Nuuskommentaar: Afrikaanse Taaldag: Afrikaans in die loopgraaf?

afrikaans is skerpLeef ‘n taal in die harte van mense, of op die wetboek?

Talle vrae en stellings hang in suspensie in die lug op Afrikaanse Taaldag wat vandag gevier word.

Miskien moet meer konkreet gekyk word. Leef ‘n taal nie eers werklik as dit in al sy vorme gebruik word nie – die gewone gesprek, die lesing, die Facebook-inskrywing, die brief aan die munisipaliteit of mediese fonds, die koerant, die gedig, boek en die nuuskonferensie nie?

Kan ‘n taal werklik oorleef as iemand knaend ‘n vrag politieke en ander bagasie daarop laai? Wanneer persepsies oor die taal in sy maai in skeefgetrek word?

Die keuse van 14 Augustus as Afrikaanse Taaldag het sy herkoms in die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl. Hierdie taalbeweging het ten spyte van bekende name en merkwaardige werk nie die pas kon volhou nie, en dit het eers ‘n tweede Afrikaanse taalbeweging gekos om Afrikaans ‘n volwaardige plek onder die son te laat inneem.

Die moeilikheidsgraad om destyds Afrikaans tot sy reg te laat kom, blyk daaruit dat Nederlands eers in 1882, sewe jaar na die stigting van die GRA, amptelike status in die Kaapse parlement verkry het. Die fokus op regte vir die Afrikaans en die Afrikaner is destyds nog eers in ander loopgrawe geveg.

Dit het op 8 Mei 1925 ‘n amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika geword. Selfs net ‘n oppervlakkige kykie deur ‘n ou boekrak bring aan die lig dat Afrikaans ‘n dekade later reeds oor ‘n byna volledige reeks literatuur beskik het, wat die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling ingesluit het. Daardie vertaling het van soveel gehalte getuig dat die nuwe Bybelvertaling waaraan nou gewerk word – die direkte vertaling, beduidende dele woord vir woord identies is.

Skrywers en uitgewers het groot opofferings gemaak en self waagstukke aangegaan, sodat Afrikaans kort voor lank byna alles, van Afrikaanse ensiklopedieë (weliswaar meestal vertaal), boeke oor argeologie, en akademiese handboeke kon hê.

Vandag is dit nie so maklik om die vraag te beantwoord of Afrikaans onder druk is nie. Prof Wannie Carstens, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, neem in Beeld die kwessie onder die loep onder die opskrif, Het die klok vir Afrikaans gelui?

Daar word gereeld opgegee oor hoe goed Afrikaanse kunstefeeste bygewoon word. Sommige Afrikaanse sangers doen goed, en enkele Afrikaanse skrywers kan bekostig om heeltydse skrywers te wees.

Dit is ook nie so eenvoudig om te sê die skrif vir Afrikaans is aan die muur weens die dalende lesersgetalle van Afrikaanse koerante nie. Dit is minstens deel van ‘n internasionale verskynsel waar die gedrukte koerant onder druk is, met ‘n opmars in die digitale wêreld. Sommige koerante daag hul eie bestaansvermoë uit deur ‘n redaksionele politieke en ideologiese beleid wat hulle van lesers vervreem.

Ongelukkig is die suksesse van Afrikaans net deel van die totale prentjie.

Sommer vroeg in die nuwe bedeling het die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) bevind dat die regering self die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings is. In dié opsig leef Afrikaans in leeuwêreld. Kort-kort is daar berigte dat staatsamptenare – ook in die Wes-Kaap waar meer as die helfte van die inwoners Afrikaanssprekend is, vir bevordering en prestasiebonusse gediskwalifiseer word omdat hulle hul merieteverslae in Afrikaans opgestel het. Aanvanklik is Afrikaanse amptenare van Statistiek Suid-Afrika deur die destydse statistikus-generaal belet om selfs onderling per e-pos met mekaar in Afrikaans te mag korrespondeer. Vrystaters mag steeds net FS op hul nommerplate gebruik meer as ‘n dekade na Pansat bevind het dat so ‘n bepaling ongrondwetlik is.

Die toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak was onlangs weer onder die vergrootglas. Verskeie rektore, waaronder prof. Adam Habib, het gesê daar is “regse” Afrikaners wat die grondwetlike taalregte “misbruik” om in wese apartheid op kampusse te behou. Hulle verloor uit die oog dat meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes in die land nie wit is nie. Voorts impliseer dit tog dat die transformasiebeleid wat hierdie kritici dryf noodwendig ongrondwetlik moet wees.

Voorts hou sommige rektore vol dit is in almal se belang dat onderrig in Suid-Afrika van so vroeg moontlik in Engels aangebied word, ten spyte van die een internasionale studie na die ander wat daarop dui dat moedertaalonderrig, veral in die grondslagfase, die beste is. Trouens, dit word tot so ‘n mate as die internasionale norm aanvaar dat dit as eksplisiete motivering dien vir die internasionale reg se aandrang op moedertaalonderrig op alle vlakke.

Daar is nou ongeveer 6 800 tale wêreldwyd. Volgens Unesco gaan 90% van hierdie tale oor die volgende 100 jaar moontlik verdwyn. Volgens ‘n ander bron is daar nou 7 105 tale en is Afrikaans 126ste grootste.

In 2008 was net 9,6% van Suid-Afrika se sowat 12 miljoen leerlinge Afrikaans, na hulle ‘n jaar tevore nog 2,4% meer was.

Die sakewêreld is ook leeuwêreld. Onlangs moes ‘n Afrikaanssprekende wat aansoek gedoen het vir ‘n pos by ‘n Afrikaanse dagblad, en waarvoor vaardigheid in Afrikaans as vereiste gestel is, tot sy verbystering by die personeelagentskap verneem hy moet sy CV in Engels inhandig, omdat die “taal van die sakewêreld” Engels is. ‘n Bejaarde dame moes by haar jarelange mediese fonds verneem sy moet haar telefoniese navrae in Engels rig, want daar is “niemand” by die mediese fonds wat Afrikaans verstaan nie. Gefrustreerde bankkliënte loop hulle gereeld in soortgelyke rondes vas, ook in takke wat in oorwegende Afrikaanse woonbuurte geleë is.

Ook op die politieke terrein is dit grootliks leeuwêreld. Oor die ACDP is al gesê dat die LP wat die aanstellings van mediaskakelbeamptes doen besonder talentvol moet wees om in die Wes-Kaap, wat grootliks Afrikaans is, so ‘n langs rits aanstellings te kon doen wat nie een Afrikaans magtig was nie.

Ook die DA gee redes soos te min geld en te min personeel aan oor waarom alle nasionale mediaverklarings nou net in Engels uitgereik word.

Dikwels word gesê Afrikaansprekendes is hul eie grootste vyand. Hulle stig ondernemings met slegs Engelse name. Dit is trouens tragies om na ‘n paar jaar weer deur ‘n tipiese klein plattelandse Afrikaanse dorpie te ry. Weg is die Afrikaanse name soos “Instapkafee” en vervang met eksotiese Engelse name. ‘n Afrikaanse rubriekskrywer wat werklik die woorde laat wip se inskrywings op sy Facebook-blad is byna alles net in Engels.

Ja, in die kuberruim leef vloei Afrikaans uit die toetsborde van baie, maar ai, die spêling is dukwils firskruklek.

‘n Tweede linie vrae handel nie soseer oor die taalreg self nie, maar oor die regte van taalsprekers.

Ten spyte daarvan dat die grondwetlike liggaam, die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe daarop dui dat sulke gemeenskappe oor meer regte as net taal-, godsdiens- en kultuurregte beskik, ook gerugsteun deur die volkereg en artikel 235 en ander bepalings van die grondwet, is selfs net die aanspreek van die onderwerp vreeslik politiek-inkorrek. Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantshe, het boonop dit duidelik gemaak dat daar geen sprake van minderheidsregte vir Afrikaanssprekendes kan wees nie.

‘n Duidelike onderskeid getref tussen “links” en “liberaal” soos wat Flip Buys, hoof van Solidariteit onlangs in Maroela se Groot Debat uitgewys het.

In veral Europa word minderheidsregte as integrale deel van menseregte beskou, en was van die voorste liberale, soos wyle Max van der Stoel, een van die grootste kampvegters vir minderheidsregte.

Elkeen kan ‘n deeltjie doen, deur by Afrikaanse kultuurorganisasies aan te sluit, of by burgerregte-organisasies soos AfriForum. Dan kan Afrikaans lééf.

Vandag is ook Afrikaanse Boekedag. Die idee hiervan is dat almal vandag ‘n Afrikaanse boek of e-boek sal aanskaf ter ondersteuning van Afrikaanse skrywers en uitgewers.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Elizabeth ·

Dankie Maroela – ek wil hardop saamskree met die laaste paragraaf! Koop vandag ‘n Afrikaanse boek! Ondersteun jul taal!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.