Nuuskommentaar: Aftelling tot 8 Augustus se mosie van wantroue

Pres. Jacob Zuma. Foto: Themba Mtshali, KZN-premierskantoor

Volgende jaar is dit vyftig jaar sedert die eerste bemande maanlanding. Oor die wêreld heen word met nostalgie onthou hoe daar met elke Apollo-lansering afgetel is tot die opgewonde uitroep: “We have lift of!” Net so begin die afwagting opbou oor die “aftelling” tot 8 Augustus wanneer daar ’n mosie van wantroue in die parlement teen Jacob Zuma ingedien gaan word. Gaan Suid-Afrika ’n reusetree vorentoe of agtertoe neem? Gaan die ANC weer kan opstyg, of genadeloos voor die openbare mening platval?

Nuus wat die nuuswaardigheid van die aftelling tot die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma op 8 Augustus wil klop, sal groot nuus moet wees. En met #GuptaLeaks wat nou byna daagliks ’n kop laat rol, is dit stellig moontlik dat die komende mosie na die kroon gesteek kan word. Nuusverbruikers kan egter nie met ’n gehamer op een saak van ander belangrike nuusgebeure in Suid-Afrika en elders in die wêreld beroof word nie.

Die groot vraag is nou of die speaker, Baleka Mbete, haar diskresie gaan gebruik om ’n geheime stemming toe te laat, al dan nie. Laat sy dit nie toe nie, loop sy die gevaar om weer in die hof te moet staan, want die konstitusionele hof het wel die diskresie oorgelaat, maar ook laat skemer dat LP’s se gewete ’n rol in hul stemming moet kan speel. Haar besluit word nou enige oomblik verwag.

In ’n internasionale demokratiese konteks is dit ongehoord dat iemand wat ’n amp, soos voorsitter van die regerende party beklee, ook speaker kan wees. Dit waarborg byna dat die veronderstelde onverbondenheid van die speaker bevraagteken sal word.

Mbete het voorts haar belangstelling getoon om die volgende ANC-president te word (en sodoende in 2019 waarskynlik die nuwe staatspresident), en het hard om die guns van pres. Jacob Zuma hieroor “gevry”. Zuma het haar egter in die tande geskop deur sy gewese vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, as sy voorkeurkandidaat aan te wys.

Mbete het nou die ideale geleentheid om Zuma hiervoor te “straf”. Sou die wantrouemosie slaag, versterk dit Mbete se kanse om deur waarnemende hoedanigheid ’n stewige kleim vir die presidentskap af te steek.

Die meeste ontleders oordeel egter dat sy steeds Zuma se guns nastreef. Sou die mosie, ’n geheime stemming ten spyt, misluk, is die politieke wildernis Mbete se lot. Daar kan dus aanvaar word dat koppe getel word, deur telkens ’n ander scenario voor te hou. ’n Berekeningsfout, en dis verby. En met enkele uitsonderings loop die ANC-LP’s nie te koop oor vir wie hulle gaan stem nie. Vind daar nie dalk boonop onder die tafel ’n stemkopery plaas waar die manne met die diep beursies en groot beloftes die demokrasie verder probeer verwring nie?

Wen of verloor, vir die ANC gaan dit ’n groot verleentheid wees as van sy LP’s die mosie van wantroue steun, veral as dit ’n oop stemming sou wees. En dié verleentheid is immers op ’n vrag ander Zuma-verwante verleenthede gebou.

Afgesien van die #GuptaLeaks wat byna verseker voor 8 Augustus met ’n groot fanfare bekend gemaak gaan word, is daar ander projekte wat beplan word om Zuma te isoleer. Hieronder tel die moeder van alle optogte wat vir 7 Augustus in Kaapstad beplan word. Op 8 Augustus self word twee projekte beplan, een deur die opposisie, en een deur die ANC se Dullah Omar-tak. Dit simboliseer juis weer die druk waaronder die ANC verkeer, aangesien die Dullah Omar-tak onlangs deur die ANC ontbind is.

’n Petisie, wat deur die DA gedryf is – met ’n miljoen handtekenings – is reeds gister aan adj. pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. Dit is hoeveel mense elektronies geteken het om te vra dat Zuma die trekpas kry. In die meeste demokrasieë is dit by verre oorgenoeg handtekeninge om ’n referendum oor ’n bepaalde kwessie af te dwing. Ons sal nou daagliks hoor van nog projekte om te probeer verseker dat LP’s hul stemme só uitbring dat Zuma in landsbelang onder sy blaker geskop word.

Die Future South Africa-veldtog vra selfs dat mense hul ligte die aand voor die mosie moet afskakel. Die 8ste Augustus is selfs “uitgeroep” as “nasionale dag van wantroue in Zuma.”

Vir die ANC is daar ’n bykomende oorweging. Dinge lyk nie meer te blink met die oog op die algemene verkiesing van 2019 nie. Met Zuma uit die weg, verbeter die kanse aansienlik dat Julius Malema en sy EFF hul weg terug na die ANC kan vind. Julius weer, probeer skynbaar sy radikalisme onderstreep deur so veel as moontlik kriminele klagtes teen hom op die lyf te loop.

Kaapstad, wat met ernstige droogteprobleme te kampe het, verwag behalwe die anti-Zuma-optogte, ook pro-Zuma-optogte. Dié twee kante sal lekker warm onder die kraag vir mekaar wees, en die owerhede sal moet wakker slaap om hulle uitmekaar te hou. Kry hulle die geringste geleentheid om handgemeen te raak, laat dit ’n mens ongelukkig vergesigte sien van die sogenaamde 100 dae-sokkeroorlog wat in 1969 tussen El Salvador en Honduras uitgebreek het ná sokkergeweld in ’n wedstryd tussen die twee lande oorgekook het.

Net soos daar destyds dieperliggende probleme tussen El Salvador en Honduras was, so loop die gemoedere tussen die voor- en teenstanders van Zuma ook sterk. In die mense se gemoed is dit die afloop van die stryd tussen goed en sleg, waar sleg nou vir té lank die botoon gevoer het.

En al lewer die Kaapse ekskursie nie veel blywends op nie, was dit minstens ’n interessante politieke tussenspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie ·

Oeps. Volgende jaar is dit 49 jaar na die eerste bemande maanlanding. Dit was in 1969 nie 1968 nie.

Kollie ·

Ek sal baie verbaas wees as sy haar besluit voor die 8ste gaan bekend maak. Ek reken sy’t reeds besluit dit gaan nie ‘n geheime stemming wees nie en sy sal dit net voor die sitting bekend maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.