Nuuskommentaar: Afrikaanse bedoelings steeds ge-“convert”

"Convert"

“Convert”

In Engels is daar ’n woord wat veral in die digitale era soveel betekenisse gekry het, dat dit moeilik is om dit met ’n enkele Afrikaanse woord te vertaal, naamlik “convert”. Dit het veel meer betekenisse as net “bekeer,” en word onder meer ingespan om een geldeenheid se waarde in ’n ander geldeenheid uit te druk, om Fahrenheit na Celsius om te reken, tydsones om te skakel, een woordverwerkersprogram na ’n ander om te skakel, en selfs teks wat alles in hoofletters was, na kleinletters met hoofletters op die regte plekke om te skakel.

Deur Google kan nou vir ’n groot verskeidenheid tipe omskakelings “converters” opgeroep word.

Die “converter” wat egter nié ge-“Google” kan word nie, is die een wat ingespan word om dit wat Afrikaanssprekendes, en veral Afrikaners bedoel, outomaties na iets anders te “convert”. Diep vooroordele is dikwels onderliggend hieraan, maar ook te dikwels blote moedswilligheid. Die gevolg is dikwels ’n voorstelling van mense wat ongenaakbaar dwars en onregverdig is, of ’n tipe karikatuur-uitbeelding.

’n Onlangse rubriek van Max du Preez, “Identiteit is nie etnisiteit”, is deur lesers in hul kommentaar onder meer as langdradig, onverstaanbaar en vol eie ek beskryf. Hierdie kommentaarskrywer tel onder diegene wat nie seker is of hy mooi agter die kap van Max se byl kon kom nie. Die indruk is egter deurgaans gekry dat Max werklike Afrikanerdenke “convert” na iets wat nie bedoel is nie.

Uit die volgende sinne kan afgelei word hoe Max die stryd van pro-Afrikaanse groepe en mense by Maties beskou: “Maar toeganklikheid vir almal en ’n verwelkomende kultuur op die kampus is nou ’n prioriteit. Dit kan in 2016 nie onderhandelbaar wees nie.

“Die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch sal hierby moet inpas, nie andersom nie. Geen demonisering van mense wat só dink as hensoppers, gatkruipers, oorlopers of uitverkopers gaan dié harde werklikheid verander nie, al word dié etikette ook hóé vermaaklik en met vernuftige woordgebruik deur wie ook al uitgedeel.”

Tot wat “convert” hy dan die bedoelings van diegene wat bloot gelykberegtiging vir Afrikaans by die laaste Afrikaanse universiteit in die oorwegend Afrikaanssprekende Wes-Kaap wil behou? Word “gelykberegtiging” nie te maklik na “Afrikaanse dominansie” en taaldiskriminasie teen Engels ge-“convert” nie?

AfriForum is onder meer deur prof. Anton van Niekerk by herhaling van dinge en motiewe deur “conversion” beskuldig toe dié organisasies die US hof toe geneem het om sy eie beleid van gelykberegtiging toe te pas. En om in terme van die land se grondwet op te tree. En het die sake gewen.

Seker die ergste geval van “conversion” die onlangse aantal jare was die Afrikaanse beriggewing oor wat tydens die Solidariteit Beweging se eerste krisisberaad (wat uiteindelik op Plan B uitgeloop het) te berde gebring is. Hoeveel moedswil of onkunde onderliggend was daartoe dat beraadgangers gevoel het dat die joernalist(e) wat oor die geleentheid verslag gedoen het, ’n ander beraad moes bygewoon het as waar hulle was, sal seker nooit bepaal kan word nie. Breedweg is omtrent enigiets wat na selfhelp geklink het tot onafhanklike volkstate “convert” en deur lokvaljoernalistiek is prof. Marinus Wiechers so ver gekry om onafhanklike volkstate as ongrondwetlik af te wys.

Die betrokke koerant het ondertussen ’n nuwe redakteur gekry, en dit lyk of “conversions” van hierdie aard, en die hele Puk-Nazi-saluut-tipe beriggewing nie weer sal gebeur nie.

Nie net AfriForum nie, maar Solidariteit word dikwels in geskrifte van lede van die Seunse Weenkoor (wat ’n dame of twee insluit) beskryf as iets wat lynreg staan teenoor dié organisasies se verklaarde en gepubliseerde beleid. Uit die weeklaaggeskriffies klink dit asof daar nog geen beweging was sedert die dae van die Mynwerkersunie nie, toe gans ander wette boonop van toepassing was.

Die “conversions” kom nie net uit “eie” geledere nie. By geleentheid het Beeld ’n onderhoud met Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC gevoer, en is Mantashe gevra na die opsie van selfbeskikking vir die Afrikaner. Mantashe het “Afrikaner” dadelik na “blank” ge-“convert” en die opsie afgewys. Kortom, dit is ’n ou laai van die rasbenepe ANC om enige poging vir die opneem van minderheidsregte as “rassisties” af te skiet. Dis so belaglik deurdat syfers toon dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie.

Natuurlik kan nie net vinger gewys word nie. Daar is diegene in “eie geledere” wat help skep aan ’n beeld van die Afrikaner wat maklik gedemoniseer kan word. Die internet bied boonop aan hulle ’n spreekbuis sonder weerga. Dit skep die geleentheid vir stereotipering wat so mildelik in die “converters” ingespan word om mense en hul bedoelings anders voor te stel as wat dit werklik is.

En dis nie asof die land hierdie “conversions” nodig het nie. Die land het enorme probleme, met seker die jongste Zuma-gedrewe krisis dat pres. Jacob Zuma meer stemme vir die ANC gevra het om die grondwet te kan verander. Dis al manier waarop dinge in die land kan verander (lees “convert”) na iets anders – vermoedelik ’n sosialisties-kommunistiese staat wat hy onlangs nog as die ANC se doelwit beskryf het.

Ons moet almal bedag wees daarop dat ons nie deur woorde en optrede stereotipes versterk nie – dit gáán teen ons gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Frederik ·

Ja, Nammawan het wel genoem dat die ANC besig is om Suid Afrika na ‘n kommunistiese staat te “convert”.
Net die week daarna daag hy toe op by die Wêreld Ekonomiese Forum en vertel vir die beleggers daar hoe ‘n goeie beleggersmoondheid Suid Afrika is.
Ek dink ‘n besoek aan ‘n kopdokter sal hom meer goed as skade doen.

Xa ·

Riaan op jakaranda fm kan Afrikaners so sleg afmaak, so ook Christinne. Hy doen dit so subtiel maar doelbewus dat ek al gewonder het of daardie radiostasie nie dalk n groter doel het as net ligte musiek nie?

Genie ·

Ek stem saam met jou. Ek het so twee jaar terug ‘jacaranda fm’ vaarwel geroep, en het hulle nog glad nie gemis nie!

Rupert Ashford ·

Herman, elke keer as jy ou Max lees, moet jy onthou waar hy vandaan kom en hoeveel haat hy nou nog in hom ronddra teenoor die boere van ouds. Dit lyk of hy hulle nog steeds as die vyand sien selfs na al die klappe wat hy al van die hedendaagse meesters gekry het. ‘n Tipiese sg “usefull idiot” wil dit voorkom. Mens moet sulke ouens eintlik seker jammer kry want dit lyk of sommiges nooit leer nie.

Armando ·

Herman man, ek het hier ‘n oeroue HAT wat jou “convert” in ‘n verskeidenheid Afrikaanse woorde kan vertaal. Jy moet dit net gebruik, sien, dan sal dit deur andere ook sinvol gemaak word. Ons verwag beter van jou.

koos ·

Daar is 2 groepe nasionaliteite in ons land wat daaop teer om te convert dit kom al van baie jare gelede dit gaan ook gepaard met geldmaak. Nog altyd afgehang wie aan bewind was. Na die vryheids oorlog is die engelse aangehang, daarna convert hulle na 1910 na die afrikaner party 1933 help hulle die sukkelende boere om verder skuld te maak. Met die nat/ sap era convert hulle na die nattes en in 1994 convert hulle met n groot spoed na die anc nou maak julle sakke vol geld . So convert/convertion sal nooit uit die afrikaanse taal verdwyn nie

John ·

Ons rolprent- en tv-vervaardigers is van die grootste sondebokke wat blykbaar sg ‘polities korrek’ probeer wees, wat dit ookal beteken. Die Afrikaners speel deurgaans die boef, verkragter of onderdrukker terwyl die anderskleuriges die arme skape ter slaging gelei, uitbeeld. Die akteurs is so hardop vir werk dat hulle maar saamspeel. Miskien kry hul makliker borge of glo hulle, hul gaan die produkte ook in die buiteland versprei kry, dit ten koste van die waarheid. Alles vir geld. Mnr Du Preez het skoon vergeet van sy vaal koerantjie van destyds met sy ‘one man band’. Nou is hy ‘n groot politieke kenner. Hy was destyds ‘n soort wit Julius tov van sy uitdagende kritiek oor alles wat ‘n NP-klankie durf he. Dalk hou hy ok maar net van skok en aandag trek. Maar al hierdie slimmighede bring verwronging soos die sirkusspieel wat die werklikheid in belaglikheid ‘vertaal’/verdraai.

Xa ·

Goeie voorbeeld is daardie “vrystaat” fliek wat lyk my die Afrikaner wil sleg se, ou ou koeie bly uitgrawe.

Dirk Breytenbach ·

Convert of converters kan ook beskryf word as mantel draaiers, twee gat jakkalse of werf bobbejane. Oor Max is daar weinig meer te se, hy het sy rak leeftyd bereik en sy rekord deur homself geskep en spreek vanself. Die anc convert daagliks sake van landsbelang en dit raak ook nou al eentonig. Dit sal voordelig wees as ons kan fokus groep belange met of sonder al die “bekeerdes” ingesluit alle Afrikaanses of die engelse komponent van die blanke minderheid. Ons aandag word afgelei deur die identiteit loses in ons samelewing waar ons al ver kon gevorder het met Plan B. Moenie verder tyd mors met sulke mense nie!

Roger ·

Ek het altyd gedink dat bitterballen ‘n Nederlandse versnapering is, todat ek Max du Preez se braaksels raakgelees het.

Paul dB ·

Ek sal natuurlik eerder die woord omskakel of verdraai gebruik as convert! Hou glad nie daarvan om Engels so in te vorseer in my taal en dan te maak of daar nie ‘nwoord in Afrikaans is wat gebruik kan word nie. So al asof Afrikaans dan nou minderwaardig is??

LouiseB ·

Ek sou ‘convert’ met oorskakeling of omskakeling vertaal

Johannes Meintjes ·

Effektiewe misleiding, verwarring, breinspoeling en persoonlike uitverkoopde onverskilligheid onder die Afrikaner dra by tot ‘n verlies aan identiteit en die afsterwe van die wil om as Volk met ‘n rol tussen ander volke, tale, nasies en stamme te presteer. Bloeiende en kermende ploeter ons voort en pik-pik tussen die bont hoendertjies.

Hendrik ·

Op hierdie staduim word alles teen on gebruik. Ons is die teiken a.g.v die huidige bestel se mislukkings. Dit maak eintlik nue saak wat ons sê of doen nie ons eord geteiken. Die belangrikste is dat ons Plan B moet versnel om ekonomies selfstandig te raak en dan sal die res self volg. Die res meen ek … selfbeskikking.

Armando ·

Ek stem, Hendrik, daar is definitief ‘n komplot om ons as die sondaars en aanvallers uit te beeld. Die res word altyd, in flieks, verhale, TV, en alles wat fiksie is, as die lydendes voorgestel. Intussen word ons mense daagliks vermoor, ou mense op plase en jongmense wat onskuldig gaan wandel, gemoor. Wanneer gaan ‘n klomp jong swartes planmaak om sulke weerloses te beskerm, en vir die wêreld wys dat hulledit doen? Nee, hier moet ons jonges Soweto toe gaan om daar te bid en psalms te sing ter wille van versoening. Wanneer kom versoening van die ander kant?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.