Nuuskommentaar: Afrikaans só uit die Grondwet gesteel

Die Internasionale Ruimtestasie. Foto: Nasa/Flickr

Die Internasionale Ruimtestasie. Foto: Nasa/Flickr

Baie mense weet moontlik nie eens dat Suid-Afrika oor ’n ruimteagentskap beskik nie. Die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap, wat onder sy Engelse afkorting as Sansa bekend staan, bestaan egter al ’n hele paar jaar en doen goeie werk oor verskeie terreine.

Pas het Sansa egter sy voorgestelde nuwe taalbeleid in terme van die Talewet bekend gestel. Dit is nog tot die 16de oop vir kommentaar. (Lees gerus Maroela se omvattende berig hier). Lees ook gerus Danny Titus se artikel in Netwerk 24 waar hy meer agtergrond verskaf oor die proses van die Talewet wat nou beslag kry.

Ingevolge hierdie taalbeleid word slegs Engels, isiZulu en Sepedi deel van die beplanning, soos vir gebruik op onder meer die webwerf. Sansa dui egter aan dat “wanneer daar ’n behoefte is”, sal ook vir ander amptelike tale, asook gebaretaal, voorsiening gemaak word.

So ’n stelling is gans te vaag om enige gerusstelling aan Afrikaans te bied.

Die grootste probleem is dat Sansa, en klaarblyklik ander staatsinstellings, die Talewet wil inspan om die Grondwet se erkenning van 11 amptelike tale te erken, en boonop hul gelykberegtiging te erken, tot niet wil maak. ’n Wet kan egter nie die bedoeling van die Grondwet – die hoogste wet – tot niet maak nie.

Maar heeltemal so eenvoudig is dit nie. Reeds met die oorgangsgrondwet skryf Cachalia, Davies, Maduna en ander in hul baanbrekerswerk oor die nuwe Grondwet, Fundamental Rights in the New Constitution, dat 11 amptelike tale onprakties is, en dat dit waarskynlik daartoe sal lei dat daar uiteindelik net een sal wees.

Die 11 amptelike tale was ’n voorstel van die ANC-onderhandelaars tydens Kodesa, toe dit geblyk het dat die Afrikaanse onderhandelaars nie sou swig om Engels die enigste amptelike taal te maak nie, soos wat byvoorbeeld in Namibië gebeur het. Die konsep van 11 amptelike tale is dus volgens baie waarnemers ingedwing om diegene wat op Afrikaans se amptelike status aandring, met ’n “onwerkbare” feit te konfronteer.

Die oorgangsgrondwet het egter ’n bepaling bevat dat geen taal se regte minder gemaak mag word as wat dit voor die inwerkingtreding van die Grondwet gehad het nie. Hieraan het die ANC-regering hom bloedweinig gesteur, sodat Pansat gou bevind het dat die regering self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings is.

Met die opstel van die nuwe Grondwet was die ANC egter onwrikbaar – daardie bepaling dat ’n taal se regte nie verminder mag word nie, moes en het in die slag gebly.

Onregstreeks kan wel afgelei word dat die Grondwet steeds bedoel dat amptelike tale nie sonder meer op sigself geskrap kan word nie, en allermins deur ’n mindere wet. Artikel 6 (2) van die Grondwet bepaal byvoorbeeld dat die regering inheemse tale aktief moet bevorder. Dit sluit immers Afrikaans ook in. Artikel 6 (4) het wye bepalings oor hoe die amptelike tale op gelyke behandeling geregtig is.

Ook artikel XI van die grondwetlike beginsels waarop toekomstige Grondwette van Suid-Afrika geskoei moet wees, bepaal dat taal en kultuur erken sal word, en dat omstandighede vir hul bevordering geskep moet word.

Ook artikels 30 en 31 in die Handves van Menseregte verleen regte wat taalgebruik betref.

Teen hierdie agtergrond is dit bykans ondenkbaar dat Sansa (en ander instellings) ’n sekondêre wet so kan uitlê dat dit die grondwetlike bepalings afskaf.

Daar is immers ’n grondwetlike beginsel dat regte in die Handves van Menseregte deur onder meer gewone wette beperk kan word (asook ander faktore soos waar verskillende regte van verskillende mense in konflik met mekaar kom), maar dat daardie beperkings nooit van so ’n aard mag wees dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie. Die regering se beleid van affirmative action (wat nie met regstellende optrede verwar mag word nie), spruit immers uit die Handves van Menseregte se verbod op onbillike diskriminasie. Affirmative action is as ’n beperking van daardie reg ingebring. Die wyse waarop dit in werking gestel word, of dikwels in werking gestel word, laat dit egter dikwels lyk of dit die diskriminasieverbod heeltemal tot niet maak.

Die eerste prys is dat Sansa besef hoe hy Afrikaanssprekendes, onder wie van die land se voorste wetenskaplikes, in die tande skop. Die behoefte aan Afrikaanse ruimtenuus blyk daaruit dat die RSG-program, Sterre en Planete, tradisioneel een van die gewildste programme op RSG is.

Uiteindelik mag dit egter dalk nodig wees om die uitgerekte proses van ’n hofsaak aan te pak. So iets druis egter teen die konsep dat ’n grondwet in die hart van mense moet groei.

Maar intussen is Sansa se planne nie die manier waarop mense respek en liefde vir ons Grondwet sal ontwikkel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Gebaretaal Sansa? Julle weet wat ek vir julle gaan wys !!

Therese van Schalkwyk ·

Die Grondwet is net iets werd as die regering en ander instansies hulle daaraan steur, en dit gebeur eenvoudig nie. Haglike toestande in staatshospitale en vuil water in krane is slegs twee voorbeelde van hoe basiese menseregte geskend word…Grondwet of nie.

In hierdie geval is die optrede van Sansa egter onbegryplik en ‘n skreiende, blatante onreg. Wanneer intelligente wetenskaplikes, onafhanklik van die ANC-regering, so willens en wetens ‘n wetenskapstaal soos Afrikaans en sy gebruikers ignoreer, laat dit ‘n wrang smaak in die mond. Met wraakgedagtes in my geval, want Sterre en Planete is ‘n groot gunsteling. Herman Toerien, jy en ander wat invloed kan uitoefen, sal asseblief met hierdie mense om ‘n tafel moet gaan sit en antwoorde eis. Dis absoluut verregaande en ek glo nie ons klagtes hier gaan enigiets uitrig nie.

Weet nie of ek dit net misgekyk het nie, maar daar is geen beriggewing hieroor op Netwerk24 nie. (Dalk nie belangrik genoeg nie, want 7 ander van die 11 tale word saam met Afrikaans uitgesluit? Afrikaanssprekendes reken mos moorde op witmense is nie so erg nie, want swartmense word ook vermoor.) Jammer, ek moes dit net van my hart af kry.

Verder, Prof. Wannie Carstens waarsku kort-kort dat aggressie Afrikaans se saak benadeel, maar ek sien ook nie dat die huidige benadering veel vrug oplewer nie. Hy sê self hierdie is ‘n stap agtertoe vir Afrikaans, en ek voorspel nog vele. Kry dan vir Michael le Cordeur om die taal se saak te veg as wit gesigte dit nie mag doen nie. So kan dit egter nie aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.