Nuuskommentaar: Afrikaans se “verjaarsdag”

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig, en is die eerste Afrikaanse Taalbeweging is ingelui. Hierdie taalbeweging, met bekende name soos oom Lokomotief, Ons Klyntji en Di Patriot, het nie ten doel gehad dat Afrikaans vir Nederlands moes vervang nie, maar ‘n volwaardige staanplek daarnaas moes inneem. Die Du Toit-familie wat met hierdie beweging geassosieer word se uitgewery het byvoorbeeld in sy bestaan, meer Nederlandse as Afrikaanse boeke gedruk, hoewel die 81 000 Afrikaanse boeke wat wel gedruk is ‘n reuse impak gemaak het.

Een van die leidende figure in hierdie beweging, die toe nog baie jong Jepete Toerien, wat bekend geword het vir die skryf van minstens ‘n deel van die woorde van My Sarie Marais, het byvoorbeeld nie net in Afrikaans gedig nie, maar ook in Nederlands en selfs in Engels.

Een van die belangrikste bydraes van die Eerste Taalbeweging was om ‘n vrymoedigheid te skep om in Afrikaans te skryf en te publiseer.

Vandag is ook weer die “koop ‘n Afrikaanse boek-dag” wat deur die Vriende van Afrikaans begin is, en nou deur onder meer die Afrikaanse Taalraad ondersteun word. Maroela het op die oomblik ‘n kompetisie vir gewildste Afrikaanse liedjie ooit.

Die debat oor hoekom Afrikaans, naas Nederlands, ontstaan het woed steeds. ‘n Eenvoudige werklikheid is dat die taal wat nou as Standaard Nederlands bekend staan, nog nie bestaan het toe die koloniste aan ‘n groot verskeidenheid Nederlandse en Vlaamse dialekte, asook Duits, Frans, Koisantale en tale uit die Ooste blootgestel is nie. Standaard Nederlands het los hiervan uit hoofsaaklik die hoër klasse se weergawe van die dialek van die provinsie Holland ontstaan. Dit verskil byvoorbeeld aansienlik van die Hooghollands van die Statengeneraalbijbel. Na raming  het slegs sowat 3 persent van Nederland se bevolking teen 1920 dié taal onder die knie gehad, en in die 1960’s het nog steeds ‘n minderheid werklik Standaard Nederlands behoorlik beheers.

Afrikaans het eers in 1925 ‘n amptelike taal geword, maar teen die vroeë dertigs kon Afrikaanse boekeliefhebbers reeds ‘n verbasende versameling boeke in die skoonste taal op hul boekrakke plaas. Daar was reeds ‘n groot hoeveelheid poësie, prosa, romans en selfs ensiklopedieë beskikbaar. Baie boeke was vertaal uit tale soos Duits en Nederlands, maar baie was geskryf met die wortels stewig geanker in die Suid-Afrikaanse bodem. Hierdie pioniers van die geskrewe Afrikaanse woord, hetsy skrywers, digters, liedjieskrywers, vertalers, uitgewers, navorsers… almal het bitter hard gewerk en dikwels baie opgeoffer.

Trouens, in baie opsigte kan Afrikaans nie meer die pogings van hierdie pioniers nadoen nie. In sekere vakgebiede soos argeologie het so ver bekend bitter lanklaas ‘n Afrikaanse boek verskyn, terwyl nuwe ensiklopedieë van onder meer die oseane en die ruimte, bykans nie meer in Afrikaans die lig sien nie. Ander Afrikaanse genres floreer weer. Trouens, uitgewers kan slegs ‘n klein deeltjie van die materiaal wat vir publikasie voorgelê word die lig laat sien.

Sedert 2005 is 14 Augustus ook die “Koop ‘n Afrikaanse Boek-dag.”  Uit Maroela Media se “klikbek-peiling” blyk dit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes steeds ‘n gedrukte boek bo ‘n e-boek verkies, wat bietjie indruis teen die tendens in verskeie dele van die wêreld, waar die gedrukte boek soms reeds onder groot druk verkeer.

Hoewel die e-boek nog nie die gewildheidsvlakke beleef van wat dit in sekere lande beleef nie, het dit reeds ‘n enorme invloed op Afrikaans. Weens die kleiner koste daaraan verbonde kan manuskripte wat andersins sou bly stof opgaar ook deur die publiek geniet word, en terselfdertyd vir die skrywers daarvan ‘n ietsie oplewer.

Afrikaans voer sedert 1994 ‘n opdraande stryd om die ruimte wat dit beklee het te handhaaf. Al hoe meer mense wat nie gemaklik is met die Rooi Taal nie, moet verneem hul mediese fondse, banke en ander instellings kan glad nie meer met hulle in Afrikaans kommunikeer nie. By staatsdepartemente lol dit met kontakpersoneel wat nie die skoonste taal onder die knie het nie, of dit bloot nie wil gebruik nie, of selfs deur hul hoofde verbied word om dit te gebruik. Afrikaanse studente bevind hulle, veral op nagraadse vlak, skielik in klasse wat nie meer in Afrikaans beskikbaar is nie, met Afrikaanse handboeke wat ook al hoe minder word.

Pogings van instansies soos Solidariteit wat deur Akademia en SolTech Afrikaanse onderrig verseker, word gereeld vir rassisme uitgeskel asof rassisme hoegenaamd ter sprake is.

Die opvatting dat dit betaal om Afrikaans te wees, het grootliks omgesit in die werklikheid dat ‘n mens betaal om Afrikaans te wees. Om ‘n redelike hoeveelheid Afrikaans op die kykkassie te sien, beteken betaal-TV. Die groot Afrikaanse dagblaaie het hul web-weergawes betaalplatforms geword. En lank nie alle Afrikaanssprekendes kan dit bekostig nie.

Maar dit is dikwels nie faktore van buite wat Afrikaans bedreig nie.

Dit is lank nie meer net taalpuriste wat kla oor die “Afrikaans” wat in vraestelle, die internet en vele ander plekke opduik nie. Selfs Afrikaanse nuusbulletins word met die “allerferskruklike nietskêpings” ontsier soos Algeriërs en Brasiliërs in plaas van Algeryne en Brasiliane (Waar is die dae toe taalkenners soos dr. Anton Prinsloo nog in die SAUK die toon met goeie, korrekte Afrikaans aangegee het?). Selfs groot Afrikaanse koerante pleeg gereeld die ondenkbare deur van wetgewing se “seksies” te skryf in plaas van “artikels.”

Uithangborde, Afrikaanse webwerfname en selfs name vir nuwe Afrikaner-instellings is almal deesdae die slagplaas van die korrekte gebruik in Afrikaans sekere woorde vas aan mekaar te skryf. So algemeen is dié verkeerde gebruik hiervan dat dit onmoontlik lyk dat die leerkragte wat dié mense hul kwalifikasies besorg het, self die taalreëls hieroor ken. Dié soort blapse kom selfs soms in opskrifte van Afrikaanse koerante, en gereeld in die advertensies van dié koerante voor.

Terwyl Standaardafrikaans nog probeer konsolideer en walgooi, is daar ‘n aandrang, weliswaar geregverdig, dat Kaaps ook as aanvaarbaar beskou word.

Daar is ook debatte oor wat aanvaarbare Afrikaans is. Anglisismes word steeds met ‘n lang tand aan byt gekry, oor sommige variante word liggies gespot soos “pô en mô wat vir die naweek weggebreek het strôndhuis toe,” en juweeltjies soos “lô tsjarra da biekkie bies vir die kjênd se gaat” (gaan haal bietjie melk vir die jong vrou se koffie) word soos kleinode gekoester.

Afrikaans kan lewenskragtig bly en groei, maar dit kan ook deur die sprekers daarvan vermoor word.

 

Ode vir Afrikaans

Wie ween oor die warme Afrikaanse woord wat wyk?

Is dit maar net nog ‘n taal wat daagliks beswyk?

Maar tog, nog baie sterker roep die skoonste klank

Wat nou met diaspora-lote oor die wêreld rank

‘n Moedertaal sonder enkele vaderland

Maar steeds hou dit vir ons ‘n ystersterke band

Geskryf, gelees, gebid en lekkerlos gesels

Oor die eeue louter-gevorm en puur rebels

Te midde van spot, swaarkry en dit wil versmoor

Is dit gereeld geboei

Maar het bly leef en groei

Tot ons dit nou self begin verniel en vermoor

–       Oom Kolewa

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

SC ·

Aan al diegene wat so hard gewerk het aan ons pragtige taal deur soveel jare om dit te ontwikkel tot wat ons vandag oor beskik.Aan die Afrikaanse akademici n baie groot dankie,die kampvegters vir die taal en vir almal wat die taal suiwer besig.Aan my Afrikaans onderwyser op skool.Vandag besef ek eers werklik hoe uitstekend jy ons onderrig het.Meeste van almal dank ek my Skepper dat hy die taal bewaar het vir ons.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.