Nuuskommentaar: Afrikaners net gepaai?

Argieffoto

Argieffoto

Gister het die ANC samesprekings gevoer met verskeie Afrikaner-organisasies. In werklikheid is baie van hierdie organisasies nie eksklusief Afrikaner-organisasies nie, maar is betrek omdat hulle baie of oorwegend Afrikanerlede het. Die drie susterkerke se Tussenkerklike Raad het in sy afwysing van die uitnodiging dié feit onder die ANC se aandag gebring. Dit was egter nie die rede vir die kerke se wyd hou om die geleentheid nie – daarvoor het hulle die morele ineenstorting binne die regering geblameer.

Nietemin, hierdie is stellig die naaste wat die Afrikaner kan kom aan ’n kollektiewe poging om gesprek met die regerende party te voer. Of dit die moeite werd is, is ’n ander saak. Van die teenwoordiges het dit duidelik gemaak dat van ondernemings in die verlede dadels gekom het.

Uit die beskikbare terugvoer lyk dit ook nie of dit danig waffers gegaan het nie. Net twee ministers het die moeite gedoen om die gesprek by te woon. Klaarblyklik is die boodskap aan die ANC oorgedra dat nie mooi met die Afrikaner en sy belange, soos die taal, gewerk word nie.

Hierna kan die ANC nie verweer dat hy nie geweet het nie “omdat dit net in Afrikaanse koerante staan” nie. Dis nou in “Her Royal Majesty” se taal aan die ANC oorgedra.

’n Interessante tussenval is dat dr. Leon Wessels beswaard is oor die hoë premies wat die ANC op die Vryheidsmanifes, eerder as op die grondwet plaas. Die toenmalige Nasionale Party, waarin Wessels as minister gedien het, het immers ook ’n hele ruk voordat dit in die ANC opgegaan het, die Vryheidsmanifes aanvaar. In 2005 het die DA sy eie  viering gehou vir die 50ste bestaansjaar van die Vryheidsmanifes. Bygesê, die DA, soos Wessels, voel dat die grondwet die oppergesag is en dat die Vryheidsmanifes nie as ’n soort alternatiewe grondwet kan dien nie.

Die kwessies wat aldus Netwerk24 tydens gister se gesprekvoering onder die loep geneem is, is sake soos die beskerming van die taal, grondhervorming en landbou.

Nou sal weer vir reaksie gewag moet word om te sien of dit enige doel gedien het.

Een van die verbreekte beloftes waarna Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, verwys het, is ’n kantoor vir minderheidsregte in die ANC. In die Vrystaat het so ’n kantoor wel tot stand gekom, maar is so met die kantoor van die premier en die ANC verweef dat dit voorkom of dit eintlik net geaktiveer word om tydens ANC-kongresse veral behoeftige wit mense op staatskoste na die kongresse aan te ry.

Hierdie gesprekke moet nie verwar word met die periodieke gesprekke wat die president met prominente Afrikaners en belangegroepe voer nie. Dit is al deur mense soos Steve Hofmeyr en Dan Roodt bygewoon. Min is oor hierdie samesprekings bekend, skynbaar omdat daar ’n vertroulikheidsreëling geld.

Wat wel bekend is, is dat daar in die media-argiewe ’n lang lys van beloftes is waarvan min of niks gekom het. Hy is byvoorbeeld op rekord dat pres. Jacob Zuma Suid-Afrikaners in die buiteland teruggenooi het om hier hul talente te kom inspan om die land te laat groei. Hy het ook al die Afrikaner aangemoedig om sy eie Nkandla as geestelike tuiste te vind. Maar Zuma is bekend daarvoor dat hy sy karos na die wind span afhangende van wie sy gehoor is. Dieselfde mense wat hy al so geprys het vir hul deugde en vaardighede is onlangs voor ’n ander gehoor “die ander” genoem wie se koms na die land “al die moeilikheid” laat begin het.

Dit is elke instansie en elke individu se reg om self te oordeel of dit enige nut het om met die ANC gesprek te voer. Marthinus van Schalkwyk het die NNP in die ANC ingelei om daar die Afrikaner se stem te gaan wees. ’n Baie, baie stil stem, het dit geblyk te wees.

Die vraag of die Afrikaner nie van bestaande grondwetlike meganismes gebruik moet maak om ’n vorm van selfstandigheid te verkry nie (wat dan op ’n meer gesagvolle manier met die regering oorleg kan pleeg), het onlangs na afloop van die Solidariteit Beweging se oplossingsberaad ter sprake gekom. Ironies is die karakter van die openbare debat hieroor nie soseer geprikkel deur wat op die beraad self bespreek is nie, maar deur ’n dosis bedenklike joernalistiek waar dit moeilik is om te bepaal waar moedswilligheid geëindig het en blote onkunde oor terminologie begin het wat die berigte geplooi laat voorkom het. Verskeie opvolgrubrieke het boonop gevolg wat die strooipoppe, eerder as die werklike feite, ten grondslag gelê het.

As die Afrikaner uiteindelik wél ’n statutêre struktuur waarvoor art. 235 van die grondwet voorsiening maak sou aanvra, sal dit nie uniek in die wêreld wees nie. Die Maori’s in Nieu-Seeland het byvoorbeeld ’n eie kongres (parlement) en ’n toenemende hoeveelheid gereserveerde setels in die nasionale parlement. Die inheemse bevolking van Indië het ook ’n aantal gewaarborgde setels in die Indiese parlement. In Kanada het die Amerikaanse Indiane, ook genoem Rooihuide, ’n soort nasionale raad. Die inheemse Krim-Tartare het ’n eie “parlement” onder die regering van die Oekraïne gehad wat waarskynlik die beste teksboekvoorbeeld van korporatiewe selfbeskikking is. Die aanduidings is dat dit onder Russiese bewind in die stof gaan byt.

Die feit van die saak is bloot dat hoe langer die ANC beloftes teenoor Afrikaner-belangegroepe verbreek, en as regerende party die Afrikaner as die vyand hanteer en verder en verder onder allerlei druk plaas, hoe meer gaan die stemme word vir ’n stelsel wat eenvoudig beter waarborge bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Enige aap weet dit sal niks oplewer nie………………….. Dit is al soveel male bewys. Kan nie dink enige iemand glo hulle nog nie.

Joe64 ·

Stem saam, Kan nie dink dat iemand met die minste met integriteit nog tyd mors nie. Dink belasting verset is nodig, e-toll goeie voorbeeld.

Winston ·

Ja nee wat. Dink dis tyd dat ons begin om belastings te weerhou. Klaarblyklik weet net die Minister van Finansies waar hierdie geld vandaan kom. Samesprekings is perdemis vermom as dadels.

Stephen Nel ·

Piet Retief het hulle geglo.
F W de Klerk het hulle geglo.
Ek weier.

piet ·

Ja nee, praat praat praat. Die ANC hou nogal partymaal van praat maar as dit by doen kom dan laat dit veel te wense oor! En as hulle nie uit die gesprek nog steeds beheer het oor die situasie nie, sal daar ook niks van kom nie want hulle wil alles beheer en onderdruk! Daarom hou ek van solidariteit en afriforum se benadering dat hulle doelgerig met die ANC sal praat met doelgerigte uitkomste! Ek hoop dan net dit sal goed wees waarby die Afrikaner darm sal voordeel trek en sy toekoms verseker!

Bruno Stef ·

In n heruitsending op Robinson Regstreeks Maandag middag het die selferkende kommunistiese minister n rooskleurige prentjie aan die luisteraars voorgehou IVM onder andere landbou.Kan n mens sy versekeringe glo na aanleiding van die vergadering met die broederbond en vennote wat kla dat oor drie jaar nog niks gebeur het nie.Dit is veelseggend dat Mantashe gevra het waarom Solidariteit Unie by name nie die vergadering ook bygewoon het nie.Vertrou n kommunis om met n gevurkte tong te praat hulle oggend en aand praatjies kom gewoonlik nie ooreen nie.

Henk ·

Goed so sien ek die Afrikanerbond is daar en ‘n handvol ander organisasies. Moenie vergeet dat die Afrikanerbond onder die naam Broederbond die leisels geneem het toe ons land uitverkoop was nie.
My vraag is, WIE verteenwoordig die Boer? WIE het hierdie sogenaamde organisasies die mandaat gegee om namens AL die “Afrikaners” daar te gaan koukus?
Die Afrikanerbond? Die Illuminati? Die Vrymesselaars?
Hulle is daar vir hulle eie gewin en NIE vir die mense van hierdie land se belange nie! Dis soos die ANC wat daar is om die “binnekring” se belange te beskerm en NIE die van die armlastiges nie.
As jy namens my wil onderhandel, reel ‘n byeenkoms waar die massas teenwoordig is en vertel ons wat julle planne is. Dan sal ons julle vertel wat ons wil he en ‘n mandaat gee om te onderhandel vir wat ons wil he.
Sonder daai mandaat het jy GEEN reg om voor te gee jy verteenwoordig my nie!

Cathy Kotze ·

“In Kanada het die Amerikaanse Indiane, ook genoem Rooihuide, ‘n soort Nasionale Raad…”

Oeps! Oppas hiervoor! In Kanada staan die woord “rooihuide” gelyk aan die K-woord in Suid-Afrika. Hulle word First Nations, Inuit, Metis, Aboriginals genoem.

Die Assembly of First Nations werk nou saam met die Kanadese regering en bestaan uit verteenwoordigers van alle First Nation groepe.

Dis nogal interessant dat Dr Verwoerd in Kanada kom kyk het na die First Nation’s se “reserve” stelsel voordat hy tuislande in Suid-Afrika geskep het. Ongelukkig het die Kanadese reserwes groot maatskaplike en ander probleme.

Afrikaners het die reg op onafhanklike besluitneming en ek glo dat Afrikaners – anders as voormalige tuisland inwoners and Kanadese First Nations – voldoende vernuf en kundigheid het om suksesvol te wees in hulle eie afgebakende gebiede. ‘n Spesiale Afrikaner Raad wat op gelyke voet met die Suid-Afrikaanse regering kommunikeer, is onontbeerlik vir die toekoms van Afrikaners in Suid-Afrika.

Mike ·

Nêrens maar nêrens word genoem wie hierdie Afrikaner organisasies is nie, hoekom nie? Die strategie is duidelik hier, hierdie sogenaamde Afrikaner organisasies het dit op hulleself geneem om namens die Afrikaner te gaan onderhandel sonder enige mandaat.

Kry die SABC om aan die Afrikaner te vertel dat 25 van sy organisasies besig is met onderhandeling oor sy toekoms by die ANC. As die Afrikaner nie hierdie foefie kan raaksien nie dan weet ek nie meer nie, ek hoop nie Soliforum het ook deel aan hierdie belaglikheid nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.