Nuuskommentaar: Afrikanerlesse uit die Krim

KrimTatare 2Op die oog af lyk dit hoogs onwaarskynlik dat die Afrikaner enige les uit die Oekraïne, en meer spesifiek die Krim-skiereiland kan neem. Tog is daar heelwat raakvlakke tussen die Afrikaner en die Krim-Tatare, ‘n etniese minderheid op die Krim-skiereiland.

Die Krim-skiereiland verskil wat bevolking betref, baie van die res van die Oekraïne. Byna 60% van die bevolking is etniese Russe, en die ontsteltenis oor die rewolusie in die Oekraïne oor die uitgeskopte pro-Russiese president is dus te verstane.

Die Krim-Tatare word as ‘n inheemse bevolkingsgroep beskou. Hoewel hulle ‘n Tataarse taal praat, verskil hulle weens vermenging met onder meer Gote, heeltemal van die Hunne en ander Mongoolse invallers. Die meerderheid is wel Moslems.

Sedert die uitbreidende Russe op die toneel verskyn het, het die Krim-Tatare besonder erg deurgeloop. Hulle is onder meer deur die Kosakke uitgemoor, en later het Rusland oor dié gebied in die Kiemoorlog teen onder meer Engeland betrokke geraak toe Florence Nightingale bekendheid verwerf het. Hulle is later deur Stalin feitlik in geheel in Sentraal-Asië hervestig. Talle het na buurlande en selfs verder gevlug sodat daar ‘n groot deel van die bevolking in diaspora is. Die terugkeer na hul vaderland teen ongeveer 1980 plaasgevind. Hier maak hulle getalle nou ongeveer 300 000 uit.

Die Krim het egter intussen eintlik ‘n integrale deel van Rusland geword, wat toe saam met die Oekraïne en ander lande die Sowjet-Unie uitgemaak het.

Eers in 1954 het die Sowjet-leier, Nikita Kroetsjof, wat self in die Oekraïne gebore is, die Krim aan die Oekraïne oorgedra. Kroetsjof was self ‘n etniese Rus, en sy geboortedorp val deesdae binne Rusland. Hy het egter sy opgang in die Sowjet-politiek deur die Oekraïne gemaak, en was onder meer dié Sowjetstaat se premier voor hy as Sowjet-leier by Stalin oorgeneem het.

Historici stem saam dat die amptelike redes waarom die Krim aan die Oekraïne oorgedra is, bog is, en meer waarskynlik was om die Oekraïners, wat erg onder die Nazi-inval, en daarna Stalin-vervolging, gelei het ietwat te kompenseer.

Rusland het egter sy belangrikste basis vir sy Swart See-vloot behou. Na die verbrokkeling het die Krim as deel van die Oekraïne ‘n onafhanklike staat geword, maar self weer sterk outonomie gekry met ‘n eie parlement. Slegs ‘n baie nou seestraat skei die Krim van Suid-Rusland waar die Sotsji Olimpiese Winterspele plaasgevind het.

Die Krim-Tatare het verstaanbaar ‘n diep-gesetelde afkeer in die Russe, en saam met die etniese Oekraïeniese bevolking, baie gesteld dat die gebied nie heeltemal onafhanklik, of weer deel van Rusland moet word nie.

Waar die Tatare teen 1939 voor die repatriasie na Sentraal-Asië in veral van die suidelike streke nog meerderhede gevorm het, is daar nou nie ‘n enkele administratiewe streek waar hulle die meerderheid vorm nie (sien die kaart hierby aangeheg).

Tog het die Tatare in 1991 hul eie Kurultay (parlement) met sy eie uitvoerende gesagsliggaam, die Mejlis, gevorm. Dit het ‘n eie volkslied en ‘n eie vlag. Die Tatare het ook veertien gereserveerde setels in die Krim-parlement.

Hierdie regering oor ‘n volk, eerder as oor ‘n grondgebied, is vir talle etniese Russiese parlementslede in die Krim-parlement ‘n doring in die vlees, en dring aan daarop dat dit ontbind word, dat dit afvallig is, en ongrondwetlik is. Tog, toe die Oekraïniese moederland die pro-Russiese president uitskop en na die weste reik, het etniese Russe die parlement in die Krim beset en die Russiese vlag gehys.

Al het die Krim-Tatare ‘n verteenwoordigende liggaam is die magte daarvan so beperk, en is die diskriminasie wat ervaar word so erg  dat dié bevolkingsgroep deel is van die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO). Trouens, die Krim-Tatare is baie bedrywig binne die organisasie en kry dus heelwat meer nuusdekking in dié verband as die Afrikaner, wat via die VF Plus daarop verteenwoordig is.

Gaan Rusland in die Oekraïne, en veral die Krim ingryp?

In 2008 het Rusland inderdaad in Georgië ingegryp toe die andersoortige deelrepubliek Suid-Ossetsië binne Georgië, maar op die grens met Rusland, in opstand gekom het.

Daarna het Rusland internasionale diplomatieke druk teen die onafhanklikheid van Kosovo van die Russiese bondgenoot, Serwië, toegepas. Rusland se geskiedenis van lojaliteit aan bondgenote sny oor enige moraliteitsoorwegings, soos nou ook in Sirië gesien kan word.

Met die Olimpiese Winterspele in Sotsji aan die gang kon Rusland nie veel doen oor die opstand in Georgië en die newe-effek in die Krim nie, maar die Spele is verby, en Rusland het onverwyld reuse militêre “oefeninge” op die grens met die Oekraïne begin. Die afgesette president het klaarblyklik Moskou bereik – volgens sommige berigte juis via die Krim na hy in die pro-Russiese ooste van Georgië verhinder is. In Rusland het hy aldus die Russiese media persoonlike beskerming by Rusland gevra en gekry.

Die ooreenkomste tussen die Krim-Tatare en die Afrikaner se situasies is oorvloedig. Beide het nêrens in hul vaderland ‘n numeriese meerderheid nie.

Beide is kultureel baie anders as die getallemeerderheid om hulle. Die persepsies oor die geskiedenis verskil baie van die meerderheidspersepsie.

Beide die Afrikaner en die Krim-Tatare is as volke ook nie homogeen nie – in die geval van die Krim-Tatare word drie duidelike hoofgroepe onderskei.

Maar ten spyte van groot onderlinge verskille is die Krim-Tatare tog op die oog af polities verenig oor belangrike kwessies, en deur hul die gesagsliggaam het hulle ‘n struktuur om daaraan gestalte te gee.

Die Suid-Afrikaanse grondwet bied, hoofsaaklik deur artikel 235, soortgelyke opsies aan minderhede in Suid-Afrika. Dié selfbeskikkingsreg hoef nie noodwendig geografies te wees nie, maar kan ook korporatief – soos in die geval van die Krim-Tatare – wees.

Die groeiende steun wat burgerlike instansies soos AfriForum en Solidariteit geniet, dui daarop dat die Afrikaner tog weer as ‘n entiteit ontwaak wat sy kollektiewe goedere probeer beskerm. Binne ander minderhede is soortgelyke ontwakings.

Maar die ANC se Gwede Mantashe het reeds in ‘n onderhoud met Beeld enige sprake van selfbeskikking vir die Afrikaner buite orde verklaar. En as die Krim van die Oekraïne sou afskei, so lyk dit, sal die Krim-Tatare volledig vreemdelinge in hul eie land wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae