Nuuskommentaar: Afrikaners as Westerlinge van Afrika

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion.

Op die aand van 15 April 2019 het Frankryk toegekyk hoe die Notre-Dame-katedraal in Parys in vlamme verswelg is. Met die brandweer wat betyds ingegryp het, is dié erfenisbaken gered, ondanks die kloktoring wat meegegee het en die meeste van die dak wat vernietig is.

Daardie nag was nie net ʼn hartseer een vir Frankryk nie, maar ook vir baie ander mense en dele en van die wêreld. Afrikaners het ook daardie dag toegekyk hoe die Franse kultuurskat deur vlamme verwoes word. Hoewel dit duisende kilometer ver weg gebeur het en die meeste Afrikaners nog nooit eens in Frankryk was nie, was dit vir ons ook ʼn ongelooflike hartseer gebeurtenis.

Hoewel dit nie lyk asof die Notre-Dame vreeslik baie met ons te doen het nie, is dit fundamenteel deel van wie ons is. Die Notre-Dame is nie net ʼn Franse kultuurskat nie, maar ook deel van die Westerse kultuurerfenis.

Die “Weste” is nie beperk tot ʼn spesifieke geografiese gebied, rassegroepe, tale, lande of selfs tot Europa nie. Die Weste en die Westerse beskawing vereenselwig hulself eerder met bepaalde waardes, instellings, tradisies en ʼn kultuurgeskiedenis. Dit is ʼn eeueoue geskiedenis wat strek van die antieke Grieke tot die Afrikaners vandag.

Hoewel die Weste uiteraard sy foute oor die eeue heen gehad het, beskryf prof. Niall Ferguson, ʼn Skotse historikus, dit goed wanneer hy sê dat die Westerse beskawing, ten spyte hiervan, vandag steeds die beste pakket het om die mensdom te bied. Die Weste het oor die eeue heen ʼn suksesresep ontwikkel wat sover die suksesvolste vooruitgang in die mensdom gedryf het.

Meer as 300 jaar gelede het dié Westerse beskawing deur Jan van Riebeeck sy weg tot in Afrika gevind en ook hier gedy. Dit beteken dat Afrikaners ewe veel van die Weste as van Afrika is. Hoewel ons ten diepste die instellings en idees van die Weste behou het, is ons fundamenteel deel van Afrika. Daar is ʼn baie goeie rede waarom ons ʼn nuwe identiteit en taal na die vasteland self vernoem het.

In 1707 was Hendrik Bibault die eerste om homself ʼn Afrikaner te noem met sy uitroep “Ik ben een Afrikander”. Hy het toe reeds besef dat hy nie meer ʼn suiwer Westering is wat net terug sal kan gaan na Europa en weer perfek inpas nie. Hy het die onderliggende waarheid verwoord dat daar ʼn nuwe identiteit in en deur Afrika gevorm is.

Sodoende het Afrikaners nog altyd die tweeledige identiteit van Westerlinge en Afrikane gehad. Dit is ook hierdie identiteit wat ons oor die jare heen gehelp het om van Suider-Afrika een van Afrika se grootste suksesverhale te maak. Die ongereptheid en vryheid van Afrika, gekombineer met Westerse waardes en instellings het Afrikaners nog altyd in staat gestel om verskeie eilande van uitnemendheid hier te skep. Verder het Afrikaners se deurlopende stryd om oorlewing ʼn ongelooflike praktiese wysheid en vindingrykheid gekweek. Dit stel ons in staat om goed by moeilike en veranderende omstandighede aan te pas.

Oor die afgelope 300 jaar het Afrikaners nogal goed daarin geslaag om pasgemaakte Westerse antwoorde op ons geleenthede en uitdagings in Afrika te kry. Dit beteken dat ons ten spyte van al die hoogte- en laagtepunte waardeur ons self gegaan het, eintlik baie getrou aan ons wortels kon bly, sonder om tot ons nadeel verkramp daaraan vas te klou. Nes Ferguson verduidelik, is ons ook glad nie perfek nie, maar het ons beslis waardes beet wat die moeite werd is om te bewaar.

Soveel as wat ons aan die res van die Weste verbind is, soveel is hulle ook aan ons verbind. Groot dele van die Weste verkeer tans in ʼn identiteitskrisis. Die tradisionele waardes en instellings van die Weste word bedreig deur progressiewe en radikale idees van rasse-Marxisme, sosialisme, ʼn verwerping van objektiewe feite, kulturele sensuur, ʼn naarstigtelike najaag van gelykheid van uitkomste, ʼn aanslag teen kultuurgeskiedenis en geloof asook ʼn onderliggende bedreiging van vryheid. Groot dele van die Weste pleeg ook in die strewe na politieke korrektheid selfmoord. Sodoende word die suksesvolle voortbestaan van die Westerse waardes en instellings bedreig – baie meer van binne as van buite.

Die Weste is op ʼn manier ʼn slagoffer van sy eie sukses. Die Westerse beskawing het daarin geslaag om ongekende vlakke van welvaart, vooruitgang en vryheid te bewerkstellig. Hierdie ongekende sukses het in groot dele van die Weste gelei tot ʼn verwerping van die einste waardes wat dié sukses geskep het. Waardes en tradisie word baie meer in slegte tye gekoester en ondersoek as wat dit in goeie tye gekoester en ondersoek word. Dit beteken dat die Weste in ʼn bestaanskrisis is waar die dam eintlik onbewustelik onder die eend uitgeruk is.

Die een groot voordeel wat Afrikaners as Westerlinge in Afrika het, is dat ons effe afgesonder van die res van die Weste is. Dit beteken dat ons ontwikkeling, uitdagings en oplossings nie heeltemal dieselfde as die res van die Weste s’n is nie. Ons het tot ʼn groot mate die huidige identiteitskrisis van die Weste vrygespring – bloot omdat ons nie die luuksheid het om daaraan deel te neem nie. Ons is bloot te besig om net basiese voorwaardes vir suksesvolle voortbestaan te probeer vestig en uit te bou. Ons het nog nie eers dieselfde geleentheid gehad om slagoffers van ons eie sukses te wees nie.

Dit beteken dat ons die groot geleentheid het om deel van die suksesvolle bewaring en voortsetting van die Westerse beskawing te wees. Ons is in die ideale posisie om ten spyte van die heersende politieke korrektheid en identiteitskrisis van die Weste steeds die instellings en waardes wat dié beskawing so suksesvol en vry gemaak het, te help bewaar. Idees en instellings leef net voort indien dit gekoester en beskerm word. Ons is dit aan ons eie Westerse geskiedenis verskuldig om die goeie idees en instellings wat met groot opoffering oor eeue heen gevorm is, te help bewaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Ek het nuus vir jou. Westerse ambassades in Suid Afrika beskou die blanke hier nie as Westerlinge nie, maar as Afrikane. Hul lewensbeskouinge en kulturele skatte is vreemd teenoor Europa s’n.

Karel Kobus Kruger ·

Ek stem saam. Ek het ook al met n paar Europese volke te doen gehad. Hulle manier van dinge doen, het ook my wenkbroue laat lig. Beslis nie die tipe mense met wie ek op n daaglikse basis mee te doen wil hê nie.

Aikie ·

Dit is nou ‘n goeie oproep na die Afrikaner om trots te wees op ons menswees, agtergrond en identiteit. Praat trots Afrikaans en wees trots op onsself al sê wie ook nou al wat!

koos ·

They call her Miss Ann. Gaan soek dit op youtube, eerste deel is vervelig maar later gaan dit oor SA.

Jack ·

“Die Weste is op ʼn manier ʼn slagoffer van sy eie sukses.”

“Ons het tot ʼn groot mate die huidige identiteitskrisis van die Weste vrygespring ”

Die Afrikaners by uitstek, maar blankes in die algemeen is wel die slagoffers van hulle eie sukses. Die geweldige vordering wat in die eerste helfte van NP regering op ekonomiese gebied gemaak is het ‘n geweldige vraag na arbeiders geskep. Dit het die groepsgebiedewet ondermyn, wat op sy beurt weer die apartheidsbeleid – dat elke volk oor homself in sy eie gebied moet regeer – totaal nek omgedraai. Toe die apartheidsbeleid eers laat vaar is, is ons sonder slag of stoot op die pad van meerderheids regering geplaas. Meerderheids regering het ons weer op sy beurt op die pad van agteruitgang geplaas. Kyk net rondom jou om te sien of ek reg is.

annie ·

‘n Heerlike verstrengelde onwaarheid as hoofgereg op die Boeretafel aangebied: Bietjie rou hier en kwaai geskroei voor… Kulturele ontwikkeling gebou op… Westerlinge maar ‘n potpourri… Wie is ons… Op jul knie Afrikaners, of… Nog kerke brand… Is ons Katolieke of Pretestante… Notre damn…

Jack ·

Ek sukkel nogal baie en baie ander van die Afrikaner groep ook om vas te stel wat ons eie kultuurskatte nou eintlik is en of ons nog n eie en unieke kultuur het. Ons het so vermeng dat die jongmense van vandag nie meer kan se wie is ons eintlik nie.

Grassie ·

‘n Uitstekeme bydrae deur me Mynhardt. Ek het al gewonder waarom die Skepper ons hier in die Suide van Afrika geplant het. Hierdie bydrae bring weer ‘n bietjie perspektief. Ons het sekerlik nog ‘n rol om te speel in die toekoms van hierdie donker land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.