Nuuskommentaar: Afrikaans na Jurassic Park, of net die Afrikaner?

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Toegegee, die opskrif is alarmisties. Dit het egter ontstaan uit ’n mediaverklaring van die Vryheidsfront Plus, waarin die naloop van ’n oorlegplegende gesprek met die minister van kuns en kultuur oor onder meer Afrikanerbeelde onder die loep gekom het. As “oplossing” het die minister ’n verskuiwing na ’n soort Boere- Jurassic Park genoem.

As vertrekpunt – die Afrikaner kom gedurig sterk onder skoot oor die geringste teken van laertrekkery. Dat dit niks minder of niks meer is nie as die natuurlike proses wat in Nederlands as verzuiling bekend staan, kom nie daarop aan nie. In Suid-Afrika word die Afrikaner, Grondwet ten spyt, niks eiesoortigs gegun nie, is net te dikwels die indruk.

Dit lyk ook nie of die VF Plus in sy vertolking die dam onder die eend se stert uitgeruk het nie. Ook AfriForum het in ’n mediaverklaring verskeie aspekte gekritiseer. “AfriForum meen dat die proses nou gestoomroller word om die ANC se eie politieke en anti-Afrikaner-agenda deur te voer, in plaas daarvan dat weldeurdagte besluite ten gunste van die gebalanseerde uitbeelding van die land se geskiedenis geneem word,” lui die dokument onder meer.

’n Jurassic Park dui tog op die bewaring van iets wat veronderstel is om in ’n beperkte, beheerbare ruimte uit te gesterf het.

Die tydperk wat hier gebruik word, het tussen bykans 200 miljoen en 145 miljoen jaar gelede bestaan, en was onder meer die tydperk van buitengewoon groot plantvretende dinosourusse. Kleiner maar skrikwekkende vleisvreters het die plantvreters bedreig.

Net om vir ’n oomblik duiwelsadvokaat te speel: Bevind Afrikaans hom nie in elk geval toenemend in ’n Jurassic Park nie? In die jongste verlede, om maar net enkele voorbeelde te noem:

  • Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap (Sansa) kondig aan dat sy voorgestelde nuwe taalbeleid drie amptelike tale insluit – Engels, Zoeloe en Pedi. In wese word die mindere Talewet gebruik om sekere amptelike tale uit die Grondwet te “steel”. Die teenargument is dat bykans alle staatsinstellings nou in ieder geval net Engels gebruik en dat die Talewet hulle verplig om darem meer tale te gebruik, en hier en daar haal Afrikaans ook die paal. Sansa staan egter, soos ander agentskappe wat onder die departement van wetenskap en tegnologie staan, onder opdrag van die departement om die drie “voorgestelde” tale te gebruik. Afrikaans is dus by verstek verwyder sonder dat die agentskappe die geleentheid kon hê om die wenslikheid en haalbaarheid daarvan te oorweeg. Dus, so lyk dit, dis Jurassic Park toe met Afrikaans wat wetenskap en tegnologie betref. (Sansa beoog darem om ander amptelike tale waaronder Afrikaans ook te gebruik, asook gebaretaal, waar nodig, en verskaf ook dié versekering aan beswaarmakers – maar net in Engels.)
  • Die bekende Bloemskou begin amptelik vandag, maar uitstallers en ander wat reeds die terrein besoek het, moes tot hul verbasing opmerk dat al die skou se amptelike kennisgewingborde nou net in Engels is. Die webwerf, en die program daarop, is ook net in Engels. So is daar die tikkie ironie dat Afrikaanse kunstenaars soos Bok van Blerk op ’n slegs Engelse program aangekondig word. (Net ’n tikkie ironie – Engels-behep, maar op die bord wat “Visitors’ Parking” aandui, is ’n spelfout. Dit herinner aan Krieket Suid-Afrika se nuwe toernooi-logo wat ook ’n spelfout bevat.)
  • Verskeie Gautengse Afrikaanse skole het ’n wederregtelike kennisgewing van die provinsiale onderwysdepartement gekry dat daardie skole van aanstaande jaar af dubbelmedium moet wees. Omdat hierdie skole steeds stampvol is, kan die “opdrag” nie ten doel hê dat bestaande geriewe beter benut word nie. Soos AfriForum uitwys, word dubbelmediumskole dikwels gou Engelse enkelmediumskole. In die Wes-Kaap was daar uit die tydperk toe die ANC nog daar aan bewind was en Cameron Dugmore die LUR, ’n hofsaak wat onder appèl ook gaan draai het waar die provinsiale regering bloedneus gekry het met die afdwing van dubbelmedium op ’n skool. Voor die hofstryd beslis was, moes die skool die “Engelse” kinders in ’n pakkamer wat leeggemaak is, huisves. Die hofuitspraak in Engels moes spesiaal vir die ouers van die “Engelse” kinders in Afrikaans getolk word.

Dit is maar enkele onlangse voorbeelde. Dit volg te midde van kommer oor die uiteindelike lot van Afrikaans op universiteite. Pas is AfriForum Jeug geweier om as studente-organisasie by Tuks geregistreer te word omdat die aansoek op Afrikaanse vorms ingevul is.

Maar is ’n Jurassic Park nie beter as heeltemal niks nie? Ná die destydse Vrystaatse premier Patrick Lekota die standbeeld van dr. HF Verwoerd voor die eertydse Verwoerdgebou laat verwyder het, het dit in ’n onwaardige stoorruimte beland. Vandag pryk dit weer in glorie herstel in Orania.

Is die Afrikanerbeelde werklik in vuil, verwaarloosde middestede waar die Afrikaner dit nie werklik meer waag nie, op die mees geskikte plek? In sommige stede mag dit dalk nog nie die geval wees nie, maar die Afrikaner is modern genoeg om gesonde stadsbeplanningsvooruitskouings in te span om te kyk hoe dit in die toekoms gaan lyk. Wanneer die oulike restourant om die hoek nie meer geroosterde kaastoebroodjies (toasted cheese vir dié wat nie weet wat dit is nie) voorsit nie, maar die spreekwoordelike pap en longe.

Maar sou die Afrikaner uiteindelik hiertoe gedwing word, moet die regering en links-liberale ook nie verwytend opmerk dat die Afrikaner laer trek, vervreemd in sy eie land voel, en selfs te midde van die buitensporig hoë vlakke van plaasmoorde, bedreig voel nie.

As die regering ophou om die Grondwet en die grondwetlike beginsels waarop dit geskoei is so te vertrap, sal die Afrikaner ook al minder soos ’n vreemdeling in sy eie land voel. Sommer vroeg in sy bestaan het die nou tjoepstil Pansat bevind dat die regering self die grootste oortreder van die Grondwet se taalbepalings was. Nie gerusstellend as die bewaker van die Grondwet op die jop slaap nie. As politieke inmenging nie kwotas opdwing wat Afrikaners se prestasies in die doofpot plaas nie, sal dit ook al minder gebrekkig gaan.

Dan is daar die SEB-wetgewing en ander … Dit gebeur soms dat die voorstelinie-personeel van maatskappye nie meer hul Afrikaanse eienaars in Afrikaans kan bedien nie. Of wil bedien nie.

Die Afrikaanse lied en die Afrikaanse boek dui daarop dat Afrikaans nog nie aan die uitsterf is nie. Maroela Media se bakkiesblad het pas sy 60 000ste “hou van” (like) gekry wat daarop dui dat Afrikaans nie in Jurassic Park leef nie, maar wêreldwyd in die moderne kuberruimte. ’n Afrikaanse gemeente wat die afgelope twee dae kos en drinkgoed aan ander uitstallers by die “Bloem Show” bedien het, het ná twee dae nog nie ’n enkele persoon in ’n ander taal as Afrikaans bedien nie.

Maar hoeveel van diegene wat nou so ongelukkig is oor hoe Afrikaans behandel word, se eie ondernemings het nie ook maar net Engelse name nie? “Sonette’s Fine Sewing” dui die bord voor die tuisonderneming van ’n Afrikaanse gesin in ’n Afrikaanse woonbuurt.

Dis nog te maklik om die stryd vir die behoud van Afrikaans aan ander te “delegeer” en dan nie self die nodige boustene te voorsien nie.

En kort voor lank is die taal as lewende fossiel in ’n Jurassic Park saam met sy standbeelde van eertydse glorie, rampe en heldedade te besigtig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Grassie ·

Herman, sovér die standbeelde betref – ek dink sommige kan maar skuif. Oom Paul staan daar in die middel van ‘n lokasie met duiwe wat heeldag op sy kop tjorts. Dit is vir ‘n man van sy statuur ‘n onwaardige plek om te wees. Ek sou graag wou sien dat hy en sy krygers na die Voortrekkermonument skuif en daar op ‘n prominente plek geplaas word, nie in ‘n onopsigtelike hoekie weggesteek word nie. Dit lyk vir my die Voortrekkermonument gaan al meer deur Afrikaners as ‘n vergaderplek gebruik word.
Die ander punte wat jy aangeroer het – ‘n mens moet hulle nie as individuele probleme beskou nie. Almal is deel van ‘n groter oorkoepelende plan wat lankal haarfyn in Luthuli-huis uitgewerk is.

HEVW ·

Met meer besinning kom ek al hoe meer tot die oortuiging dat die veskuiwing van ons Paul Kruger – standbeeld n verpligting geword het. Die direkte omgewing is net nie meer aanvaarbaar nie. Dit is regtig vuil en word oorheers met mense wat geen hegieniese besef het, geen besef het van die betekenis van patriotisme en ook nie n besef het vanwaar hulself kom nie.Vir baie jare al is dit die toestand. Ek as Namibier wou graag saam met my kinders daar in gewydheid verkeer en in gesprek wees oor ons geskiedenis, maar vanwee die toestand daar was dit nie moontlik nie. Ek reken nou vandat daar onder haglike politieke omstandighede n druk is om standbeelde te verskuif beleef ons n wroeging en verset. As ons jare terug onder die vorige politieke bedeling met nugterheid en oorleg oor die kwessie moes besluit, sou ons meer ontvanklik daarvoor gewees het. Ek reken by die Voortrekkermonument is dit reg. Dan word ons geskiedenis saamgeknoop tot n sinvolle eenheid. Dit wat ons nou beleef as negatief mag in die toekoms vir ons baie positief en opbouend uitwerk. Daar in die stilte wil ek gewyd verkeer en se DANKIE. En wil ek met trots wegstap die toekoms in.

Johannes ·

Jy het dit baie goed gestel. Alles wat jy se is baie waar. Vir die eerste keer dink ek ook nou die verskuiwing van Paul Kruger se standbeeld na die Voortrekkermonument toe is dalk ‘n goeie idee. Solank ons net nie alle Afrikanermonumente verskuif net om die ANC en die Malemmas tevrede te stel nie. Ons kultuurerfenis het ook ‘n regmatige plek in hierdie land, en daarvoor moet ons veg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.