Nuuskommentaar: Afrikaanse Taaldag

Susan Lombaard vertel so bietjie meer van die herkoms van 'n paar interessante Afrikaanse woorde. Foto: kknk.co.za

Susan Lombaard vertel so bietjie meer van die herkoms van ‘n paar interessante Afrikaanse woorde. Foto: kknk.co.za

afrikaansVolgens Unesco kan ongeveer 90 persent van die sowat 7 000 tale in die wêreld binne die volgende 100 jaar verdwyn. Gaan Afrikaans een van hulle wees?

Presies ’n jaar gelede het Maroela ook die stelling gemaak dat talle vrae en uitsprake oor Afrikaans en die toekoms van die taal in die lug hang. Sedertdien is die aanslag verskerp en is Afrikaans trouens dieper daarin ingesleep om as taal in die politieke kookpot gebraai te word. Die institusionele aanslag duur voort, sterk “gerugsteun” deur groot ondernemings wat nie meer ’n diens in Afrikaans aan hul tradisionele kliëntekorps en selfs aandeelhouers wil en kan bied nie.

Onder die groot teleurstellings van die afgelope jaar was onder meer die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap wat besluit het om “Afrikaans uit die grondwet te steel” deur net Engels, SePedi en Zoeloe as amptelike tale te gebruik. (Dit terwyl Afrikaans die enigste Afrikataal is met ’n ruimteterme-woordeboek). Skynbare leemtes in die grondwet en die taalwet word hiervoor ingespan.

Hierby het die rektor van Kovsies sy steun toegesê aan ’n eis dat Engels die enigste onderrigmedium word. Terwyl die konsultasieproses aan die gang is, het meer as 6 000 studente reeds ’n petisie onderteken om  hul voorkeur vir die behoud van Afrikaans te toon.

In Stellenbosch dui ’n groepie “Engelssprekende” studente aan hulle versmoor as Afrikaans in die klaskamer gebruik word. Die groepie gebruik ironies die naam “Open Stellenbosch” terwyl hulle op ’n geslote Engelse instelling aandring, ’n hanetreetjie van verskeie uitsluitlik Engelstalige universiteite.

By die pas-afgelope Bloem Show was al die amptelike aanwysingsborde net in Engels (met ‘n paar komiese spel- en taalfoute). AfriForum het die departement van landbou pas voor stok gekry oor wat as leuens beskryf is om die verengelsing van die Grootfontein-landboukollge by Middelburg te motiveer.

By Elsenburg-landboukollege maak AfriForum sy stem dik oor ’n skynbare geneigdheid om ’n groepie studente wat op slegs Engelse onderrig aandring, ter wille te wees. Die hele instelling se onderrig en die veiligheid van personeel en studente ly onder hierdie skynbare slaprughouding.

Nie almal is egter mismoedig oor die toekoms van Afrikaans nie. Die baie suksesvolle Afrikaanse boeke wat jaarliks die lig sien, Afrikaanse liedere en kunstefeeste dui op ’n groot ondersteuning van Afrikaans. Van die kunstefeeste het egter al so erg geswig onder druk van gasheerdorpe, borge en ter wille van politieke korrektheid, dat dit nou eerder multi-kulturele gebeurtenisse is as Afrikaanse kunstefeeste.

Vandag is ook Afrikaanse boekedag. Die doel van hierdie veldtog is om mense aan te moedig om op hierdie dag ’n Afrikaanse boek (of deesdae ’n e-boek) aan te skaf. Sodoende word die skrywers en uitgewers van ’n voortbestaan verseker.

Dis elkeen se keuse om positief of swaarmoedig oor die voortbestaan en uitleef van Afrikaans te voel.  Mense verskil oor vrae oor of ’n taal kan voortleef as dit sy amptelike status en hoër opvoedkundige funksies verloor asook of ʼn blote leef daarvan in die volksmond, gerugsteun deur boeke en kunste, voldoende is.

Dit word bepaal deur wat met die voortbestaan van Afrikaans bedoel word. Bedoel ons iets wat duidelik deel van die Dietse taalfamilie is en dus sekere gemeenskaplike reëls sal hê, soos spelwyses? Of bedoel ons iets soos dit wat ons in kommentare in sosiale media sien – “spêling” en woordgebruik wat taalpuriste in koue sweet laat uitslaan? Daar waar ons knaend die een of ander awesome show ge-“dig” het?

Boonop loop daar ’n baie diep politieke faktor deur Afrikaans. Die ATKV, byvoorbeeld, lê baie klem op die natuurlike vennootskap wat daar tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes behoort te bestaan. Plek-plek word die rug gebuig om Kaaps volwaardig deel van Standaardafrikaans te maak. Het van die voorstanders al regtig na gesprekke in Kaaps geluister en gaan optelsommetjies maak oor hoeveel Afrikaanse woorde deur Engelse woorde vervang word?

Oor die vraag of daar wit en bruin samespanning rondom Afrikaans moet wees, is daar egter nie twyfel nie. Die afgelope aantal jare was daar ’n skerp verskuiwing van bruin stemme weg van die ANC en veral sedert 2009 volgens die Wes-Kaapse ANC-leier, Marius Fransman. Die redes hiervoor is taamlik duidelik. Dit hou deels verband met die era toe dit mode geword het om lid van die NP te wees, waar die wegfilter na die samesmelting met die ANC effe stadiger geskied het as by tradisionele blanke NP-ondersteuners.

Voorts was daar die Jimmy Manyi-stellings oor die “oorverteenwoordiging” van bruin mense in die Wes-Kaap wat die ANC nie afgeskud kan kry nie. Die ANC-regering appelleer byvoorbeeld oor die uitspraak in die DKD-Solidariteitsaak oor nasionale kwotas en het dieselfde beginsels nou in die nuwe visvangkwotas ingebou. Dit raak taamlik onverstaanbaar hoe ’n bruin persoon die ANC kan steun tensy hy erg masochisties is.

Kortom, die politieke gaping tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes het sodanig vernou dat minstens ’n mate van samewerking moontlik is.

Dit is egter ook duidelik dat die rol van die “self” groter sal word met die handhawing van Afrikaans. Maroela het byvoorbeeld pas berig oor lede van die Vereniging van Afrikaanse Wiskundeonderwysers en Solidariteit se Helpende Hand wat saamspan om  Wiskunde-hulpgidse in Afrikaans te vertaal nadat die departement van basiese onderwys dit net in Engels beskikbaar gestel het.

En frustrasies gaan daar onderweg wees. Vra maar vir Chris Chameleon wat by sy jarelange bank, ten spyte van ondernemings tot die teendeel, nie in Afrikaans gehelp kon word om ’n probleem met sy bankrekening op te los nie. Hy het op sy bakkiesblad hieroor geskryf en die bank het kennis geneem en onderneem om die probleem reg te stel.

Kortom, ons kan konformeer tot ’n posisie waar ons taal ʼn vreemde (en ongewenste) taal sal wees, of ons kan skouer aan die wiel sit en ons sake so beplan waar ons die mees Afrikaans-vriendelike diens sal kry.

Ter wille van ons grondwetlike reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Die interessante punt wat gemaak word is wat met die voortbestaan van Afrikaans bedoel word. Ek kan nie sien dat Afrikaans oor 150 jaar dieselfde Afrikaans gaan wees as vandag nie. Daarvoor word daar deesdae al hoe meer Engelse woorde tussenin gebruik deur die meerderheid Afrikaans sprekendes om een rede te noem. Nuutskeppinge is ‘n tweede rede. Gaan lees Afrikaans van 100 terug en jy sal die woorde nie herken nie. My kinders lees partykeer ou afrikaanse boeke en verstaan baie woorde daarin glad nie. Dit word net nie meer gebruik nie. Maar die taal sal nog ‘n aparte taal wees vir ‘n lang tyd.

En dit is goed om die Bruinmense in te sleep in die taal stryd. Al praat hulle nie dieselfde Afrikaans as ons nie (sal ons dit ‘n dialek noem), is die raakpunte groot genoeg.

johan ·

Afrikaans sal nooit uitsterf nie, al is sekere uitsprake en woorde anders as 100 jaar terug. Die land is Suid Afrika en daarom is dit net gepas om afrikaans te praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.