Nuuskommentaar: Afrikaners is plesierig dan maak hulle droog (na bewering)?

Wanneer die land se geskiedenis onder oë geneem word, het die Afrikaner baie om oor trots te wees. Die eerste suksesvolle hartoorplanting ter wêreld, om maar een te noem.

Elke groep het egter ook sy vrot appels, en die karakter van ‘n volk word getoets aan die hand van die plek wat so ‘n persoon daarna in die geskiedenis opneem, byvoorbeeld, ‘n minister wat sy posisie misbruik het; word hy as held voorgehou, of het hy agter tralies beland? Ook wat dit betref, het die Afrikaner sy ongelukkige voorbeelde. Wanneer die politieke toneel onder die loep geneem word, is dit soms minder maklik om lyne duidelik te trek. Politieke leiers staan egter in wese in ‘n sosiale kontrak met die mense wat hulle verteenwoordig, en daarom is die dit die posisie waar onkreukbaarheid sonder uitsondering behoort te geld, en waar daar nie ruimte vir wanklankigheid kan wees nie.

Ongelukkig is die politiek in die praktyk nie noodwendig die plek wat die onkreukbares trek nie, en dié persepsie het onder meer kort voor die aanvang van die Wall Street-ineenstorting tot ‘n veldtog in Europa gelei om die media en die politici meer moreel ingestel te kry. Na Wall Street het die fokus egter, voorlopig altans, geskuif na die super-magnate wie se inhaligheid vir die flaters in die vryemarkstelsel verantwoordelik gehou word. Suid-Afrika word so deur korrupsie geteister dat die ANC ook al in ‘n verslag kommer uitgespreek het oor die beeldskade wat dié party daaroor ly. Opposisiepartye buit dit uit. Die amptelike opposisie, die DA, bou ‘n groot deel van sy beeld op ‘n persepsie van sterk teen korrupsie gefokus te wees.

In die politiek sal elke party egter sy vrot appels oplewer, en ‘n moeilike tydjie lê na berig word vir die DA voor.
Nie alleen moet die DA nou begin koers kry oor die sage rondom dr. Manie van Dyk, ‘n LP, se reiseise nie, maar die Openbare Beskermer gaan na verwagting dié week ‘n uiters negatiewe verslag oor Midvaal, ‘n DA-eksklawe in Gauteng, uitreik. Intussen oefen die ANC en burgerlike organisasies in die Tuinroete groot druk op die DA uit om in Plettenbergbaai in te gryp waar die DA met die laaste munisipale verkiesing aan bewind gekom het.

In elkeen van hierdie gevalle word die vingers gewys na mense wat Afrikanername en vanne het. Dit is ook nie die eerste keer nie – ‘n paar jaar gede het die SABC-TV ‘n DA-burgemeester van die Weskus op die lughawe verras toe hy en gesinslede van ‘n sogenaamd amptelike oorsese reis teruggekeer het. Tot die DA se krediet was dié man kort hierna ‘n gewese politikus.

Elke Afrikaner wil in sy hart glo dat dit bloot toevallig is dat Afrikaners geïmpliseer word – en die DA sal wil voorkom dat dié party die persepsie kry as politieke opvangplek van politiek-opportunistiese Afrikaners. Wat die drie jongste gevalle egter anders maak, is dat die DA aanvanklik die geledere agter diegene gesluit het wat geïmpliseer word. Trouens, dit is formeel nog die posisie in Midvaal gebaseer op eie ondersoeke, terwyl die Wes-Kaapse leier van die DA, Theuns Botha, self probeer verhinder dat die speaker in Plettenbergbaai bedank, soos hy aangebied het om te doen, omdat hy weens besondere eienskappe deur die DA op ‘n hoër vlak in die posisie ontplooi is. Altans, so beweer die ANC en burgerlike organisasies omdat daar min mediaberiggewing hieroor is. Trouens, die ANC gebruik hierdie geval as kapstok vir sy argumente dat die media bevooroordeeld pro-DA is.

In die Van Dyk-geval is die geledere ook aanvanklik gesluit, maar toe die media aanhou krap en beweerde gevalle aan die lig bring wat nie in die lug gelaat kon word weens leemtes in voorskrifte nie, het die DA met ‘n ondersoek begin, en dié proses nader nou sy einde. In dié geval is die rol van die media anders as wat die ANC dit probeer voorhou.

Die Afrikaners en Afrikaanses is oor die hele politieke spektrum versprei; so wyd dat dit selfs in ‘n stadium onder ‘n paar hoë profiel mense in die kunste- en vermaaklikheidswêreld ‘n soort mode was om as Afrikaners te bedank. Die uiteenlopendheid word miskien die beste gesimboliseer deur die Stellenbosse voorval waarin ‘n professor en ‘n volkstater weerskante van ‘n vlieënde vuis of wat beland het. Verkose politieke verteenwoordigers in Suid-Afrika, ongeag waar op die politieke spektrum hulle hul bevind, is teen wil en dank ook ambassadeurs vir die groep wat hulle verteenwoordig, selfs al bedoel hulle die nie self so nie. Niemand het byvoorbeeld enige twyfel oor wie Marthinus van Schalkwyk in die oog gehad het toe hy ‘n groep NNP-ondersteuners in die ANC ingelei het, en verklaar het: “Ons sal jul stem wees” nie. ‘n Baie stil stem, inderdaad. Stereotipering is in hierdie land ‘n groot probleem, en die DA word juis daarvan beskuldig dat dit in sy woordvoerder-geledere die Afrikaner onderveteenwoordig tot die Afrikanesteun wat dit geniet. Vrot appels help nie om die persepsie te verbeter dat opportunisme eerder as beginsels Afrikaners na bepaalde politieke tuistes trek nie.

Weens die toepassing van “affirmative action” eerder as regstellende aksie is die Afrikaner reeds onder enorme druk en stel dit groot eise aan improvisasie. Die laaste ding wat die Afrikaners en Afrikaanses kan bekostig, is mense uit hul eie geledere wat skietgoed verskaf om diegene wat sy kultuur rondom die skoonste taal handhaaf, verder te marginaliseer. In die jongste relletjie oor die beweerde marginalisering van Afrikaans by Maties, staan ‘n groep Afrikaanse organisasies saam om die kwessie op die spits te dryf. Aan die ander kant is baie van die bestuur wat die Afrikaanse organisasies se veldtog teenstaan ook Afrikaanssprekend.

Volkeregtelike erkenning van minderheidsregte sal ongelukkig altyd onder verdenking staan as die persepsie ook bestaan dat dit beding word om onregmatige voordele te bekom. Opportunistiese vrot appels help ook nie om hierdie persepsies wat diep in stereotipering gekoester lê af te takel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae