Nuuskommentaar: Afrikanerkeuses – studente-opstande en plaasmoorde

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die nuus word steeds oorheers deur die studente-opstande, die verloop en implikasies daarvan en die Seunse Weenkoor se refrein oor gebrekkige Afrikanerdeelname. Hierdie rubriek se waarskuwing dat anti-Afrikanerkwessies in die veldtog versmelt is, is telkemale deur lesers geïgnoreer wat met die koor saamsing.

En nou? Nou blyk dit inderdaad hierdie kwessies word gedryf – Afrikaans moet waai op die handjievol kampusse waar dit nog ʼn onderrigtaal is (en die ANC gryp dit aan om weer ’n geloofwaardige voet in die deur te kry) en die aandrang op simbole wat moet waai, duur voort. Naas die Totiusbeeld wat moet waai, is die jongste eis die beeld van die eerbiedwaardige CR Swart op die Kovsiekampus moet waai. #OpenStellenbosch word openlik gesteun.

Die landbou gaan nou onder ’n baie, baie ernstige droogte gebuk en Agri SA het pas gewaarsku die droogte kan nóg werkgeleenthede in die slag laat bly en kospryse laat styg. Intussen het AfriForum aangekondig hy stuur sy grootste internasionale veldtog teen plaasmoorde van stapel. Dié veldtog sluit regsaksies teen die polisiediens in, ’n voorlegging by die VN en skakeling met meer as 5 000 media-instansies in die buiteland. Die Seunse Weenkoor swyg hieroor en so ook skynbaar die meeste van die media.

Waar, in hierdie prentjie, moet die Afrikaner se energie gestort word? Daar waar hulle skaamteloos as derdekolonners ingespan word, of daar waar die doodsaanslag pro rata drie keer hoër is as die Suid-Afrikaanse gemiddeld?

En dis ook nie asof daar nie wittes en Afrikaners met die regte gesindheid aan die studente-optogte deelgeneem het nie. Trouens, die media word verwyt omdat die omvang daarvan verdoesel word. Baie glo onwrikbaar hulle het ’n goeie slag vir wit-swart-verhoudinge in die land geslaan en dit mag uiteindelik geldig wees. Dit pas egter nie in by die kapende ANC se propaganda nie.

Maar net so is daar ’n onrusbarende stilswye uit hierdie Afrikaanse geledere oor die pogings om in die proses hul grondwetlike regte te sloop. Of is dit ook weer die stoute media wat hierdie dinamika verswyg?

Dit is ondenkbaar dat minderhede in enige land ter wêreld entoesiasties aan ’n breë aksie sal deelneem as daardie aksie ook insluit dat die minderheidsregte ondergeploeg word. Sal Katalane entoesiasties saam met Spanjaarde deelneem aan ’n aksie vir laer klasgelde as een van die doelwitte die afskaffing van Katalaanse onderrig is? Of as dit met ’n beeldebestorming van Katalaanse kultuurhelde gepaardgaan? Sal die Friese die afskaffing van Friesland as provinsie steun ter wille van ’n meer doeltreffende reorganisasie van Nederland se interne bestuur?

Is daar enige aanduiding dat die opstandige studente, as hulle eers hul sin gekry het, hul gewig teen plaasmoorde gaan inwerp?

Net omdat die ANC so vrot regeer dat die kanselier van Kovsies, dr. Khotso Mokhele, ’n paar jaar gelede tydens ’n gradeplegtigheid die jong graduandi aangemoedig het om hul spraakvryheid te gebruik om hulle uit te laat oor die verval wat hulle om hul sien, beteken nie die ANC kan onderskat word nie. Dié organisasie is meesters daarvan om kiesers ’n rat voor die oë te draai en die blaam na ander te skuif. Daar word hard gewerk om dit weer te doen.

Naïewes kan maklik in die proses die dubbele verloorders word. Terwyl plaasaanvalle en plaasmoorde voortgaan omdat dit nie met die nodige prioriteit behandel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Winston ·

Puik gestel Herman. Die ANC se magspel kry elke keer n nuwe kleur of geur. Stem saam dat plaasmoorde (net soos kabel diefstal ) as terrorisme gesien moet word en prioriteit moet kry en vinnig ook.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

115 Jaar terug was dit die Engelse wat ons nasie vermoor het meer as 250000 vrouens en kinders . Hulle het ons ekonomie geroof werk en geleendhede .Vandag is dit die ANC Elke dag gebeer dit moord roof Die Afrikaner word bloednees geslaan elke dag en doen niks . As ons die ANC so behandel het was daar lankal sanksies ingestel .

Die paashaas ·

Dagsê Mnr. Toerien. Kan u asseblief verduidelik wat u met “derdekolonners” bedoel. U gebruik die woord gereeld en ek kan nie kop of stert uitmaak wat dit beteken nie. Ek weet wat ‘n kolom is en hoe dit in die direkte vertaling van die Engelse “column” of pillar in politieke skrywes aangewend word, maar ‘n kolon is volgens my kennis iets heeltemal anders! Lig op die woordgebruik en betekenis daarvan in u skrywes sal baie waardeer word.

Marsel ·

Ek ken die woord vyfdekolonners (uitverkopers) – in die bogenoemde konteks heel moontlik politieke uitverkopers. Derdekolonners moet ‘n nuwe spesie in die politieke ekosisteem wees. In dié land word daar weekliks nuwes ontdek.

Herman Toerien ·

Dankie Paashaas en Marcel. Dit moet inderdaad vyfdekolonner wees. Die HAT beskryf die bedoeling goed en kom neer op ‘n verraderlike element in eie geledere. Ek sien egter nie ‘n verduideliking oor hoekom dit juis vyfde en nie derde is nie.

Johan ·

Ek sien derdekolonner in die geval soos ‘n derde wiel. Iets of iemand wat maar net daar is of irretasie wat jy nie weg kry nie.

Ben ·

Ek vind die konsep ‘Afrikaner’ al hoe meer problematies. Wat is n Afrikaner, en as jou definisie nie dieselfde as myne is nie, kan jy my n verraier noem? Ek is eerste generasie Afrikaans, beide ouers is in Nederland gebore. Ek het n graad in Afrikaanse literatuur, Teologie (onder andere). Ek is baie goed ingelig oor die geskiedenis en kultuur van die volk. Ek is trots Afrikaans. Ek is van voorneme om hier te bly, maak nie saak wat (Europese paspoort ten spyt). Ek maak my kinders trots Afrikaans groot, en my twee en n half en een en n half jarige kinders ken die konsepte oom, tannie, asseblief, dankie, plesier ens. En pas dit korrek toe. Na 16 jaar se elke dag met Afrikaner kinders met power maniere werk kan ek getuig dat my kinders uiters goed gemanierd is. Aangenome kinders, swart. En ek haat rugby. Ek braai nie graag nie. Julle was sekerlik met my tot die laaste drie stellings, nou kom daar twyfel. Is hy n verraaier?

Verder kla ons oor standbeelde wat vernietig word. Geeneen van my leerlinge (ek is n musiekonderwyser, klassieke musiek) die afgelope baie jare kon al met my n gesprek oor sy herkoms voer nie. Ek praat van honderde Afrikaner kinders deur my hande. Standbeeld wat? Ben ten, playstation, xbox, whatsapp, ja! Herkoms? Wat is dit? My vraag aan julle: daar is nou n veldtog teen taal en standbeeld, ons voer die veldtog met die opvoed van ons kinders al jare der jare. Hulle weet niks van niks. Ons doen meer skade as alle radikale anti Afrikaner politice gekombineerd.

Ons toekoms? As professionele fotograaf met meer as 260 troues agter die blad sê ek dit: ons teel onsself uit n bestaan uit. Ons het geld en groot karre, maar tog asseblief nie duur kinders nie. Kyk iat gebeur in Denemarke tov bevolkingsgroei.

So kan ek aangaan.

Ons is ons eie grootste vyand.

Gaan vra enige Afrikaner op straat vir n definisie van Afrikaans wees en kyk hoe hap dit lug soos n goudvis op land. En dan: braai en rugby sê dit altyd. Dan vra ek: ‘geloof? Totius? Herkoms? Taal?’

Meestal volg n verwarde stilte.

Johannes Meintjes ·

Om dieselfde pad wat oor die Drakensberg gekom het met durfmoed, volharding en voortgeset te loop onder volke, tale, naies en stamme moet ons besluit wie wat en hoe ons wil dien en leef. Terwyl ons verward, perspektiefloos, visieloos, leierloos en goddeloos terugsit sal ander dit romdom, namens en teen ons doen. Ek slaan my oge op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom, van die VN …

Bruno Stef ·

Die Afrikanervolk is uit stryd gebore ons het nie soos Zimbabwe/ Angola/ Mozambiek of Europa n ekstra Paspoort wat ons op aanspraak kan maak nie daarom is ons soos ons ouers en voorouers verbonde aan Afrika.Die Afrikaner het ontstaan uit verskillende Europese volkere wat saamgevoeg is en gesamentlik n kultuur/ tradisies en lewensbeskouinge uniek in Afrika en die wereld het. Dit is juis ons Afrikaner Patriotisme wat ander persone as n bedreiging beskou wat ons van ander mense onderskei wat kolonialiste is of was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.