het een groot voordeel bo Afrikaanssprekendes: hulle woon in ‘n land met beskaafde westerse waardes; SONDER nonsens soos affirmative action, beurtkrag, plaasmoorde ens ens. Hierdie kampvegters vir Afrikaans moet eerder baklei teen goed wat ons oorlewing benadeel; goed wat tans ons dag tot dag oorlewing en ons veiligheid bedreig. Wat help dit hulle verhef Afrikaans dalk tot amptelik taal van die hemel en intussen kry wit Afrikaanssprekendes steeds nie werk nie en word wit Afrikaanse boere steeds vermoor…

Piet ·

Die moslems gaan hul land binnekort oorneem. So een van die dae het hulle groter moeilikheid as ons.

Theuns ·

“Versigting”
Hoe verlang ek na my Vry Staat
Waar ek vry was van die dreigende
Wat hier my wil verswelg en verneder
Daar was dit skoon en mooi
En alles in die kleure van die reenboog getooi.

Theresa ·

Wonderlik! Is dit daar waar die Fries beeste hul oorsprong het?

Grassie ·

Dankie vir die artikel, Herman. Ek was nog altyd onder die indruk dat die Friese doodgewone Hollanders is wat net in die provinsie Friesland woon, soos wat ons Vrystaters en Kapenaars het. Ek dink dat hulle die mas makliker sal opkom as ons Afrikaners omdat hulle nie in ‘n land woon waar ‘n vyandige meerderheid hulle en hul taal deurgans probeer verneder, uitroei en verguis nie.

A.Willemse ·

Fries is baie nader aan Afrikaans as wat mens dink. moenie probeer om dit te lees nie, Laat iemand anders lees en luister, dan is dit baie nader aan Afrikaans as Hollands. Die eerste ou vryburgers aan die Kaap het met mekaar Fries gepraat en Hollands met die amptenary en Predikante. Toe noem hulle dit Afrikaans. Heelparty uitdrukkings wat ons gebruik is vreemd in Hollands maar kom direk uit Fries, so ook party uitsprake.

John ·

Nee wat, hulle kan by ons kom leer hoe om ‘n taal te laat oorleef. Hier was nie net Hollanders en Friese aan die Kaap nie, maar Franse en Duitsers en ‘n kaboedel anderstes, soos Engelse en Oosterlinge. Nederlands is seker loshande die lelikste taal om aan te hoor, miskien is hulle net jaloers op ons. Daar is soveel komplimente vir Afrikaans van mense uit ander lande. Een student uit Rusland wat Afrikaans leer, meen Pietermaritzburg klink betowerend mooi. Sien!

Ietje ·

My ouers was altwee Friese, Ek vind die artikel baie interessant en dankie daarvoor. Het self baie friese boeke en ja is moeilik om te lees. In ons huis is daar een keer ‘n week uit die friese Bybel gelees. Vir my is Fries ‘n makliker verstaanbare taal as Nederlands. Maar miskien omdat ek daarmee groot geword het.

Sjoerd Wiersma ·

Het is niet eenvoudig om de Friese taal te behouden en de jeugd enthousiast te maken.
We hebben ook Afrikaanse muziek overgezet naar het Fries.
Amanda Strydom zingt haar pelgrimslied en hier is een Friese vertaling van.
https://youtu.be/TPc2OXMbG4o
Mooi artikel, veel plezier, en koester het Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.