Nuuskommentaar: Afrikaner en ander minderhede in die verkiesing

Argieffoto

Argieffoto

Te midde van die Nkandla-skandaal en ander kwessies wat ‘n aanslag teen die ANC se onaantasbaarheid loods, het ‘n kwalik opgemerkte stukkie fynskrif algaande die status van vetdruk begin verwerf – die rol van die Afrikaner en ander minderhede in die komende verkiesing.

Die elemente daarvan was al ‘n geruime tyd teenwoordig, maar is politiek-korrek ander baadjies aangetrek, maar met die bekendmaking van die Vryheidsfront Plus se kandidatelys, was daar ‘n paar name teenwoordig wat die kwessie vierkantig op die voorgrond plaas.

Die Afrikaner staan egter nie alleen nie – ander minderheidsgemeenskappe staan agter dieselfde deur, en besef dit heel dikwels ook. So het Peter Marais, ondervoorsitter van die Bruin Belangebeweging (BBB) die onlangs ‘n vergadering toegespreek wat deur Sunette Bridges gereël is.

Die sigbaarste bly egter die insiggewende name op die VF Plus se kandidatelyste. Veral drie name van mense wat prominent by die DA betrokke was, en ampte in die party beklee het, trek die aandag. Hulle is Pieter Vorser, wat ook as AB-leier bedank het om die AB nie by partypolitiek in te trek nie, dr. Laurie Bosman, voormalige president van Agri SA en die oud-omroeper, Niekie van den Berg.

Hul name op die VF Plus se kandidatelys is meer as net ‘n paar name. Elkeen van hulle verteenwoordig ‘n stel beginsels, en in die besonder Afrikanerbeginsels, en impliseer op die oog af dat daar nie meer plek vir daardie beginsels in die DA is nie.

Die DA se formele reaksie was om die kwessie as nietig af te maak – ‘n klompie individue wat in elk geval laag op die DA se kandidatelys was. Sedertdien is daar, onder meer in die briewekolomme van koerante, ‘n skynbare veldtog om die “oorlopers” te diskrediteer. Die DA self is waarskynlik nie formeel hierby betrokke nie.

Die kwessie is egter nie heeltemal so eenvoudig soos oorlopery nie. Vorster is geen oorloper nie. Hy was voorheen as DA-lid in munisipale politiek betrokke, maar was al ‘n geruime tyd buite die politiek. Bosman is spesifiek vir die DA gewerf om die moeilike landbou-portefeulje te handhaaf, maar is baie gou daaruit verwyder. Van den Berg se besware oor die DA se gesindheid teenoor Afrikaans kan in die lig daarvan dat die DA nasionale mediaverklarings bykans altyd net in Engels uitgereik word nie sommer weggepraat word nie.

Geen politieke party kan lank beleidsgewys stagneer nie, omdat die werklikhede waarbinne dit bestaan, deurgaans verander. Daar kom egter ook ‘n punt waar LP’s meen die party is “nie meer dieselfde nie” en hulle verstaanbaar meer tuis in die beleidsomgewing van ‘n ander sal voel.

Wie sou byvoorbeeld dertig jaar gelede kon voorsien dat die party van dr. H.F. Verwoerd en die party van Helen Suzman later sou voel hul beleid is so eenders dat hulle as die DA sou saamsmelt?

Of dat John Vorster se party later dit gepas geag het om deur die ANC ingesluk te word “om jul stem te wees”?

Die DA hét verander. ‘n Dekade gelede het die aktivis, dr. Dan Roodt, nog lid van die DA geword, nadat hy deur dr. Tertuis Delport gewerf is. Dit was egter gou duidelik dat baie DA-leiers dit as ‘n klip in die mag ervaar het, en Roodt het by die VF Plus aangesluit, en is nou ’n leiersfiguur in die Front Nasionaal wat ook aan die algemene verkiesing gaan deelneem. Die DA se pogings om sy beleid meer aanvaarbaar vir potensiële swart kiesers te maak het al ‘n paar keer intern probleme opgelewer, soos die “vliegongeluk” oor regstellendeaksiewetgewing, en nou groot ongemak oor grondhervorming. Dit sou onnatuurlik wees as daar nie op die ander punt ongevalle sou wees nie.

Nie een van die “oorlopers” is hoog genoeg op die VF Plus se lys om seker te wees van ‘n plek in die parlement nie. Vorster, wat van buite kom is die hoogste op die lys, naamlik vyfde, terwyl die VF Plus nou vier setels het. Bosman is sesde, en Niekie nog laer af. Elkeen van hierdie drie sal sekerlik vir die VF Plus stemme bring, maar of die invloed hiervan genoeg sal wees om ‘n beduidende verskil te maak, moet nog gesien word.

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het weens die hoë koste van die deposito besluit om met hierdie verkiesing uit te sit. Heelwat van sy kiesers, wat hulle aan die konserwatiewe kant van die politieke spektrum bevind en sterk voel oor Christelike waardes, sal waarskynlik nou hul kruisies by die VF Plus gaan trek. Die CDP kon egter nog nie tot dusver daarin slaag om ‘n parlementêre setel te verower nie, en daarom kan die VF Plus ook nie noodwendig baie steun uit hierdie oord verwag nie.

Maar is die DA geneë daarmee om bloot sy Afrikanersteun prys te gee? Die afgelope week het ‘n afvaardiging van die DA samesprekings met Solidariteit gevoer. Volgens Solidariteit is ‘n robuuste debat gevoer oor die “algemene gevoel van vervreemding onder Afrikaners in dié party”. Dr. Dirk Hermann stel dit ook soos volg: “Die bal is nou in die DA se hande. Hy moet nou besluit hoe hy hom voortaan vir die Afrikanersteun gaan posisioneer.”

Die DA het nie ‘n mediaverklaring hieroor uitgereik nie, en daarom is dit moeilik om te bepaal in hoe ‘n mate die DA meer ontvanklik vir Afrikaneraspirasies sal wees. Anchen Dreyer, federale ondervoorsitter van die DA, het aan Volksblad gesê die vergadering was deel van die DA se deurlopende gesprekke met Solidariteit en ander Afrikanerinstansies die afgelope tien jaar.

Die DA is tot dusver redelik goed verskans deur ‘n opvatting wat telkemale in die sosiale media soos volg verwoord is wanneer die party weens sy standpunte oor regstellende optrede en grondhervorming onder skoot gekom het: “As ‘n mens vir nie vir die DA gaan stem nie, wie anders is daar om voor te stem?”

Moontlik is van die nuwe name op die VF Plus se kandidatelys nou genoegsame motivering om ‘n politieke sprong te maak. Slegs die tel van die stemme sal leer.

Die les is eenvoudig. Geen party kan meer by verstek en as vanselfsprekend op die Afrikanersteun as blok reken nie. Solidariteit se stem dikmakery oor sekere beleidskwessies het die speelruimte van die politiek verander, maar waarskynlik het die algemene politieke situasie in die land ook die gevoel van vervreemding in die land, soos ook deur baie bruin mense ervaar, nou vir identiteits-belangepolitiek ‘n inspuiting besorg.

Hoe ‘n groot rol internasionale tendense hierin speel is onduidelik. Venesië en omtrekke het verlede week ‘n referendum gehou oor moontlike afskeiding van Italië, Skotland gaan binnekort referendum hou oor afskeiding van Groot Brittanje, Quebec stuur weer op ‘n referendum oor afskeiding van Kanada af, die Kataloniërs maak sulke geluide, die Krim het op etniese gronde van vaderland verhuis, en Vlaandere se posisie raak al losser van België. Al hoe meer lande oefen druk op Israel uit om tot ‘n tweestaat-oplossing in te stem.

Die Afrikaner se posisie is veel komplekser, en daar is waarskynlik veel minder eendragtigheid, maar dit lyk al hoe meer of ‘n party wat Afrikaner en ander minderheidsbelange vlak kyk, met beduidende steun begin dobbel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Isak ·

Dit is tyd dat Solidariteit openlik standpunt inneem. Die DA wil hulle net gebruik om die Afrikaanse stemvee te behou. Daarna gaan die DA maak wat hulle wil, en beslis nie oor Afrikaans en Afrikaners bekommer nie. Objektief gesien is die VF en Solidariteit se beginsels dieselfde. Die VF is besig om hulle te herposisioneer op so ‘n wyse dat hulle werklik die meerderheid Afrikaners kan verteenwoordig. Die krisis is groot genoeg dat daar nou dringend saamgewerk moet word om ons mense se saak te probeer beredder. Daar is nou geen plek vir kleinlike persoonlike issues of ou koeie nie. Moenie dat ons oor ‘n paar jaar moet sê: “Het ons maar….” nie.

VerVanRyn ·

Ek het die DA in 2009 agtergelos na hulle gesukkel het om op die PUK standpunt in te kan neem teen/vir aborsie, volgens mev. Zille se toespraak destyds in die Amfi voor ‘n sweterjoel jong nuwe kiesers is die DA se siening daaroor dat almal hulle eie opinies mag hê, maar die party sal nie daaroor beslis nie. ‘n Party wat so rugraatloos is oor belangrike belsuite kan nie vertrou word nie, hulle sê wat hulle dink die meeste stemme sal lok. Hoe kan hulle vertrou word om die belange van die Afrikaner te beskerm as die belange van ander vir hulle meer stemme gaan inpalm? Nee, stem vir die VF+ en wees verseker jy stem vir jou geloof, taal, volk en kultuur.

Gerhard Kotze ·

Ek sien Solidariteit en die DA het lekker gesels volgens Beeld. Ek het nie juis n probleem daarmee nie. Waarmee ek egter wel n probleem het is wanneer ander partye soos die VF+ nie ook blootstelling kry nie d.m.v Solidariteit en die media. Enige iets anders is maar net groter ‘legitimiteit’ vir die DA en hul beleid rakende kwessies wat Afrikaners raak soos bv. die heroopstel van grondeise.

Olivier Henning ·

Afrikaners in die algemeen en Solidariteit in die besonder moet maar kennis neem van die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuku se opmerking teenoor die joernalis, Donwald Pressley, dat die DA ontslae moet raak van wit nasionaliste. Raadpleeg gerus Pressley se boek: Owning the Future – Lindiwe Mazibuku and the Changing Face of the DA.
Die tragedie is dat die Afrikaanse media hierdie opmerking heeltemal ignoreer

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.