Nuuskommentaar: Ahmed Kathrada en rassisme

Ahmed Kathrada. Foto: Facebook

Ahmed Kathrada. Foto: Facebook

’n Artikel van die ANC-veteraan en voorvegter teen rassisme, Ahmed Kathrada, veroorsaak nou weens die gebrek aan ewehandigheid meer as net ’n rimpeling. Hoe lank gaan ’n groot deel van die bevolking rassisme as ’n simplistiese voortsetting van apartheid bly beskou, en mense volgens hul ras, eerder as die werklike dade, as rassiste en die slagoffer van rassisme kategoriseer?

’n Artikel op Netwerk 24 oor rassisme deur die ANC-veteraan, Ahmed Kathrada, het in omstredenheid verval. Kathrada is een van die leiers van ANC-veterane wat pres. Jacob Zuma uit sy amp wil dwing, en daarom sal wat hy sê en skryf in baie kringe onkrities beoordeel word … tot sekere hoogte. Voorts is sy stigting een van die leidinggewende organisasies in die veldtog teen rassisme.

Die eerste indruk by die lees van Kathrada se artikel is dat dit jammer is dat die oudstryder self die pen opgeneem het, en dat dit nie die produk van ’n ervare joernalis was wat die onderhoud met hom gevoer het nie. Kathrada sou dan waarskynlik self van die jammerlike leemtes in sy geskrif kon regstel.

Dit wat dadelik die eerste duidelike aanduiding was dat alles wat Kathrada geskryf het nie so onkrities kon afgaan nie, het uit die ope brief van ’n Bloemfonteiner, Jacques Taljaard, gekom.

Taljaard wys eerstens uit dat al die voorbeelde wat Kathrada noem, dié is van wit mense, terwyl duidelike rassistiese optredes van swart mense heeltemal verswyg word. Voorts wys hy op die regering se rasse-aanslag en wat bydra tot “die verhitting van prutstatus tot moontlike kookpunt?”.

’n Ervare joernalis sou Kathrada nie hiermee laat wegkom nie.

Sedert die rassisme-kwessie weer sentraal in die nuus begin staan het (sodat die regering nou wetgewing wil deurvoer om skuldiges behoorlik te kan straf al moet die Grondwet daarvoor verander word) het Maroela Media daarop gewys dat die saak ewehandig hanteer moet word, en dat daar geen ruimte vir die opvatting kan wees dat swart mense “per definisie” nie rassiste kan wees nie.

Maar Kathrada se artikel het ook om ’n ander rede onder skoot gekom. Dr. Leopold Scholtz, gesoute rubriekskrywer en gerekende historikus, reageer en skryf onder meer: “Ek het op sigself begrip vir Kathrada se pleidooi teen rassisme, wat inderdaad ’n verwerplike houding teenoor medemense is. Maar jy hoef nie leuens, wat al male sonder tal deur swaargewig-historici as vals bewys is, opnuut te herhaal en te publiseer nie.”

Scholtz verwys na Kathrada se stelling dat die NNP ná die verkiesingsoorwinning “wetgewing uit Adolf Hitler se Duitsland invoer”.

Die beperkte aanhalings uit Scholtz se artikel laat nie reg aan die artikel in sy geheel geskied nie.

Die leserskommentaar onderaan Kathrada se artikel is soos verwag kon word krities. Die enigste verrassing is dat daar betreklik min reaksie was, maar dan, dit is ook ’n onderwerp waaroor mense al voos geskryf en menings gestel is. Die algemene strekking is dat Kathrada eerder rassisme aanhelp as help besweer.

Sonder ewehandigheid sal dit ’n nimmereindigende geredekawel afgee, soos die omvattende reaksie op die minister van sport(s) se onlangse “banvloek” op ongetransformeerde sport (uitgesonder sokker).

Op die oog af gaan die anti-rassisme-wetgewing, op papier minstens, meer ewehandig wees. Adj.min. John Jeffery het onder meer gesê: “Enigeen wat doelbewus haat wat op onder meer ras gegrond is teen ’n persoon of groep verkondig en so skade berokken, sal hom aan haatspraak skuldig maak.”

By dieselfde geleentheid het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mhethwa, egter ook weer die rokspante gelig waaroor die rassisme-kwessie so maklik as ’n wit verskynsel teenoor swart beskou word. “Die gevolge van sulke denke en reaksies van politieke organisasies en sommige in die private sektor, plekke van aanbidding en meer onlangs ook ’n regter, kan volksmoord aanwakker en ons terugneem na die donkerste dae van apartheid.”

Apartheid bly die sentrale kwessie waaruit die werklikheid beoordeel word. Dié blinde sambok bly teenwoordig, ook in Kathrada se skrywe.

Hoe lank nog gaan die ANC hierdie sambok troetel en so ’n denke-vooruitgang smoor?

As na die VSA gekyk word, kan dit nog baie lank duur. Hoewel die beleid van segregasie eers in die vyftiger- en sestigerjare onder die valbyl gekom het, word baie sentimente uit die slawetyd lewend gehou, en die Amerikaanse burgeroorlog (1860 tot 1865) as vername vertrekpunt gebruik. Die laaste aantal jare was daar ’n verskerpte aanslag teen die oorblywende simboliek van dié era, en ’n deelstaat het pas byvoorbeeld die gebruik van die konfederale vlag op nommerplate verbied.

Kan Suid-Afrika werklik bekostig om nog anderhalf eeu gedomineer te word oor ’n beleid wat die vorige regering reeds voor 1994 volledig, wat wetgewing betref, begrawe het?

Daar is nie towerformules nie. Die Christian Science Monitor berig onlangs hoe ’n dosent in Noord-Carolina agtergekom het dat meer as 70% van haar Afro-Amerikaanse studente druip, en so ook meer as 40% van haar Latyns-Amerikaanse studente. Sy kon die probleem eers met baie bykomende werk gedeeltelik regstel.

’n Sonsondergang vir wetgewing wat polariseer, is nou dringend nodig, anders, by wyse van spreke, kan die son vir Suid-Afrika ondergaan. Miskien kan daar ook kers opgesteek word by ’n opmerking van oudpres. Thabo Mbeki na aanleiding van gister se Afrikadag, naamlik dat Afrika se ras- en ekononomiese probleme nie opgelos sal word bloot deur simbole van die verlede te verwyder nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Puik kommentaar soos altyd, Herman Toerien!

Maak vrede daarmee dat die sg. “rassisme”-kwessie tot in lengte van dae met ons gaan wees. Dit is nog steeds aanwesig in die VSA soveel jare na die vrystelling van slawe, sal nooit verdwyn terwyl daar witmense in SA woon nie en gaan in die toekoms in Europa ‘n al groter probleem word.

(Sou graag ander lesers se mening wil hoor oor die manier waarop dr. Leopold Scholtz die stokoue, uiters kru NP – verkiesingsslagspreuk in die openingsparagraaf van sy Kathrada-rubriek gebruik. Na my mening totaal onnodig en opruiend. Dit is skynbaar onmoontlik om ANC kaders te kritiseer sonder om eers die ou bedeling by te sleep.)

Niks hiervan help om die rassistiese verlede te begrawe nie.

Therese ·

Jammer, ek het verkeerd verstaan. Kathrada het die slagspreuk eerste uit die argief gaan opdiep en wanaangewend.
Dis egter ‘n feit dat die ou bedeling kort-kort afgestof word in rubrieke.

Veritas ·

Die eintlike probleem met ‘Rassisme’ lê in die definisie van die woord. In sommige kringe word enigeen, wat voorkeur gee aan sy taal, kultuur en tradisie, as ‘n rassis uitgekryt. Ander weer, sien rassisme as die neersien op ander rasse terwyl ‘n derde groep enige besluit, wat nie hulle ras bevoordeel nie, as rassisties afmaak. Volkseie besluite word ook summier as rassisme beskou. Voordat daar nie ‘n goed deurdenkde, wydaanvaarbare definisie van ‘Rassisme’ geformuleer word nie, kan ons maar daarvan vergeet dat rassistiese uitsprake en -dade werklik aangespreek en vermy sal kan word.

John ·

Hoekom daar met apart bly begin is, moet tog sekerlik beantwoord kan woord, voor ‘n oplossing gevind kan word vir die angs oor rassisme. Om apart te leef of dinge te doen is een saak wat nie noodwending verband hou met rassehaat nie. In Europa sukkel die regerings bv om die nuwe immigrante oor te haal om nie in eie geslote groepies te hou nie, maar om saam te smelt met die inwoners. Wat nou hier gebeur is dat die ANC alle tekortkominge aan sy kant, die oorhaal van kiesers, die wysigings van wette tot sy voordeel en die minagting van die blanke minderheid se regte op taal en kultuur, steeds toedig aan die witmense as sou hul rassisme die swartes noop tot verdere selfverdediging en regstellingsaksies. Rassisme is nou die inwoord en die stormram om alle deur oop te forseer juis omdat dit so ‘n vae begrip is en moeilik definieerbaar is… ‘n lekker slaanding en op-sweep-er.

Flippie ·

‘n Dikker vel sal baie meer verrig as die kleinserige verbeelding van so baie van ons mense. Verder sal dit ook help as sekere joernaliste hulle daarvan sal weerhou om anti-witheid tot cresendieuse vlakke op te blaas sonder enige basis.(Schutte het bv ‘n heilige vrees dat ‘n wit poliesman haar kind gaan afmaai net omdat hy bruin is.)

Ek het niks teen ‘n rassisme wet nie, maar weet wel dat magistrate al heelpary wittes skuldig bevind het aan rassisme op grond van vals getuienis. Dit is baie maklik om valse verklarings van rassisme by die polisie te maak en dan vervolg te word, sonder dat so ‘n insident eers plaas gevind het. Meeste keer is dit jou woord teen die woord van twee, drie of meer “ooggetuies”.

Die swartes verwys baie na ons blanke Suid Afrikaners as “umlungu” of “abelungu”, wat ‘skeldnaam is en gelykstaan as die “K” woord. Die meeste van ons wat weet wat die woord beteken sal die gebruikers daarvan daarop wys. Ons wend nie ons histeries tot die sosiale media, menseregte kommisie en polisie nie. Nee, ons laat dit van ons afrol.

Miskien moet ons ook balisties raak as iemand na jou as ” vuil skuim” verwys en kranksinnig van woede almal oproep om die gebruikers van die woord te verdoem en hulle van alle lewensreg te ontneem.

Theresa ·

Dat so min mense so magdom van mense kan ontsenu!! Trots op wie mens is, is nie ‘n fout nie. As daar dan regtig so ‘n wet moet wees, sal dit deur die bank regverdig moet gebruik en toegepas word. En die begrip “regverdig” is SO moeilik vir baie om te verstaan. Swartes sal dan ook in hul passoppens moet wees met skeltaal of aaklige opmerkings/dreigemente en natuurlik die gemaklike toepassing van als wat sommige mense hul sommer toe eien om te doen weens dit of dat. Ai. Ja, kranksinnig beskryf nogal die malse histeria en klou aan iets vir hopeloos te lank.

John ·

As ek nie ‘n fout maak nie, het die destydse eerste minister, Malan, die Indiers wat ingevoer is om op die suikerplantasies te werk, goedgunstiglik toestemming gegee om teen die einde van hul termyn, in die land aan te bly. Vandag is hulle die voorbokke in die giftige opsweep van swart gemoedere en die aanblasers van rassehaat teen die blankes. Hulle beklee hoe poste die regering en in die private sektore en hou hul kultuur, sonder enige teenstand, in stand. Sedert 1994 is hulle die raadgewers van die grootbase op die sykussings. Wie is die marionette in die’ opvoering, wonder mens.

Han ·

Omdat ek minderwaardig voel, is ek daaroor kwaad, en gebruik ek “rassisme”-beskuldigings om myself beter te laat voel. Watter uitvindings of positiewe bydraes vir die wêreld het daar ooit uit Afrika gekom? Niks! Wat die “Colonialists” opgebou het, is gegryp, verwoes en afgebrand. Dit is tyd dat daar opgehou word om te blameer en die hand in eie boesem gesteek word – as hulle weet wat dit beteken!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.